My onbewustelike handewerk: Die Mitologiese Geldgod

DONDERDAG 29 APRIL 2010

Op pad skool toe vanmiddag gaan ek deur my lys van take waarmee ek tans besig is. Kom ’n gedagte uit ’n plek wat ’n mens net kan beskryf as die onderbewuste, siende dat ek nie bewustelik ’n keuse gemaak het om die gedagte te dink nie.

“Dis alles goed en wel,” meen die gedagte, “maar iets is nie lekker nie.”

“Wat?” vra ek.

“Ek weet nie,” kom die antwoord. “Die take is so … alledaags.”

“Alledaags?” wil ek bevestig.

“Ja, ek meen – is jy nie veronderstel om geld te maak nie?”

“Ja? En?”

“Wel,” begin die Gedagte Uit Die Diepte, “om geld te maak is mos ’n helse groot saak, is dit nie? Hoe dink jy gaan jy geld maak met sulke alledaagse take?”

En daar het jy dit. ’n Oortuiging uit die Onderwêreld.

Maak geen fout nie: Ekself het hierdie monster geskep uit geldmaak – ’n god as’t ware, waarvoor ek moet neerbuig in nederigheid, wat ek moet beïndruk met my harde werk: agt ure se gesukkel om ’n skroef in te draai met my duimnael waar dertig sekondes met ’n skroewedraaier voldoende sou wees; en met komplekse prosesse en indrukwekkende take, nie die alledaagse soort wat enige entrepreneur met ’n halwe brein kan doen nie. Dit is my werk, hierdie. Dit is wat ek doen. Ek het hierdie mitologiese figuur geskep, want om geld te maak, is immers ’n helse groot affêre. (Later gedink as ek die figuur van nader moes ondersoek, ek sou agterkom hy is gemaak uit papierpulp en gom, want ek kon nie klei of metaal bekostig nie.)

Reken ek dit laat my met twee opsies:

Opsie A) Selfs al is ander entrepreneurs nie opgeskeep met ’n soortgelyke monster in hulle koppe nie, sal ek moet voortgaan om die handgebeitelde God van Geld te eer. Ek sal seker ook ’n mantra moet uitwerk wat ek sal opsê terwyl ek my take doen. Ek sal ook, uit die aard van die saak, wierook moet brand, en godsdienstige dreunsang in die agtergrond moet speel.

Opsie B) Ek moet hierdie lomp, opgeblase figuur herken vir die valse god wat dit werklik is. Net soos ander mense monsteragtige figure maak van hulle vrese, of van dinge wat hulle moet doen waarvoor hulle nie opgewasse voel nie, so moet ek erken dat hierdie niks meer is as my eie skepping nie. Ek reken, indien ek daarin kan slaag om hierdie afskuwelike hallusinasie uit my verbeelding te dryf, ek sal kan voortgaan met die somtyds alledaagse take wat net dalk mag lei tot die inkomste wat lankal myne kon wees.

______________________

Ek probeer om radikaal te wees, sonder my blou kitaar

WOENSDAG 3 MAART 2010

11:58

Twee (moontlik) onverwante gedagtes:

1. My blou elektriese kitaar wat ek in 2000 aangeskaf het in ’n maniese periode toe ek gedink het ek gaan ’n popster of iets word, het uiteindelik sy ware doel en waarde ontbloot: om na tien jaar verkoop te word vir kosgeld wat moontlik so lank as twee weke sal hou.

2. Vir as ek dit gemis het, die punt is opvoeding, en meer spesifiek, ek wat ander mense se opvoeding fasiliteer. Ek reken die onderwerp is voor die hand liggend: finansiële onafhanklikheid. (Hoe werk dit, as ek self sukkel om kop bo water te hou? Ons leer uit mekaar se foute, en uit wat ons wysraak op pad êrens heen.)

20:39

Dit is beter om psigoties te wees en/of in ’n waan te leef as om op te gee. “One can never be radical enough; that is, one must always try to be as radical as reality itself,” het Lenin blykbaar op ’n dag gesê.

VRYDAG 5 MAART 2010

Drie beelde:

– die suksesvolle persoon – familie en vriende ag hom as suksesvol, so ook kollegas en kennisse, maar bowenal ag hy homself as suksesvol

– die een wat opgegee het – trek lewensenergie uit enige een wat nog probeer om iets te doen; skiet alle pogings en idees af; versuur ander mense se hoop; kritiseer alles; bitter

– die een wat aanhou probeer – selfs as dit op ’n punt kom wat sy vriende en familie begin dink dat hy dit nooit sal “maak” nie, selfs al slaag hy nie daarin om sy doelwitte te verwesenlik in die redelike tyd wat hy vir homself gestel het nie, sal hy aanhou werk daaraan, en hy sal heel waarskynlik aanhou tot die dag wat hy verwelk en in die niet verdwyn

SONDAG 21 MAART 2010

Niks beklemtoon jou skande en verleentheid heeltemal soveel soos om absoluut geen kontant in jou beursie te hê nie, en nie genoeg geld in die bank om dit wat jy het, by ’n OTM te trek nie.

VRYDAG 26 MAART 2010

Ek toon al vir jare hierdie neiging om ongemaklik te wees oor die moontlikheid van oormatige geluk.

Sê ’n stem in my kop: Jy doen op die oomblik omtrent 25 of 30% op die geluk-skaal. Baie mense kan gaan tot so 80% voor hulle ongemaklik begin raak. Jy kan self gaan tot so 60 of 65% voor jou kop sal ontplof, so ten minste vir die afsienbare toekoms het jy niks om oor bekommerd te wees nie.

MAANDAG 29 MAART 2010

Beskerm die gees – dit is jou primêre verantwoordelikheid. Wanneer die gees begin kwyn, begin alles ontrafel.

______________________

Op die regte spoor, maar nog nie daar nie

VRYDAG 5 MAART 2010

“Is ek op die regte pad?” hoor ek ’n stem vra. “Doen ons nou die regte dinge?”

Stel jouself voor jy beplan ’n reis, kom ons sê Pretoria tot Kaapstad. Jy bespreek jou treinkaartjie; jy pak jou tas die dag voor jy vertrek; jy gaan slaap vroeg; jy staan betyds op. Meer as ’n uur voor die trein vertrek, is jy reeds op Pretoria-stasie. Jy boek in, vind jou kompartement, laai jou bagasie en wag geduldig op ’n sitplek langs die venster. Stiptelik op die regte minuut begin die trein beweeg, en jy is op pad na jou beplande bestemming.

As ek myself vra hoekom “ons” nog nie geld maak nie hoewel “ons” blykbaar nou die regte dinge doen, is dit soortgelyk as om te vra in my treinreis storie, wanneer die trein Kimberley binnetrek, “Hoekom is ons nog nie in Kaapstad nie? Iets is nie reg nie. Jy sê ons is op die regte trein, volgens jou blykbaar op pad Kaapstad toe, maar ek sien nog nie eens die buitelyn van Tafelberg op die horison nie! Wat gaan aan hier?”

My advies aan die “reisiger”: Kalmeer. Jy sal wel arriveer wanneer al die regte plekke aangegaan is, en jy geduldig voortgegaan het met die reis en die versoeking weerstaan het om af te klim by Drie Susters of De Aar omdat jy kon sweer ’n ander trein jou vinniger in Kaapstad gaan bring. Jy is op die regte trein. Bly net kalm.

______________________

’n Stukkie grond, ’n goeie inkomstestelsel, of jy sterf

DONDERDAG 18 FEBRUARIE 2010

Hoe méér ander mense ’n belang het by jou sukses, hoe hoër die waarskynlikheid dat jy suksesvol sal wees.

Ook, hoe méér ander mense geraak sal word deur jou mislukking, hoe harder sal hulle probeer om dit te verhoed.

WOENSDAG 24 FEBRUARIE 2010

Ek weet van ’n ou wat ’n taalsentrum besit in die stad – soos die sentrums waar ons Engelse klasse gee. Alle aanduidings is dat hy nie veel weet van bemarking nie. Tog, hy maak lekker geld met sy besigheid.

Hoekom? Die stelsel waarop sy besigheid bestuur word, is deur ander mense ontwikkel, en hy laat toe dat die besigheid bestuur word volgens daai mense se goed uitgewerkte formule.

Dit beteken hy kan homself tot ’n mate verwyder uit die besigheid, en steeds geld maak.

Dit beteken jy kan geld maak, ten spyte van jou swakhede, as jy ’n goeie stelsel in plek het en jy gedissiplineerd genoeg is om die stelsel te volg. Soveel te meer as hierdie stelsel bekwame mense betrek – wat elk hul deel doen in ruil vir redelike vergoeding.

SATERDAG 27 FEBRUARIE 2010

Indien jou ouers nie aan jou beskikbaar gestel het ’n stukkie grond om te bearbei vir groente en om dalk ’n paar stuks pluimvee op aan te hou nie, het jy kapitaal nodig wat jy kan verruil vir wat jy nodig het om aan die lewe te bly.

Daar is twee maniere om wettiglik kapitaal te bekom (uitgesluit as deel van ’n erfenis): jy verkoop iets, of jy spekuleer oor die waarde van iets.

Indien jy verkoop, is dit van kardinale belang dat wát jy verkoop, waarde het vir ten minste een persoon.

Indien jy spekuleer oor waarde, moet jy oor die vermoë beskik om werklike waarde te kan bereken – ’n vermoë goed genoeg om oor die langtermyn terug te kry wat jy op die tafel gelê het plus ’n paar persent wins.

As jy nie ten minste een van die twee wyses om wettiglik kapitaal in te win, bemeester nie, sal jy niks hê om te ruil vir wat jy nodig het om te oorleef nie. (Indien jy besluit om jouself te wend tot kriminele aktiwiteite om te bekom wat jy nodig het, sal die owerhede verplig wees om jou te arresteer en jou te ontneem van jou vryheid en selfs jou lewe.)

Indien ’n ander persoon of instelling jammer voel vir jou, kan jy nog oorleef; indien nie, sal jy sterf.

______________________

Selfgesprek oor beplande versus onbeplande swangerskap

MAANDAG 22 FEBRUARIE 2010

18:37

Die gesprek met myself het begin as ’n kontemplasie op my fiets op pad na my gewone aandete-plek toe. Ek het gedink oor hoe ek myself voortdurend “second-guess” deesdae: Was ek veronderstel om dit te sê? Moes ek nie dalk anders opgetree het nie? Moet ek anders reageer of optree siende dat ek amper veertig is?

Ek het gedink daaraan dat ek altyd gereken het mens ontgroei sulke onsekerhede.

“Dalk maak dit ’n verskil as jy kinders het,” dink ek toe. “Jy’t meer belangriker dinge om oor te worry, so jy’t nie tyd of lus vir simpel ouderdoms-verwante onsekerhede nie.”

“Stel jouself voor,” kom die reaksie van die ander stem in my kop, “ek sê skielik ek wil kinders hê.”

“Dis die probleem,” antwoord ek myself onmiddellik. “As swangerskap die natuurlike gevolg is van die saamwees van ’n man en vrou, then so be it. So sê ek al vir lank. Maar as ’n mens ’n swangerskap beplan … dis te selfsugtig. Ek wil ’n kind hê – ongeag watse lyding die kind sal moet deurgaan in hierdie wêreld.”

“Sê jy beplande swangerskap is ’n slegte idee?”

“Nee, ek sê net ek het persoonlik ’n probleem met ’n beplande swangerskap. Dit beteken ek sal my kind in die oë moet kyk as hy of sy pyn en lyding deurmaak, en ek sal moet sê jammer, ek het nodig gehad om ’n pa te wees, so jy sal maar net die gevolge moet dra. As my vrou nou moet swanger raak, dan kan ons sê, oukei, dit was die natuurlike gevolg van ’n natuurlike daad tussen twee mense wat mekaar liefhet, ’n normale verskynsel in ’n gesonde verhouding: Spermsel bevrug eiersel; eiersel groei tot embrio, dan ’n fetus; nege maande later word ’n kind gebore. Goed, kom ons doen ons bes. Kom ons sorg dat hierdie kind alles het wat hy of sy nodig het en dat hy of sy ’n goeie opvoeding kry. Ons gee hom of haar al die liefde en ondersteuning wat ons kan. Ons skep geleenthede. Ons berei hom of haar voor om geleenthede aan te gryp. Ons beskerm die kind soveel as wat ons kan teen die aanslae van hierdie wêreld. In so ’n geval was die kind die natuurlike gevolg van ’n man en vrou se saamwees.”

“Maar die vrou kan steeds kies om die swangerskap te beëindig. Om dit nie te beëindig nie, is ook ’n keuse. Dan sê julle tog ook: Ons wil ’n kind hê.”

“Goed en wel, maar dit sal onnatuurlike inmenging wees.”

“Wat jy dus sê, is dat indien die kind die resultaat is van ’n natuurlike proses, goed en wel. As die man of vrou sê, ék wil ’n kind hê, of ék wil ma of pa word, is dit nie meer natuurlik nie. Dan forseer jy die proses. As ’n vrou swanger raak, en sy kry ’n aborsie, meng sy ook in met die proses. Weereens, onnatuurlik.”

“Reg. As dit natuurlik is, as die geboorte die gevolg is van ’n natuurlike proses – verhouding, saamwees, spermsel en eiersel, nege maande, kind – dan is jy covered, so to speak. Dan hoef jy nooit jou kind in die oë te kyk en te sê, jammer vir die lyding wat jy, my kind, moet deurmaak nie, maar ek wou baie graag ’n kind gehad het. Jy kan sê – al is jy steeds ontsteld daaroor om jou kind in pyn of ongemak te sien – dat die kind se bestaan die resultaat is van ’n natuurlike proses.”

“Wat van as die man of die vrou voorbehoedmiddels gebruik? Is dit nie ook inmenging met die natuurlike proses nie?”

Stilte.

Post-gesprek betragting:

Wat is die verskil tussen onnatuurlike inmenging om ’n kind te skep, en onnatuurlike inmenging om die proses te arresteer wat andersins sou lei tot die geboorte van ’n kind?

Hormoonbehandeling, spermtelling, proefbuis, aborsie, te veel kinders om te versorg, onbevoegde ouers, voorbehoedmiddels, volwasse man en vrou se emosionele behoeftes. Is die bol wol nog ontknoopbaar?

21:50

Dis nie ’n kwessie van REG of VERKEERD nie, dis ’n vraag van waar op die spektrum.

Daar is die ekstreem van onbeplande swangerskap: die dwelmverslaafde vrou wat seks verruil vir dwelms, en geboorte gee aan ’n kind wat van die begin van sy of haar bestaan verslaaf is aan dwelms en amper geen hoop en geen toekoms het nie.

Dan is daar die ekstreem van die beplande swangerskap: die verveelde volwassene wat lus is vir ’n nuwe rol, of wat reken ’n kind sal vir hom of haar iets gee om te doen, of ’n leemte vul wat nie (tans) met iets anders gevul kan word nie. ’n Ontevredenheid met die Huidige Self, en die oortuiging: “Ek het ’n kind nodig.”

______________________