Wildernis – Oomblik van Geboorte

SATERDAG 5 MAART 2005

As jy iets vir ewig in jou hande wou vashou, en dit gly deur jou vingers, is jou hande ooit weer daarna dieselfde? Laat dit agter, nie soseer littekens nie, maar iets moois wat jou sal herinner aan die wonder waaraan jy wou vasklou?

WOENSDAG 9 MAART 2005

01:51

Jakobus die Woestynloper strompel die wildernis binne. Hy was al daar. Hy’t ’n rowwe kaart in sy kop. Maar wildernis, dit weet hy, is nie woestyn nie. En woestyn … is beslis nie die wildernis nie.

21:49

Die beroep wat ek vir myself gedefinieer het, of gekies het uit die talle moontlikhede waarmee ek gekonfronteer is sedert ek verneem het dat ook ék eendag ’n werkende volwassene sal wees, was dié van Digter.

Sal vele vra, “Digter? Jy moet sekerlik weet dat jy nooit bokant die broodlyn sal leef nie!”

Dit is dan ook so dat ek oor die jare bewus geraak het daarvan dat die wêreld waarin ek my plek in die son moet oop baklei, nie “digters” beloon met vaste betrekkings, ’n gereelde inkomste, ’n maatskappymotor of ’n mediese fonds nie. Ek moes derhalwe my gekose pad effens verbreed sodat ek, benewens gedigte skryf, ook ander genres kan benut om in fyn detail die wêreld te kan kritiseer waar ek nie dieselfde kompensasies kan geniet vir mý beroep as ’n tandarts, ’n straatveër, of ’n bankklerk nie.

DONDERDAG 10 MAART 2005

’n Mens bestaan net, tot jy gebore word.

Oftewel: Sommige mense bestaan slegs as dít wat aan hulle gegee is plus die resultaat van hul keuses tot op ’n punt – die resultaat van introspeksie, van kennis opdoen oor hulleself, van hulleself konfronteer, hulleself waarneem, van definieer wie en wat hulle wil wees. Indien hierdie proses van ’n bepaalde kwaliteit is, en indien hulle lank genoeg tyd daaraan spandeer, kan die oomblik wat daai bepaalde punt bereik word vir alle praktiese doeleindes beskou word as die Oomblik van Geboorte.

VRYDAG 11 MAART 2005

Vele dinge in my pad – littekens, vrese, onsekerhede, ervarings van die verlede wat maatreëls laat rys het soos forte in die woestyn … alles word onthou, maar agterweë gelaat ter wille van een ding – as jy weer glo, ten spyte van vrese en onsekerhede, weet jy dat jy jouself toelaat om te leef.

______________________

Alledaagse temas en tragedies wat meesleur

VRYDAG 4 MAART 2005

Tragedies soos die massamoorde wat die Nazi’s gepleeg het herinner mens aan die hopelose marteling waarin sommige mens die laaste maande, en soms jare, van hulle lewens gelei het.

Dit plaas die temas wat ek so nou en dan aanraak in ’n sekere perspektief – identiteit, bewussyn, omgewings wat bevorderlik is vir sekere dinge, ensovoorts. Hoe belangrik is hierdie temas in die aangesig van die tragedies wat mense al meegesleur het, en wat steeds daagliks mense se lewens verwoes? Ek meen, is dit nie waar dat hierdie tragedies op ’n baie meer primitiewe vlak van menslike ervaring is as “identiteit, bewussyn en omgewings wat bevorderlik is” nie?

Tog, ’n mens kan ook sê indien iets soos identiteit op redelike wyse benader word, as antwoorde gesoek word in ’n proses wat gekenmerk word deur kritiese denke, dit uiteindelik die potensiaal vir mensgemaakte tragedies kan ondermyn, dan nie?

Daar is ook die eenvoudige waarheid dat meer alledaagse temas presies die temas is wat besin sou word deur die intellektuele figure wat slagoffers geword het van tragedies soos die Joodse volksmoord. Onderwerpe waaroor ek so diep staan en peins wat amper ligsinnig voorkom as mens dink dat mense elders in die wêreld op daai oomblik stry om primitiewe oorlewing, is presies die temas wat vir hierdie intellektuele relevant sou wees, as dit nie was dat die See van Tyd hulle gegooi het op die Kuste van Tragedies nie.

______________________

Reën in Bronkhorstspruit

MAANDAG 21 FEBRUARIE 2005

Ek staan buite, op die hoek van die huis, rook my eerste sigaret van die dag en drink ’n koppie swart Nescafé Classic. Dis Maandag 21 Februarie 2005. Dit reën, sag maar deurdringend. Die lug is grys, en dis koeler as gister, en eergister, en die hele verlede week. “Ten minste sal my kopvel nie weer ’n tan vang nie,” dink ek, en gooi die laaste bietjie koffie oor die nat gras.

My ouer suster en haar eersgeborene vlieg vanaand Dubai toe, en na ’n paar dae se kuier by vriende, verder Londen toe. Almal, dit weet elkeen van ons, gaan effens somber wees die res van die dag. My jonger suster, met haar twee week oue stukkie mens, sal voortgaan met haar nuwe lewe in hulle huis in die dorp. Ek sal vanaand daar kuier, en môre, en dan Woensdag sal ek weer terugkom plot toe. Donderdag sal ek Johannesburg toe gaan, en Vrydag vlieg ek Maleisië toe. In die lughawegebou buite Kuala Lumpur sal ek vir vyf ure lank ronddrentel voordat ons Kota Kinabalu toe vlieg, waar ek sal afklim vir ’n smoke break. Kort daarna sal ons verder vlieg om die kurwe wat Suidoos- en Noordoos-Asië van mekaar skei, tot ons land in die suidelike Taiwannese hawestad, Kaohsiung.

Maar vir nou reën dit, in Bronkhorstspruit.

* * *

Ek sit op die geel deken op die bed in die spaarkamer. Ek hoor my pa gesels met sy kleinkind; ek hoor ’n Afrikaanse omroeper op die radio in die vertrek langsaan; ek hoor hoe die jong sweiser in die agterplaas sy brood en botter verdien.

Ek gaan binne ’n minuut ophou skryf, opstaan, my notaboek bêre, en vir ’n paar minute aansluit by die mense – my familie – in die kombuis. Dan sal ek ’n beker groentee maak, op die hoek van die huis onder die afdak gaan staan, en met die reën wat op die groen gras voor my val, my tweede sigaret van die dag rook.

______________________

Verveling in eksotiese Suid-Afrika

VRYDAG 18 FEBRUARIE 2005

Ek was nog nooit so verveeld op ’n besoek aan my geboorteland nie. Ek voel effens skuldig … maar dan herinner ek myself daaraan dat emosionele behoeftes, wat bevredig word deur jou familie te sien, nie verwar moet word met die behoefte aan intellektuele stimulasie nie.

Ek het ook besef ek projekteer my eie gevoel op ander mense op die plek waar ek myself bevind. Ek sal byvoorbeeld sê, “Kyk hoe vervelig lyk almal! Hulle sit in karre, stap in en uit by winkels, stap op en af in die strate …” Dan besef ek, terwyl ek die dorpenaars so beswadder, dit is presies wat ék doen: sit in ’n kar, stap in en uit by winkels, stap op en af in die straat.

* * *

Gisteraand gedink toe ek deur ’n Huisgenoot blaai: mý Suid-Afrika bestaan uit Johannesburg, Bronkhorstspruit, Pretoria, Stellenbosch, en miskien Vryheid en Pongola. Daar’s plekke, in hierdie land van my geboorte, waarvan ek nog nie eens gehoor het nie, wat nog te sê besoek het: plekke soos Grootmier, Kleinmier, Middelmier; plekke waar mense Afrikaans praat, en waar die kinders die grootmense “Oom” en “Tannie” noem. Dis ’n wêreld wat ek nog wil ontdek – die geïsoleerde plekke, die stofdorpe, die gehuggies waar mense lewens slyt wat tot ’n mate bekend is, maar tog ook vreemder vir my as die gewone Taiwannees se lewe in Taiwan.

SATERDAG 19 FEBRUARIE 2005

Ek was die afgelope week weer gekonfronteer met ’n paar dinge: vervreemding – nooit ’n aangename ervaring nie, veral nie as jy die een is wat die vreemdeling geword het vir mense wat jy innig liefhet nie; verveling; woonareas waar die uitleg en strukture geen inspirasie opwek nie; kommersiële distrikte waar mense bymekaarkom op ’n daaglikse basis om besigheid te doen en dinge te koop en maaltye te nuttig, wat soos die woonareas nie ’n snars entoesiasme of inspirasie opwek nie; standaarde wat dikteer dat om geag te word as suksesvol op 34 jy eiendom moet besit, en ’n motorkar, en ’n TV en ander huisraad, en ten minste getroud moet wees maar verkieslik ook reeds afstammelinge verwek het (“want watse tipe sukses kan jy wees as jy alleen is?”). Laastens is ek gekonfronteer met verhale van moord, doodslag, hartaanvalle, kanker, beroerte, en verskeie ander siektes en kwale wat jou herinner, vir as jy dit wou waag om te vergeet, hoe kwesbaar jou bestaan is.

Nou ja, wat meer kan mens sê? Dis nou 00:21. Ek gaan nou slaap. Môre … is net ’n nagreis ver.

______________________

Eindbestemming – kort termyn parkeerplek

DONDERDAG 17 FEBRUARIE 2005

10:20

As ek per trein reis van Moskou na Parys, en ek vertoef vir ’n dag of twee in Berlyn, sal dit onjuis wees om te beweer dat my reis gestagneer het. My reis is steeds aan die gang; ek spandeer bloot ’n dag of twee op ’n plek tussen beginpunt en bestemming.

As ek per trein reis van Moskou na Parys en ek stop vir ’n dag of twee in Berlyn, sal dit ook onjuis wees om te verklaar dat my eindbestemming – Parys – nie bestaan nie, omdat ek dit nog nie bereik het nie. Parys – my eindbestemming – gaan nie uit die niet ontstaan soos my trein daai plek op die kaart nader nie. Die plek waarheen ek op reis was sedert die trein uit die stasie getrek het in Moskou, het van die begin af bestaan. Terwyl ek vertoef het in die een plek of die ander, het my eindbestemming reeds bestaan.

Die eindbestemming bestaan onafhanklik van my – dis daar, lank voor ek dit bereik, lank voor ek die eerste keer die stad op die horison gewaar, lank voor ek die strate van my eindbestemming bewandel, en die lug van hierdie plek inadem.

11:59

Ek sit in die passasiersitplek van ’n geparkeerde motorkar, op ’n kaal stuk veld wat bekend staan as My Suster En Swaer Se Plot Buite Bronkhorstspruit.

My swaer verduidelik van ’n lapa, ’n swembad, vier slaapkamers, ’n dammetjie, bome wat oor ’n dekade of so lang skadu’s gaan gooi oor honde en kinders en grootouers wat om ’n braaivleisvuur gaan sit en kuier.

Ek vind dit redelik interessant. Met gevoude arms maak ek ’n opmerking oor “geloof in dit wat jy nog nie kan sien nie” terwyl my swaer ’n pik van hoog bo sy kop neerpletter op ’n stukkie aarde waar ’n boom sy bestaan sal uitleef.

Ek vind die oomblik, en die plek waar hierdie reeks momente van my lewe uitspeel, aanvaarbaar in terme van betekenis en vermaaklikheidswaarde.

Ek weet ook dat as ek oor sestig minute nog hier sit, in die passasiersitplek van ’n geparkeerde motorkar in die Afrika son, ek onrustig gaan raak … en nie meer heeltemal so tevrede met die waarde en vermaaklikheid van die reeks momente wat dán my lewe sal wees nie.

“Short-term gratifications,” sê ek vir myself, en draai die volumeknoppie op die radio ’n paar kerwe aan.

______________________