Alledaagse temas en tragedies wat meesleur

VRYDAG 4 MAART 2005

Tragedies soos die massamoorde wat die Nazi’s gepleeg het herinner mens aan die hopelose marteling waarin sommige mens die laaste maande, en soms jare, van hulle lewens gelei het.

Dit plaas die temas wat ek so nou en dan aanraak in ’n sekere perspektief – identiteit, bewussyn, omgewings wat bevorderlik is vir sekere dinge, ensovoorts. Hoe belangrik is hierdie temas in die aangesig van die tragedies wat mense al meegesleur het, en wat steeds daagliks mense se lewens verwoes? Ek meen, is dit nie waar dat hierdie tragedies op ’n baie meer primitiewe vlak van menslike ervaring is as “identiteit, bewussyn en omgewings wat bevorderlik is” nie?

Tog, ’n mens kan ook sê indien iets soos identiteit op redelike wyse benader word, as antwoorde gesoek word in ’n proses wat gekenmerk word deur kritiese denke, dit uiteindelik die potensiaal vir mensgemaakte tragedies kan ondermyn, dan nie?

Daar is ook die eenvoudige waarheid dat meer alledaagse temas presies die temas is wat besin sou word deur die intellektuele figure wat slagoffers geword het van tragedies soos die Joodse volksmoord. Onderwerpe waaroor ek so diep staan en peins wat amper ligsinnig voorkom as mens dink dat mense elders in die wêreld op daai oomblik stry om primitiewe oorlewing, is presies die temas wat vir hierdie intellektuele relevant sou wees, as dit nie was dat die See van Tyd hulle gegooi het op die Kuste van Tragedies nie.

______________________

Reën in Bronkhorstspruit

MAANDAG 21 FEBRUARIE 2005

Ek staan buite, op die hoek van die huis, rook my eerste sigaret van die dag en drink ’n koppie swart Nescafé Classic. Dis Maandag 21 Februarie 2005. Dit reën, sag maar deurdringend. Die lug is grys, en dis koeler as gister, en eergister, en die hele verlede week. “Ten minste sal my kopvel nie weer ’n tan vang nie,” dink ek, en gooi die laaste bietjie koffie oor die nat gras.

My ouer suster en haar eersgeborene vlieg vanaand Dubai toe, en na ’n paar dae se kuier by vriende, verder Londen toe. Almal, dit weet elkeen van ons, gaan effens somber wees die res van die dag. My jonger suster, met haar twee week oue stukkie mens, sal voortgaan met haar nuwe lewe in hulle huis in die dorp. Ek sal vanaand daar kuier, en môre, en dan Woensdag sal ek weer terugkom plot toe. Donderdag sal ek Johannesburg toe gaan, en Vrydag vlieg ek Maleisië toe. In die lughawegebou buite Kuala Lumpur sal ek vir vyf ure lank ronddrentel voordat ons Kota Kinabalu toe vlieg, waar ek sal afklim vir ’n smoke break. Kort daarna sal ons verder vlieg om die kurwe wat Suidoos- en Noordoos-Asië van mekaar skei, tot ons land in die suidelike Taiwannese hawestad, Kaohsiung.

Maar vir nou reën dit, in Bronkhorstspruit.

* * *

Ek sit op die geel deken op die bed in die spaarkamer. Ek hoor my pa gesels met sy kleinkind; ek hoor ’n Afrikaanse omroeper op die radio in die vertrek langsaan; ek hoor hoe die jong sweiser in die agterplaas sy brood en botter verdien.

Ek gaan binne ’n minuut ophou skryf, opstaan, my notaboek bêre, en vir ’n paar minute aansluit by die mense – my familie – in die kombuis. Dan sal ek ’n beker groentee maak, op die hoek van die huis onder die afdak gaan staan, en met die reën wat op die groen gras voor my val, my tweede sigaret van die dag rook.

______________________

Verveling in eksotiese Suid-Afrika

VRYDAG 18 FEBRUARIE 2005

Ek was nog nooit so verveeld op ’n besoek aan my geboorteland nie. Ek voel effens skuldig … maar dan herinner ek myself daaraan dat emosionele behoeftes, wat bevredig word deur jou familie te sien, nie verwar moet word met die behoefte aan intellektuele stimulasie nie.

Ek het ook besef ek projekteer my eie gevoel op ander mense op die plek waar ek myself bevind. Ek sal byvoorbeeld sê, “Kyk hoe vervelig lyk almal! Hulle sit in karre, stap in en uit by winkels, stap op en af in die strate …” Dan besef ek, terwyl ek die dorpenaars so beswadder, dit is presies wat ék doen: sit in ’n kar, stap in en uit by winkels, stap op en af in die straat.

* * *

Gisteraand gedink toe ek deur ’n Huisgenoot blaai: mý Suid-Afrika bestaan uit Johannesburg, Bronkhorstspruit, Pretoria, Stellenbosch, en miskien Vryheid en Pongola. Daar’s plekke, in hierdie land van my geboorte, waarvan ek nog nie eens gehoor het nie, wat nog te sê besoek het: plekke soos Grootmier, Kleinmier, Middelmier; plekke waar mense Afrikaans praat, en waar die kinders die grootmense “Oom” en “Tannie” noem. Dis ’n wêreld wat ek nog wil ontdek – die geïsoleerde plekke, die stofdorpe, die gehuggies waar mense lewens slyt wat tot ’n mate bekend is, maar tog ook vreemder vir my as die gewone Taiwannees se lewe in Taiwan.

SATERDAG 19 FEBRUARIE 2005

Ek was die afgelope week weer gekonfronteer met ’n paar dinge: vervreemding – nooit ’n aangename ervaring nie, veral nie as jy die een is wat die vreemdeling geword het vir mense wat jy innig liefhet nie; verveling; woonareas waar die uitleg en strukture geen inspirasie opwek nie; kommersiële distrikte waar mense bymekaarkom op ’n daaglikse basis om besigheid te doen en dinge te koop en maaltye te nuttig, wat soos die woonareas nie ’n snars entoesiasme of inspirasie opwek nie; standaarde wat dikteer dat om geag te word as suksesvol op 34 jy eiendom moet besit, en ’n motorkar, en ’n TV en ander huisraad, en ten minste getroud moet wees maar verkieslik ook reeds afstammelinge verwek het (“want watse tipe sukses kan jy wees as jy alleen is?”). Laastens is ek gekonfronteer met verhale van moord, doodslag, hartaanvalle, kanker, beroerte, en verskeie ander siektes en kwale wat jou herinner, vir as jy dit wou waag om te vergeet, hoe kwesbaar jou bestaan is.

Nou ja, wat meer kan mens sê? Dis nou 00:21. Ek gaan nou slaap. Môre … is net ’n nagreis ver.

______________________

Eindbestemming – kort termyn parkeerplek

DONDERDAG 17 FEBRUARIE 2005

10:20

As ek per trein reis van Moskou na Parys, en ek vertoef vir ’n dag of twee in Berlyn, sal dit onjuis wees om te beweer dat my reis gestagneer het. My reis is steeds aan die gang; ek spandeer bloot ’n dag of twee op ’n plek tussen beginpunt en bestemming.

As ek per trein reis van Moskou na Parys en ek stop vir ’n dag of twee in Berlyn, sal dit ook onjuis wees om te verklaar dat my eindbestemming – Parys – nie bestaan nie, omdat ek dit nog nie bereik het nie. Parys – my eindbestemming – gaan nie uit die niet ontstaan soos my trein daai plek op die kaart nader nie. Die plek waarheen ek op reis was sedert die trein uit die stasie getrek het in Moskou, het van die begin af bestaan. Terwyl ek vertoef het in die een plek of die ander, het my eindbestemming reeds bestaan.

Die eindbestemming bestaan onafhanklik van my – dis daar, lank voor ek dit bereik, lank voor ek die eerste keer die stad op die horison gewaar, lank voor ek die strate van my eindbestemming bewandel, en die lug van hierdie plek inadem.

11:59

Ek sit in die passasiersitplek van ’n geparkeerde motorkar, op ’n kaal stuk veld wat bekend staan as My Suster En Swaer Se Plot Buite Bronkhorstspruit.

My swaer verduidelik van ’n lapa, ’n swembad, vier slaapkamers, ’n dammetjie, bome wat oor ’n dekade of so lang skadu’s gaan gooi oor honde en kinders en grootouers wat om ’n braaivleisvuur gaan sit en kuier.

Ek vind dit redelik interessant. Met gevoude arms maak ek ’n opmerking oor “geloof in dit wat jy nog nie kan sien nie” terwyl my swaer ’n pik van hoog bo sy kop neerpletter op ’n stukkie aarde waar ’n boom sy bestaan sal uitleef.

Ek vind die oomblik, en die plek waar hierdie reeks momente van my lewe uitspeel, aanvaarbaar in terme van betekenis en vermaaklikheidswaarde.

Ek weet ook dat as ek oor sestig minute nog hier sit, in die passasiersitplek van ’n geparkeerde motorkar in die Afrika son, ek onrustig gaan raak … en nie meer heeltemal so tevrede met die waarde en vermaaklikheid van die reeks momente wat dán my lewe sal wees nie.

“Short-term gratifications,” sê ek vir myself, en draai die volumeknoppie op die radio ’n paar kerwe aan.

______________________

Nuwe verhoudings en romantiese beelde

DINSDAG 15 FEBRUARIE 2005

1. Om ’n verhouding aan te knoop, is ’n kreatiewe proses. Dit is organies, vat-dit-soos-dit-kom, nie ’n stap-vir-stap, volg-net-die-stippellyne-vir-gewenste-eindresultaat proses nie.

2. Mens moet, aan die begin, bereid wees om die persoon te verloor, hoe onaardig dit ook al mag klink. Die rede is eenvoudig: Indien jy nie bereid is om te verloor aan die begin nie, gaan jy a) nie jouself wees nie, b) desperaat voorkom, en c) die proses forseer; wat feitlik alles in elk geval die onderneming sal doem tot mislukking.

* * *

Twee dae gelede toe dink ek hoe gemaklik, of relatief ontspanne ek is in die geselskap van [my jonger suster se destydse skoonouers], mense my ouers se ouderdom, wat ek nou al ’n paar jaar ken, maar met wie ek geen emosionele verbintenis het nie.

Ek reken toe dat dit heel waarskynlik te make het met die feit dat hulle geen vroeër kennis het van my nie – wat hulle nou sien, is al wat hulle nog altyd gesien het. My eie ouers het my geken as ’n pap baba, ’n sewejarige laitie, ’n twaalfjarige jong seun, ’n sestienjarige tiener, ’n twintigjare jong man … Hulle wéét wat ek nou is, is nie wat ek altyd was nie.

Ek besef toe ook dat my ma ’n groter probleem het as enige iemand anders in die gesin met die teenstrydigheid tussen vroeër-ek, en nou-ek. Sy hou steeds vas aan ’n romantiese beeld van my toe ek vir haar op my “mooiste” was – miskien so twaalf jaar oud, skoon gesig, stil, op my knieë aan die bid elke aand voor ek gaan slaap, die eerste tekens van erns met godsdiens, die idee dat ek dalk ’n dominee sal word.

My pa, aan die ander kant, het nie ’n romantiese beeld van my as jong seun nie. Hoewel hy my liefgehad het, het hy my gesien as lomp, en onbevoeg om selfs die kleinste tegnologiese uitdaging die hoof te bied; plus, ek het weinig belanggestel in hoe ’n motorenjin werk. Sy beskouing van my, nou, is meer positief – ’n intelligente man, iemand wat ’n belangstelling toon in die Groter Vrae van die Lewe.

Aan die een kant dus my ma, wat steeds hoop dat ek dalk weer ’n bietjie sal word soos haar romantiese beeld van haar “mooi seun”, en aan die ander kant my pa, wat my makliker aanvaar soos ek nou is, siende dat dit ietwat van ’n verbetering is op die ek van my prille jeug.

So skop die gedagte my toe in die gesig laat vanmiddag dat ek ook skuldig is aan hierdie romantiese beskouing ding. My jonger suster het tien jaar gelede anders aan my verskyn as nou – sy was rebels, gereed om die wêreld aan te vat … en tog weerloos, en breekbaar. Nou, tien jaar later, is sy moeder, ’n vennoot in ’n huwelik, en ’n uiters waardevolle administrateur van my ouers se bedryf. Maar sonder dat ek bewus was daarvan, was ek al hierdie tyd effens teleurgesteld, want, “Wat het van die rebel geword?”

Familie is nie net mense wat saam gewoon het vir baie jare, en mekaar van tyd tot tyd bel om te hoor of alles nog orraait is nie. Familie – en in hierdie geval bedoel ek ouers en broers en susters – is mense wat jy voortdurend moet laat groei in jou eie oë. Dit is hoe verhoudings lewendig, en werklik, gehou word.

______________________