Nie ’n ballingskap essay nie selfs al lyk dit so

DINSDAG 13 APRIL 2004

Sommige dinge dink ’n mens, ander weet jy net.

Ek het in Februarie gepraat van toewyding aan ’n geldprojek soos ek net gewoonlik toegewyd is aan ’n literêre projek. Dit was presies waaraan ek myself skuldig gemaak het vir ses van die laaste sewe weke van my aardse bestaan.

Dit het egter toenemend duidelik geraak dat die projek waarmee ek tans besig is, heel moontlik nie net enkele weke weg is van positiewe kontantvloei nie. Ek kan derhalwe nie voortgaan om soos ’n besetene daaraan te werk ten koste van enige iets anders nie.

Ek het dus nie gedink ek moet weer aandag gee aan van my ander projekte nie, ek het dit geweet.

Vir die rekord moet dit genoem word dat die idee van huis behou in Taiwan tans ’n periode van hernude verdraagsaamheid onder die “volk” ervaar. (Ons weet egter hoe vinnig die atmosfeer vir verdraagsaamheid op hierdie gebied kan verander – die een oomblik strompel die Hoofadvokaat vir Bly in Taiwan nog fluit-fluit met sakke vol ontbytpap na sy fiets, en die volgende oomblik trap hy vir al wat hy werd is om weg te kom van ’n klein, maar dodelik antagonistiese skare gewapend met klippe en gebreekte bottels.) Om repatriasie op langtermyn ys te plaas, sal egter van vooraf ongeduld, frustrasie en moedeloosheid laat opvlam … so by so dat mens begin wonder of totaal verskillende toekomsplanne ’n enkele psigiese wortel deel!

Is daar alternatiewe tussen hierdie twee ekstreme opsies? Is daar ’n alternatiewe idee-logika om aan die burgers van my interne republiek te bied anders as Gaan Terug Ongeag Die Gevolge aan die een kant, of Te Veel Onsekerheid En Moeite So Kom Ons Bly Maar In Taiwan aan die ander? Is dit tyd vir die Skrywer, die Student, en daai ander ou (die een wat geld moet maak) om met die manifes van ’n Nuwe Idee die dorpe, stede, vlaktes, en koffiewinkels in te vaar? Is dit tyd vir ’n Derde Mag?

______________________

Twee moontlike beginsels

MAANDAG 12 APRIL 2004

Ek het hierdie knaende vermoede dat ek my eie grootste held is, die ou wat aanhou vorentoe storm al is die slag reeds beslis. (Ek weet dus hoe om te bly funksioneer.)

1) As jy nie afgetrek word nie, bly jy staande.

2) As jy nie staande gehou word nie, val jy.

* * *

Ek weet hoe om “normaal” te wees – hoe om te funksioneer in die omgewing waarin ek myself bevind sonder om my kanse op oorlewing te veel te benadeel.

________________

’n Rekenaarstuk: Maandag 12 April 2004

Ek voel soos ’n vreemdeling vir myself. Om hierdie stuk te produseer moes ek die lettertipe verander na een wat nie gebruik was in weke nie, ’n titel moes uitgedink word, die verandering van Engels na Afrikaans … en die knaende vermoede dat ek ’n sekere storielyn vir veels te lank al agter my aansleep, soos mens dosyne bokse vol persoonlike gemors agter jouself aansleep vir redes wat net jy ooit sal verstaan, en teen ’n daagliks groeiende prys.

Maar laat ek begin. Soos gewoonlik gaan dit goed. (Bloos papier as die skrywer lieg?) ’n Miljoen ure gelede het ek vorendag gekom met ’n idee vir ’n eksperiment. (Hoekom, terloops, kan papier nie rond wees nie? As ek net staar na die skerm, sal daar simbole verskyn op “Microsoft Word Document1” wat sal ooreenstem met my gedagtes? As ek spoeg op die skerm, sal dit vloekwoorde vorm?) Ek het die eksperiment genoem, die Kommersiële Diktatorskap – ’n tyd waarin Ek, die Skrywer veronderstel was om Teacher/Besigheidsman/Entrepreneur te wees vir die mees produktiewe ure van elke dag en nag vir ’n drie-maand periode. Die idee was dat ek elke dag vir ten minste agt ure lank agter mal kinders moes aanhardloop terwyl ek “ABC! ABC!” gil (en “fokof” fluister agter my masker vir elke motoris en voetganger wat my aangluur op die pad, of wat dit waag om voor my op my krakende geel fiets in te draai). Oproepe moes ook gemaak word, vennootskappe moes gesluit word, en natgeswete vingers moes daagliks klam geldnote oor gemorskos papiere tel, met die rook van ’n vinnig brandende wit sigaret wat my oormoeg oë soveel brand dat ek later nie meer my eie handskrif kan lees wanneer ek desperaat probeer om ’n aantekening te maak om myself te herinner aan my geloof in ’n “buitengewone lewe” nie.

Vooruitstrewend is die Skrywer-Entrepreneur wat weereens rede genoeg gevind het om nie sy woonstel meer gereeld te verlaat vir meer geld nie! Vir die afgelope 44 dae van die sogenaamde Kommersiële Diktatorskap het ek, in al my identiteite, die stoel agter my Toshiba 2180CDT vol gesit, en gewerk aan wat ek uiteindelik begin noem het “[…]”, wat die eerste boek, en voorloper is in die “[…]” reeks.

[…].

Die plan is verder om ’n boekbesigheid te begin (op papier, by wyse van spreke), en dan die verskillende weergawes van die boek uit te gee in vennootskap met plaaslike uitgewers so ek gaan nie, soos ek plegtig belowe het, op Vrydag 4 Junie terug Suid-Afrika toe nie. Tee? Koffie?

Dis nie asof ek nie geskryf het die afgelope sewe weke nie. Die Tydelike Kommersiële Konstitusie het my verbied om tyd agter die rekenaar te spandeer met enige iets anders as ’n kommersiële projek, hoewel pen en papier steeds gebruik kon word vir vrye uitdrukking.

En vry het ek uitgedruk – bladsye en bladsye en bladsye vol, tussendeur werk aan die taalboek, die vertaling van omtrent 2000 woorde, sinspatrone, uitdrukkings, goedkoop video CD’s …

Ek noem hierdie dinge om te verduidelik hoekom dié getikte stuk ietwat vreemd onder die vingers voel, en op die oog, omdat dit voel asof ek vir myself dinge vertel wat ek lankal weet terwyl ek ander dinge ignoreer wat my handgeskrewe notas oorheers het die afgelope paar weke.

Belangrik om ook te noem: nog ’n twaalfmaandsiklus is amper weer voltooi sedert my laaste reis na Suid-Afrika, en “vakansie” planne begin toenemend die voortou te neem in kontemplasies oor my onmiddellike toekoms.

Ek het ook daarin geslaag om aan my ouers en my ouer suster die noodwendige gevolge te verduidelik van my idees op die besigheidsfront, en hulle glo onderskeidelik dat ek steeds uiteindelik wil terugkeer Suid-Afrika toe en steeds beplan om in Engeland ’n draai te maak.

Sedert my laaste amptelike skrywe het ek ook ’n nuwe frase uitgedink, en reeds etlike kere geresiteer:

“Wanneer kom jy terug?”

“So gou as moontlik.”

“Wanneer kom jy vir ons kuier?”

“So gou as moontlik.”

“Wanneer pak jy jou gemors in bokse en kom jou beloftes na soos ’n eerbare persoon?”

“So gou as moontlik …”

Daar’s egter een probleem: My jonger suster weier om so vinnig oorgehaal te word met my slim verduidelikings. Sy’t verlede naweek uiteengelê nie net dát, of hoeveel sy my en ons ouer suster mis nie, maar presies hoekom. Dit was ’n vrag vol redes, vooraf gekontempleer en deeglik uiteengesit, asof dit ekself was wat gepraat het; asof sy my eie sentimente soos verwoord in vorige notas woord-vir-woord aangehaal het.

Ek het skuldig gevoel.

Ek werk tans aan ’n paar projekte – en dis ten minste veronderstel om te klink soos ’n oorspronklike stelling en nie soos ’n stukkie opgegorrelde vroeër teks nie. Daar’s die Groot Geld Projek wat ek reeds vermeld het, en dan’s daar die Groot Literêre Projek waarvan hierdie update ’n klein fragment is. Dan het ook gister – terwyl ek in die badkamer was – gedink aan ’n goedkoop manier om ’n paar kopieë van my eerste digbundel uit te deel aan vriende en naaste familie (wat weet ek sal hulle nie kan stop om die papier te gebruik om braaivleisvure aan die gang te kry na ’n oppervlakkige poging om sin te probeer maak van my melancholiese rympies nie). Dit het gelei daartoe dat ek gisteraand weer rooi strepe begin trek het oor poësie wat ek net verlede jaar gedink het heel orraait is, en ek hoop dus om benewens die ander “jobs” ook nog hierdie een af te handel en in pseudo boekvorm te selfpubliseer voor hopelik einde Junie.

My bemeestering van die Chinese taal, nou reeds in sy vyfde jaar, is die oorblywende huidige projek. Hier kan ek noem dat ek deesdae beter Chinees lees as wat ek dit praat, en selfs wanneer ek ’n poging aanwend tot verbale kommunikasie, haas mense hulself nie meer na die naaste Tao priester vir ’n duiwelsuitdrywing nie.

My persoonlike verhoudings strek steeds nie verder as die af en toe kuiertjies met coffee shop vriendinne nie. My romantiese verbintenis met die Tee Vrou van Zhongshan Road het ook vasgehaak in die konseptuele fase. (Ek het wel ’n bose plan bedink om haar te oortuig om met my te trou – dink Marilyn Monroe en Willy Loman, never mind Arthur Miller.)

Ek meng ook steeds vier ontbytpappe elke oggend; drink steeds my koffie swart en bitter; koop, en kyk steeds baie goedkoop VCD’s, en ek maak daagliks meer en meer aantekeninge oor geloof in ’n beter volgende dag as ’n berekende en opregte poging om die lewe vandag die moeite werd te maak, ten spyte daarvan dat mens weet dit werk dikwels nie uit soos mens gedink het dit sou nie.

Dit gaan dus aan, al gaan dit nie altyd goed nie. Tot ’n volgende teks ons weer bymekaar bring …

______________________

Bleek | stammeling | Ek leef steeds

MAANDAG 12 APRIL 2004

Bleek: Soms voel ek asof alles tevergeefs is, asof mens net glo in goeie dinge, hoop op ’n beter volgende dag omdat … die alternatief te verskriklik is. Aan die einde is daar net een ding wat werklik die lewe die moeite werd maak, en dis liefde. Sonder liefde het jy niks, fokkol, nie soveel as ’n stofspikkel in jou oog om jou te irriteer en ’n snars emosie op te werk nie. Al wat jy het, is negatiewe spasie, negatiewe emosie wat altyd dreig om op ditself ineen te stort. Een tree vorentoe, ’n honderd treë terug …

stammeling

draf deur netelbosse
rol soos wind
ek is die natuur, die vuur
die lig se kind

tog vind ek snags
en soggens veels te min
wat seker, vas, geanker is
om my geloof en hoop aan vas te bind

liefde moet dan tog
die antwoord wees
ons is tog immers meer as siel
ons is ook vel en vlees

so rol dan soos ’n tolbos nader
voel die wind aan my gesig
ek is die vuur, die aarde
ek is soos suurstof en soos grond

want ek, soos jy, stam af van donker
maar noem die lig my pa en ma
gebore uit die oere-skande
volg ek daagliks my verlossing na

Ek leef steeds agter my verskansings; ek hou myself net deesdae meer produktief besig.

______________________

Nuwe gesig op die kaarte (en op die telefoon)

VRYDAG 9 APRIL 2004

Ek voel baie keer vals as ek op die telefoon is. Ek is bewus van die feit dat ek hard probeer om vriendelik en aangenaam te wees, en om nie die ander persoon aanstoot te gee nie – tensy dit natuurlik lighartig en vermaaklik is.

Dit is nie wie ek is nie. Hoe weet ek dit? Want ek leef met myself tussen telefoongesprekke, en ek weet die toneel wat ek speel op die telefoon, is net omdat ek eensaam is en nie op die oomblik mense wil vervreem nie.

Die waarheid is dat dit teen-produktief is. As jy vriendelik en aangenaam was op die telefoon, verwag mense dat jy in gesig-verskynings ook so moet wees, en as jy nie is nie, dan vervreem jy hulle tog aan die einde.

Ek haat hierdie leuenagtige toneelspel. As jou sosiale gesig meer strook met jou soms onaangename privaat gesig, sal mense jou in elk geval respekteer vir jou eerlikheid, al is dit soms ’n bietjie stomp. Meer algehele respek vir jou as persoon is gewoonlik die resultaat.

Elkeen van ons het ’n privaat gesig en ’n sosiale gesig. Dit is ons eie verantwoordelikheid om te verseker die privaat gesig kyk nie na ’n gesprek met iemand anders die sosiale gesig in die … wel, in die gesig, en vra “Wie de hel was dit?” nie.

Hierdie inskrywing verteenwoordig die noodwendige ewolusie van identiteit wat altyd op die kaarte is.

______________________