Oor die tegniese aspekte van plek en lidmaatskap

[Aan die begin van September 2003 was ek ingelig deur die eienaar dat sy die woonstel wou verkoop wat ek teen daai tyd al amper vyf jaar lank by haar gehuur het, en dat die plek ontruim moet wees teen die einde van die maand. Hierdie essay is geskryf na ’n paar weke van bokse inpak en die nuwe plek voorberei vir bewoning.]

DONDERDAG 25 SEPTEMBER 2003

Dit was ’n uitsonderlike ervaring aan die einde – hierdie besigheid van om na ’n ander plek te verhuis. Dit het ’n interessante, en verhelderende lig gewerp op dinge wat ek besig was om te bepeins voor ek die oproep om te skuif, gekry het. Ek verwys natuurlik – geen verrassings hier nie – na die onderwerpe van identiteit en plek. Die verskil is dat die ervarings van hierdie maand konkreet was, met die akademiese waarde ’n vervelige byvertoning.

Ek is hierdie maand gekonfronteer met die baie werklike feit dat ek nie meer behoort nie – vir tyd en wyl, en relatief tot ’n spesifieke omgewing.

Soos ek deur my woonstel gedwaal het die afgelope paar dae, kon ek nie ignoreer dat ek nie meer hoort nie in ’n plek wat sinoniem geword het met die daaglikse werklikheid dat ek hóórt, vir nou, op hierdie eiland. Hierdie struktuur, hierdie bouvallige mure, die vier vensters wat nooit genoeg vars lug in my lewe ingelaat het nie, die voordeur wat skuur teen die ongepolitoerde marmervloer, die voorstoep met ou sigaretstompies en onoopgemaakte pos in die een hoek, die oorbekende paadjie tussen die voordeur, my “kantoor”, die sitkamer, my slaapkamer, die badkamer, die kombuis, en terug na die voordeur, was waar ek gehoort het die afgelope amper vyf jaar. Ek het nie gehoort by die bure nie. Ek het nie gehoort by die 7-Eleven, of by enige ander plek in hierdie stad, hierdie land, of hierdie wêreld meer as wat ek gehoort het in hierdie bedompige, dofverligte woonstel nie. (Ek oordoen dalk die “donker woonstel”-ding ’n bietjie ter wille van literêre effek. Natuurlike sonlig hét soms die binneruim gepenetreer. Ek het ook verskeie elektriese ligte gehad wat die goed uitgetrapte paadjie sigbaar gemaak het. En het ek nie aan die einde talle oomblikke van intellektuele verligting ervaar in hierdie plek nie?)

Die feit bly staan dat ek nie meer hier hoort nie. En dit het niks uit te waai met identiteit, godsdiens, of ’n vae begrip van die kosmos nie. (Of het dit?)

Nodeloos om te sê het ’n onaangename sensasie my aan die strot beetgehad vanweë hierdie opgeskorte bewussyn van plek. En ek reken dis waar begrip ’n verskil maak. As iemand jou tromp-op loop en kla oor ’n onaangename sensasie in die deel van sy anatomie waar jy weet sy maag geleë is, sal dit vir jou ’n plesier wees om aan hierdie idioot te verduidelik dat hy net sy mond vol diepgebraaide seekat moet gaan prop: honger is die probleem, kos is die antwoord. (Tensy jy natuurlik verkeerd is en hy eintlik kla oor ’n meswond in sy laer buik.)

In die geval van my eie onaangename sensasie kon ek myself gerusstel met die verduideliking dat ek slegs ’n verminderde sin van my plek in die wêreld ervaar, en dat dit ’n normale reaksie is op ’n tydelike situasie. Ek kon verder gaan en sê dat ek reeds ’n ander plek het, en dat my sin van waar ek behoort, spoedig herstel sal wees.

Nog steeds, ek kon nie toelaat dat so ’n rare, konkrete manifestasie van onsekerheid wegkom sonder om dit te melk tot die laaste druppel angs nie …

MYSELF: “As jy sê ‘ander plek’ verwys jy natuurlik na die woonstel in Benewelde Lig, reg?”

EK: “Ja. Jy sal môre al jou goed soontoe skuif, en teen volgende week sal jy heeltemal tuis voel.”

MYSELF: “Hoekom?”

EK: “Omdat al jou goed daar sal wees! En jy sal weer jou eie voordeur hê, en meer vensters as wat jy kan tel!”

MYSELF: “Daar’s sestien vensters. Ek het hulle getel.”

EK: “Wel, daar het jy dit! Jou sin van waar jy hoort sal herstel wees voor jy ‘eksistensiële angs’ kan sê. Jy sal selfs ’n uitsig op die bure se kombuis hê.”

MYSELF: “Dis nie my woonstel nie. Dit behoort aan iemand wat my werkgewer ’n guns doen deur die woonstel aan my te verhuur.”

EK: “Ja, ek weet. Maar dit sal joune wees vir alle praktiese doeleindes, ten minste vir ’n paar maande.”

MYSELF: “Maar ek hóórt nie daar nie. Nie soos mens hoort op jou eie lappie grond, as jy kan slaap tussen jou eie koolkoppe nie.”

EK: “Dis waar … Maar hoort ons ooit op enige plek vir ’n onbepaalde periode van ons bestaan? Of is ons vreemdelinge meeste van die tyd, wat hardloop van die een plek na die ander – dan hoort ons hier, dan hoort ons nie daar nie? En aan die einde van die dag haas ons ‘huis’ toe want dis waar ons dink ons hoort – tussen ons eie mense? Wat gebeur as dit nie uitwerk nie? Wat gebeur as die verhoudings by die ‘huis’ disfunksioneel is tot so ’n mate dat ons voel ons hoort ook nie dáár nie? Hou ons aan om te swerf soos die diere wat ons is? Veg ons net voort vir ons daaglikse oorlewing, vir ons reg tot ’n waardige lewe? Hou ons aan om rond te snuif in ’n desperate poging om ’n vaag bekende reuk op te tel? Ons is weerlose diere, magtag! Wat meer wil jy hê?”

MYSELF: “Miskien wou ek net dít gehoor het. Miskien wou ek net gehoor het dit werk nie altyd uit nie. Dat mens dankbaar moet wees wanneer dinge wél uitwerk, en wanneer jy wél voel jy hoort êrens. Want jy weet dit hou nooit vir altyd nie, en as jy die goeie dinge van die lewe kan geniet vir net één dag, en dan nog een … dan’s dit beter as om dit nooit te kon hê nie. Liefde hou nooit vir ewig nie. Die lewe hou ook nie vir altyd nie. Op een of ander tyd in jou lewe gaan jy noodwendig verlies ervaar, en ’n verminderde sin van jou plek in die wêreld. Hoe jy dit hanteer wanneer dit na jou toe kom … dít, dit is wat vir jou ’n gevoel van sekuriteit gee.”

EK: “Maak die meeste van wat jy het, terwyl jy dit het?”

MYSELF: “Ja. Dis seker waarop dit neerkom. Om die kraag teen die wind te hou. Om te stry vir oorlewing, en wanneer jy oorleef, om voort te stry vir die beste wat jy kan kry. En wanneer dinge vir jou uitwerk, om die goeie wat jy het, te deel met ander mense. Andersins, wat is die punt?”

EK: “En moet nooit vergeet dat die lewe delikaat is nie? Dat die dood aan die einde alles oorwin? Dat ons almal aan die einde sal terugkeer tot stof?”

MYSELF: “Wel … as jy die mens beskou as bloot ’n versameling vleis en been wat rondsnuffel vir ’n plek om sy kop neer te lê aan die einde van die dag, kan jy jouself seker herinner aan al daai goed.”

EK: “En … jy moet ook nog ’n paarmaat probeer vind saam met wie jy ’n bydrae kan maak tot die voortbestaan van hierdie ellendige spesie, of hoe?”

MYSELF: “Hmm … is daar nie nog ’n paar bokse wat ons kan rondskuif nie?”

En so val nog ’n paar druppels in die emmer …

______________________