Alternatiewe lewenspaaie het gekruis vir my in 1995

MAANDAG 18 JULIE 2022

Toe ek in Maart 1995 Europa toegegaan het, het ek net genoeg geld gehad vir omtrent twee weke se goedkoop akkommodasie.

Ek het geland by Orly lughawe, omtrent tien kilometer suid van een van die mooiste stede in Europa – Parys. Dit was aan die begin van Maart, so toe ek uit die Kaap weg is, was dit nog warm genoeg vir ’n kortbroek en T-hemp. Die oomblik toe ek uit die vliegtuig klim en die 2º Celsius lug my gesig tref, het ek gedink ek gaan dood vries nog voor ek die Eiffeltoring gesien het.

Oorblyfsel van ’n vliegtuigkaartjie

Ek het ’n bus gevat stad toe. Uit die venster het ek karikature van Frankryk gesien: ’n man met ’n vet snor met ’n baguette onder sy arm; ’n taxibestuurder met ’n vet snor wat met oordrewe handgebare verduidelik dat die man in ’n ander kar verkeerd was; ’n aantreklike vrou in ’n bloedrooi rok en los, golwende hare, wat ek seker was na parfuum geruik het.

Ek het uitgeklim toe ek gereken het ons min of meer in die middestad was. Die bushalte was ’n paar blokke van die Seine af, en aan die ander kant van ’n groot park was die Les Invalides – waar ek ’n paar dae later ’n loopgraafjas sou sien met moddervlekke van die Eerste Wêreldoorlog.

Uitsig van die woonstel af

Ek het op ’n bankie langs die bushalte gaan sit en ’n Paul Revere gerook, en myself hoogs gelukkig geag.

Toe het ek begin soek na my blyplek – ’n een slaapkamer woonstel van ’n kennis van hoërskool. Al leidrade wat ek gehad het, was die kriptiese notas van ’n gemeenskaplike vriend wat ’n jaar tevore daar oornag het. Dit het my omtrent sewe ure gevat om dit op te spoor. Teen laatmiddag het ek my eerste frank gespandeer by ’n supermark in die buurt – op ’n stuk kaas, ’n pak macaroni, en twee blikkies Tsjeggiese bier.

Bron van kaas en goedkoop bier

Die eerste week was ek alleen in die woonstel. Ek het elke dag kilometers ver gestap – na die Eiffeltoring toe, na die Place de la Concorde, na die Père Lachaise begraafplaas, na die Moulin Rouge, en op en af die Champs-Elysées. Ek het ook een dag die trein gevat uit die stad uit na die paleis in Versailles – ’n definitiewe hoogtepunt.

Kennis se woonstel in Parys

Aan die einde van die week het my kennis teruggekom. Ek het nog ’n paar dae gebly, en toe ’n buskaartjie gekoop Amsterdam toe. Hier het ek die Anne Frank Huis besoek … en nie die Van Gogh Museum nie omdat dit te duur was.

Die plan was van die begin af dat ek een of ander werk moes kry om myself aan die lewe te hou en elke nou en dan interessante plekke te besoek. In Parys was dit nie moontlik nie vanweë die taal. In Amsterdam het ek na ’n McDonald’s toe gegaan en gevra oor werk. Die aansoekvorm het aangedui dat indien ek nie ’n burger was nie (bedoelende van die land, nie die tipe wat ’n mens eet nie), ek moes kon bewys dat ek ’n vlugteling was. Ek het ook ontmoet met die seun van ’n vriend van ’n professor van universiteit. Hy’t vae idees gehad oor klop aan deure om jou dienste aan te bied as skoonmaker, of so iets.

Volgende stop, Londen: Die hoofstad van onwettige werk vir enige iemand van enige plek in die wêreld. Ek het ’n bed gekry in ’n kamer saam met ses of sewe ander mans in ’n klein hotelletjie nie ver van Victoria Stasie af nie. Vinnig vriende gemaak en rondgeloop vir ’n paar dae – ’n foto laat neem van myself met Tower Bridge in die agtergrond, en die Imperial War Museum en die Britse Museum besoek, maar nie juis werk gesoek nie. Een aand op die nuus was daar ’n item oor ’n man van Nigerië wat onwettig gewerk het. Die polisie het hom kom soek waar hy gewoon het. Hy’t geskrik, by die venster uitgespring, en homself doodgeval. ’n Ander Suid-Afrikaner wat ook in die hotel gebly het, het gepraat van konstruksiewerk, en dat dit help as jy ’n werkvakansie permit het.

Hotel in Londen
Brug met toeris op ’n sonnige dag in Londen

Vriende van my het die vorige jaar ses maande in Brittanje spandeer op werkvakansie permitte. Geen verrassing dat dit na ’n aantrekliker opsie gelyk het as om vir die polisie te vlug nie.

Rooiligbuurt in Amsterdam

Ek het besluit om terug te gaan Amsterdam toe, vanwaar my vlug bespreek was terug Suid-Afrika toe – eintlik eers maande later, maar ek kon dit verander. Iemand het gepraat van goedkoop jeughostelle in die rooiligbuurt waar ’n mens gratis bed en ontbyt kan kry as jy help skoonmaak en wasgoed was. Ek het plek gekry in ’n hostel in ’n kamer wat geruik het na stink sokkies en ongewaste lywe. Ek het navraag gedoen oor werk, en hulle het gesê hulle sal dink daaroor (om te kyk of jy betroubaar is, het ek later verneem). Ek het egter net genoeg geld oorgehad vir ’n paar dae, so op die derde dag het ek die lugdiens gebel en plek bespreek op die vroegste vlug terug Suid-Afrika toe. ’n Dag voor ek sou vlieg, lig die bestuurder my in dat hulle van my dienste gebruik kan maak as ek nog belangstel. Ek het egter teen daai tyd minder as die ekwivalent van tien euro oorgehad.

Hande in die sak, maar platsak

Natuurlik dink ek vandag terug aan geleenthede wat ek nie aangegryp het nie. Hoekom het ek nie aansoek gedoen vir ’n werkspermit voor ek gegaan het nie, siende dat ek goed geweet het watse voordele dit sou inhou? Feit is, ek het probeer, maar die reisagent het gesê dit sal iets soos twee weke vat, en ek het nie twee weke gehad nie. Eers later het ek uitgevind dit vat net ’n dag of twee. Die twee weke in Parys, al het ek nie betaal vir verblyf nie, het ook geëet in my finansies in. Hoekom het ek nie in die eerste week in Amsterdam uitgevind oor die gratis bed-en-ontbyt as jy werk by die plek nie? Weet nie. Hoekom het ek nie meer aktief rondgevra in Londen vir geleenthede nie? Gebrek aan selfvertroue? Gebrek aan motivering? Die man wat na sy dood gespring het, sou seker op enige iemand ’n indruk gemaak het, maar daar was tog immers duisende ander mense wat onwettig gewerk het in Londen of elders op die eilande. En hoekom nie tog die werk vat in die hostel en kyk of ek oorleef vir ’n paar weke tot iets anders gebeur nie? Seker gedink my plan om terug te gaan Suid-Afrika toe, aansoek te doen vir ’n werkspermit, en dan terug te kom was meer sinvol. En veiliger.

Vriende gemaak op ’n servet

Sou dit gehelp het as ek ’n maat gehad het daar wat gesê het: “Kom ons doen dit! Kom ons vat ’n kans!”?

Ja, dit sou ’n verskil gemaak het.

’n Paar weke nadat ek terug was in Suid-Afrika, hét ek aansoek gedoen vir ’n werkspermit, en dit gekry. Pragtig het dit gepryk in my paspoort vir ses maande, en toe verval. Nooit genoeg geld bymekaar gemaak vir ’n tweede vliegkaartjie Europa toe nie.

Net mooi in die tyd wat die werkspermit verval het (einde 1995), het ek ’n advertensie gesien vir “Teaching in Korea” in die Cape Times. Wat daarna gebeur het, is die tydlyn van my werklike lewe die afgelope kwarteeu.

Hoeveel alternatiewe tydlyne het nie in daai paar maande van 1995 kruis en dwars oor mekaar geloop nie?

Kan ’n mens sê met sekerheid dat alles anders sou uitgewerk het as jy een ding verander het jare gelede, ja gesê het vir iets, nee gesê het vir iets anders, ’n later vlug gevat het, ’n ander rigting gestap het, ’n groter kans gewaag het? Wil jy hê dat dinge anders moes uitgewerk het?

Ek is gelukkig met my huidige lewe, en met hoe my lewe verloop het die laaste 27 jare. Maar sou ek my oë toemaak en die alternatiewe lyne word aan my ontbloot, sien ek ’n interessanter lewe as die een wat ek geleef het? Sou dit meer droom gewees het as nagmerrie, of andersom?

______________________

31 Desember 2001

Dis Maandag 31 Desember 2001 om 23:40. Ek gaan nou poog om in die oorblywende twintig minute ’n opsomming te maak van wat ek hierdie jaar gedoen het, ’n kort opinie daaroor te verwoord, en ook om ’n paar dinge te vermeld wat voorlopig vir my belangrik is vir die jaar wat oor twintig minute gaan begin. (Dit is natuurlik gepas dat ek hierdie jaar uitgaan op dieselfde wyse wat ek soveel duisende ure deurgebring het gedurende die afgelope twaalf maande – agter my Toshiba Satellite 2180 CDT.)

Ek het hierdie jaar voortgebou op wat ek verlede jaar begin het – deur nie meer te praat oor wat ek nog gáán doen nie, maar om te praat oor wat ek besig is om te doen. Of nog beter, om nie eintlik te praat daaroor nie, maar eerder te wys wat ek reeds gedoen het. Ek het hierdie jaar minder geld verdien as wat ek gedink het die geval gaan wees. Aan die ander kant het ek baie meer geskryf, en meer projekte aangepak en klaargemaak as wat ek gedink het ek sou.

Ek het hard gewerk hierdie jaar – aan my eie projekte. Ek het tot vyfuur, sesuur in die oggende in my “kantoor”, of in die sitkamer, of op die stoep gesit en gestaan, en geboorte gegee aan nog meer idees. Soms sou ek ontbyt gaan koop het by McDonald’s, en teen die tyd wat die meeste mense al op kantoor was, het ek eers gaan slaap. Ek het ure, dae, en weke gewerk aan dinge wat uiteindelik in bruin koeverte sou opeindig, uitgesluit uit die projekte waarvoor dit bedoel was. Ek het baie geleer oor myself, en oor dinge wat ek wil doen.

Ek het ook (weereens) besef dat ek ’n werklike belangstelling het in taalstudie. Ek het baie tyd gespandeer om materiaal saam te stel wat ek gebruik om Chinees te leer, en ek het darem opgeëindig met ’n paar ekstra woorde en uitdrukkings in my kop.

In kort, ek is trots op myself. Ek het ’n goeie jaar gehad – en ek het hard gewerk daaraan om dit ’n goeie jaar te maak! (Snaaks dat ek amper lus voel om vir iemand dankie te sê.)

Daar’s nog ses minute oor. Idees vir 2002? Betaal my skuld af, koop ’n huis in Suid-Afrika, word ’n miljoenêr, bemeester Chinees, vlieg om die wêreld in my eie Boeing met ’n dosyn minnaresse om my geselskap te hou, doen ’n meestersgraad in Geskiedenis, koop vir my ouers ’n huis, trou en kry kinders, sien hoe die hare teruggroei op my kop …

Die tyd is op. Ek moet vir my ’n Muskadel gaan skink, en my eerste sigaret van die nuwe jaar gaan rol.

* * *

Oukei, die nuwe jaar is al veertien minute aan die gang. Laat die werk begin!

Brand Smit in sy kantoor agter ’n rekenaar wat hom heeltemal te veel gekos het

______________________

Oor ’n naweek in die berge

[Gedurende die derde kwartaal van 2001 het ek heelwat ander Suid-Afrikaners in Kaohsiung ontmoet wat, soos die geval was aan die begin van 2000, ’n effek gehad het op hoe ek my lewe in Taiwan ervaar. Die volgende stukkie teks kom uit ’n brief aan ’n ou vriend van Johannesburg.]

———————

SONDAG 4 NOVEMBER 2001

“Ek het nou net teruggekeer van ’n naweek in – glo dit of nie – ongerepte wildernis. Uitgekamp langs ’n rivier, met berge wat bokant ons uitgetroon het, ensovoorts. En dit alles net meer as twee ure se ry op ’n scooter van die vieslike, vuil, besoedelde stad waar ek al my tyd verwyl.

Siende dat soveel moederlanders nou die gemeenskap van vreemdelinge hier geïnfiltreer het, hoef ek nie eens die heeltyd Engels te praat nie. Hierdie naweek was geen uitsondering nie. Ons het selfs Anton Goosen geluister tot laat in die nag!

Anyways, ek’s bly jy leef nog. Ek moet nou eers die sand van my hond gaan afwas (’n storie vir later), en vir my ’n glasie vars groentee gaan skink.”

~ Uit ’n e-pos aan ’n vriend

[Gedurende die Saterdagaand langs die rivier het ek ook ’n argument gehad met my nuwe vriende oor godsdiens. Dit het gelei tot die stuk “Om oor God te praat”.]


My hond, Jackie op pad berge toe (November 2001)
Berge, rivier, tent – Maolin, Taiwan (November 2001)
Berge – Maolin, Taiwan (November 2001)
Berge – Maolin, Taiwan (November 2001)
Bergpas – Maolin, Taiwan (November 2001)
Bont hemp kamoefleer man op rotse – Maolin, Taiwan (November 2001)
Nuwe en ou vriende – Maolin, Taiwan (November 2001)

______________________