Hoe gaan aftrede lyk oor tien of vyftien jaar?

MAANDAG 17 JUNIE 2024

Die stille waarheid: Ek het gesê wat ek wou sê. Nou doen ek wat ek moet doen om te verseker dat ek ’n relatief gemaklike aftrede kan geniet oor ’n paar jaar.

DINSDAG 18 JUNIE 2024

Nou dat ons op die onderwerp is: Hoe gaan aftrede lyk oor tien of vyftien jaar?

Gaan ’n gemaklike maar nie luukse laer-middelklas lewe méér kos as nou of minder, relatief gesproke?

Gaan behoorlike gesondheidsorg duurder of goedkoper wees?

Hoe bekostigbaar gaan huishoudelike robots wees? Sekerlik sal dit goedkoper én meer bruikbaar word, soos die geval was met persoonlike rekenaars die afgelope dertig jaar.

Wat van voedselproduksie? Dit is reeds moontlik vir woonstelbewoners in die middestad om ’n wye verskeidenheid groente in hulle sitkamers te groei, of in ’n spaarkamer. Hoe noodsaaklik gaan onafhanklike voedselproduksie wees vir oorlewing in die stad in 2030, of 2035, of 2026?

Hoe duur sal dit wees om te reis? Selfbesturende taxi na die treinstasie waar jy met ’n hoëspoedtrein sal reis na jou bestemming – duurder as nou of meer bekostigbaar? Sal ’n persoon in sy of haar sestigs of sewentigs enigsins wíl reis na ander plekke met die gepaardgaande risiko as hulle by die huis kan bly en enige dorp, stad, berg of strand in die wêreld kan ervaar met virtuele tegnologie?

Met vrugte en groente skoon van chemikalieë, genoeg oefening, lae misdaad in hoë-sekuriteit gemeenskappe, goedkoop gesondheidsorg, sal jou gemiddelde Generasie X’er dalk langer leef oor die volgende paar dekades. Groot vraag: Hoeveel geld gaan jy nodig hê om hierdie aftrede te kan bekostig?

Nog iets: Hoe sal geld werk tien jaar van nou af? Papiergeld en muntstukke sal waarskynlik uitgefaseer word. Hoeveel gaan jou Bitcoin en ander kripto-geldeenhede werd wees in 2035? Gaan dit vervang word met digitale geldeenhede wat deur ’n Ministerie van Finansies of Sentrale Bank behartig gaan word. Hoeveel erg gaan hierdie instansies hê in politieke opinie – veral opinies krities van die regering wat betref buitelandse beleid, misdaadbekamping, immigrasie, en entstowwe?

Sekerlik verdien dit ’n langer bespreking, maar kan demokrasie werk in realiteit, of is demokrasie soos die ou gesegde sê, “Twee wolwe en ’n skaap wat besluit wat hulle vir aandete gaan hê”?

Gepraat van wolwe en ’n skaap, hoe gaan lewe op die self-regerende eiland van Taiwan lyk oor ’n dekade of so? Gaan Amerika ’n ander skaap vind om te offer vir sy bloedlus en gierigheid? Die Filippyne dalk? Suid-Korea? Japan? Hoe ver sal China gaan om dit duidelik te maak aan Imperiale Amerika dat indien Taiwan ’n vasaalstaat gaan wees, dit beslis nie een gaan wees van ’n brokkelende ryk in die weste nie?

Hoe fisiek gaan aftrede in jou sestigs of sewentigs oor ’n dekade wees? Gaan jou liggaam kunsmatig aan die lewe gehou word met buise en masjiene terwyl jou verstand op vakansie is, of die wêreld vol reis? Natuurlik sal die buise net aanhou om voedingswaarde in jou are te pomp terwyl jou krediet hou. Die oomblik as jou krediet nul bereik, vervaag jou uitsig van die strand, of van die Eiffeltoring, tot jy een laaste “bliep” hoor.

Wat van ’n mediese instansie wat jou bystaan om jou eie lewe te beëindig wanneer jy ’n sekere ouderdom bereik? Of wanneer jy een of ander siekte ontwikkel wat genees kan word, maar dit sal tyd en geld vereis. Of wanneer jou geld min raak. Hoe populêr gaan dit wees vir mense wat nie ’n gemaklike aftrede kan bekostig nie, of vir wie iets verkeerd gegaan het ’n paar jaar voor hulle sou aftree? Hoe normaal gaan dit wees tien jaar van nou af vir dokters en ander professionele mense wat werk met ouer mense om dit voor te stel as ’n “waardige” oplossing? (Sal mediese personeel ’n kommissie verdien vir hulle aanbevelings?)

Gaan dit ’n geval wees van mense wat geld het wat gaan leef tot die rype ouderdom van 120 of selfs langer, met vars gedrukte of ontwikkelde organe, nuwe tande, en allerhande ander mediese wonders in die plek van hulle ou onderdele, en mense wat teen 45 of 50 nie daarin geslaag het om finansiële sukses te bewerkstellig nie, of wat nie genoeg geërf het van die vorige generasie nie, wat aangemoedig sal word om staatsgesubsidieerde genadedood te ontvang?

______________________

’n Ander soort aftrede

MAANDAG 25 JULIE 2022

Karl Marx se tweede oudste dogter, Jenny Laura Marx, en haar eggenoot, Paul Lafargue, het saam selfmoord gepleeg in 1911. Hulle het die grootste deel van hul volwasse lewens gespandeer aan rewolusionêre werk, onder andere die vertaling van Karl Marx se werke in Frans. Toe sy 66 was en haar man 69, het hulle besluit hulle het niks meer om te gee aan die saak waaraan hulle hul lewens gewy het nie.

Paul Lafargue het in ’n brief onder andere die volgende geskryf ter verduideliking: “Healthy in body and mind, I end my life before pitiless old age which has taken from me my pleasures and joys one after another; and which has been stripping me of my physical and mental powers, can paralyse my energy and break my will, making me a burden to myself and to others. For some years I had promised myself not to live beyond 70; and I fixed the exact year for my departure from life. I prepared the method for the execution of our resolution; it was a hypodermic of cyanide acid.”

Dis verseker ’n onaangename onderwerp. Ou man of vrou reken hulle is nie meer bruikbaar nie, of kan nie meer ’n bydrae maak nie, so verhaas die einde. Sou regerings en maatskappye wat toenemend hoë pensioenuitbetalings moet maak aan mense wat langer en langer leef, entoesiasties wees oor so ’n idee? Wie weet.

Tog dink ek: Stel jouself voor jy is 70 jaar oud. Jy is enkellopend, of ’n weduwee of wewenaar. Jy’t geen kinders of kleinkinders nie. Jy’t ook nie veel van ’n pensioen nie, en jy is nie meer lus om te werk nie.

Dan kom jy te hore van ’n program met ’n naam soos “Dignified Last Journey”.

Voor jy die program se fasiliteit betree vir die laaste kilometer van jou reis, help ’n konsultant jou om jou sake af te handel, jou laaste besittings te verkoop of weg te gee, totsiens te sê aan jou oorblywende vriende of kennisse, en so aan.

Dan breek jou laaste paar dae aan. Jy eet lekker maar gesonde kos – jy wil nie negatiewe gevolge ervaar in jou laaste dae nie. Gemak is die sleutelwoord. Jy begin ook daagliks dosisse morfien kry. Jy slaap lekker, en elke dag langer. Op Dag 7, wanneer jy die laaste inspuiting kry, dink jy nie meer nie. Jy’s in droomland.

______________________

Dit kan dalk net ’n nagmerrie wees om oud te raak

MAANDAG 28 MAART 2022

Wanneer ek doodgaan, is die minimum wat ek wil nalaat geen skuld nie; genoeg geld sodat my naasbestaandes of wederhelfte nie uit hulle eie sak die onkoste hoef te dek om my te begrawe of te veras nie; en ten minste NT$2 miljoen/$70,000/€60,000/R1 miljoen om my wederhelfte finansieel by te staan in die eerste jaar of so na my heengaan.

Nadat jy 65 of 70 bereik het, is daar ’n paar moontlikhede hoe jy aan die lewe kan bly:

1. Hou aan werk tot jy dood neerslaan.

2. Hoop iemand sorg vir jou tot jy doodgaan.

3. Hoop jou pensioenfonds hou aan uitbetaal tot jy doodgaan.

4. Hoop die geldjies wat die staat vir jou gee elke maand is genoeg dat jy nie doodgaan van honger nie.

5. Hoop jou spaargeld hou tot jy doodgaan.

Wat ’n mens laat dink: Dis nie noodwendig ’n goeie ding om te oud te raak nie.

En selfs al het jy genoeg geld wat jou behoort te hou tot jy doodgaan in jou tagtigs of negentigs, is daar altyd slegte kinders of kleinkinders wat jou uit jou geld kan swendel, of sogenaamde wettige voogde wat ’n regter kan oortuig dat jy seniel is en nie meer jou eie finansies kan behartig nie, en dat hulle vir jou eie beswil jou finansies moet oorneem.

Weereens tref dit jou: Tensy jy werklik goeie kinders groot gemaak het, of besonders goedhartige familie het, kan dit dalk net ’n nagmerrie wees om oud te raak.

______________________