Hoekom rebelleer ’n tiener?

SATERDAG 3 JULIE 2004

Ek reken ’n tiener wat volgens algemene standaarde in ’n fase van rebellie verkeer, reageer teen sy eie self, teen die mense wat hy verantwoordelik hou vir wat hy sien as sy onbevredigende gegewe self, en moontlik ook teen die omgewing waarbinne hierdie gegewe self gebore en getoë is.

Dit kan dalk toegeskryf word aan die feit dat ek meer blootgestel word aan tieners in ’n sekere stratum van die samelewing, maar dit wil tog voorkom asof die “rebelse tiener” ’n meer algemene verskynsel is in ontwikkelde, geïndustrialiseerde lande, waar gefragmenteerde gemeenskappe ’n enkele stedelike landskap deel, en rykes en armes soms op ’n daaglikse basis skouer skuur, teenoor gemeenskappe waar ’n bestaansekonomie die norm is, met nouer, meer tradisionele verbintenisse tussen individuele lede van die gemeenskap, en ’n nouer kulturele en sosio-ekonomiese verband tussen verskillende plaaslike gemeenskappe.

Mens kan dalk die mening uitspreek dat tieners in stedelike areas in geïndustrialiseerde lande meer rede het om swak toegerus te voel vir die lewens wat hulle wil leef, of selfs vir wat van hulle verwag word. Tieners in hierdie omgewings is immers meer bewus van ander individue in dieselfde gemeenskap, of in ander gemeenskappe – beide plaaslik, of in ander areas – wat ten minste blyk veel beter toegerus is as hulle.

Ek glo ook – hoewel ek net ’n beskeie opinie hieroor kan waag – dat die spesifieke ekonomiese omgewing waarin tieners hulself indirek bevind, of waarin hulle weet hulle hulself gaan bevind as volwassenes, bevorderlik is vir gevoelens van ontoereikendheid. Sosio-ekonomiese status – waarin die tiener homself bevind volgens sy ouers se ekonomiese aktiwiteite, en ook wat hy reken moontlik sy voorland gaan wees as volwassene, asook kompetisie met tydgenote wat betref materiële besittings, verskerp ook innerlike konflik by die tiener tussen sy beskouing van dit wat hy is op daai oomblik, en dit wat aan hom voorgehou word as die ideaal.

Laastens glo ek dat te veel volwassenes, of dan in hierdie geval spesifiek dié volwassenes wat in ontwikkelde lande die rol moet vervul van ouers van tieners, nie die vaagste begrip het van die prosesse van identiteitsvorming nie, en ook geen idee het van die mees elementêre filosofiese vraagstukke waarmee tieners gekonfronteer word nie. Hierdie gebrek aan die kant van die ouers dra by daartoe dat tieners antwoorde op die vrae na WIE, WAT en PLEK op hulle eie maniere probeer formuleer, en soms op enige manier wat naastenby bevredigend is. Onkunde is weereens die sondebok. Verligting is weereens verlossing …

______________________