Die vrees en onsekerheid wat mens soms aanpor

Dinsdag 10 Desember 1996

Ek is besig om ’n moerse kompleks te ontwikkel – dit het basies te make met die helse lot bagasie wat ek altyd saamdra. Elke keer wat ek myself vergelyk met mense, kom ek tweede. Ek het altyd so baie wat ek wil doen, maar by hoeveel daarvan kom ek werklik uit? Ek praat en praat en praat net altyd.

Ek dink ek is te bang om iets te waag. Ek is bang om die bietjie sekuriteit te verloor wat ek elke dag bymekaar skraap. Ek is onseker van myself. Ek praat en praat en kom die helfte van die tyd by fokkol uit.

En daar’s nog soveel om te leer van die lewe …

______________________

Wit goed op die karre

Vrydag 29 November 1996

’n Heel nuwe ervaring! Ek en [my een Kanadese vriend] het gaan video’s kyk by ’n videowinkel, en net na drie-uur vanoggend uitgekom. Dit reën, het ek gedink, en dadelik onthou ek het nie die skottel onder die lek in my kamer gesit nie. Toe sê [die Kanadees] dit sneeu. Ek sê toe ek sal nie weet nie. Hy sê toe, “Look at the cars …”

Toe sien ek dit – sneeu wat soos komberse oor die karre lê, en die “reën” wat sag neerval aarde toe.

Na ons mekaar met sneeuballe gegooi het vir omtrent ’n halfuur lank, het ons koffie by ’n masjien langs die pad gekoop en elkeen ’n Omar Sharif gerook. Ek het myself verkyk aan die enkele kar in ’n parkeerarea vol spierwit sneeu.


Sneeu in die buurt – Chonju, Suid-Korea – November 1996
’n Nuwe ervaring – November 1996

______________________

Drie-vier-vier-vyf-drie … tien-veertien (het enige iemand my teiken gesien?)

Donderdag 21 November 1996

Ek móét hierdie inskrywing maak voor nog ’n maand verbygaan! Voorheen sou ’n week vir my lank gevoel het; nou gaan die tyd verby twee weke op ’n slag! Dis Donderdag vandag, en ek onthou nog duidelik hoe ek verlede Maandag na die horlosie in die klaskamer gekyk en gedink het die tyd gaan so stadig verby. En dit was verlede Maandag!

Drie weke gelede was ek al vier maande in Korea, met nog vier maande oor voor my teikenmaand van Februarie. Oor ’n week is ek al vyf maande hier, met nog drie maande tot my teiken …

Ek weet dit sal in baie opsigte voordelig wees om langer te bly, maar ek hou steeds by Februarie. Soos dit nader kom, praat ons weer.

Desember dink ek gaan orraait wees, dog heel waarskynlik fokken koud.

Ek beplan om, soos dinge nou staan, oor tien weke te bedank, en oor veertien weke huis toe te gaan …

Maandag 25 November 1996

Volgens Plan A gaan ek oor drie maande terug Suid-Afrika toe. Drie maande. Wat ek sal agterlaat is ’n soms vervelige, soms uitputtende, soms neerdrukkende, soms opwindende, dog uiteindelik onvergeetlike lewe waar ek elke maand ’n paar duisend rand verdien, en waar ek tyd spandeer met mense wat ek nou vriende noem wat ek moontlik nooit weer sal sien nie.

Wat ek tegemoet sal gaan, is ’n wêreld waar ek my eie taal sal kan praat, ou vriende sal kan sien, en weer op Stellenbosch ’n draai kan gaan maak. Binne ’n paar weke sal ek Europa toe gaan vir ’n nuwe fase van my lewe.

Die laatste wat ek kan teruggaan, is einde Mei – ses maande en een week van nou af. Oor ’n maand sal ek al ses maande hier wees, en dan is Mei nog vyf maande weg.

Oplossing: Ek moet steeds werk en spaar vir einde Februarie. Ek moet kyk hoe dinge uitwerk, en weer praat deur die loop van Desember. As ek besluit Februarie is te vroeg, moet ek kyk na Maart, en dan na April.

Ek moet net onthou, dis Maandagmiddag vieruur. Dis gewoonlik ’n neerdrukkende tyd. Ek moet net probeer om deur vandag te kom, en dan deur môre …

______________________

Waarnemings, boeke, en ’n kosbare lewenservaring

Woensdag 23 Oktober 1996

Alles in ag genome, was Korea sover ’n kosbare lewenservaring. ’n Ietwat romantiese opvatting van lewe in die buiteland is aangevul met ’n paar konkrete waarnemings:

1. Dis nie maklik om sonder my mense te wees nie. Om die waarheid te sê, voel ek baie afgesny van my familie. (Ek het nie ’n telefoon by die huis nie, so ek bel hulle twee of drie keer per maand van ’n telefoonhokkie af. Dit beteken ook hulle kan mý nie bel nie. En om vir my fakse te stuur, is te veel van ’n gesukkel, danksy die mense hier wat soms nie vreeslik hulpvaardig is nie.)

2. Ek sê altyd waar sal ek nie orals gaan en wat sal ek nie alles beleef as ek baie geld het nie. Maar waar gaan mens nie oral, en wat beleef jy nie alles in jou soektog na die “fortuin” wat jou in eersgenoemde posisie sal plaas nie?

Sondag 27 Oktober 1996

My lewe in Korea bestaan uit drie verskillende periodes van tyd:

1. Die lang, vervelige ure by die werk

2. Die rustige ure by die huis wanneer ek koffie drink, musiek luister, en dink oor dinge

3. Die goeie ure saam met vriende en kennisse

Ek sal nie aan die einde die tyd kan terugdraai en my lewe kan voortsit sonder die ervarings wat ek opgedoen het in Korea nie. Wat ’n vreemde ervaring! Dis definitief die tipe ding wat die balju nie van ’n mens kan wegvat nie.

Dinsdag 29 Oktober 1996

’n Voorneme: Ek moet Korea so lekker as moontlik maak vir myself. Een of ander tyd gaan dit net nog ’n hoofstuk in my lewensboek wees. Ek moet ook onthou die hoofstuk is steeds in die proses om geskryf te word. Dis my verantwoordelikheid om te sorg dat dit ’n goeie hoofstuk sal wees. Ek beter begin werk aan interessante materiaal!

Wat ek probeer sê, is dat ek nie vir ewig hier gaan wees nie. Ek wil nie later spyt wees oor iets wat ek nié gedoen of ervaar het omdat ek net wou gehad het dat die tyd so gou as moontlik verby moes gaan nie.

______________________

Grys wolke en verveling

Saterdag 7 September 1996

Om dinge op my eie uit te werk, stel my in staat om ’n wêreld vol verwarring beter te hanteer. Dit help as my tentpenne goed geanker is vir die winde wat soms hard aan ’n ou se tentflappe ruk.

Woensdag 9 Oktober 1996

Ek het vandag besef daar hang amper altyd ’n grys wolk oor my. ’n Bewustheid dat ek gelukkig is, bly amper die heeltyd een tree voor my – maar ek bly ook die heeltyd een tree voor ’n definitiewe bewustheid dat ek ongelukkig is. Dalk ’n goeie balans?

Die kleinste dinge maak my soms … gelukkig – soos om net voor my aandklas te hoor die klas is gekanselleer.

Ek sukkel op die oomblik om deur my klasse te kom. En dis nie omdat dit harde werk is nie. Dis net so donders vervelig!

Ek wil net deur die vervelige ure by die werk kom sodat ek kan huis toe gaan – al sit ek net hier en doen niks, sal ek ten minste nie vasgevang wees in ’n klaskamer saam met ’n klomp kinders nie. Ek kan rook wanneer ek wil, koffie maak, musiek luister …

Ek moet dinge kry wat my motiveer en my belangstelling prikkel. Ek moet iets doen om Korea die moeite werd te maak om een jaar hier te bly.

Feit is, hoe langer, hoe beter.

Die vraag is net: Wat gebeur na Korea?

______________________