Gedagtes voor jy geld spandeer op inligting

WOENSDAG 17 AUGUSTUS 2022

Siende dat ek amper elke dag op Twitter is, en ’n paar van my eie produkte het wat ek kan bemark, om nie te praat van hierdie blad en die Engelse weergawe wat altyd kan doen met ekstra lesers nie, dog ek toe ek moet dalk belê in ’n kursus oor hoe om geld te maak op Twitter. Die warmste produk op Gumroad is ’n gids genaamd “The Art of Twitter”, beskikbaar teen $89.00 (of as jy gelukkig is en dit kry teen ’n afslag, $62.00). Meer as 5 000 kopieë van die gids is reeds verkoop, so dis sekerlik die moeite werd om te oorweeg.

Ek hou egter terug voor ek die “Buy Now” knoppie druk. Hier’s die redes:

Ek het al baie inligtingsprodukte gekoop. Amper altyd is jy teleurgesteld aan die einde. Hoekom? Dalk is die inhoud niks meer as opgeknapte snert nie. In ander gevalle is die inligting skaflik genoeg, en jy leer dinge wat jy nie geweet het nie. Wat is dan die probleem? Jy kla dat jy gehoop het dat daar “meer inligting” sal wees.

Hier’s wat jy werklik bedoel: Jy’t gehoop op die laaste bladsy van die PDF is daar ’n inkantasie wat ’n feetjie optower wat al die werk vir jou gaan doen. Want dit is die onvermydelike volgende stap: Ses maande plus van meestal vervelige werk voor jy enige resultate sien.

Die ander rede hoekom ek vashou aan my $89 (of $62), is omdat ’n mens – so reken ek – meeste van die inhoud gratis en verniet kan kry as jy net soek daarvoor op Google (of Bing, Yahoo, Duckduckgo of Brave). Kyk na die inhoudsopgawe: The basics of Twitter; Picking a niche; How to attract followers; Popular tips NOT to follow; Growth strategies; How to create tweets that get likes, retweets, and engagements; The easiest, fastest, and safest ways to make money with Twitter; How to avoid getting banned; How to build a strong network. Dan is daar die bonusse: How to create and monetize Twitter bots; Growing beyond Twitter (Reddit, Telegram, Instagram, Facebook); ’n gratis 3-maand subskripsie tot ’n outomatiseringsinstrument; en ’n argief van 258 van die skrywer se beste twiets. Behalwe vir die 3-maand subskripsie (op jou eie kry jy in elk geval sewe dae gratis, en daarna is dit $12.49 per maand minimum), kan jy soortgelyke inligting kry in somtyds lang, gedetailleerde artikels op die eerste blad van Google se soekresultate – mits jy natuurlik die regte frases en sleutelwoorde gebruik. Soortgelyke navorsing kan ook gedoen word op YouTube, Pinterest, en natuurlik op Twitter self, waar mense gereeld mini-artikels publiseer oor die onderwerp.

Sal dit nie tyd spaar om net die produk te koop nie? Ek reken: Nie juis nie. Dit vat nie lank om inligting te soek nie, en jy kan vyf of ses verskillende artikels lees in stede van om net een persoon se siening te kry. En daar’s altyd ’n moontlikheid dat een artikel vir jou addisionele frases gee waarmee jy nog inligting kan soek.

Hoekom, as jy meeste van die inligting gratis kan kry, spandeer mense nog steeds so baie geld op ’n stel PDF’s?

Die sielkundige faktor. Jy voel, indien jy meer as ’n paar rand spandeer op iets, sal jy sekerlik inspring en werk maak van wat jy leer. Plus, ’n inligtingsproduk wat ’n kwart van die verkoopsprys werd is, sal jou voorsien van ’n plan wat jy kan begin uitvoer sodra jy die laaste bladsye gelees het (en tot jou teleurstelling gesien het daar’s geen inkantasie vir ’n feetjie wat al die werk gaan doen nie).

Wat staan jou dan te doen as jy wil voortgaan met jou poging om geld te maak uit Twitter?

Vra jouself wanneer jy wil begin, want waarna jy kyk, is ’n nuwe deeltydse werk. Wil jy onmiddellik begin? Môre-oggend? Volgende Maandag?

Dan het jy ’n plan nodig, verkieslik in stappe: Wie is jou teikenmark? Op watse onderwerp gaan jy fokus? Wat gaan jy insluit in jou Twitter profiel? Watse tipe inhoud gaan jy gebruik? Hoe gereeld gaan jy inhoud publiseer? Lys van groot name in jou gekose nis wat jy moet volg, en op wie se inhoud jy moet reageer. Ensovoorts.

Dan, tyd om ’n bietjie navorsing te doen.

As jy nie te veel droog maak nie, kan jy dalk oor ’n paar maande vir jouself ’n nuwe tuinstoel koop met jou versamelde Twitter dollars – of, wie weet, dalk ’n nuwe kar.

______________________