SONDAG 5 FEBRUARIE 2006
’n Teologiese implikasie van ewolusie: as kreature, insluitende die mens, ontwikkel om hul kanse op oorlewing te verbeter, is dit dan nie waar dat ons ons eie skeppers is nie? Een voorbeeld: Volgens my Concise Encyclopedia: “Merychippus [’n uitgestorwe proto-perd wat endemies was aan Noord-Amerika tydens die Mioseen tydperk, 23 tot 5 miljoen jaar gelede] […] developed longer limbs to escape from predators.”
Terloops, daar is 4 000 verskillende spesies eenvoudige enkelsel organismes soos bakterieë; 50 000 komplekse enkelsel organismes soos amebes; 100 000 spesies fungi, soos sampioene; 400 000 spesies plante; en 2 miljoen spesies diere.
DINSDAG 7 FEBRUARIE 2006
14:25
Waaroor gaan my skryfwerk? Op die oog af blyk dit niks meer te wees nie as vrae wat een man vra oor sy eie lewe om dit meer betekenis en waarde te gee – met antwoorde wat blyk slegs op hom van toepassing te wees. Ek glo egter as almal – of dan ten minste meer mense as wat tans die geval is – dieselfde, of soortgelyke vrae moet vra oor hul eie lewens, die wêreld ’n beter plek sal wees. Ek glo dat daar minder lyding sal wees, en dat mense meer vervullende, en meer produktiewe lewens sal leef.
[14/10/15: Moeilik om te bepaal hoeveel mense hulleself die tipe vrae vra waarna ek verwys. Dit help ook nie veel as jy jouself die vrae vra en jy kom vorendag met antwoorde wat vir jou sin maak, maar wat uiteindelik meer lyding vir ander mense veroorsaak nie.]
16:50
Ek het gewonder hoekom ek in Julie 2004 soveel meer oortuig was as nou van myself, my rol, my waarde en my plek in die wêreld. Ek reken die rede is definisie van sukses. Ek het teen Julie 2004 sukses gedefinieer as die vermoë om ’n sekere lewe te kan leef, en sekere werk te kan doen. Ek was in 2004 in staat om daai lewe te leef, en die werk te doen wat ek wou doen.
Vir die afgelope jaar of so is sukses (om verstaanbare redes) weer gemeet aan finansiële standaarde. “Wanneer my projekte afgehandel is …” en “Wanneer ek uiteindelik meer geld het …” het geykte frases geword. Dan kom ’n tyd wat my gestel ’n bietjie af is en ek word geforseer om die feite in die gesig te staar: 34, skryf baie, publiseer fokkol; ʼn hele paar EFL projekte, nog net ’n paar kopieë verkoop van een boek; droom van ander plekke, nuwe meubels, meer geld … en karring maar aan.
Dalk ietwat onregverdig, maar ten minste weet ek waar dit vandaan kom.
Miskien is hierdie dan ’n goeie tyd om te vra: Hoe definieer ek sukses op 7 Februarie 2006?
Sukses, vir my, sal wees om ’n lewe te kan bewerkstellig waar ek my tyd elke dag kan spandeer soos ek goedvind. Ongelukkig is finansiële sukses ’n onontbeerlike bestanddeel daarvan.
DONDERDAG 9 FEBRUARIE 2006
09:51
Skrikwekkende nuwe moontlikhede – miskien moet ek in aanraking kom met ou gevoelens van warm son en armoede en skaamte om dinge in perspektief te plaas.
Nog iets: die wortel van vele kwaad is nie geld nie, maar onsekerheid oor wie jy is, jou eiewaarde, en jou plek in die wyer wêreld.
18:28
Sewejaar-oue Judy van “talking to the eraser” faam stap laat vanmiddag oor na my lessenaar en asof sy dringend ʼn boodskap moet oordra wat ek nodig het om te weet, sê sy: “Zìyán zìyǔ”.
Ek het nie onmiddellik gevang wat sy probeer sê nie. Sy verduidelik dit toe in Mandaryns wat ek kon verstaan, met handgebare om die idee te beklemtoon: “Niemand langs jou nie, niemand voor jou nie, en tog is jy besig om ʼn gesprek te voer.”
______________________