Leer by die jeug – ten spyte van ydelheid en onsekerheid

DINSDAG 27 SEPTEMBER 2011

My hele volwasse lewe al dink ek aan myself as ’n jong man – ek weet immers nie hoe dit voel om oud te wees nie. Maar dan word jy op ’n punt gekonfronteer met die werklikheid dat daar ander jong mans is wat soveel as twintig jaar jonger is as jy.

“Twintig jaar!” wil jy uitroep. “Twintig jaar?!”

En om alles te kroon moet jy jouself herinner daaraan dat jy enige dag van die week iets kan leer by hierdie jonger geslag – dat ’n ou van 20 of 25 ook op ’n klip kan sit vir ’n uur lank en kan opstaan met ’n wysheid of ’n goeie punt om te deel met die naaste bystaander.

Aan die einde van die dag is dit net ydelheid, en ’n patologiese onsekerheid oor jou eie waarde, wat jou laat vashou aan tyd, wat jou paniekerig maak wanneer jy dink hoe tyd dag na dag uit jou vingers glip – soos dit glip uit almal se vingers.

______________________

Gedagtes van een Woensdag, en een Maandag

WOENSDAG 14 SEPTEMBER 2011

“You owe it to us all to get on with what you’re good at.” WH Auden (1907-1973)

* * *

Selfvertroue en entoesiasme is my groot bates.

Selfvertroue en entoesiasme is my groot vyand.

MAANDAG 19 SEPTEMBER 2011

Ek sal vir weke lank dink ek kán – en gáán – iets doen.

Dan, skielik, tref ek ’n muur.

Terug na die stukkies papier. Terug na die lyste … En die erkenning van die feit dat ek, vir nie die eerste keer nie, in die strik getrap het van oordrewe selfvertroue, en te veel entoesiasme.

* * *

Eers vra jy:

Wat kan ek doen om geld te maak?

Nadat jy ’n ding of twee geleer het oor geldmaak, vra jy …

Watse behoefte, probleem, of sterk belangstelling het mense waar ek ’n produk of ’n oplossing kan lewer?

Daar is natuurlik ’n derde vraag:

As jy vorendag gekom het met ’n produk waarvoor daar ’n aanvraag is, hoe bring jy dit onder die aandag van genoeg van die regte mense?

As jy hierdie derde vraag nie kan beantwoord nie, help dit niks as jy ’n honger mark het, gereed om alles te koop wat jy kan vervaardig nie. As mense nie weet jou produk bestaan nie, gaan jy nie ’n dooie sent maak nie.

______________________

Argument oor ’n fiets

MAANDAG 15 AUGUSTUS 2011

Die RT-Mart verkoop nou ’n “UK Design” fiets vir NT$2 074 [omtrent R800]. Ek sê nou al vir lank dat ek sal wag tot my fiets heeltemal stukkend is voor ek ’n nuwe fiets koop. Enkele punte hieroor:

1. As dit my standpunt is, moes ek drie maande gelede my fiets vervang het. Die een binneband was pap. Beide die buitebande was voos gery. Die remme het nie meer behoorlik gewerk nie. En die fiets het gekraak soos net ’n stuk metaal kan kraak wat tien jaar gelede al in ’n skrootwerf tot ruste moes kom. Wat ek gedoen het, is ek het alles reggemaak.

2. ’n Fiets raak nie totaal en al beneuk soos ’n rekenaar of ’n rekenaarmonitor nie. ’n Rekenaar kan vandag nog werk, en môre is dit net een’s en zero’s en liggies wat flikker en skerms wat stol. Dan vat jy dit na die rekenaarwinkel toe, en dan sê die tegnikus jy kan net sowel vir jou ’n nuwe rekenaar koop. Selfde met ’n rekenaarskerm: flikker, poef, af. ’n Fiets, aan die ander kant, breek. Dan identifiseer jy die probleem (gewoonlik voor-die-hand-liggend), en jy maak dit óf self reg, óf jy betaal iemand om dit te doen. Dan ry die fiets weer. As jy wag tot ’n fiets geheel en al gedaan is, mag jy dalk lank wag. (Vir die rekord moet ek noem dat my vorige fiets wel daai status bereik het. Sy is toe vervang met die huidige fiets wat omtrent twintig jaar ouer was as die vorige fiets.)

3. Daar’s ook fietse vir NT$3 500 en selfs so hoog as NT$5 000 – voor jy natuurlik die fietsafdeling in die supermark verlaat en by ’n behoorlike fietswinkel tussen vyf en tien keer soveel betaal vir fietse wat tussen tien en twintig keer beter kwaliteit is. Nietemin, hoekom dan nie maar net gaan vir die NT$4 000 fiets eerder as die NT$2 074 “UK Design” nie? Want, reken ek, al die fietse by die supermark is ewe broos. ’n Kabel gaan in elk geval breek binne ’n paar maande. Die saal gaan heel moontlik afval binne ses maande. Die raam sal heel moontlik buig, die remme sal breek, en die ratte sal seker ook net twee weke lank sorgeloos gly van stadig na vinnig voor dit vassteek in tiende rat. So, of dit nou NT$2 074 of NT$4 250 is, dis nie NT$25 000 of NT49 500 nie.

4. Ek kan eerder nou my huidige ouma-fiets aftree, en weet dat ek enige tyd in die toekoms, wanneer omstandighede dit vereis, net die wiele kan opblaas en weer kan ry soos die wind – as die wind erg genoeg waai die dag.

Dis dan dit. Ek koop ’n nuwe fiets voor die einde van die maand.

En teen NT$2 074 kan ek selfs bekostig om die ou Swart Gevaar te beloon vir goeie diens met ’n nuwe saal voor ek haar staanmaak in die agterkamer.

———–

Opvolg: Ek het toe nie die fiets gekoop nie. Ou “kraker” moes nog omtrent ’n jaar wag voor ek haar uiteindelik vervang het met die presiese selfde model fiets, maar ten minste splinternuut – wat my NT$2 500 gekos het.

Die nuwe fiets – ’n paar jaar later

______________________

Om te doen wat jy moet doen

WOENSDAG 3 AUGUSTUS 2011

Ek het tydens my onlangse besoek aan Suid-Afrika twee gidse ontdek (of herontdek) wat my veel kan leer aangaande geldmaak: My eie ma, en my vriend, Gerald G.

Beide verdien voltydse inkomstes, en dra selfs by tot ander mense se inkomstes, deur hulle eie idees en projekte te bemark.

Ek sou heel moontlik beide se besighede beter kon organiseer, want, soos ek ontdek het, die proses is soms chaoties, hulle weet nie altyd of hulle werklik sal kan doen wat hulle sê hulle kan doen nie, en hulle administrasie laat soms veel te wense oor.

Maar, hulle maak geld.

Elke maand.

MAANDAG 8 AUGUSTUS 2011

Twee redes hoekom ek jare gelede, in die swartste dae van English teaching, elke oggend opgestaan het, en gedoen het wat ek moes doen:

1. Ek wou nie in die moeilikheid kom nie. Ek het ’n ooreenkoms aangegaan met skole en/of besighede om ’n sekere taak te verrig, en as ek nie opgedaag het vir werk nie, sou ek my afwesigheid moes verduidelik.

2. Ek het geweet as ek opdaag en die ooreengekome arbeid verrig, ek geld sou kry – ’n spesifieke bedrag op ’n dag en tyd wat vooraf ooreengekom is – wat ek kon aanwend op allerhande aangename wyses.

Motivering is soms vir my ’n probleem. Ek erken dit. Dit sal onverantwoordelik wees om dit nie doen nie. Dit sal dwaas wees om dit nie te ag as iets waaraan ek daagliks aandag moet gee nie.

______________________

As jy finansiële sukses najaag, maak dit saak as jou fiets kraak

DINSDAG 2 AUGUSTUS 2011

Ek het altyd gedink as jy finansiële onafhanklikheid nastreef, maak dit nie saak as jou klere verwaarloos is, jy op ’n krakende, ou fiets rondry, of as jy woon of werk in ’n minder gegoede buurt in ’n effens vervalle gebou nie.

Uiteindelik het dit ook tot mý deurgedring: Dit maak saak.

Aan die ander kant, as jy literatuur produseer – of as jy dan nou aandring daarop om jouself dit te noem, as jy ’n “skrywer” is – en jy bloot plek soek om in stilte te werk, klere dra om jou naaktheid te bedek (hoofsaaklik vir die koue, of ter wille van ander mense), en jou fiets jou bring waar jy wil of moet wees, maak dit werklik nie soveel saak hoe verslons jou klere is, hoeveel jou fiets kraak, of hoe vervalle die woonstel is waar jy woon of werk nie.

Maar laat my toe om my oorspronklike punt te herhaal: As jy finansiële sukses najaag, maak hierdie dinge saak. Dit affekteer hoe jy elke dag dink oor wat jy doen, dit affekteer jou gemoed, en dit affekteer jou motivering.

______________________