Elke siel op hierdie planeet – twee maniere om geld te maak

VRYDAG 8 DESEMBER 2006

Dit wat ek wil word, dit wat ek wil wees, die leefstyl wat ek my eie wil maak, die tipe dae en nagte wat ek kenmerkend wil maak van my lewe, is nie vir almal beskore nie.

Hier is my advies – aan myself, en aan enige ander persoon met ʼn droom: Hou aan om te glo daaraan, werk daaraan, vertroos jouself as jy lang dae en nagte werk aan projekte met geen einde in sig nie, met geen vrugte wat wag om gepluk en geniet te word nie. Smeer salf aan jou frustrasies, tye wat jy reken jy ’n Moses is wat die Beloofde Land sal sien maar nooit sal betree nie.

Dinge sal bymekaar kom. Glo dit … en gaan voort om te werk daaraan om dit waar te maak.

MAANDAG 11 DESEMBER 2006

Hier is wat ek wil hê: ’n Kliphuis op ’n koppie, op ’n eiland ’n goeie ent van die naaste vasteland af. Die wind moet waai – nie noodwendig heeldag nie, maar sê so van laatmiddag af, en die aande moet ten minste koel wees indien nie koud nie.

Ek sal die hele oggend en middag in my kantoor besig wees met my projekte, en so teen vieruur se kant – soos die wind begin optel – sal ek breek, eers vir tee, dan vir ’n stappie op die strand, dan aandete. (Miskien kan ek ’n middagslapie ook inwerk, in die sitkamer op die rusbank, met die TV se klank sag gedraai.)

Na aandete en ’n bietjie TV, sal ek verder werk. Naweke sal ons vasteland toe gaan, by ʼn klein hotel inboek, tyd spandeer saam met vriende en familie, inkopies doen, rondloop, eet in ordentlike restaurante – en teen Sondagmiddag weer teruggaan eiland toe.

Vertaling: Ek wil genoeg geld hê sodat ek kan doen wat elke siel op hierdie planeet sal doen as almal geweet het van die moontlikheid, of: as almal ʼn begeerte gehad het om meer te vermag met hul aardse bestaan as wat ’n troeteldier of ’n aasvoël kan vermag met hulle tyd op aarde. Ek sal werk aan my eie opvoeding, aan die uitbreiding van my kennis en die verbetering van my vermoëns, en aan die praktiese toepassing van my kennis en vermoëns in werk wat my talente en persoonlikheid pas.

Hoe kan hierdie lewe ooit moontlik wees?

Dit kan slegs moontlik wees met ’n geldmasjien wat met minimum instandhouding sal voortgaan om geld te produseer – jaar in, en jaar uit.

DINSDAG 19 DESEMBER 2006

Idees is soos skoenlappers, en ek is soos ’n kind wat almal jaag en derhalwe nie slaag daarin om ’n enkele een te vang nie – ten spyte van die groot hoeveelheid moontlikhede.

VRYDAG 22 DESEMBER 2006

Taiwan is not in my room – reflections from the inside

OR: A personal agenda: shortened, with added detail

DONDERDAG 28 DESEMBER 2006

Is spirituele ontwikkeling in die moderne wêreld moontlik sonder finansiële onafhanklikheid? Sou seun van ʼn plaaslike heerser, Siddhartha Gautama, ooit die reis kon begin om Heer Boeddha te word as hy nie gekom het uit ’n posisie van finansiële gemak nie?

SONDAG 31 DESEMBER 2006

Een van vele lesse geleer tydens 2006: Twee maniere om geld te maak:

1. Jy verkoop – jou tyd, jou kennis, jou vermoëns, jou ervaring, selfs jou liggaam.

2. Jy spekuleer – in aandele, casino games, eiendom, buitelandse valuta, perderesies, ʼn koffiewinkel, en ander geleenthede waar daar ʼn kans is om weg te kom met ʼn profyt.

______________________

Waagkans op Roulette – vry man se skryfprojekte

VRYDAG 3 NOVEMBER 2006

[Agtergrond: In Oktober 2006 het ek in ’n e-boek gelees van ’n Roulette strategie waarmee mens blykbaar geld kan maak by aanlyn casino’s. Die strategie behels dat jy wag tot iets nie gebeur het nie vir ’n paar rondtes, en dan begin jy om ’n reeks weddenskappe te plaas dat daai ding spoedig sal gebeur. Indien jy nie met die eerste spin van die wiel wen nie, verhoog jy jou weddenskap ietwat. As jy nie met die tweede rondte wen nie, doen jy dit weer. In teorie is jy veronderstel om na ’n paar rondtes te wen, en omdat jy toenemend meer gewed het met elke spin, is jy veronderstel om al die geld terug te wen wat jy verloor het. Die skaal van toenemend hoër weddenskappe gaan op tot elf rondtes. Maar, verduidelik die ou van die e-boek, moenie jouself te veel daaroor bekommer nie. Dit is, volgens hom, uiters raar dat jou weddenskappe so hoog sal raak.]

Ek sal vinnig wees.

Verlede Vrydag het ek ’n deposito gemaak by [ʼn aanlyn casino], en teen Woensdag het ek begin “werk”. Donderdag (gister) betaal ek R200 in by [ʼn ander casino], en ek begin toe ’n halfuur later daar ook te speel.

Een ding het my wel ’n bietjie gespanne gemaak: Wat gebeur as die kolom waarop ek toenemend hoër weddenskappe plaas na elf rondtes nog steeds nie gewen het nie? Ek het geweet dis tegnies moontlik, en die e-boek ou wat die Roulette storie oorspronklik onder my aandag gebring het, het iets genoem van 94.6%.

Derde sessie by [die eerste casino], toe gebeur dit: sewende rondte, agste rondte (ek sluk), negende rondte … tiende rondte … “Nou moet dit werk …” Plaas R67 op die kolom vir die elfde en hopelik laaste rondte in die reeks. Kliek “Spin” … verloor.

“Oukei,” dink ek, “ek het nou die dag uitgewerk jy speel R101 as jy elf keer in ’n ry verloor het.” Plaas die weddenskap. Kliek. Spin. Verloor. Wit in die gesig. Skuif bewerig ’n R25-chip na die punt van die gewraakte kolom. Spin. Wen. R75. Ek het R99 oor in my rekening. Ek het sopas R241 verloor.

MAANDAG 20 NOVEMBER 2006

Ek is moeg. Ek is moeg vir sogenaamde geld-projekte wat óf nooit klaarkom nie, óf drie stappe vorentoe gaan, en 2.999 stappe terug.

Ek is lus – ek het nodig en ek het lus om vir net aand te vergeet van geld, of vir net een aand en ’n dag, of miskien selfs vir een aand en die res van die week. Want op hierdie stadium, op hierdie aand, sal selfs sukses te veel wees vir my.

WOENSDAG 22 NOVEMBER 2006

Brand dink sy lewe is vervelig en hy spandeer nie genoeg tyd aan dinge wat hy geniet nie. Die enigste manier hoe hy sy daaglikse bestaan draaglik kan maak, is om homself te oortuig dat dinge anders sal wees oor ses maande. Oor ses maande sal sy lewe meer opwindend wees; oor ses maande sal hy meer tyd kan spandeer aan die dinge wat hy geniet – skryfwerk, studie, en so aan.

Wat Brand egter nie besef nie – of wat hy miskien tog besef maar waaraan hy skynbaar magteloos of onwillig is om enige iets te doen – is dat “ses maande” elke ses maande hernu word. Elke ses maande word daar dus opnuut gesweer: “Oor ses maande …”

Dalk nader aan die werklikheid: Elke dag is ’n vorige ses-maand periode verby. Elke dag verbind hy homself plegtig tot die volgende ses maande.

Elke dag, elke maand, elke jaar. Elke ses maande.

Is hy magteloos om hierdie skynbaar oneindige siklus te verbreek? Gaan hy 37, en 40, en 45 en 50 jaar oud word en steeds glo dat alles beter gaan wees binne ses maande?

Niemand kan kwalik geneem word as hulle dink, “Ek is bly ek is nie hierdie Brand-ou nie.”

Ek, aan die ander kant, het nie daai opsie nie. Ek moet eenvoudig myself in die spieël kyk en sê: “Dit is ek, hierdie ‘Brand’. Dit is ek wat nie my doelwitte kan realiseer nie.” Of kan ek? (Moes net vra, anders lyk dit asof ek nie geloof in myself het nie.)

VRYDAG 24 NOVEMBER 2006

Die studente skryf, so ek sit hier en doen niks nie. Ek het niks om te sê nie. Ek is moeg, en ’n bietjie moedeloos. Ek is 35 jaar oud. My grootste skryfprojek tot dusver is afgehandel, en ek weet hoe om ’n lesersmark te bereik – selfs hoe ek mense kan kry om te betaal vir wat hulle lees. Ek moet wel fokken baie geld in die hande kry om te kan betaal vir proeflees en sulke goed. Ek moet ook fokken baie geld in die hande kry om te kan betaal vir – en hier is ek opreg as ek sê ek is geseënd – my en Natasja se troue [ons het onlangs verloof geraak]. Ook moet ek fokken baie geld in die hande kry om my tande te laat regmaak, skuld af te betaal, my bokse in Suid-Afrika uit te sorteer, en vroeg volgende jaar op vakansie te kan gaan. Ook moet ek fokken baie geld in die hande kry om my ouers uit hulle suffering te (probeer) red. Ook moet ek fokken baie geld in die hande kry om te belê in projekte wat in die toekoms kan voortgaan om vir my baie geld te gee sodat ek kan voortgaan om te wees wat ek nou is: ’n vry mens.

SATERDAG 25 NOVEMBER 2006

As jy streef na persoonlike vryheid, maar jy doen dit ten koste van ’n ander persoon se strewe na vryheid, dien jy nie die saak van vryheid nie; jy dien eenvoudig jou eie selfsugtige behoeftes.

WOENSDAG 29 NOVEMBER 2006

My skryfprojekte het in die verlede ’n doel gedien – dit moes bewys lewer van my bestaan in ’n periode van my lewe toe daar meeste van die tyd niemand was om dit te verifieer nie – of dan, niemand wat vir my veel beteken het of vir wie ek veel beteken het nie. (Die gedagte is geïnspireer deur die 2004 film, Shall We Dance? Susan Sarandon se karakter verduidelik in een toneel dat in ʼn huwelik die twee persone onderneem om getuies te wees van mekaar se lewens.)

My vraag is nou: Wanneer ek terugkeer na vars literêre projekte, watse doel sal dit dan dien? Moontlik dieselfde? Graad verskil, met ander motiewe?

______________________

Waarde gemanifesteer – natuurlike bestaanstoestand

DONDERDAG 12 OKTOBER 2006

Natasja is die tipe persoon wat ’n mens laat glo aan die lewe, en aan liefde.

Ons almal weeg onsself op teen ander mense; ons kyk na wat hulle doen met hulle lewens, en hoe hulle hulleself sien. Op grond van hierdie observasies en gepaardgaande self-kritiek, bepaal ons ons eie waarde. In vele gevalle lyk die prentjie nie rooskleurig nie.

Tog, dit is juis in verhouding met ander mense wat ons waarde werklik gemanifesteer word. Bogenoemde stelling oor Natasja plaas haar in ’n uitgesoekte klas van edel aardbewoners: Een wat ’n Ander Mens laat Glo aan die Lewe, en aan Liefde.

Die vreemde ding is, ons is baie keer onkundig oor ons eie waarde, tot ons hierdie persoon word vir iemand anders.

* * *

[Agterop ’n stuk gemorspos, met geen datum nie, maar ek het dit gekram by Donderdag 12 Oktober 2006 se notas:]

You cannot claim to be a moral person, nor to live a moral life, if you are not capable of immorality to begin with. It is only when you are capable of an immoral act, and you choose not to turn possibility into action, that you can claim whatever reward awaits a moral person.

(Of, om ’n eenvoudige godsdienstige metafoor te gebruik: Mens kan nie “hemel” toe gaan omdat jy nie “sondes” gepleeg het as jy nie in staat was tot sonde in die eerste plek nie.)

VRYDAG 13 OKTOBER 2006

So teen 04:00 vanoggend gaan ek toilet toe. Soos ek heel onskuldig daar staan, vorm ’n gedagte in die bloedvate wat my brein is: “Ek is ’n onsuksesvolle entrepreneur.”

Vir ʼn oomblik was ek effens geskok, en ietwat verward. Om myself beter te laat voel, herinner ek myself daaraan dat voordat ek ’n onsuksesvolle entrepreneur geword het, ek ’n ongepubliseerde skrywer was.

So much for that.

* * *

Miskien is die skrywer van daai een e-boek reg: die natuurlike bestaanstoestand vir die mens is geluk.

Dit beteken om ellendig te voel en gedurig onder stres te verkeer, is onnatuurlik, en moet ten alle koste bestry word as ’n gruwel.

WOENSDAG 25 OKTOBER 2006

If one isn’t always two, do you really need a chip on your shoulder to see that?

______________________

Gebrekke in my begrip, en in my situasie op kantoor

DINSDAG 5 SEPTEMBER 2006

Ek raak toenemend bewus van die tekortkominge in my begrip van die lewe en hoe dinge werk – en ek dink nie dit is omdat ek enige iets vergeet het wat ek voorheen verstaan het nie!

Dis soos om ’n boek te lees, om te blaai … en niks. Jy blaai terug: daar’s die teks en die eerste deel van ’n sin, maar die sin gaan nie voort op die volgende blad nie – asof dit nog nie klaar geskryf is nie.

Dit sê vir my dat ek moet gaan soek vir die res van die teks, of ek moet die regte skrywer opspoor – of ek moet wag dat die res van die teks na my toe kom sodat ek self die res van die bladsye kan opvul.

MAANDAG 11 SEPTEMBER 2006

17:33

Ek moet vir my ’n ander woonplek kry. Dit voel asof ek leef, woon en werk in my kantoor. Naweke is ’n bietjie meer spesiaal want dan kom kuier Natasja vir my – maar dit is steeds my kantoor! Dan kyk sy TV, en so nou en dan kyk ek saam met haar TV – in my kantoor. En omdat ek ook slaapkwartiere het waar ek werk, slaap ons ook daar – in my kantoor.

Op weekdae staan ek so tussen nege-uur en tienuur op. ’n Uur later is ek aan die werk. Ek breek miskien vir middagete, so teen vieruur vat ek ’n stort, gaan uit om klas te gee, kry aandete op pad huis toe, nuttig die aandete terwyl ’n bietjie TV kyk, en dan gaan ek voort met my werk – tot so twee-uur of drie-uur in die oggend. Ek doen dit Maandag tot Vrydag. Saterdag is dieselfde, behalwe dat ek nie klasgee nie. Sondag probeer ek om ’n bietjie meer TV te kyk.

Sewe fokken dae per week – in my kantoor.

18:03

Wat dan nou van die idee van ’n kantoor by die huis? Geen probleem nie, selfs ideaal. Wat ek egter geleer het, is dat jou werkspasie en jou woonspasie behoorlik geskei moet wees. Dit is hoekom ek ’n ander woonplek moet kry – nie omdat daar iets vreeslik fout is met my huidige woonstel nie, maar omdat dit lank nie meer ’n tuiste is nie. Ek het dus nie ’n tuis-kantoor nie; ek het ’n kantoor-tuiste.

kantoor-tuiste, Julie 2006
Brand Smit in sy kantoor-tuiste, Julie 2006

______________________

My beskouing van geld en ander dinge waaraan ek ly

DONDERDAG 3 AUGUSTUS 2006

Privaatlewe, wat begin met besorgdheid vir jou eie welsyn voor dit uitkring, en dan betrokkenheid by die wêreld – selektiewe betrokkenheid, want daar is baie lyding, en selfs aktiviste wat leef vir betrokkenheid is selektief (slegs vlugtelinge, byvoorbeeld, of slegs vlugtelinge in een land).

Dit is waar dat sommige mense ly aan wat ʼn mens “hoogtevrees” kan noem. Dit is ook belangrik om te verstaan dat laaglê nie dieselfde is as om vasgekeer te wees in ’n tonnel nie.

VRYDAG 4 AUGUSTUS 2006

Werklike geloof is om nie te weet nie.

Om te weet en om te glo is twee verskillende goed. Vele godsdienstige mense verwar die twee – met betekenisvolle gevolge.

* * *

“Ek weet nie, maar ek glo.”

SATERDAG 19 AUGUSTUS 2006

“A man only needs one thing: to have someone to love. If you can’t give him that, give him some hope. If you can’t give him that, just give him something to do.” ~ aanhaling uit ’n fliek oor ’n vliegtuig wat geval het in ’n woestyn

DONDERDAG 24 AUGUSTUS 2006

ʼn Idee sal na my toe kom: ek sal byvoorbeeld in die kombuis staan, na die muur staar en aan ’n Nat Sherman suig, en dan … BOEM! Ek sal my berekenings maak, agter die rekenaar gaan sit en ʼn paar lêers oopmaak; die idee sal groei, en dan dit, en dan dat … en voor ek myself kan kry, werk ek hoofsaaklik aan die nuwe idee. Dan sal die idee nog meer opwindend raak. Ek sal freneties lêers begin uitsorteer, lyste maak, administreer – en dan sal ʼn gedagte skielik by my opkom: “Was ons nie nog laas, net ’n paar dae gelede, hoofsaaklik besig om aan iets anders te werk nie?”

DONDERDAG 31 AUGUSTUS 2006

Ek kan sien dat dit nodig sal wees om my beskouing van geld te heroorweeg alvorens ek enige graad van finansiële sukses kan behaal. So, wat was my beskouing van geld tot nou toe?

As kind het ek geleer dat geld iets is wat almal nodig het. Om die waarheid te sê, en dit het ek in my tienerjare al baie goed besef, sonder geld staan jy nie ’n kat se kans in hel nie. Geld is verder iets, so het ek altyd geglo, waarvoor jy hard moet werk, heel moontlik in ’n kantoor – as jy gelukkig is, of in ’n fabriek, of buite in die warm son as jy ’n ongeskoolde arbeider is – of nie werk kan kry in ’n kantoor of in ’n fabriek nie. Verder het ek grootgeword met die idee dat jy ten minste agt ure per dag moet werk, Maandag tot Vrydag – tensy jy nie genoeg geld verdien tussen Maandag en Vrydag nie, wat sal beteken dat jy nog Saterdag en dalk nog Sondag ook moet werk. Laastens het my beskouing van geld (vroeër jare, ten minste) ook ingesluit dat jy ’n “baas” sal hê, en dat jy moet doen en sê soos die “baas” wil hê jy moet doen en sê as jy nie summier afgedank wil word nie. O ja, en die eienaar of bestuurder van die plek waar jy geld verdien, gee jou net so een of twee keer per jaar “verlof” – dit is nou die kort, maar wonderlike periodes wanneer jy vir dae aaneen nie hoef werk toe te gaan nie, en net tyd kan spandeer met jou familie, as jy gelukkig is, by die see.

Dit – was die beskouing van geld waarmee ek grootgeword het. Ek het hierdie dinge so aanvaar, want dit het vir my geblyk asof almal in die omgewings waar ek my bestaan gevoer het, dit so aanvaar het.

______________________