Een of twee punte oor identiteit en geldmaak

WOENSDAG 4 JULIE 2012

Ek het voorheen gereken dat om te sê, “Ek is ’n advokaat,” moet nie gesien word as ’n stelling van identiteit nie. Dit is bloot hoe jy geld maak. Ek het gereken as jy jou werk wil noem, dit meer korrek sal wees om te sê, “Ek maak geld as ’n advokaat,” as om te sê, “Ek is ’n advokaat.”

Toe, oor die volgende paar jare raak dit toenemend duidelik aan my dat hoe jy geld maak, ’n redelike belangrike deel is van jou identiteit – klink sinvol genoeg, maar dis steeds die tipe ontdekking wat ek self, op my eie tyd moes maak. Jy kan dus nie sê, “Ek is X” en “Ek maak geld met Y” en verwag dat die een niks met die ander te doen sal hê nie. “Ek is ’n advokaat” is nie ’n stelling wat ’n persoon se hele identiteit verteenwoordig nie, maar dit is wel ’n belangrike aspek van daai persoon se identiteit.

Die ander groot ontdekking was te verwagte. As jy nie weet wie jy is as geldmaker nie, gaan jy dit moeilik vind om geld te maak.

Ook goed om die teenoorgestelde in ag te neem: As jy deur die proses gegaan het om uit te sorteer, te ontdek en te kies hoe jy wil geld maak – en dan op ’n manier, of selfs maniere, wat jou persoonlikheid en talente pas, sal jy heel waarskynlik vind dat jy minder struikelblokke onbewustelik in jou eie pad rol.

* * *

Wat doen ’n mens dan met Karl Marx wat geskryf het in ’n meer ideale wêreld sal dit moontlik wees om vandag een ding te doen, en môre ’n ander – om groente te plant in die oggend, vis te vang in die middag, na jou koeie om te sien in die aand, en na aandete ’n toespraak af te steek oor ’n politieke traktaat wat jy gelees het, sonder om ooit groenteboer, visserman, beesboer of politikus te word?

Dalk het Marx veronderstel dat mens nie nodig sal hê om geld te maak in ’n ideale wêreld nie. Iemand sou wel moes jag of groente plant; iemand sou moes visvang; vee en ander diere sou steeds gevoer moes word; en iemand moes steeds opinie kon vorm en opinie kon kritiseer. In Marx se ideale wêreld, as jy dus bekwaam was in enige of al hierdie terreine, het jy die werk gedoen sonder om aan jouself te dink as groenteboer, visserman, beesboer of politikus. Verwyder geld uit die storie, en verwag dat dinge anders daarna sal uitsien.

MAANDAG 9 JULIE 2012

Ek glo in myself – oftewel, ek het sekerlik wat beskryf kan word as ’n positiewe selfbeeld (redelik belangrik siende dat mens sonder ’n positiewe selfbeeld 98 meter agter die ander atlete is in ’n 100-meter resies). Ek weet ook dat dit tot ’n groot mate ’n vertoning is, maar dat dit belangrik is omdat die vertoning praktiese waarde het. In werklikheid is daar veel meer onsekerheid. Dit moet so wees as mens eerlik wil wees.

______________________

Terug by die begin: ’n “tweede” Persoonlike Agenda

DINSDAG 29 MEI 2012

14:22

Ek gaan op die oomblik deur my notaboeke van die jare 2005 tot 2011.

Twee opmerkings:

1. Ek het elke nou en dan ’n paar minute afgeknyp uit my besige skedule van amper voltydse mislukking om notas te produseer van hoogs bruikbare kwaliteit.

2. Indien ek na 2004 ’n persoonlike skryfprojek aangepak het sonder om ’n eerlike oorsig te gee van my talle mislukkings tussen 2006 en 2011, sou die projek geëindig het in flou, halfhartige pogings. As gevolg van my ervarings die laaste paar jare, my maniese gewerk en minder as positiewe resultate, is die kans goed dat ek nog ’n persoonlike projek sal kan produseer. En die notas wat ek getrou gemaak het, sal, soos altyd, van onskatbare waarde wees.

Nog een opmerking: Ek moet ophou om die vals en onakkurate idee te vertroetel dat die tydperk 2006 tot 2011 in my lewe een groot nagmerrie was vol mislukkings. ’n Skrywer het ’n lewe nodig om materiaal te kan produseer. Vir ’n beter een kon ek nie gevra het nie.

19:22

Teen die tyd wat ek besig was om vensters toe te maak vanaand, het twee gedagtes in my kop rondgerol.

Gedagte een: 2005 se materiaal is ’n ander saak, maar Januarie 2006 tot en met hierdie jaar se notas begin vir my al hoe meer te lyk soos ’n groot, nuwe projek – ’n “tweede” Persoonlike Agenda, as’t ware. Die “eerste” Persoonlike Agenda het gehandel oor my stryd na identiteit, plek in die wêreld, doel van my bestaan, betekenis van my lewe, hoekom ek voortgegaan het met my lewe wetende dat ek kon opgee, en wat om te doen as mens al hierdie dinge ontdek en uitgewerk het. Die “tweede” Persoonlike Agenda sal handel oor ’n stryd waarmee omtrent alle volwassenes bekend is – die stryd om geld te maak. Dit mag banaal klink, maar ek reken ’n bondige vertelling van my dosyn pogings om geld te maak, en my deursettingsvermoë na herhaaldelike mislukkings, is dalk net ’n lees werd.

Gedagte twee: Dit blyk asof ek heelwat werk het om te doen. Met my vaardighede ontwikkeld, en lesse geleer oor bemarking en publikasie van eie literatuur, wil dit verder blyk asof my literêre projekte dalk net ernstig oorweeg kan word as meer as net persoonlike werk – dis dalk tyd om daarna te kyk as ’n bron van inkomste.

Ek besef toe dit is asof ek volsirkel gekom het. Aan die begin van Januarie 2006 was ek ernstig daaroor om my skryfwerk te publiseer. Ek ontdek toe dat ek geld kan maak van die huis af, op my rekenaar gekoppel aan die internet. Vir die volgende meer as vyf jaar beweeg ek toe weg van my skryfwerk, in ’n poging om meer geld te maak. Die plan was, eers finansiële onafhanklikheid (“Alles lyk dan so moontlik!”), dan kan ek ander mense betaal om my materiaal te proeflees en te vertaal. Vyf, ses jaar later is ek terug by die begin: Soortgelyke finansiële situasie, en ek wat besluit ek kan nie langer wag voordat ek publiseer wat ek geskryf het nie.

So, geld of geen geld nie, ek werk weer aan my skryfwerk. As my boeke uiteindelik geld maak, die huur betaal, kos en ander kruideniersware koop, dit vir my moontlik maak om my vrou uit te vat vir ’n lekker ete en ’n film, en dalk selfs om ’n naweek in die berge te kan bekostig, sal ek reken ek het nie te sleg gedoen nie. ’n Beter storie sou ek sekerlik nie kon uitdink nie.

______________________

Soekenjin met ’n ideologiese databasis

MAANDAG 14 MEI 2012

Vroeër vanaand wonder ek hoe dit sou wees as almal hardop moes gedink het oor die groot lewensvrae: Wie is ek? Waar kom ek vandaan? Wat gebeur as ek doodgaan? Hoe het die aarde en alles daarop ontstaan?

Nadat ek gedink het daaraan dat ek antwoorde gehad het op meeste van hierdie vrae tot op ’n punt in my vroeë twintigs, besef ek toe godsdiens is soos om toegang te hê tot ’n soekenjin gelaai met ’n bepaalde ideologiese databasis. Jy tik ’n vraag in, en binne sekondes is daar ’n antwoord.

Elke godsdiens het natuurlik sy eie databasis met verskillende antwoorde. Daar is ooreenstemming tussen die databasisse van al die hoofstroom Christelike denominasies, en sommige meer obskure sektes het weer databasisse met heeltemal verskillende antwoorde.

Die punt is, dis fantasties! Kan jy jouself dit voorstel? Jy tik ’n vraag in, en – boem! – daar’s die antwoord! Nog ’n vraag … nog ’n antwoord.

Die probleem skop in wanneer die soekenjin breek, wanneer dit toenemend duidelik raak dat die databasis gekorrupteer is, of dat die antwoorde nie geloofwaardig is nie.

Dit is wanneer die regte werk begin: om ’n databasis van die grond af op te bou.

______________________

Die man sonder identiteit

DINSDAG 1 MEI 2012

Ek lees deur die 2004-stuk, “Ek besit sewe onderbroeke …”. Weereens interesseer die idee my: Wat sal gebeur as iemand – miskien in sy tienerjare (jonger is te vroeg, later is dalk te laat) – moet sê: “Ek sien wat hier aangaan, en ek gaan nie saamspeel nie.”

Hierdie persoon ontken dan sy gegewe naam, en weier om enige ander naam aan te neem. Hy weier om vrae te beantwoord oor waar hy vandaan kom. Hy bely geen geloof nie. Hy verwoord geen ambisies of drome nie. Hy besit niks; nie eens die klere aan sy lyf nie (hy sou kaal rondgeloop het, maar hy het moeg geraak daarvoor om gearresteer te word). Hy uiter nooit enige woord nie – siende dat amper enige iets wat hy sal sê, hom sal identifiseer as deel van ’n sekere taalgemeenskap.

Is dit onvermydelik dat hy weggesluit sal word, en as geestelik versteurd bestempel sal word?

Hoe sou sy lewe ontvou in die dekades na sy rewolusionêre besluit?

______________________

Hoekom ek nie myself ’n ateïs noem nie

VRYDAG 27 APRIL 2012

Ek noem nie myself ’n ateïs nie, vir die eenvoudig rede dat die onus op my sal wees om te definieer waarin of waaraan ek nie glo nie.

As ek myself ’n ateïs noem, sal ek beweer dat ek nié in iets glo nie, dat ek die bestaan van alle gode, insluitende “God”, verwerp. Die vraag is dan: Wat presies verwerp ek? Waarin presies glo ek nie?

Siende dat ek aangewese sal wees op ander mense se beskrywings van hulle gode, ander mense se definisies van “God”, sal ek slegs kan sê dat ek nie glo aan een spesifieke persoon se god nie.

Sal dit van my ’n ateïs maak? Dan is ’n Christen ’n ateïs vanuit die perspektief van die Hindoe of die Moslem! Dan kan een Christen selfs na ’n ander Christen wie se godsbegrip anders lyk, verwys as ’n ateïs!

Feit van die saak is, mense dink net almal in hulle groep glo aan dieselfde god omdat hulle dieselfde belydenisse resiteer. Maar as een persoon verwys na God as “my liewe hemelse Pappa” kan ek jou amper waarborg hulle god is nie regtig, diep in hulle onderbewuste, dieselfde as vele van hulle medegelowiges s’n nie.

As ek dus beweer ek is ’n ateïs, in wie se god glo ek nie? Wie se god verwerp ek?

* * *

Wat is die alternatief, as ek dan nou ter wille van identifikasie myself moet kategoriseer?

Agnostisisme, volgens Wikipedia, is die beskouing dat die waarheid van sekere aansprake onbekend is of van nature onmoontlik is om te bewys. Hierdie aansprake sluit in “metafisiese aansprake met betrekking tot teologie, die hiernamaals of die bestaan van gode, geeste, of selfs uiteindelike werklikheid”.

Dit, per definisie, beteken nie ek glo nie aan gode, geeste of ’n spesifieke uiteindelike werklikheid nie. Dit beteken wel dat ek nie glo ek of enige iemand anders kan die besliste waarheid van hierdie uitsprake bewys nie.

Natuurlik glo vele Hindoes dis nonsens: hulle kan wys op miljoene mense se persoonlike ervarings wat aan hulle bewys dat Krishna werklik bestaan. Dieselfde met volgelinge van enige ander godsdienstige tradisie. Die vermoëns van enige mens met ’n vaste voorneme en ’n gevestigde belang in ’n spesifieke beskouing om bewyse te vind vir iets waarin hulle glo, kan nooit onderskat word nie.

Wat my eie posisie aanbetref, kan ek sonder om twee keer te dink, sê dat ek waarde vind in twyfel. Ek vind waarde daarin om vrae te vra. Ek ag dit as waardevol om te wonder eerder as om te beweer dat ek wéét, en dan te verklaar dat die onderwerp afgesluit is en ek klaar gepraat het. Laastens heg ek te veel waarde aan intelligente dialoog tussen redelike mense om uit die vuis te verwerp wat enige iemand sê.

______________________