Ten minste drie voorbeelde wat bewys dat mense vol nonsens is

SATERDAG 13 NOVEMBER 2010

Die sewentiende en agtiende eeue voorsien ten minste drie voorbeelde wat bewys dat mense, ten minste helfte van die tyd, vol nonsens is.

1. In 1642 het die Britse Parlement die koning onttroon, en hom onthoof ’n paar jaar later om seker te maak hy sit nie weer die kroon op sy kop nie. Weer in 1688 het hulle dit duidelik gemaak dat hulle glo dat hulle die reg het om hul eie monarg te kies – John Locke se politieke teorie het dit blykbaar mooi opgesom. Tog, toe die Amerikaanse kolonies amper ’n eeu later die heerskappy van die Britse Parlement en kroon wou omverwerp, en selfs John Locke se argumente gebruik, wou die einste Britse heersersklas niks daarvan hoor nie. Die koning se posisie kan ’n mens nog tot ’n mate verstaan, maar die Britse Parlement het vasgeskop: die koloniste het geen reg gehad om onafhanklikheid te eis nie.

2. So idealisties soos die Amerikaanse rebelle was in hulle rewolusie met “All men are created equal” en “Life, liberty and the pursuit of happiness,” het hulle net so omgedraai en ongelykheid geforseer op mense van kleur wat hulle gereken het hulle die reg het om te besit as persoonlike eiendom, en hierdie mense nie net ontneem van hul persoonlike vryheid nie, maar van enige redelike kans op ’n goeie lewe en ’n bietjie aardse geluk.

3. Na hulle nederlaag teen die Engelse in 1763, het die Franse gejuk vir wraak. Die Amerikaanse rebelle se stryd teen hulle koloniale meesters was, volgens die Franse koning Louis XVI en sy raadgewers, die ideale geleentheid. “Kom ons ondersteun die rebelle in hulle rewolusie teen koning en aristokrasie!” het die koning uitgeroep, en nog ’n chocolate eclair in sy mond gedruk. Tog, nie veel meer as ’n dekade later nie, ruk Franse rebelle aan die hekke van Versailles, en hang rewolusie swaar in die lug in Parys. “Hoe durf hulle?!” het die koning in die rigting van sy paniekbevange raadgewers gemompel, en gewonder wat van die roomkoek geword het.

En, nou dat ek daaraan dink, daar is ’n vierde voorbeeld.

4. Die rewolusionêre leiers in Frankryk was driftig met idealisme en ywer vir vryheid, gelykheid en broederskap in 1789 en die jare onmiddellik na die rewolusie. Maar was die vryheid beskore vir die gewone werker in ’n leerlooiery, of die pagter op die platteland? “Moenie belaglik wees nie!” sou van die leiers van die rewolusie in die veiligheid van hul woonkwartiere dink (dit sou op ’n stadium ’n bietjie gevaarlik gewees het om so ’n oortuiging op ’n Paryse straathoek te verkondig). Het gelykheid en broederskap ’n beter kans gestaan? Kon die gewone man en vrou wat nie besigheid, professionele titel of eiendom besit het nie, opgewonde raak oor die rewolusie? Hulle kon sekerlik aanvanklik opgewonde raak, maar teleurstelling was nie ver agter nie. Ten spyte van edel uitsprake was die rewolusie, aan die einde van ’n lang en bloedige dag, gemik op die verbreding van die aristokrasie. “Dis ons beurt om goed te leef!” sou ’n lid van die nuut bemagtigde bourgeoisie deur sy tande sis vir sy dienskneg, en nog ’n glas wyn opkommandeer.

______________________

Selfs wanneer jy besig is om te verloor, kan jy wen

DINSDAG 10 AUGUSTUS 2010

Dit kom nou al ’n paar maande. ’n Week of twee gelede wou ek ’n nota daaroor maak: die Waarheid.

Die Waarheid is vibrerende subatomiese deeltjies. Dit – dit is die werklike, eindpunt-na-jy-al-die-res-afgestroop-het, werklik-soos-wat-werklik-kan-wees waarheid.

Wat ons dink en wat ons doen as deel van hierdie “Uber” Realiteit, word óns realiteit, óns lewens.

MAANDAG 23 AUGUSTUS 2010

’n Gelukkige mens is ’n produktiewe mens – en nie noodwendig andersom nie.

VRYDAG 27 AUGUSTUS 2010

Jou realiteit is, tot ’n baie groot mate, wat jy BESLUIT dit is.

“Dis baie waar,” sal iemand ingedagte opmerk.

Dan, eendag, tref dit soos ’n betonmuur.

WOENSDAG 15 SEPTEMBER 2010

Ek dink ek is besig om ’n les te leer. Dit het te make met die hele besigheid van my wat probeer geldmaak op die Internet sedert 2006. Ek reken verder ek is nog nie klaar met die leerdery nie.

Die LES: Ek moet ophou om mense te probeer oortuig dat ek van beter weet, en dat mý manier vinniger en beter resultate oplewer. Soms het ek nie die vaagste benul waarvan ek praat nie, en as ek dan voorgee ek weet meer as wat ek werklik weet, dek ek net die tafel vir my eie vernedering. Ek moet eenvoudig meer beskeie wees.

DONDERDAG 23 SEPTEMBER 2010

Sedert 2006 het ek net een ding op die brein gehad, een obsessie, een projek: maak geld van die huis af.

Ek kry egter die idee dat daar parallelle storielyne is. Een praat van hernude self-ontdekking. Nog een praat van praktiese opleiding. Die kersie op die koek is ’n storielyn wat sê, al my avonture (of gebrek daaraan) sedert 2006, was die beste ding wat met my as skrywer kon gebeur.

MAANDAG 27 SEPTEMBER 2010

“That’s what learning is … not whether we lose the game, but how we lose and how we’ve changed because of it and what we take away from it that we never had before … losing, in a curious way, is winning.” ~ Richard Bach, skrywer van Jonathan Livingston Seagull

MAANDAG 4 OKTOBER 2010

Ek raak soms moeg vir “dit”, en wens “dit” kan tot ’n einde kom.

Wat is “dit”? Om te probeer geld maak, om te sukkel.

Daar is ’n weergawe van my lewe waar ek meeste, of dan meer as die helfte, van my produktiewe ure spandeer aan skryfprojekte: Persoonlike Agenda, die res van die 2004-materiaal, die 2005-materiaal en alles daarna, nuwe materiaal, digbundels, BrandSmit.NET, die Engelse werf, bemarking van my projekte.

Maar eers moet ek verby “dit” kom. Een van die dae …

DINSDAG 26 OKTOBER 2010

“Geld is nie ’n skaars hulpbron waarvoor ’n mens moet sukkel en stry nie. Geld is ’n hulpbron wat volop verkrygbaar is, en die heeltyd in sirkulasie is.” (Herhaal elke dag tot jy dit glo.)

______________________

Die proses van geldmaak, en die mense aan wie jy oplossings verkoop

DONDERDAG 3 JUNIE 2010

20:58

’n Vraag: Hou ek van mense?

Voorlopige antwoord: Ek dink ek hou van mense; ek hou hulle net meestal op ’n afstand.

21:49

Dis ’n interessante vraag, hierdie.

Om geld te maak deur aan mense goed te verkoop, moet jy bewus wees van hulle behoeftes, hulle vrese, hulle drome, hulle begeertes, hulle pyn, en hulle probleme. Dan dink jy aan hoe jy hulle kan help om te kom waar hulle wil wees, of om weg te kom van waar hulle nie wil wees nie. Jy moet dink aan hoe jy hulle kan help om hulle drome te vervul, hulle pyn te verlig, of hulle probleme op te los.

Natuurlik wil jy in die proses geld maak, maar ek reken dat jy sal vind as jy werklike oplossings aanbied, mense gretig genoeg sal wees om jou te betaal – solank jy werklike waarde bied.

Kan jy geld maak deur oplossings te verkoop as jy nie regtig van mense hou nie? Sekerlik kan enige iemand een plus een bymekaar tel en uitwerk dat daar ’n mark is vir iets, en uitwerk hoe hulle aan daai mark kan gee wat hulle nodig het of begeer, sonder om noodwendig van mense te hou. Maar, ek dink die hele proses mag dalk net makliker wees, en dalk selfs meer volhoubaar indien jy wel die individuele persoon in die “mark” raaksien, en empatie of begrip het vir sy of haar hoop, en vrese, en begeertes, en behoeftes.

DONDERDAG 24 JUNIE 2010

Meeste van my idees, gedagtes, en notas deesdae gaan oor geldmaak. Nou, om te praat oor die proses van geldmaak sou vervelig gewees het as dit nie was vir die lig wat dit skyn op wie en wat jy is, op hoe jy jouself posisioneer in die wêreld, op jou verhouding met ander mense, en op jou historiese verhouding met, en beskouing van, geld nie.

VRYDAG 23 JULIE 2010

Moenie verwag dat die pad na finansiële onafhanklikheid intellektueel stimulerend moet wees nie. Die suksesvolste projekte, die winsgewendste inkomstestelsels, kan inderdaad uiters vervelig wees, met aktiwiteite wat baie sleg vergelyk met ’n goeie historiese dokumentêre program of ’n stimulerende argument of gesprek. Laat daar geen twyfel wees nie: Om geld te maak, kan jou inderdaad tot in die afgrond verveel.

______________________

Wees redelik: Maak die beste van alles wat jy het

DINSDAG 13 APRIL 2010

Fok daai nonsens van ouderdom en “Ek is al x-jaar oud” – asof ons almal 100 gaan haal en jy’s reeds 37 of 54 of 45 jare nader aan die teiken.

Hier is ’n meer redelike benadering: Wees dankbaar vir elke enkele dag wat jy kry. Maak die beste van elke enkele dag! Elke dag is ’n geskenk!

WOENSDAG 14 APRIL 2010

Ek lees tans notas van 2005. Ek het nou ’n veel beter idee hoe sulke materiaal kan werk op die Internet, hoe dit moontlik ontvang sal word, en hoe dit versprei kan word vir maksimum leserstal. Ek het nou ’n veel beter idee daarvan, danksy vele mislukkings en vele lesse geleer sedert 2006.

SONDAG 2 MEI 2010

Lees genoeg geskiedenis, veral van oorlog, en jy kom tot die konklusie dat vele nasionale leiers vyande is van die mense oor wie hulle regeer – of in wie se naam hulle veronderstel is om te regeer. Ook dat mense in te veel gevalle te onkundig is om te besef hulle leiers is, in werklikheid, hulle vyand. (Mees onlangs gelees oor Europa, 1756 tot 1763)

VRYDAG 7 MEI 2010

“Jy wil my dalk beïndruk met ’n weergawe van realiteit wat nie juis positief is nie, maar ek glo nie aan ’n statiese realiteit nie. Ek verstaan realiteit as iets wat verander nie net nadat ons daaraan gedink het en iets begin doen het nie, maar as iets wat verander omdat ons daaraan gedink het op ’n bepaalde wyse.” ~ uit ’n self-gesprek

______________________

My onbewustelike handewerk: Die Mitologiese Geldgod

DONDERDAG 29 APRIL 2010

Op pad skool toe vanmiddag gaan ek deur my lys van take waarmee ek tans besig is. Kom ’n gedagte uit ’n plek wat ’n mens net kan beskryf as die onderbewuste, siende dat ek nie bewustelik ’n keuse gemaak het om die gedagte te dink nie.

“Dis alles goed en wel,” meen die gedagte, “maar iets is nie lekker nie.”

“Wat?” vra ek.

“Ek weet nie,” kom die antwoord. “Die take is so … alledaags.”

“Alledaags?” wil ek bevestig.

“Ja, ek meen – is jy nie veronderstel om geld te maak nie?”

“Ja? En?”

“Wel,” begin die Gedagte Uit Die Diepte, “om geld te maak is mos ’n helse groot saak, is dit nie? Hoe dink jy gaan jy geld maak met sulke alledaagse take?”

En daar het jy dit. ’n Oortuiging uit die Onderwêreld.

Maak geen fout nie: Ekself het hierdie monster geskep uit geldmaak – ’n god as’t ware, waarvoor ek moet neerbuig in nederigheid, wat ek moet beïndruk met my harde werk: agt ure se gesukkel om ’n skroef in te draai met my duimnael waar dertig sekondes met ’n skroewedraaier voldoende sou wees; en met komplekse prosesse en indrukwekkende take, nie die alledaagse soort wat enige entrepreneur met ’n halwe brein kan doen nie. Dit is my werk, hierdie. Dit is wat ek doen. Ek het hierdie mitologiese figuur geskep, want om geld te maak, is immers ’n helse groot affêre. (Later gedink as ek die figuur van nader moes ondersoek, ek sou agterkom hy is gemaak uit papierpulp en gom, want ek kon nie klei of metaal bekostig nie.)

Reken ek dit laat my met twee opsies:

Opsie A) Selfs al is ander entrepreneurs nie opgeskeep met ’n soortgelyke monster in hulle koppe nie, sal ek moet voortgaan om die handgebeitelde God van Geld te eer. Ek sal seker ook ’n mantra moet uitwerk wat ek sal opsê terwyl ek my take doen. Ek sal ook, uit die aard van die saak, wierook moet brand, en godsdienstige dreunsang in die agtergrond moet speel.

Opsie B) Ek moet hierdie lomp, opgeblase figuur herken vir die valse god wat dit werklik is. Net soos ander mense monsteragtige figure maak van hulle vrese, of van dinge wat hulle moet doen waarvoor hulle nie opgewasse voel nie, so moet ek erken dat hierdie niks meer is as my eie skepping nie. Ek reken, indien ek daarin kan slaag om hierdie afskuwelike hallusinasie uit my verbeelding te dryf, ek sal kan voortgaan met die somtyds alledaagse take wat net dalk mag lei tot die inkomste wat lankal myne kon wees.

______________________