Alternatiewe lewenspaaie het gekruis vir my in 1995

MAANDAG 18 JULIE 2022

Toe ek in Maart 1995 Europa toegegaan het, het ek net genoeg geld gehad vir omtrent twee weke se goedkoop akkommodasie.

Ek het geland by Orly lughawe, omtrent tien kilometer suid van een van die mooiste stede in Europa – Parys. Dit was aan die begin van Maart, so toe ek uit die Kaap weg is, was dit nog warm genoeg vir ’n kortbroek en T-hemp. Die oomblik toe ek uit die vliegtuig klim en die 2º Celsius lug my gesig tref, het ek gedink ek gaan dood vries nog voor ek die Eiffeltoring gesien het.

Oorblyfsel van ’n vliegtuigkaartjie

Ek het ’n bus gevat stad toe. Uit die venster het ek karikature van Frankryk gesien: ’n man met ’n vet snor met ’n baguette onder sy arm; ’n taxibestuurder met ’n vet snor wat met oordrewe handgebare verduidelik dat die man in ’n ander kar verkeerd was; ’n aantreklike vrou in ’n bloedrooi rok en los, golwende hare, wat ek seker was na parfuum geruik het.

Ek het uitgeklim toe ek gereken het ons min of meer in die middestad was. Die bushalte was ’n paar blokke van die Seine af, en aan die ander kant van ’n groot park was die Les Invalides – waar ek ’n paar dae later ’n loopgraafjas sou sien met moddervlekke van die Eerste Wêreldoorlog.

Uitsig van die woonstel af

Ek het op ’n bankie langs die bushalte gaan sit en ’n Paul Revere gerook, en myself hoogs gelukkig geag.

Toe het ek begin soek na my blyplek – ’n een slaapkamer woonstel van ’n kennis van hoërskool. Al leidrade wat ek gehad het, was die kriptiese notas van ’n gemeenskaplike vriend wat ’n jaar tevore daar oornag het. Dit het my omtrent sewe ure gevat om dit op te spoor. Teen laatmiddag het ek my eerste frank gespandeer by ’n supermark in die buurt – op ’n stuk kaas, ’n pak macaroni, en twee blikkies Tsjeggiese bier.

Bron van kaas en goedkoop bier

Die eerste week was ek alleen in die woonstel. Ek het elke dag kilometers ver gestap – na die Eiffeltoring toe, na die Place de la Concorde, na die Père Lachaise begraafplaas, na die Moulin Rouge, en op en af die Champs-Elysées. Ek het ook een dag die trein gevat uit die stad uit na die paleis in Versailles – ’n definitiewe hoogtepunt.

Kennis se woonstel in Parys

Aan die einde van die week het my kennis teruggekom. Ek het nog ’n paar dae gebly, en toe ’n buskaartjie gekoop Amsterdam toe. Hier het ek die Anne Frank Huis besoek … en nie die Van Gogh Museum nie omdat dit te duur was.

Die plan was van die begin af dat ek een of ander werk moes kry om myself aan die lewe te hou en elke nou en dan interessante plekke te besoek. In Parys was dit nie moontlik nie vanweë die taal. In Amsterdam het ek na ’n McDonald’s toe gegaan en gevra oor werk. Die aansoekvorm het aangedui dat indien ek nie ’n burger was nie (bedoelende van die land, nie die tipe wat ’n mens eet nie), ek moes kon bewys dat ek ’n vlugteling was. Ek het ook ontmoet met die seun van ’n vriend van ’n professor van universiteit. Hy’t vae idees gehad oor klop aan deure om jou dienste aan te bied as skoonmaker, of so iets.

Volgende stop, Londen: Die hoofstad van onwettige werk vir enige iemand van enige plek in die wêreld. Ek het ’n bed gekry in ’n kamer saam met ses of sewe ander mans in ’n klein hotelletjie nie ver van Victoria Stasie af nie. Vinnig vriende gemaak en rondgeloop vir ’n paar dae – ’n foto laat neem van myself met Tower Bridge in die agtergrond, en die Imperial War Museum en die Britse Museum besoek, maar nie juis werk gesoek nie. Een aand op die nuus was daar ’n item oor ’n man van Nigerië wat onwettig gewerk het. Die polisie het hom kom soek waar hy gewoon het. Hy’t geskrik, by die venster uitgespring, en homself doodgeval. ’n Ander Suid-Afrikaner wat ook in die hotel gebly het, het gepraat van konstruksiewerk, en dat dit help as jy ’n werkvakansie permit het.

Hotel in Londen
Brug met toeris op ’n sonnige dag in Londen

Vriende van my het die vorige jaar ses maande in Brittanje spandeer op werkvakansie permitte. Geen verrassing dat dit na ’n aantrekliker opsie gelyk het as om vir die polisie te vlug nie.

Rooiligbuurt in Amsterdam

Ek het besluit om terug te gaan Amsterdam toe, vanwaar my vlug bespreek was terug Suid-Afrika toe – eintlik eers maande later, maar ek kon dit verander. Iemand het gepraat van goedkoop jeughostelle in die rooiligbuurt waar ’n mens gratis bed en ontbyt kan kry as jy help skoonmaak en wasgoed was. Ek het plek gekry in ’n hostel in ’n kamer wat geruik het na stink sokkies en ongewaste lywe. Ek het navraag gedoen oor werk, en hulle het gesê hulle sal dink daaroor (om te kyk of jy betroubaar is, het ek later verneem). Ek het egter net genoeg geld oorgehad vir ’n paar dae, so op die derde dag het ek die lugdiens gebel en plek bespreek op die vroegste vlug terug Suid-Afrika toe. ’n Dag voor ek sou vlieg, lig die bestuurder my in dat hulle van my dienste gebruik kan maak as ek nog belangstel. Ek het egter teen daai tyd minder as die ekwivalent van tien euro oorgehad.

Hande in die sak, maar platsak

Natuurlik dink ek vandag terug aan geleenthede wat ek nie aangegryp het nie. Hoekom het ek nie aansoek gedoen vir ’n werkspermit voor ek gegaan het nie, siende dat ek goed geweet het watse voordele dit sou inhou? Feit is, ek het probeer, maar die reisagent het gesê dit sal iets soos twee weke vat, en ek het nie twee weke gehad nie. Eers later het ek uitgevind dit vat net ’n dag of twee. Die twee weke in Parys, al het ek nie betaal vir verblyf nie, het ook geëet in my finansies in. Hoekom het ek nie in die eerste week in Amsterdam uitgevind oor die gratis bed-en-ontbyt as jy werk by die plek nie? Weet nie. Hoekom het ek nie meer aktief rondgevra in Londen vir geleenthede nie? Gebrek aan selfvertroue? Gebrek aan motivering? Die man wat na sy dood gespring het, sou seker op enige iemand ’n indruk gemaak het, maar daar was tog immers duisende ander mense wat onwettig gewerk het in Londen of elders op die eilande. En hoekom nie tog die werk vat in die hostel en kyk of ek oorleef vir ’n paar weke tot iets anders gebeur nie? Seker gedink my plan om terug te gaan Suid-Afrika toe, aansoek te doen vir ’n werkspermit, en dan terug te kom was meer sinvol. En veiliger.

Vriende gemaak op ’n servet

Sou dit gehelp het as ek ’n maat gehad het daar wat gesê het: “Kom ons doen dit! Kom ons vat ’n kans!”?

Ja, dit sou ’n verskil gemaak het.

’n Paar weke nadat ek terug was in Suid-Afrika, hét ek aansoek gedoen vir ’n werkspermit, en dit gekry. Pragtig het dit gepryk in my paspoort vir ses maande, en toe verval. Nooit genoeg geld bymekaar gemaak vir ’n tweede vliegkaartjie Europa toe nie.

Net mooi in die tyd wat die werkspermit verval het (einde 1995), het ek ’n advertensie gesien vir “Teaching in Korea” in die Cape Times. Wat daarna gebeur het, is die tydlyn van my werklike lewe die afgelope kwarteeu.

Hoeveel alternatiewe tydlyne het nie in daai paar maande van 1995 kruis en dwars oor mekaar geloop nie?

Kan ’n mens sê met sekerheid dat alles anders sou uitgewerk het as jy een ding verander het jare gelede, ja gesê het vir iets, nee gesê het vir iets anders, ’n later vlug gevat het, ’n ander rigting gestap het, ’n groter kans gewaag het? Wil jy hê dat dinge anders moes uitgewerk het?

Ek is gelukkig met my huidige lewe, en met hoe my lewe verloop het die laaste 27 jare. Maar sou ek my oë toemaak en die alternatiewe lyne word aan my ontbloot, sien ek ’n interessanter lewe as die een wat ek geleef het? Sou dit meer droom gewees het as nagmerrie, of andersom?

______________________

Biologiese ontwerp en doel in jou lewe

DINSDAG 12 JULIE 2022

Scott Adams in Episode 1800 van sy YouTube Livestream (54:42): You find meaning in your life when what you do most closely aligns with your biological design. (Nie ’n direkte aanhaling nie want ek wou dit ’n klein bietjie duideliker stel.)

Een voorbeeld is iemand wie se liggaam en brein mees geskik is om kinders groot te maak. As hierdie persoon betekenis in iets anders probeer vind, sal die ervaring minder positief wees as wanneer hulle betrokke is in die proses van kind grootmaak.

Adams sien homself as ’n “Tribal Elder” vir die internasionale gemeenskap van mense wat gereeld inskakel op sy livestreams, en wat lees wat hy skryf. As hy dus besig is om te praat oor hoe hy dinge sien – reg of verkeerd, slim of onkundig oor ’n spesifieke onderwerp, of as hy advies gee oor hoe om sekere struikelblokke te oorkom, is hy besig om te doen wat hy sien as mees geskik vir sy biologiese ontwerp. Soos meeste mense wou hy ook voortgeplant het, maar die behoefte het uiteindelik minder op hom gedruk as die motivering om ’n Elder te wees. Ander mense is weer meer geskik om fisiese stryd te voer vir ander mense se lewens – mense wat in die brandweer diens doen is een voorbeeld.

Ek hoef nie lank te gedink het aan wat my die sterkste bewussyn gee van ’n betekenisvolle lewe nie. Ek weet al vir die grootste deel van my volwasse bestaan dat om te skryf my vul met … ek kan amper so ver gaan om te sê … euforie. Natuurlik is dit sterker met sekere stukke, en minder so met ander. Maar niks anders vul my met so ’n sterk bewussyn dat ek doen wat ek veronderstel is om te doen nie. Die idee van biologiese ontwerp is maar net die nuutste manier om uitdrukking te gee daaraan.

Is dit anders as om te sê dit voel reg? Ek reken dis in dieselfde buurt, indien nie min of meer dieselfde ding nie.

Enige ernstige mens word geleer om nie gevoelens soveel te vertrou as rede en kritiese denke nie. Maar kom ons sê jy vind jouself tien of twintig of dertig keer in ’n situasie waar jy kinders moet oppas of waar jy jouself op een of ander wyse kreatief uitdruk, of waar jy aan ander mense dinge leer. Elke keer is daar ’n gevoel van tevredenheid en geluk wat nie in ander situasies teenwoordig is nie, of wat volgens jou eie subjektiewe maatstaf, so sterk manifesteer nie. Na die eerste paar kere elimineer jy kos wat jy geëet het of aangename weer of geselskap as die bron van die gevoel. Jy’t dalk die gevoel gekry selfs wanneer jy honger was, of iets geëet het wat nie goed gesit het met jou nie. Jy’t die gevoel gekry op dae wat onaangenaam warm was, en op dae wat dit bitter koud was. En jy’t die gevoel gekry mét of sonder geselskap. Moet die gevoel steeds geïgnoreer word, of probeer jou liggaam vir jou iets sê?

______________________

Jy ly aan waan, maar ek reken jy’s orraait

SATERDAG 2 JULIE 2022

Sê jy’t ’n buurman. Hy’s ’n toegewyde Moslem, maar geen ondersteuner van die meer radikale bewegings wat mense assosieer met geweld in die Midde-Ooste en Europa nie. Hy’s ’n plaaslike besigheidsman – besit ’n klein winkel in ’n besige area.

As toegewyde Moslem glo hy dat hy beter is as ongelowiges – wat jou, sy buurman insluit.

Jy het al ’n paar keer diep gesprekke met hom gevoer oor gode/God, realiteit, geloof en godsdiens, en hoe ’n mens weet wat jy weet. Jy is oortuig daarvan dat hy vas glo daaraan dat ’n Moslem superieur is aan ’n nie-gelowige.

Jy soek bietjie rond op die Internet, en kry die volgende van Wikipedia oor waan: “A delusion is a false fixed belief that is not amenable to change in light of conflicting evidence. As a pathology, it is distinct from a belief based on false or incomplete information, confabulation, dogma, illusion, hallucination, or some other misleading effects of perception, as individuals with those beliefs are able to change or readjust their beliefs upon reviewing the evidence. However: ‘The distinction between a delusion and a strongly held idea is sometimes difficult to make and depends in part on the degree of conviction with which the belief is held despite clear or reasonable contradictory evidence regarding its veracity.’”

So, jou buurman dink dat hy ’n beter mens is as jy omdat hy ’n bepaalde stel oortuigings aanhang.

Jy dink hy ly aan waan.

Nietemin, jy’t onlangs verjaar, en besluit om ’n paar mense oor te nooi vir aandete. Jy nooi ook jou buurman, en hy aanvaar die uitnodiging.

Die aand is heel aangenaam. Almal geniet die kos, en die besprekings is interessant en gevarieerd.

Aan die einde van die aand bedank jou buurman jou vir die uitnodiging. Jy sê dankie dat hy gekom het.

Hy dink nog steeds sy geloof maak van hom méér as jy, en jy dink steeds hy ly aan waan.

* * *

Sommige mense is gevul met absolute vertroue in hulle delusies.

Dit is ook ’n algemene verskynsel dat mense wat ly aan ernstige delusies oor die aard van realiteit nietemin kan funksioneer in uiteenlopende situasies en verskillende omgewings sonder veel probleme.

Dink maar net aan miljoene Christene wat vas oortuig is daarvan dat Hindoes en Moslems en mense van ander gelowe ná hulle afsterwe vir ewig in die Hel sal brand, maar andersins funksioneer hierdie Christene heeltemal goed in die samelewing. Dink ook aan Moslems en Hindoes en mense van ander gelowe wat vas oortuig is mense wat nie glo soos hulle nie en nie die rituele uitvoer wat lidmaatskap bevestig aan ’n bepaalde simboliese werklikheid nie, onkundige dwase is wat eendag die prys gaan betaal vir hulle hardkoppigheid. Terselfdertyd het hierdie Moslems en Hindoes en mense van ander gelowe geen probleem om die mees gevorderde uitdagings in hulle sosiale en beroepslewens die hoof te bied nie.

Nie net kan jy ly aan ernstige waan en heeltemal goed funksioneer in die gemeenskap nie, jy kan ook ’n besonders positiewe verskil maak aan ander mense se lewens, en ’n uiters positiewe nalatenskap agterlaat.

* * *

Eintlik deel van ’n ander bespreking, maar ek vra nietemin: Is religieuse oortuigings noodwendig waan? Ek glo, nee. Nie as jy erken dat dit waaraan jy glo, nie noodwendig bewys kan word nie, en dat jou geloof ’n persoonlike keuse is om te glo aan iets wat jy hoop, wáár is. Dit is, met ander woorde, nie waan as jy sê, “Ek weet dit waaraan ek glo, is moontlik nie waar nie.”

(Terloops, hierdie stuk teks gaan nie regtig oor godsdiens nie.)

______________________

As ek ’n Rus was (in Februarie 2022)

[23/06/22: Jacques Baud, ’n voormalige lid van die Switserse strategiese intelligensiediens en voormalige adviseur en analis by NAVO, het in ’n insiggewende artikel gewys op drie redes hoekom Rusland hul militêre aksie geloods het teen Oekraïne in Februarie 2022. Rede een: Die toenemende naderkruip van NAVO aan Russiese grense en die bedreiging wat dit inhou vir Rusland. Rede twee: Die weiering van die regering van Oekraïne om die Minsk II verdrag, bemiddel deur Frankryk en Duitsland in 2015, te implementeer. Die verdrag sou aan die suidoostelike dele van Oekraïne ’n mate van outonomie gee in ’n federale stelsel binne Oekraïne, en die taalregte van die Russies-sprekende inwoners van hierdie areas verskans. Rede drie: Die aggressiewe militêre aanslag wat die regering in Kief geloods het teen die bevolking van die Donbas (in suidoostelike Oekraïne) sedert 2014. Die meerderheid van hierdie bevolking was gekant teen die staatsgreep uitgevoer in Kief in 2014 – ’n staatsgreep aangemoedig en ondersteun deur die Amerikaanse regering. Meeste van die inwoners in hierdie dele van Oekraïne het etnies, kultureel, histories en taalkundig noue bande met die Russiese bevolking aan die ander kant van die grens. Hierdie aanvalle teen stedelike sentra in die Donbas het aansienlik toegeneem in Februarie 2022 – kort vóór die Russiese militêre operasie, met dodelike gevolge vir gewone burgers. Die volgende nota van Mei fokus egter net op hoe ek reken talle Russe die toenemende naderkruip van NATO sien.]

DONDERDAG 25 MEI 2022

Ek verstaan hoekom Rusland Oekraïne binnegeval het in Februarie 2022.

Ek weet nie of Wladimir Poetin, of die Russiese Minister van Buitelandse Sake, of dalk die Russiese verteenwoordiger by die Verenigde Nasies dit presies so uiteengesit het nie, maar hier is hoe ek reken talle Russe die situasie kon verduidelik het:

“In die laaste honderd jaar of so is ons al drie keer binnegeval van die weste af. Die laaste keer, in 1941, het ons die bedreiging onderskat. Dit het ons gekos die vernietiging van 70 000 klein dorpies, en meer as 1 700 groter dorpe. Veertig persent van ons behuising was vernietig of beskadig. Vyf-en-twintig miljoen Sowjet burgers is haweloos gelaat. Meer 26 miljoen mense het hulle lewens verloor, waarvan 14 miljoen net van die Russiese Sowjet Republiek alleen. Ons het amper al die rykdom wat ons opgebou het tydens industrialisasie in die 1930’s verloor. Ons ekonomie het gekrimp met 20% tussen 1941 en 1945, en het nie vooroorlogse vlakke herstel tot en met die 1960’s nie.

“Dit sal nie weer gebeur dat ons ’n militêre bedreiging van die weste onderskat nie.

“NAVO is gestig in 1949 om die Sowjet-Unie en die Warskou Pakt teen te staan. Sedert 1991 het hierdie bedreiging nie meer bestaan nie. NAVO het egter voortgegaan om hulle lidmaatskap en hulle militêre kapasiteit uit te brei. Die groei van NAVO nader en nader aan Rusland sedert 1999 maak dit duidelik dat Rusland – as primêre opvolgerstaat van die Sowjet-Unie, die teiken is. Rusland sien NAVO nie meer as ’n verdedigende alliansie nie. Aksies in die voormalige Joegoslawië en Libië maak dit duidelik dat NAVO dit sien as hulle reg om ’n aggressiewe beleid te volg jeens enige teiken wat nie hulle beskerming geniet nie.

“Rusland kan nie bekostig om weer onkant gevang te word nie. Ons sien die toenemende naderkruip van NAVO aan ons mees digbevolkte stedelike sentra as ’n eksistensiële bedreiging. ’n Militêre alliansie met kernwapens in hulle arsenaal is antagonisties jeens jou moederland. Om watter rede sal jy so ’n bedreiging ignoreer of onderskat? Ons sal nie weer wag om aangeval te word, en onsself dán probeer verdedig nie. As ’n rooi lyn oorgesteek word, val ons eerste aan. Dit is die enigste manier hoe ons kan verwag om voort te bestaan as ’n nasie.”

* * *

Scott Ritter sê die volgende op Consortium News: “[If] the U.S. cannot understand how the accumulation of military power encompassed in a military alliance which views Russia as a singular, existential threat to its members’ security is seen by Russia as threatening, then there is no comprehension of how the events of June 22, 1941 have shaped the present-day Russian psyche, [and] why Russia will never again allow such a situation to occur […]”

* * *

Ek reken mense het ’n keuse. Leer ’n paar basiese feite van die geskiedenis van Rusland voor die rewolusies van 1917. Leer oor die area wat nou Oekraïne is – veral die verskil tussen die westelike en oostelike dele. Leer oor die manier wat die Krim ingelyf is in die Sowjet-Republiek van die Oekraïne in 1954. Leer oor die prys wat die Sowjet-Unie (met Rusland as die primêre republiek) betaal het om Nazi-Duitsland te verslaan in die Twee Wêreldoorlog, en leer oor die brutale planne wat Nazi-Duitsland gehad het met die inwoners van Rusland en ander Sowjet-Republieke. Leer ’n paar basiese feite – of leer niks en verstaan niks.

https://en.wikipedia.org/wiki/World_War_II_casualties_of_the_Soviet_Union

https://en.wikipedia.org/wiki/Soviet_Union_in_World_War_II

https://en.wikipedia.org/wiki/1954_transfer_of_Crimea

https://en.wikipedia.org/wiki/Enlargement_of_NATO

https://en.wikipedia.org/wiki/Minsk_agreements#Minsk_II,_February_2015

* * *

Egor Kholmogorov skryf op 27 Mei 2022 in ’n artikel op Russia Today: “Russians living in Russia, as well as those living in Ukraine, cannot understand why Ukrainian land should be used by NATO. In Russia, Ukraine’s possible accession to the US-led military bloc is not construed as a free choice made by the country in its own security interests, but as a means for the West to build advance bases for launching a direct attack on Moscow.”

Saterdag 25 Junie 2022

Interessante punt oor die betroubaarheid van Jacques Baud, die Switserse analis waarna ek verwys het aan die begin van hierdie stuk. In ’n onderhoud met The Postil Magazine word die volgende vraag gestel, met Baud se antwoord:

“[The Postil Magazine]: You have written two insightful articles about the current conflict in the Ukraine […]. Was there a particular event or an instance which led you to formulate this much-needed perspective?

[Jacques Baud]: As a strategic intelligence officer, I always advocated providing to the political or military decision-makers the most accurate and the most objective intelligence. This is the kind of job where you need to keep you prejudice and your feelings to yourself, in order to come up with an intelligence that reflects as much as possible the reality on the ground rather than your own emotions or beliefs. I also assume that in a modern democratic State decision must be fact-based. This is the difference with autocratic political systems where decision-making is ideology-based (such as in the Marxist States) or religion-based (such as in the French pre-revolutionary monarchy).”

Natuurlik kan die mees onbetroubare leuenaar in die geskiedenis van intelligensie ook so ’n antwoord gee, en dan voortgaan met ’n onakkurate, subjektiewe analise van ’n situasie. Jy moet eenvoudig kyk na die totaliteit van so ’n persoon se werk en jou eie opinie vorm.

Maandag 29 Augustus 2022

Nadat ek hierdie stuk afgehandel het, het ek ’n boek gelees met die titel, Moscow Calling: Memoirs of a Foreign Correspondent, deur Angus Roxburgh. In die hoofstuk, “The Fear of War,” bevestig die skrywer heelwat van die sentimente en opinies reeds verwoord in hierdie stuk.

Die skrywer vermeld dat dit hom dekades geneem het, en persoonlike ontmoetings met talle Russe, voordat hy die reuse verskil verstaan het tussen die Britse persepsie van oorlog en dié van die Russe: “Brought up in a country where Second World War on the home front means Dad’s Army, our senses were – and are – truly numb to the reality of total war. The battles of the eastern front were the most devastating in all human history. Between 1941 and 1944 the Germans occupied or destroyed major Soviet cities: Kiev, Minsk, Smolensk, Stalingrad. Almost half of the entire population of the USSR experienced occupation by Nazi forces. In Leningrad, which was besieged and bombarded for 900 days, a million civilians – a third of its population – starved to death.”

Roxburgh bevestig ook sterftesyfers tydens die Tweede Wêreldoorlog: Brittanje het 67 000 burgerlike sterftes gehad, en die kontinentale VSA geen burgerlike sterftes, teenoor die Sowjet Unie se 16 miljoen sterftes. Verder het Brittanje 380 000 militêre sterftes gehad, Amerika 400 000, en die Sowjet Unie 10 miljoen.

Volgens die skrywer meen talle Westerse “kenners” dat Rusland net obsessief geraak het oor NAVO uitbreiding met die koms van Wladimir Poetin. Hy wys egter daarop dat Jeltsin en Gorbatsjof net so verstom was deur die alliansie se besluit om na Oos-Europa uit te brei. Hy reken dat Poetin ’n handige verskoning geword het om ’n beleid te regverdig wat ’n aanvang geneem het lank voor enige iemand van Poetin gehoor het.

Roxburgh sluit die hoofstuk af deur te verwys na sy vroeër geloof in Gorbatsjof se visie van ’n gemeenskaplike Europese tuiste aan die einde van die Koue Oorlog. Teen 1995 was hy egter op die grens tussen die stukkie Rusland wat Kaliningrad huisves, en Pole. Die grens was in die proses om versterk te word. Hy haal sy verslag aan vir ’n TV-nuus program: “Seen from here, NATO’s expansion sends all the wrong signals. It tells the Russians they’re still not really accepted by the West. It tells them they’re still seen as the enemy. No matter how sweetly NATO tries to sugar the pill, Russia’s going to feel once again like a pariah in Europe.”

______________________

Uiteindelik plek vir teesakkies

DINSDAG 12 APRIL 2022

Die laaste paar weke het ek ten minste twee keer weer gedroom oor bokse vol ou papiere en ander gemors wat ek oor die jare versamel het, wat steeds vertrekke vol staan in ’n woonstel wat ek nie eens meer bewoon nie. ’n Ouerige Taiwannese dame het meer as een keer ’n verskyning gemaak as opsiener van die gebou of eienaar van die woonstel. In een van die drome was al die bokse nat – en daar was baie van hulle.

Toe, gisteraand, droom ek weer ek is op pad. My vrou was ook daar. Die storie was dat ons op pad land-uit is; sy gaan eerste, en ek kom so ’n dag of twee later – wanneer ek klaar gepak het. Groot verskil met die honderd ander kere toe ek oor hierdie tema gedroom het, is dat al die belangrikste goed klaar gepak is. Selfs in my droom wonder ek of dit regtig waar is. Ek kyk om my rond, en so waar as wragtag, daar’s net stukkies papier op die vloer, leë bokse opgevou en opgestapel, een of twee kledingstukke in ’n kas.

Ek het wakker geword, weer aan die slaap geraak, en die droom het voortgegaan. Twee posters wat moes agterbly. Ek het onthou dat ek op ’n stadium gedink het ek dit was die een of twee rand werd wat ek betaal het daarvoor by ’n Hospice winkel, maar ek het geweet ek kon wegstap daarvan.

Die beste van alles – en dit was in die eerste droom – was my tas waarmee ek sou vlieg die volgende dag. Met nie veel oor van waarde om te pak nie, was die tas net half vol! Ek het van die klere eenkant toe geskuif, en ek was verbaas oor hoeveel spasie daar nog was. Ek het teesakkies in my hand gehad, en gedink dat daar geen twyfel was nie – daar was definitief plek.

______________________