Verligte en onverligte – briljante nege

SATERDAG 3 JULIE 2004

Die verskil tussen die VERLIGTE en die ONVERLIGTE

Die ONVERLIGTE sê: Dit is wie en wat ek is, so ek moet dit maar net aanvaar.

Die VERLIGTE sê: Hier is die kaarte wat aan my gedeel is, en hier is die hulpbronne tot my beskikking. Hierdie is my vermoëns en beperkinge, en hierdie is my belangstellings. In ag genome al hierdie dinge, verklaar ek ’n bepaalde visie van WIE en WAT ek WIL wees, en WAAR ek sal verkies om dit te wees. Laat die werk dus begin.

SONDAG 4 JULIE 2004

Saluut vir die briljante nege! (uit elke tien)

Een stelling wat nie naastenby die aandag kry wat dit verdien nie: Mense is briljant! Mense is manjifieke kreature wat daarin slaag om te oorleef, en selfs gelukkige lewens te leef tot op ’n ryp ouderdom, dit ten spyte daarvan dat hulle fokkol weet of verstaan oor hul eie spesie, en oor hoe die mens funksioneer.

Sal iemand dalk sê, “Miskien weet hulle meer as wat jy dink.”

My opinie is, natuurlik weet meeste mense iets, en natuurlik verstaan hulle baie dinge. Maar in ag genome die totaliteit van wat daar te wete is, verteenwoordig wat hulle wel weet en verstaan so ’n fraksie van die geheel dat mens nie kwalik geneem kan word as jy ’n ietwat vulgêre frase benut om die hoeveelheid kennis en begrip aan te dui wat jy reken hulle oor beskik nie.

“Is jy dan nie ook een van hierdie spesie nie?” sal ’n intelligente leser weer vra.

Ja, sal ek antwoord, maar ek reken ek kan teen hierdie tyd wegkom daarmee om te beweer dat ek nie naastenby so onkundig is soos nege uit elke tien op straat nie.

______________________

Hoekom rebelleer ’n tiener?

SATERDAG 3 JULIE 2004

Ek reken ’n tiener wat volgens algemene standaarde in ’n fase van rebellie verkeer, reageer teen sy eie self, teen die mense wat hy verantwoordelik hou vir wat hy sien as sy onbevredigende gegewe self, en moontlik ook teen die omgewing waarbinne hierdie gegewe self gebore en getoë is.

Dit kan dalk toegeskryf word aan die feit dat ek meer blootgestel word aan tieners in ’n sekere stratum van die samelewing, maar dit wil tog voorkom asof die “rebelse tiener” ’n meer algemene verskynsel is in ontwikkelde, geïndustrialiseerde lande, waar gefragmenteerde gemeenskappe ’n enkele stedelike landskap deel, en rykes en armes soms op ’n daaglikse basis skouer skuur, teenoor gemeenskappe waar ’n bestaansekonomie die norm is, met nouer, meer tradisionele verbintenisse tussen individuele lede van die gemeenskap, en ’n nouer kulturele en sosio-ekonomiese verband tussen verskillende plaaslike gemeenskappe.

Mens kan dalk die mening uitspreek dat tieners in stedelike areas in geïndustrialiseerde lande meer rede het om swak toegerus te voel vir die lewens wat hulle wil leef, of selfs vir wat van hulle verwag word. Tieners in hierdie omgewings is immers meer bewus van ander individue in dieselfde gemeenskap, of in ander gemeenskappe – beide plaaslik, of in ander areas – wat ten minste blyk veel beter toegerus is as hulle.

Ek glo ook – hoewel ek net ’n beskeie opinie hieroor kan waag – dat die spesifieke ekonomiese omgewing waarin tieners hulself indirek bevind, of waarin hulle weet hulle hulself gaan bevind as volwassenes, bevorderlik is vir gevoelens van ontoereikendheid. Sosio-ekonomiese status – waarin die tiener homself bevind volgens sy ouers se ekonomiese aktiwiteite, en ook wat hy reken moontlik sy voorland gaan wees as volwassene, asook kompetisie met tydgenote wat betref materiële besittings, verskerp ook innerlike konflik by die tiener tussen sy beskouing van dit wat hy is op daai oomblik, en dit wat aan hom voorgehou word as die ideaal.

Laastens glo ek dat te veel volwassenes, of dan in hierdie geval spesifiek dié volwassenes wat in ontwikkelde lande die rol moet vervul van ouers van tieners, nie die vaagste begrip het van die prosesse van identiteitsvorming nie, en ook geen idee het van die mees elementêre filosofiese vraagstukke waarmee tieners gekonfronteer word nie. Hierdie gebrek aan die kant van die ouers dra by daartoe dat tieners antwoorde op die vrae na WIE, WAT en PLEK op hulle eie maniere probeer formuleer, en soms op enige manier wat naastenby bevredigend is. Onkunde is weereens die sondebok. Verligting is weereens verlossing …

______________________

Ek glo steeds …

SATERDAG 3 JULIE 2004

Laat my toe om enkele waarhede ter tafel te lê:

1. Identiteit speel ’n kardinale rol in die normale funksionering van ’n individu.

2. Die partikulêre gemeenskap waarbinne ’n mens gebore en getoë word, speel ’n primêre rol in die vorming van identiteit.

3. Dit is baie algemeen dat ’n partikulêre godsdiens ten nouste verweef is met ’n partikulêre gemeenskap; hierdie godsdiens is in vele gevalle ’n kardinale bepaler van identiteit vir mense wat gebore is en grootgeword het in hierdie gemeenskap.

4. Vir die aanhangers van verskeie godsdienste is dit belangrik om aanspraak te maak op die universele toepassing van ’n spesifieke godsdienstige “waarheid”.

5. Dit is te verstane as ’n persoon wat gebore is en grootgeword het in ’n gemeenskap waar ’n “universele toepassing” godsdiens ’n primêre bepaler is van identiteit, ter wille van sy of haar eie partikulêre identiteit, hierdie aansprake resiteer, en dit ook so sal oordra aan die volgende geslag.

’n Vraag: Kan rasionele mense kwalik geneem word as hulle ’n skeptiese houding koester jeens die aanspraak op “universele waarheid” deur die aanhangers van enige partikulêre godsdiens?

Anders gestel:

a) Gemeenskappe funksioneer orals in die wêreld as bronne van partikulêre identiteit.

b) Om as buitestander ’n partikulêre gemeenskap se geldigheid te bevraagteken as bron van identiteit bloot omdat jou eie identiteit nie afkomstig is van daai bron nie, is onlogies. (Dit sal beteken dat een wat buite jóú gemeenskap gebore is en grootgeword het, ook die geldigheid van jou gemeenskap as bron van identiteit kan bevraagteken omdat sy identiteit nie afkomstig is van jóú gemeenskap nie.)

c) ’n Partikulêre godsdiens is, in talle gevalle, ten nouste verweef met ’n partikulêre gemeenskap, en vervul ’n belangrike rol in die definiëring van identiteit.

d) Gemeenskap A is dus as ’n bron van identiteit gelyk aan Gemeenskap B.

e) Dit kan ook gesê word dat Godsdiens A as ’n bron van identiteit gelyk is aan Godsdiens B.

Drie vrae:

1. Op watter basis kan aanhangers van Godsdiens A, in ag genome bogenoemde punte, steeds aandring op universele toepassing van hulle “waarhede” – oor alle tydsgrense, kulturele grense, en alle ander grense heen?

2. Op watter basis kan die aanhangers van Godsdiens A – wat heel waarskynlik aanhangers van daai partikulêre godsdiens is omdat daai partikulêre godsdiens ’n primêre gegewe faktor was in die proses waaruit hulle identiteite gevorm was – die bewering maak dat hulle godsdiens waarde het wat verder strek as die waarde van Godsdiens B – wat ’n soortgelyke rol vervul as identiteitsbepaler in Gemeenskap B?

3. Waar word die lyn getrek tussen godsdiens as oordragmedium van “tydlose waarhede” (ongeag hoe waar dit mag wees), en godsdiens as bepaler van identiteit?

Na deeglike besinning oor hierdie onderwerp, is daar nog ’n vraag wat mens nie die versoeking kan weerstaan om te waag nie: WAT IS DIE WAARHEID?

Dis maklik om een van die beginsels van sekulêre religie te resiteer en te antwoord, “Die waarheid is relatief.”

Ek glo egter steeds dat daar ’n ABSOLUTE, UNIVERSELE WAARHEID is. Ek glo verder dat die partikulariteit van noodlotsdata waarmee enige mens gekonfronteer word met geboorte, die gegewendheid van die instrumente waarmee uitdrukking gegee word aan ’n bewussyn van individuele self, en die noemenswaardige rol van godsdiens as ’n mede-bepaler van identiteit, alles stukkies is van die legkaart wat die WAARHEID is.

Ten laaste, glo ek dit is moontlik vir ’n mens – ’n lewende lid van die spesie Homo sapiens – om die volle, absolute, universele, tydlose waarheid te ken?

My antwoord bly steeds, sonder twyfel, nee.

______________________

Die waarde van persoonlike agendas

DONDERDAG 1 JULIE 2004

Die waarde van persoonlike agendas (I)

Aan die einde kan ’n persoonlike agenda ’n katalisator wees vir intellektuele groei, of vir die nastrewing van een of ander ambisie. Ook Plato het sy eie persoonlike agenda nodig gehad (opposisie teen die relativisme van die groep Griekse filosowe bekend as die Sophiste) om vorendag te kom met “universele en partikulêre” – konsepte wat ’n betekenisvolle invloed gehad het op die ontwikkeling van Westerse filosofie.

VRYDAG 2 JULIE 2004

Die waarde van persoonlike agendas (II)

As die vier lede van die Beatles nie gerebelleer het teen hul gegewe selwe en die opsies van volwasse lewens wat as toepaslik geag was in ag genome hul gegewendheid nie, maar dit heelhartig aanvaar het, het hulle moontlik dokwerkers of onderwysers of kantoorklerke in Liverpool geword.

As Vladimir Lenin se broer nie gearresteer is deur agente van die tsaar se regime en later tereggestel is nie, het eersgenoemde se persoonlike agenda hom dalk nie gedryf tot sy onvervangbare rol in die stigting van die Sowjet-Unie nie.

Aanvaar jouself … tot ’n mate, dus?

[In die taal van die digitale era: Ek aanvaar tot ’n mate my bedryfstelsel, maar hier is nietemin ’n addisionele paar honderd reëls programmeringskode wat ek wil inwerk.]

______________________

Geld, die arbeidsmark, en hoe jy funksioneer

WOENSDAG 30 JUNIE 2004

As ek die afgelope tien jaar geld gehad het, of meer gereeld geld gehad het, en groter hoeveelhede daarvan … as ek myself gedurende die laaste dekade van my lewe in ’n posisie bevind het waar ’n gereelde inkomste onnodig sou wees, sou dit my proses van selfontdekking en selfdefiniëring radikaal beïnvloed het.

Een moontlikheid: As my familie welgesteld was, en my ouers het dit duidelik gemaak reeds in my tienerjare dat ek elke jaar, vanaf my agtiende verjaarsdag, ’n aantreklike bedrag geld sal ontvang net omdat ek so gelukkig was om gebore te word as hulle seun, sou ek heel moontlik vanaf my laat tienerjare myself minder toegespits het daarop om binne die volgende vyf tot sewe jaar vir myself ’n posisie te bewerkstellig op die arbeidsmark. Ek sê nie ek sou noodwendig ’n onproduktiewe suurstofdief gewees het nie, maar indien ek nie nodig gehad het om my persoon voor te berei vir die arbeidsmark of vir die besigheidswêreld nie, sou ek nie die persoon gewees het wat nou hierdie woorde tik nie.

Nog ’n moontlikheid: As ek as seun van werkende middelklasouers op agtien ’n massale fortuin gewen het in ’n lotery, met ’n versekerde maandelikse dividend wat sou bly uitbetaal tot die einde van my fisiese bestaan, sou my gevolglike proses van selfdefiniëring ook, onder andere, nie die lastigheid ingesluit het om tot ’n bevredigende mate te moet verskyn aan ’n arbeidsmark ten einde in my eie daaglikse behoeftes te kan voorsien nie.

’n Derde moontlikheid sou wees as ek in my laat twintigs ’n produk ontwerp het wat my sedertdien miljoene besorg het in tantieme. In so ’n geval sou die karakter wat aan die ander kant van die proses-tonnel sou uitkruip, een gewees het wat – vanweë aanvanklike ervarings in my volwasse lewe – weet hoe dit voel om persoonlike verskynings aan te pas vir inkomstedoeleindes, en ook weet hoe dit voel om dit nié meer te doen nie.

Eenvoudige konklusie: As jy toegang het tot voldoende kapitaal om dit onnodig te maak om ’n inkomste te verdien om jouself aan die lewe te hou, hoef jy nie te funksioneer op dieselfde wyse as mense wat daagliks moet arbei om te sorg vir kos, en ’n dak oor hulle koppe nie. En siende dat jy minder nodig het om op ’n wyse te funksioneer wat tot ’n groot mate voorgeskryf of sterk aanbeveel word, het jy meer ruimte om ander moontlikhede te ontdek vir jou persoonlike ontwikkeling, en om jou persoon op ander wyses te definieer.

______________________