Verkoop of spekuleer, en die konsep van waarskynlikheid

DINSDAG 26 MAART 2013

Dis altyd dieselfde: Vra die regte vrae. Breek die probleem op in kleiner dele. Jy sal nooit uitkom waar jy wil uitkom as jy aanhoudend die verkeerde vrae vra nie, en as jy nie presies weet waarvan jy praat of wat jou einddoel is nie.

* * *

Voor jy kan begin geld maak moet jy jouself een vraag vra: Wil ek iets verkoop, of wil ek spekuleer?

Om bymekaar te bring wat jy nodig het, moet jy ook die konsep van waarskynlikheid oorweeg. Jy mag dalk dink dat iets nie absoluut noodsaaklik is nie, maar vra jouself of die beskikbaarheid van ’n sekere hulpbron die waarskynlikheid van sukses gaan verhoog, of nie. Of die teenoorgestelde: Hoeveel gaan die afwesigheid van ’n sekere hulpbron die waarskynlikheid van jou sukses laat afneem?

* * *

Wat het jy nodig om geld te maak deur iets te verkoop?

– Saadkapitaal – nie altyd noodsaaklik nie, maar dink aan waarskynlikheid van sukses sonder dit.

– ’n Mark – meer spesifiek, jy moet ’n mark identifiseer wat reeds geld spandeer op sekere produkte.

– ’n Produk – iemand anders se produk wat jy kan verkoop, of jou eie produk. ’n Goeie benadering is om te dink aan ’n produk wat mense nodig het om te kom by ’n plek waar hulle wil wees, of wat hulle sal help om weg te kom van ’n slegte plek af, of wat hulle sal help om vas te hou aan iets wat hulle nie wil verloor nie, of iets wat eenvoudig aan hulle genot, vertroosting of vermaak verskaf.

– Bemarkingsplatforms en -kanale om jou mark bekend te maak met die produk wat jy glo hulle sal koop as hulle weet dit bestaan en is beskikbaar.

– Menslike hulpbronne – kan jy al die werk wat gedoen moet word, self doen? Sal dit die waarskynlikheid van sukses verhoog indien jy een of meer vennote het, of indien jy een of meer mense betrek by jou projek of onderneming, of indien jy van die werk uitkontrakteer?

* * *

Wat het jy nodig om geld te maak deur te spekuleer op, byvoorbeeld, die finansiële markte?

– Saadkapitaal – ’n paar duisend rand wat jy nie nodig het vir enige iets anders nie, en wat jy bereid is om te verloor.

– Leiding van ’n betroubare bron wat jou basiese strategieë sal leer, seine om voor te kyk, slaggate om te vermy, ensovoorts.

– ’n Positiewe houding, en geduld.

* * *

Is dit beter om geld te maak deur iets te verkoop, of deur te spekuleer op iets?

Natuurlik verskil mense in hulle voorkeure, en albei die maniere om geld te maak het beide voor- en nadele.

As ek ’n goeie produk het en ’n honger mark, sal ek eerder iets wil verkoop. Hoekom? Jy kan later heelwat van die werk delegeer aan ander mense, en afhangende van die tipe produk, kan ’n groot deel van jou inkomste uiteindelik passief wees – dit wil sê, jy hoef nie elke dag aandag te gee daaraan om geld te maak daaruit nie.

Dit is ook waar dat dinge verkeerd kan loop met enige produk, of met die plek waar jy jou produk verkoop, of met ’n bemarkingskanaal, of die mark kan eenvoudig eers lou-warm raak, en dan heeltemal koud.

Omdat daar risiko’s verbonde is aan beide maniere om geld te maak, is dit waarskynlik die beste om beide benaderings te probeer, of as jy slim genoeg is of bereid is om hard te werk, beide te bemeester.

Siende dat jy heel waarskynlik nie oornag ’n inkomste gaan bewerkstellig met spekulasie op een of ander mark nie, is die beste ding wat jy kan doen om so gou as moontlik bekend te raak met ten minste een nis waar jy ’n produk of diens kan verkoop.

Die goue reëls: Begin klein; Begin vroeër eerder as later; Hou dit eenvoudig; Verfyn gedurig jou prosesse en jou metodes; Herhaal wat werk.

______________________

Verskyning – versteuring – vryheid

SONDAG 3 FEBRUARIE 2013

Verskyning is ’n vieslike ding. Op jou eie, in die privaatheid van jou eie vertrekke, is jy amper volmaak. Jy’s nie te vet nie, jy’s nie te arm nie, jy’s nie te dom of te vervelig nie.

En dan besef jy jy’t melk nodig.

Die oomblik as jy in die openbaar verskyn, besef jy jy’s vet – in vergelyking met die skraal persoon wat verby jou stap op die sypaadjie. Jy besef jy’s eintlik nogal redelik onaantreklik, in vergelyking met die veel aantrekliker persoon wat langs jou staan en wag by die verkeerslig. Jy besef jy’s eintlik nogal platsak, in vergelyking met die hoeveelheid en tipe kruideniersware wat die persoon agter jou in die ry by die supermark in húlle trollie het.

WOENSDAG 20 FEBRUARIE 2013

1. Is dit nie vreemd dat mens, as volwassene, by verstek onder die indruk verkeer dat jy nie vry is om te doen wat jy wil nie. Jy moet jouself waardevol maak om bestaansreg te kan hê. Jy moet hoop iemand is so genadig om vir jou werk te gee sodra jy klaar gemaak het met skool, of een of ander opleiding ondergaan het om jouself meer waardevol te maak. Jy hoop iemand sien wat jy vir hulle kan doen en is bereid om jou te betaal vir die waarde wat jy kan lewer, sodat jy kan oorleef. Vryheid, so word dit by jou ingeburger van kleins af, is soos ’n privaatstrand: alleenlik as jy baie geld het, is dit iets wat jy mag geniet.

2. Mens wil goed wees, jy wil jou naaste bystaan in sy of haar stryd op aarde. Terselfdertyd wil jy jouself losmaak, jouself bevry van die gemors wat die samelewing soms is.

MAANDAG 25 FEBRUARIE 2013

Die afgelope paar weke agtergekom ek lei aan een of ander versteuring. Gedog dis geld … beplande vakansie … vliegtuigkaartjie, en so aan. Ek dink miskien is dit nie geld nie. Ek dink miskien is dit verskyning.

______________________

As jy wil verkoop wat jy skryf, wees bewus van ’n paar dinge

MAANDAG 21 JANUARIE 2013

Gisteroggend het my Smashwords rekening aangedui dat ek oornag twee kopieë verkoop het van A shorter version of a longer book (wat ek net enkele ure tevore beskikbaar gestel het). Teen gisteraand het dit egter geblyk die resultaat te wees van ’n “fraudulent payment method”. Wat beteken dit? ’n Skurk het ’n obskure versameling essays probeer koop met ’n gesteelde kredietkaart? Dit sê interessante dinge van my beskrywing van die materiaal, of van die skurk.

Ek het wel van die geleentheid gebruik gemaak om myself te herinner aan ’n paar dinge:

1. Sommige mense gaan jou boek koop, nie hou van wat hulle lees nie, en hulle geld probeer terugkry van die plek waar hulle dit gekoop het.

2. Sommige mense gaan jou boek koop, nie hou van wat jy geskryf het of hóé jy dit geskryf het nie, of skrik as hulle sien wat jou opinie is van sekere sake, en onmiddellik ’n uitlaatklep soek vir hulle afkeer, wat hulle gewoonlik vind deur gemene maar wat hulle steeds reken as eerlike kommentaar te lewer op ’n openbare forum sodat ander voornemende kopers kan sien wat hulle dink van jou boek (of hoe min hulle daarvan dink).

3. Sommige mense gaan jou boek koop omdat hulle dink dit sal snaaks of vermaaklik wees, dit nie snaaks of vermaaklik vind nie – of nie genoeg na hulle smaak of verwagting nie, en dan vies wees vir hulleself dat hulle hul geld gemors het.

Daar, ’n paar gedagtes vir dié wat dit oorweeg om ’n bestaan te maak met woorde, of enige ander metode om gedagtes of opinies oor te dra aan die bevolking buite sy of haar gemaksone. Dit is seker die prys wat mens bereid moet wees om te betaal as jy nie net jou gedagtes wil vaslê nie, maar as jy so wrintie waar so ver gaan om dit beskikbaar te stel sodat ander mense dit kan koop en lees.

______________________

Tyd vlieg nie regtig nie

SATERDAG 5 JANUARIE 2013

Ek is gewoonlik voor in die koor as daar geweeklaag word oor hoe vinnig die tyd vlieg. Een jaar … vyf jaar … ’n dekade! Twintig jaar … Soos ’n mens dan in skok staan en wonder wat jy alles gedoen het, en wat jy alles nog wóú doen, sien jy in jou geestesoog die beelde van tien en twintig jaar gelede: helder, duidelik, asof dit gister was.

Dit is derhalwe soms nodig om jouself te herinner aan die werklike nommers:

5 jaar: amper 2 000 dae en nagte

10 jaar: meer as 3 500 dae en nagte

20 jaar: meer as 7 000 dae en nagte; meer as 7 000 keer ontbyt geëet, meer as 7 000 keer aandete geëet; meer as 20 000 keer badkamer toe gegaan; as jy voltyds gewerk het gedurende ’n 20 jaar-periode, dalk soveel as 5 000 keer werk toe gegaan … meer as 5 000 keer in die verkeer gesit (dalk dubbel soveel) … duisende kere met mense gepraat wat jy eintlik wou vermy … dalk meer as ’n duisend keer vleis gebraai … dalk soveel as 10 000 programme op TV gekyk, of selfs meer.

Tyd vlieg nie regtig nie.

Om die waarheid te sê, as jy mooi daarna kyk, oor vyf of tien of twintig jaar het jy duisende geleenthede om goed te doen, reg te maak wat verkeerd is of wat jy verkeerd gedoen het, en om iets te produseer of te help skep wat uiteindelik waarde sal bly voorsien aan ander mense.

Elke dag word jy ’n kans gegun om iets van die lewe te geniet, en elke dag word jy ’n kans gegun om iets te beteken vir iemand anders – iemand wat jou dalk sal onthou lank na jy jou laaste van meer as 25 000 oggendetes genuttig het.

______________________