In kort, hou aan met skryf

DONDERDAG 3 OKTOBER 2019

Waaroor skryf ’n mens?

Kyk jy na stories wat net verskyn het in die laaste jaar, sien jy boeke oor dwelms en liefdesverhoudings, kinders wat verdwyn het en liefdesverhoudings, en klein dorpies en liefdesverhoudings; jy sien stories oor arm mense, ryk mense, en die drome van middelklasmense. Kyk jy na storielyne van films wat die afgelope paar jare verskyn het, sien jy superhelde, aksiehelde, fantasiewêrelde, dinosourusse, moorddadige masjiene, en mense wat wegkruip in bosse. Is jy geïnteresseerd in nie-fiksie, sien jy temas gedek in boeke wat net in die laaste jaar verskyn het, sluit in politici, eggenote van politici, wêreldoorloë, ander oorloë, godsdiens, maniere om jouself te verbeter, maniere om geld te maak, en die dinge wat jy leer as jy om die wêreld reis. Selfde met materiaal op die Internet. Daar’s populêre webwerwe oor net mooi enige gier, stokperdjie, belangstelling of obsessie waaraan jy kan dink.

Waaroor skryf jy dan?

Jy skryf steeds stories wat jý wil vertel, al het soortgelyke stories reeds verskyn. En ag jy jouself nie veel van ’n storieverteller nie maar jy voel jy’t ’n mening of twee wat jy wil deel, skryf jy oor sake wat vir jóú belangrik is, maak nie saak hoeveel boeke of artikels oor die onderwerp reeds verskyn het nie.

Hoekom? Want jóú perspektief is anders as die volgende man of vrou s’n. En selfs as dit soortgelyk is, sal jy waarskynlik anders daaroor skryf, met ander voorbeelde, of ander gevallestudies, of met ander woorde situasies beskryf of standpunte konstateer.

Aan die einde deel jy jouself met mense wat die planeet met jou deel, of wat die planeet sal bewoon lank na jy die aarde verlaat het vir ’n kolonie op Mars, of ’n plekkie in die Nietigheid. Jy deel met ander wat jy glo, hoe jy dinge sien, hoe jy dinge ervaar, wat jy dink van wat ánder mense glo, selfs wat jy dink van stories wat ánder mense geskryf het, of films wat ánder mense gemaak het, of politieke manifeste wat ánder mense gepubliseer het.

Jy is nie die volgende persoon nie, en jou ervaring van die menslike kondisie op die planeet Aarde is tot ’n groot mate uniek. Skryf daaroor – vir jouself, vir jou bure, jou vriende, jou familie, en vir mense wat jy nooit sal ontmoet nie want hulle sal eers jou skryfwerk ontdek vyftig jaar van nou af in ’n digitale vorm wat eers oor tien jaar ontwikkel sal word. En net dalk vind één persoon één ding wat jy gesê het, of die wyse waarop jy iets verduidelik het, vermaaklik, of bemoedigend, of opvoedkundig.

In kort, hou aan met skryf.

______________________