Geloof en ontnugtering – eerlike verskyning

Val in, dis reeds DINSDAG 8 JANUARIE 2008.

Om sonder hoop te wees, en sonder geloof, is amper so erg soos om sonder liefde te wees.

WOENSDAG 9 JANUARIE 2008

Nou net onthou wat ek geskryf het ’n paar maande gelede: “Fight for the fighting spirit, for the sake of fighting for the fighting spirit.”

Hoekom? Hoekom staan jy op elke keer na ’n teleurstelling of ’n terugslag?

Jy staan op, want wat anders gaan jy doen? Opgee? Oudword binne weke, skielik sieklik, geïrriteerd, lus vir niks?

Fok dit. Count me in for another round.

SATERDAG 12 JANUARIE 2008

Ek is my eie grootste ondersteuner, vriend, raadgewer, en kameraad … maar, en dit is nie maklik om te erken nie, ek is ook my eie grootste struikelblok op die pad na sukses.

DINSDAG 15 JANUARIE 2008

Die dag kom wat ’n idee jou tref, en van daai dag af maak jy keuses om hierdie idee te realiseer. Soms is die reis lank, en vermoeiend – soos reise soms is. Bereik jy ’n kruising, dink jy soms jy ken die regte pad; ander kere is jy nie so seker nie. Elke week of ses sien jy nog ’n merker – in ’n struik, in ’n bos, onder ’n boom, of staangemaak bo-op ’n hoop klippe. Miskien nog twintig kilometer, lees die diep-geëtste letters in donker ink. Net sodat jy weet.

DONDERDAG 21 FEBRUARIE 2008

Die eerlikste verskyning wat mens ooit sal maak, is wanneer jy slegs aan jouself verskyn.

Probleem is, as jy altyd slegs aan jouself verskyn, sal jou kanse skraal wees om te ervaar wat beskryf kan word as geluk. Of jy ooit sal voel jou lewe het enige betekenis, is ook debatteerbaar. So, om geluk te ervaar en betekenis aan jou lewe te gee, verskyn jy aan ander mense.

Hoe belangrik is eerlike verskyning – vir jou? Hoe kan eerlike verskyning gedefinieer word? Kan jy geluk ervaar as jou verskynings nie eerlik is nie? Kan jou lewe waarde hê al is jou verskynings nie eerlik nie? (Ek dink, ja.) Kan jy ’n bewussyn hê daarvan dat jou lewe betekenisvol is as jou verskynings nie eerlik is nie? Kan jy ’n bewussyn hê daarvan dat jou lewe betekenisvol is al beteken jou lewe nie enige iets vir iemand anders nie, maar jou beperkte verskynings is eerlik?

VRYDAG 14 MAART 2008

’n Persoonlike stryd draai soms om ’n enkele saak, en soms vloei veelvuldige worstelinge saam in ’n enkele stryd.

My persoonlike stryd is, op die oog af, om finansieel onafhanklik te wees. Onder die oppervlak wil dit egter blyk asof die stryd om finansiële onafhanklikheid slegs die mees onlangse slagveld is in ’n groter stryd.

Hierdie groter worsteling draai om geloof en ontnugtering.

Ek wíl altyd glo, maar in die donker gange van my wese sluimer die verwagting van ontnugtering.

Dit is my stryd.

VRYDAG 28 MAART 2008

Is dit nie vreemd dat ’n mens soms jou beste liefdesgedigte, en jou mooiste liefdesbriewe, skryf vir mense wat uiteindelik, op die langtermyn, nie soveel vir jou saak maak nie? Dat ’n mens soms jou beste, mees geïnspireerde liefdesliteratuur opdra aan dié wat ver, ver wegstaan van die Een Groot Liefde?

______________________

Konflik met myself – vasgevang in ’n kluisenaarsbestaan

MAANDAG 19 NOVEMBER 2007

“Hy het dit in hom om sukses te behaal, maar het hy dit in hom om suksesvol te wees?” ~ deel van ’n gesprek in my kop

MAANDAG 26 NOVEMBER 2007

Dis asof ek altyd in konflik is met myself. Een deel is amper outisties – wil net die heeltyd in sy klein hoekie sit waar alles bekend is, elke stofbolletjie op sy bekende plek. Niks moet ooit verander nie.

Die ander deel is ambisieus. Hy wil dinge verbeter; hy wil dinge beter hê. En hy is ongeduldig, en ongelooflik gefrustreerd met die ou in die hoek.

DINSDAG 27 NOVEMBER 2007

Temas vir ’n skryfprojek:

– Morele kompromieë, en die situasies wat aanleiding gee daartoe

– Die lewe as stryd, en dan rus jy

– Om te leef met die gevolge van jou eie katastrofiese foute of mislukkings

– Om te weet wat kan gebeur (in teorie, volgens CNN, koerante, ens.) en te leef elke dag asof dit sal gebeur nie

DINSDAG 18 DESEMBER 2007

Ek kan dit vat om te verloor. ’n Pyn wat ek enige tyd sal wil systap, aan die ander kant, is ontnugtering.

MAANDAG 31 DESEMBER 2007

Dat ek dit noem op die laaste dag van 2007, is toevallig.

’n Oorsig van die jaar in gister se Taipei Times herinner my daaraan dat ek tot ’n groot mate geslaag het in een van my toekomsvisies van 1994: ek het ’n kluisenaar geword. Dat ek uitgaan om elke week ’n paar klasse te gee, en uitgaan om saam met Natasja te wees, maak dit net minder duidelik, maar nie veel verder van die waarheid nie.

Daar is kulturele aktiwiteite in hierdie stad, toneelstukke, opvoerings, kuns- en museum-uitstallings, maar vir jare al is ek vasgevang in ’n kluisenaarsbestaan, ’n gereduseerde realiteit as enige sosioloog of sielkundige ooit gehoop het vir nog ’n gevallestudie, vol ywer en fokus, bedrywig met een of ander projek, een of ander stryd.

Is dit absoluut noodsaaklik dat dit so moet wees?

______________________

Alles is ’n dobbelspel – insluitende lewe in Noord-Korea

MAANDAG 8 OKTOBER 2007

Ek het onlangs die insig gehad dat dit baie moeilik is om geld te maak, a) as jy geen teiken-lys het van voornemende kliënte nie, b) as jy geen vennote het nie, c) as jy nie ’n produk van jou eie het wat jy kan verkoop met die samewerking van bemarkers wat ’n kommissie verdien nie, en d) as jy nie ten minste ’n bietjie geld spandeer op advertensies nie. Die idee dat jy net ’n spasie op die Internet kan vul met teks en ’n paar skakels wat sê, “Click here for more information,” is gaaf, maar heeltemal onrealisties.

* * *

Behalwe vir sogenaamde Internet bemarking, het ek ʼn belangstelling begin ontwikkel in sportweddenskappe as ʼn manier om geld te maak. Hoe regverdig ek om kosbare tyd en finansiële hulpbronne op iets te waag waarvan ek tot relatief onlangs amper niks geweet het nie? Die manier hoe ek dit sien, is dat alles ’n dobbelspel is.

’n Sogenaamde vaste betrekking is ’n kans wat jy vat: Jy plaas ’n weddenskap teen enige grootskaalse afdankings in die nabye toekoms, en jy plaas ’n weddenskap op hoe winsgewend die maatskappy is, hoe goed die maatskappy op die aandelemark doen, hoe goed die maatskappy bestuur word, en ander faktore wat totaal buite die beheer van jou en die maatskappy is. Jy vat ook ’n kans met jou eie besigheid, soos ’n reeks pottebakkery produkte of ’n koffiewinkel. Om ander mense se produkte op die Internet te bemark, is ook ’n risiko wat jy vat: Jy plaas ’n weddenskap daarop dat genoeg mense jou kuber-spasie sal besoek, dan sal kliek op ’n skakel, en dan iets sal koop terwyl die stukkie kode op hulle rekenaar wat jou krediet gee vir die feit dat hulle iets gekoop het, nog aktief is op hulle rekenaar.

Jy sit tyd en geld op die tafel, en jy hoop op die beste. In die geval van ʼn vaste betrekking word jy beïnvloed deur sosiale konvensie wat sê: “Almal kry ’n werk, en dan kry jy ’n vaste salaris en na vyf jaar ’n verhoging en alles behoort goed uit te werk.” In die geval van Internet bemarking baseer jy jou risiko op die advies van ’n kenner (werklik of nie) wat sê doen dit, of doen dat, of gaan na hierdie webwerf toe of werk met hierdie platform, en dan sal jou dividend soveel wees per dag of per week of per maand of per jaar.

Alle maniere hoe jy probeer om geld te maak, is ’n waagstuk, en elke industrie het sy sogenaamde kenners. Sportweddenskappe, perderesies en soortgelyke aktiwiteite is bloot dobbelary gestroop van die dun lagie wat ander dinge laat lyk na iets anders as dobbelary.

Elke persoon moet uiteindelik self besluit waar die beste weddenskap lê vir hom of vir haar, hoeveel hulle bereid is om te waag, en hoeveel hulle bereid is om te verloor.

* * *

Ek het ’n paar dae gelede twee dokumentêre programme oor Noord-Korea gekyk. Enkele opmerkings: Noord-Koreane werk met die realiteit waarmee hulle gebore is. Hulle kan nie funksioneer asof hulle byvoorbeeld Amerikaners is wat in Chicago gebore is nie, want dit sal eenvoudig nie bevorderlik wees vir hulle daaglikse voortbestaan nie. Hulle praat Koreaans; hulle resiteer hul ede van lojaliteit aan die Beminde Leier; hulle werk, eet, slaap, neem deel aan massa-uitvoerings, trou, kry kinders, lag, huil, kry swaar; hulle geniet die klein dingetjies in die lewe, en die samesyn van vriende en familie; hulle kritiseer nie die staat of die owerhede, of die Beminde Leier se lengte of gewig of haarstyl nie; en uiteindelik gaan hulle dood.

WOENSDAG 24 OKTOBER 2007

Uit die Complete Memoirs of Jacques Casanova: “If you have not done anything worthy of being recorded, at least write something worthy of being read.”

SONDAG 28 OKTOBER 2007

As 60% van my resultate sleg is, aanvaar ek dit, en ek is bly oor die 40% wat goed is.

As 60% van my resultate goed is, murmureer ek oor die 40% wat sleg is, want ek glo die slegte deel bederf die goeie deel.

Ek beter werk daaraan, vinnig.

______________________

Meer as drie eenvoudige waarhede

MAANDAG 13 AUGUSTUS 2007

[Gedagtes na ’n gesprek met ’n vriendin]

Dit het my lank gevat om ander mense meer te sien soos hulle werklik is, en nie soos ek hulle maak – en soms wil hê – in my eie, soms simplistiese wêreld nie. Dit bly egter waar dat sekere mense altyd in die minderheid sal wees langs braaivleisvure of aan ’n familietafel met Sondagete.

’n Eenvoudige waarheid, twee: As meeste lede van ’n groep dieselfde leefstylkeuses maak, kom dit voor aan meeste lede van die groep dat die keuses goed en reg is – of dit werklik so goed en reg is, of nie. (En om dinge te balanseer: net omdat die meerderheid dink iets is goed en reg, is nie te sê hulle is noodwendig verkeerd nie.)

’n Eenvoudige waarheid, drie: Jy kan nie vir mense sê hulle maak die verkeerde keuse as jy nie ’n alternatief het om voor te stel nie – en nie ’n alternatief wat beter sal werk vir jóú nie, ’n alternatief wat beter sal wees vir húlle.

VRYDAG 24 AUGUSTUS 2007

Ek is bly ek het geskryf wat ek geskryf het toe ek dit geskryf het, en met die oortuiging en oorgawe wat ek dit gedoen het. Ek staan steeds daarby, maar die wêreld is ’n snaakse plek: Misdaad werk veels te goed uit vir te veel misdadigers, irrasionele mense blyk in beheer te wees van heeltemal te veel, en mense dronk op godsdiens saai verwoesting orals waar hulle gaan.

SATERDAG 25 AUGUSTUS 2007

Taiwan: Waar ek geskryf het wat ek wou skryf, waar ek die liefde van my lewe ontmoet het, en waar ek ’n fondasie opgebou het vir my toekoms.

Skep iets om agter te laat, wees lief en word bemin, en maak dit moontlik vir myself om oud te word.

Dit is, so blyk dit nou, wat ek hier kom doen het. Kon ek ooit vir meer gevra het?

DONDERDAG 30 AUGUSTUS 2007

Die Mag van Een Persoon – nie net die mag wat een persoon het om ander mense se lyding te verminder nie, maar die mag van een persoon wie se lyding verminder is.

* * *

My doel op aarde is om ander mense se lyding te verlig. Om ’n skrywer te wees, is ’n lekker identiteit, ’n lekker etiket wat jy om jou eie nek kan hang, maar my skryfwerk is ’n middel tot ’n doel, naamlik, om ander mense se lyding te verlig.

[16/05/2016: Is dit waar? Gee ek nie net uitdrukking aan my ervaring van ’n aktiewe bestaan nie? Sal ek eerder mense wil help as om hulle gestrand langs die pad te los? Ek sal kies om hulle eerder te help, maar is my skryfwerk werklik ’n poging om gestrande mense langs die pad te soek – by wyse van spreke, en hulle dan huis toe te help?]

SATERDAG 8 SEPTEMBER 2007

“George W. Bush is presiding over one of the darkest periods of US history. And it isn’t just external factors that are causing this situation, Bush himself is one of the leading causes of darkness.” ~ Gedagte waarmee ek vanoggend wakker geword het. Daar was ook ’n gedagte oor eBay, maar ek kan nie die detail onthou nie.

[ʼn Paar notas geskryf in September 2007, maar met geen datum nie]

“Die beste tyd om ’n boom te plant, was vyf jaar gelede. Die tweede beste tyd is vandag.” ~ Chinese spreekwoord

* * *

’n Verkoopsman probeer blykbaar sy beste om mense te oortuig om te koop wat hy het om te verkoop. ’n Bemarker, aan die ander kant, stel vas wat mense wil hê, en vind of ontwikkel dan ’n gepaste produk of diens om aan hulle te bied teen ʼn prys.

Ek het duidelik nog ’n lang pad om te gaan.

* * *

Dit is blykbaar makliker om twee duisend $500 produkte te verkoop as om vyftig-duisend $20 produkte te verkoop.

______________________

Vind eers, definieer dan jouself – gebuigde emosies

MAANDAG 25 JUNIE 2007

Jy gaan op ’n “soektog” om jouself te “vind” omdat jy glo jy “verlore” is – en dan, so glo baie mense, kom jy op ’n punt waar jy ontdek wat jy veronderstel is om te wees, of jy sien bloot wat oorbly na die “soektog” weggeskraap het wat jy gedink het jy moet wees. Dit laat mens dink aan iemand wat in ’n winkelsentrum rondstap vol klerewinkels en nie regtig weet waarna hulle soek nie, maar wat nietemin probeer om soveel as moontlik te sien, en dan hulle reaksies te evalueer op wat hulle sien.

Om jouself te definieer is meer soos iemand in dieselfde winkelsentrum wat besig is om klere aan te pas en ’n uitrusting bymekaar te sit wat ’n uiterlike manifestasie sal wees van wie en wat hy of sy wil wees. Hoe het hierdie persoon in die eerste plek uitgewerk wie hulle wil wees? Deur rond te stap, soveel as moontlik waar te neem, en hulle reaksies te evalueer.

DINSDAG 26 JUNIE 2007

19:12 (Nommer Nege Gebuigde Dorp stasie)

Ek vind dit altyd interessant om te sien deur watse spektrum van emosies ek gaan elke Dinsdagaand by die skool op Gebuigde Dorp. Geen ander periode van tyd gedurende ’n gewone week kan eens naastenby vergelyk daarmee nie.

Dit begin met ’n fatalistiese aanvaarding – vandat ek moet begin gereedmaak, tot die 17:22 my afgooi op die stofdorp wat Nommer Nege is. Dan verander dit na ellendige verveling, en my pogings om iets te doen met my arms en hande, en met my stem, wat kan deurgaan as “English teaching”. Dan, meer kere as nie, dryf een of meer van die kinders se gedrag my tot die rand van ʼn rooi-gesig uitbarsting, en ’n baie sterk drang om iets te gooi in die rigting van die ongeskikte klein gangsters in die agterste ry. Dan, ’n versagting van emosie as ek myself herinner daaraan dat die kinders se gedrag waarskynlik steeds inpas op die spektrum van normale gedrag vir pre-tieners wat self so verveeld is dat hulle iets kan oorkom.

Uiteindelik, om 18:59, kom die verligting – dit is nou te sê as ek gelukkig genoeg is soos vanaand en in kennis gestel word dat die verveling nie sal duur tot na agt nie omdat die tweede klas se enigste student afwesig is.

Dit bring my by die huidige oomblik, wagtend vir die trein op Nommer Nege se stasie. Binne dertig minute sal ek terug wees by die huis, met my roetine en die … sal ons maar net sê, meer beperkte spektrum van emosies.

______________________