Almal het die vermoë om ten minste een miljoen Amerikaanse dollar per jaar te verdien op etiese en wettige maniere. Dit geld soveel te meer as jy in ’n ontwikkelde, geïndustrialiseerde land woon, en jy het ten minste ’n hoërskool diploma.
Indien jy nie ten minste een miljoen dollar per jaar verdien op etiese en wettige maniere nie, werk jy nie hard of slim genoeg nie.
Natuurlik het almal verskonings, maar die feit van die saak is, vir elke verskoning wat jy maak, kan iemand opstaan uit die skare en sê dat hulle in ’n soortgelyke situasie as jy was – of selfs erger, met minder hulpbronne tot hulle beskikking – en húlle was in staat daartoe om daai tipe inkomste te bewerkstellig. (En, terloops, dit was ook nie deur die lotery te wen nie; ons praat van gereelde jaarlikse inkomste.)
Indien jy, soos meeste mense, nie ten minste een miljoen Amerikaanse dollar per jaar verdien nie, het jy geen voete om op te staan en iemand anders te kritiseer wat dit óók nie doen nie. Net omdat jy dubbel, of trippel, of tien keer meer geld maak as jou buurman, of jou broer, of jou niggie, beteken nie jy het lisensie om hom of haar te kritiseer vir hulle mislukking om meer geld te maak nie. Jy misluk dan self immers elke jaar daarin om die inkomste te verdien waartoe jy in staat is!
Siende dat ek amper elke dag op Twitter is, en ’n paar van my eie produkte het wat ek kan bemark, om nie te praat van hierdie blad en die Engelse weergawe wat altyd kan doen met ekstra lesers nie, dog ek toe ek moet dalk belê in ’n kursus oor hoe om geld te maak op Twitter. Die warmste produk op Gumroad is ’n gids genaamd “The Art of Twitter”, beskikbaar teen $89.00 (of as jy gelukkig is en dit kry teen ’n afslag, $62.00). Meer as 5 000 kopieë van die gids is reeds verkoop, so dis sekerlik die moeite werd om te oorweeg.
Ek hou egter terug voor ek die “Buy Now” knoppie druk. Hier’s die redes:
Ek het al baie inligtingsprodukte gekoop. Amper altyd is jy teleurgesteld aan die einde. Hoekom? Dalk is die inhoud niks meer as opgeknapte snert nie. In ander gevalle is die inligting skaflik genoeg, en jy leer dinge wat jy nie geweet het nie. Wat is dan die probleem? Jy kla dat jy gehoop het dat daar “meer inligting” sal wees.
Hier’s wat jy werklik bedoel: Jy’t gehoop op die laaste bladsy van die PDF is daar ’n inkantasie wat ’n feetjie optower wat al die werk vir jou gaan doen. Want dit is die onvermydelike volgende stap: Ses maande plus van meestal vervelige werk voor jy enige resultate sien.
Die ander rede hoekom ek vashou aan my $89 (of $62), is omdat ’n mens – so reken ek – meeste van die inhoud gratis en verniet kan kry as jy net soek daarvoor op Google (of Bing, Yahoo, Duckduckgo of Brave). Kyk na die inhoudsopgawe: The basics of Twitter; Picking a niche; How to attract followers; Popular tips NOT to follow; Growth strategies; How to create tweets that get likes, retweets, and engagements; The easiest, fastest, and safest ways to make money with Twitter; How to avoid getting banned; How to build a strong network. Dan is daar die bonusse: How to create and monetize Twitter bots; Growing beyond Twitter (Reddit, Telegram, Instagram, Facebook); ’n gratis 3-maand subskripsie tot ’n outomatiseringsinstrument; en ’n argief van 258 van die skrywer se beste twiets. Behalwe vir die 3-maand subskripsie (op jou eie kry jy in elk geval sewe dae gratis, en daarna is dit $12.49 per maand minimum), kan jy soortgelyke inligting kry in somtyds lang, gedetailleerde artikels op die eerste blad van Google se soekresultate – mits jy natuurlik die regte frases en sleutelwoorde gebruik. Soortgelyke navorsing kan ook gedoen word op YouTube, Pinterest, en natuurlik op Twitter self, waar mense gereeld mini-artikels publiseer oor die onderwerp.
Sal dit nie tyd spaar om net die produk te koop nie? Ek reken: Nie juis nie. Dit vat nie lank om inligting te soek nie, en jy kan vyf of ses verskillende artikels lees in stede van om net een persoon se siening te kry. En daar’s altyd ’n moontlikheid dat een artikel vir jou addisionele frases gee waarmee jy nog inligting kan soek.
Hoekom, as jy meeste van die inligting gratis kan kry, spandeer mense nog steeds so baie geld op ’n stel PDF’s?
Die sielkundige faktor. Jy voel, indien jy meer as ’n paar rand spandeer op iets, sal jy sekerlik inspring en werk maak van wat jy leer. Plus, ’n inligtingsproduk wat ’n kwart van die verkoopsprys werd is, sal jou voorsien van ’n plan wat jy kan begin uitvoer sodra jy die laaste bladsye gelees het (en tot jou teleurstelling gesien het daar’s geen inkantasie vir ’n feetjie wat al die werk gaan doen nie).
Wat staan jou dan te doen as jy wil voortgaan met jou poging om geld te maak uit Twitter?
Vra jouself wanneer jy wil begin, want waarna jy kyk, is ’n nuwe deeltydse werk. Wil jy onmiddellik begin? Môre-oggend? Volgende Maandag?
Dan het jy ’n plan nodig, verkieslik in stappe: Wie is jou teikenmark? Op watse onderwerp gaan jy fokus? Wat gaan jy insluit in jou Twitter profiel? Watse tipe inhoud gaan jy gebruik? Hoe gereeld gaan jy inhoud publiseer? Lys van groot name in jou gekose nis wat jy moet volg, en op wie se inhoud jy moet reageer. Ensovoorts.
Dan, tyd om ’n bietjie navorsing te doen.
As jy nie te veel droog maak nie, kan jy dalk oor ’n paar maande vir jouself ’n nuwe tuinstoel koop met jou versamelde Twitter dollars – of, wie weet, dalk ’n nuwe kar.
Om voort te bou op ’n gedagte van verlede week of so: As jy kyk na meeste mense in hulle middeljare of later, is dit duidelik dat hulle nooit supersterre geword het nie. Hulle is dalk “supersterre” vir hulle families, maar bitter weinig mense eindig op met uitsonderlike talente en prestasies in enige area, wat nog te sê op meer as een gebied – soos sport én kuns, of ingenieurswese én kookkuns.
Die ander deel van die gedagte is dat selfs mense wat superster-status bereik, soms meer skade doen aan ander mense as goed. Ten spyte van al hulle prestasies en pryse en status.
Al het jy dus nooit superster-status bereik nie, nooit enige pryse gewen vir jou werk nie, nooit veel presteer op enige gebied nie, maar dit kan ook gesê word dat jy min skade verrig het aan ander mense, aan diere, en aan die omgewing, dink ek dis heeltemal gepas om te sê jy kan jou kop hoog hou – jy’t goed gedoen.
MAANDAG 24 JANUARIE 2022
Punt 1. Soos reeds genoem word bitter weinig mense supersterre. Min mense slaag daarin om meer as een of twee van die dinge te bereik wat hulle eens voorgeneem het om te doen of gehoop het om te bereik.
Punt 2. Een persoon kritiseer ’n ander vir sy onindrukwekkende inkomste en lae bydrae tot ’n gemeenskaplike saak. Vra laasgenoemde: “Maak jý soveel geld soos wat jy denkbaar kan maak? Doen jý alles in jóú vermoëns om meer uit te rig? Hoekom maak jý nie meer geld nie? Te besig om die lewe te geniet? Kan nie uitwerk hoé nie? Het probeer maar het misluk? Het probeer maar nie hard genoeg nie?”
Punt 3. Min mense skep geleenthede uit die blou lug. Meeste mense aanvaar geleenthede wat aan hulle gebied word, en werk dan hard om hierdie bronne van inkomste in stand te hou. Maar het hulle in die eerste plek die geleentheid geskep? Nee.
Punt 4. Wat wel gebeur, is dat mense hulleself voorberei om voordeel te trek uit bestaande geleenthede deur opgelei te word in ’n sekere veld, en deur sekere kennis te bekom.
* * *
I. Identifiseer ’n goeie geleentheid – vir jou. Mense se behoeftes en begeertes is alles geleenthede.
II. Kry opleiding of doen ondervinding op in ’n spesifieke geleentheidsveld. Rig jouself dan in om voordeel te trek uit bestaande geleenthede. (Opleiding vind nie oornag plaas nie. As jy twintig is, kan jy nog tyd spandeer om vir verskeie dinge opgelei te word. As jy vyftig is, kan jy steeds opgelei word of self vaardighede leer, maar die kans is groter dat jy sal kyk waarvoor jy reeds opgelei is, of waarin jy reeds ondervinding het.)
III. Ek het aanvanklik gedink dat 99% van al die geld wat ek in my lewe gemaak het, gekom het van geleenthede wat my aangebied was – van mense wat my gevra het of ek belangstel in ’n posisie in ’n geskenkwinkel toe ek ’n student was, tot mense in Taiwan wat my tromp-op geloop het of gebel het by die huis of aan my deur geklop het en my gevra het of ek tyd het vir nog ’n Engelse klas. Besef ek toe omtrent ’n minuut gelede: Ek was opgestel vir die geleenthede, in die geval van laasgenoemde voorbeelde, deur Taiwan toe te kom en kontakbaar te wees.
Nog iets: Meeste mense “hustle” nie op ’n straathoek vir geld nie. Vreemd genoeg, die enigste mense wat dit doen, wat “cold calls” doen en mense vra vir geld, is bedelaars – wat gesien word as op die laagste trappie van die ekonomiese hiërargie. Ek wou gesê het straatverkopers “hustle” ook, maar hulle stel hulleself ook op vir geleentheid: mense wat verby hulle stap wat toevallig nodig het of lus is vir wat hulle verkoop – “Ek is honger, en hier’s ’n ou wat boereworsrolle verkoop”.