Vandag is primitief – leer om dit te waardeer

Sondag 16 Maart 1997

Gedagte vir die dag: Waardeer die primitiwiteit van die wêreld waarin jy tans leef.

In plaas daarvan om die verlede binne te stap en te waardeer hoe dinge in ’n vroeër tyd was, dink aan die toekoms, en verbeel jouself hoe dinge sal wees vyftien, twintig, honderd jaar van nou af. Wees dan terug in die hede en waardeer hoe “oud” alles is – van toilette tot rekenaars, en telefone, koerante, boeke, vuurhoutjies, sigaretaanstekers, sigarette, afskroefdoppies, penne en potlode, karre, busse, fietse, toiletpapier, klere, yskaste, radio’s, deure met slotte en sleutels, wyserhorlosies, beddens, beddegoed, flieks in teaters, TV’s, wyn, bier, steak-en-chips, skottelgoed, wasgoed, skeermesse en skeerseep, tapes, CD’s, 14-uur vlugte oorsee, briewe met seëls (“mense sou klein prentjies koop wat ’n bepaalde hoeveelheid geld werd was, die prentjie druk teen die tong om die gom te aktiveer, en dit dan in die hoek van ’n papiersakkie – oftewel ’n ‘koevert’ – plak), joernale waarin mens om 02:30 in die oggend inskrywings maak …

Ek meen, kyk net hoeveel dinge het verander in die afgelope honderd jaar! Kan jy jouself voorstel hoe dinge gaan verander in die volgende honderd jaar met die “tools of technological advancement” wat geskep is in hierdie eeu!

Vraag: Waar pas “social revolutionaries” in hierdie toekoms in?

______________________

Ek voel die huis, hoor die sekondes tik, maar dink langtermyn

Donderdag 16 Januarie 1997

Dis baie vreemd. Ek dink die effek van 25 warm Januaries in Suid-Afrika is besig om sy tol te eis. Ek is hier in die noordelike halfrond waar die temperatuur wissel tussen minus vyf en vyf grade Celsius, maar my gees is nie hier nie. Dis besig om knoffelpizza te eet en Black Label te drink êrens in Stellenbosch. Dit kuier saam met [my jonger suster] – in Pongola se Wimpy Bar, for that matter. Ek is orals in die warm Kaap, ten spyte van die feit dat ek koud kry in Korea op die oomblik.

Die snaakse ding is, ek voel werklik daai plekke – ek ervaar dit!

Ek reken die positiewe assosiasie met somer het te make met die feit dat ek Korea gaan verlaat en sal terugkeer Suid-Afrika toe wanneer dit weer warm raak hier.

Gevolgtrekking? Hoe warmer dit raak in Chonju, hoe nader is ek daaraan om huis toe te gaan.

Saterdag 15 Februarie 1997

(Sesuur die oggend, Seoel-treinstasie)

Dis hoe dit is: Woensdagaand het dit na ’n gesprek met [my baas se seun] geblyk dat daar ’n misverstand was oor die vliegtuigkaartjie. Hy het vir sy ma gevra of sy vir my ’n kaartjie sal koop as ek na ’n jaar wil huis toe gaan … vir ’n vakansie. Sy was toe nog besig om dit te oorweeg.

Ek het eers na die gesprek begin dink. Ek het self nog nooit die moontlikheid oorweeg om na ’n jaar vir ’n vakansie huis toe te gaan en dan terug te kom Chonju toe nie. Ek het vroeër die aand gepraat met [die Suid-Afrikaanse ou wat ek in Seoel ontmoet het die dag toe ek gearriveer het], en hy’t genoem dat hy beplan om so R50 000 huis toe te vat.

Dit het my in die bui geplaas om rond te neuk met die idee. Wat sou ek doen as ek tog nog ’n jaar moes bly?

Ek het gedink aan subskripsies aan koerante en tydskrifte; om aan te sluit by ’n Internet-plek; selfs om ’n telefoon te kry. Toe reik ek teen my sin en beter wete na my calculator. ’n Vinnige berekening bring my toe ook by ongeveer R50 000 se spaargeld. Dis obseen! ’n Werklike moontlikheid om my skuld te begin afbetaal!

Toe dink ek, maar goeie fok, ek kan dit nie nog ’n jaar in hierdie plek uithou nie! En wat van my planne om Kaap toe te gaan, en ’n paar weke by die huis te spandeer, en om Europa toe te gaan?

Dit bring my toe by ’n ander teer sakie. ’n Dag of drie gelede het ek gedink wát ek ook al gaan doen na Korea moet oorweeg word teen die agtergrond van die bigger picture: Wat beplan ek om te doen met my lewe oor die volgende paar jaar?

Donderdag 6 Maart 1997

Om te dink aan die langtermyn – om nog tien maande hier te bly – is abstrak. September … Augustus, is net flitsende gedagtes. Ek vind dit dus nie moeilik om myself te motiveer daarvoor nie, veral nie as ek dink aan wat daarna kom nie.

Die korttermyn – soos die volgende twee klasse – is vir my ’n uitdaging wat motivering betref. Dis konkreet. Dis opkyk, hiernatoe kyk, daarnatoe kyk, afkyk, iets sê, iemand ’n vuil kyk gee, opstaan, rondloop, en te voel hoe die sekondes … verby … tik. Dan dink ek, oukei, dis nog twee klasse … en dan … basies, fokkol.

Ek het iets nodig om myself te motiveer – konkrete motivering vir die hier-en-nou.

______________________

Oukei, die latrine tref die air conditioner

Dinsdag 14 Januarie 1997

Oukei, dis hoe dit is. Dis die veertiende, en my payday vir Desember was op die derde. Hulle skuld my nog steeds meer as die helfte van my salaris vir Desember. Uit al die brokkies informasie wat ek tussen die lyne lees, is my salaris nie ’n prioriteit nie.

Vanoggend vra ek [die eienares van die skool se seun] of ek op die derde Februarie my salaris sal kry vir Januarie. Sy antwoord was, en ek haal aan: “Sure, maybe …”

“Sure, maybe”? Wat de fok beteken dit?! Sure, maybe doen ek op die oomblik ’n job wat so vervelig is dat ek iets kan oorkom, en toe ek vra oor die betaling vir die werk wat ek doen, word daar vir my gesê ek sal maybe op datum betaal word daarvoor!

Ek sê jou wat ek sal maak met hierdie inligting: Ek sal enkele dae na ek my geld gekry het vir Februarie, terugvlieg Johannesburg toe. Dit is wat ek sal doen met hierdie informasie!

Woensdag 15 Januarie 1997

Feit is, selfs al word ek láát betaal vir ’n spesifieke maand, het ek nog steeds daai geld nodig. Al grief dit my grensloos dat my salaris oënskynlik nie ’n prioriteit is nie, sal dit binne die afsienbare toekoms net deel wees van nog ’n hoofstuk in my lewe, en ek sal op ’n vlug êrens heen sit met ’n gin-and-tonic in my hand – moontlik gemaak met geld wat ek hier verdien het. Al kry ek dit eers twee weke na ek veronderstel was om dit te kry.

______________________

Ek wil so graag … nie hier wees nie

Sondag 12 Januarie 1997

Oukei, ek begin die vermoede kry … hey, jy kan nie nou al hierdie inskrywing lees nie – ek is nog besig om dit te skryf! Jeez, give me a break!

Nota: ’n Tydreiservaring – wat ek nou skryf, en nog gaan skryf in die volgende paar minute, is bestem om deel te word van die verlede. Maar daar’s ’n tyd vir alles, so ek moet eers deur die formaliteit gaan om die inskrywing te maak, al weet ek hierdie inskrywing, soos al die ander, gaan weer besoek word deur myself in die toekoms.

Soos ek besig was om te sê voor ek deur myself besoek is, ek vermoed dat ek ietwat verveeld is met Korea. Wat eintlik ’n mooi manier is om te sê dat ek so gatvol is vir die plek dat ek iets kan oorkom.

Eintlik is dit nie wat ek wou sê nie. Ek het net gevoel dis tyd vir ’n inskrywing, en toe kry ek die tydreis idee vir ’n inleiding.

* * *

Dis die twaalfde dag van die eerste maand van nog ’n jaar.

Die naweek was te lank. Ek wil werk. Ek wil by daai Moeder van Verveling in my klaskamer sit en sien hoe die tyd S-T-A-D-I-G maar seker verbygaan.

Ek is verveeld, en ’n bietjie moedeloos oor die feit dat dit nog soveel maande is voordat ek kan huis toe gaan. (Van betroubare bronne wat self al Korea verlaat het, het ek verneem dat daar waarheid agter die mite sit – daar is inderdaad ’n wêreld aan die ander kant van Kimpo Lughawe!)

Ek meen, dit is immers al amper die middel van Januarie, maar ek wil net so fokken graag ’n ander taal as Koreaans in die openbaar hoor! Ek wil so graag Europese flieks kyk met Engelse onderskrifte. Ek wil so graag weer braaivleis en pap, en aartappelslaai eet. Ek wil so graag ’n Black Label geniet saam met vriende, saam met my ouers TV kyk, en rugby kyk op ’n Saterdagmiddag.

Ek wil so graag weer die opwinding ervaar om op ’n vliegtuig te klim en êrens heen te vlieg. Ek wil so graag in ’n kroeg sit in Stellenbosch, terwyl ek Afrikaans praat, en Afrikaans en Xhosa en Zulu en … Engels om my hoor. Ek wil so graag weer opgewonde raak as ek ’n tweedehandse boekwinkel of ’n straatverkoping sien.

Ek wil so graag nie meer na gestaar word as ek by die straat afstap nie. Ek wil so graag nie meer Engels probeer teach vir Koreaanse twaalfjariges wat my ’n “pabo” noem in die klas, en nie besef ek wéét hulle noem my ’n idioot nie.

______________________

’n Lang jaar staan einde se kant toe

Donderdag 19 Desember 1996

Nou ja, dis die week voor Kersfees. Die 19e Desember … nie gedink ek gaan dit eens sien in Korea nie. Ek voel ietwat vreemd op die oomblik. Alles kom nou bymekaar – amper die einde van die jaar, twee en ’n half maande weg van einde Februarie …

Dinsdag 31 Desember 1996

En so aan en so aan, verlede jaar hierdie tyd … nog ’n jaar, ensovoorts.

Wat ’n vreemde, maar ook op ’n manier, netjiese jaar. Ses maande van soul searching, rondsit in my suster se sitkamer, min geld (alweer/nog steeds), en toe – voila! – my eie klein herberg in Wu-A-Dong, Duk-Jin-Gu, Chonju City, Suid-Korea!

Ek gaan nie hier ’n jaar-in-perspektief gee nie. Naastenby al die belangrikste goed is reeds opgeteken. Ek het nooit by my dag-tot-dag joernaal uitgekom nie, en ek het nog steeds koerante van Augustus om te lees …

Ek kan soveel sê van verlede jaar: Kersdag 1995 was om die waarheid te sê lekkerder as hierdie jaar s’n – wat bewys ’n mens kan inderdaad goeie herinneringe op jou eie maak.

Advies vir 1997? Vermy armoede, en vermy verveling. Dink mooi voor jy iets doen. Impulsiwiteit en als het sy plek, maar ek hoef seker nie vir myself te vertel dat sekere goed, soos die vermyding van armoede en verveling, nie as vanselfsprekend aanvaar kan word nie.

Op 31 Desember 1997!

______________________