Regte plek op die regte tyd

DINSDAG 20 JANUARIE 2015

Malcolm Gladwell redeneer in sy boek, Outliers, dat Bill Gates en Steve Jobs in hulle tienerjare op die regte tyd op die regte plek was. Belangstelling in rekenaartegnologie, goeie skole en toegang tot rekenaars het alles die pad vir hulle voorberei om jare later ikoniese figure te word in die rekenaar- en besigheidswêrelde.

Ek is ook tot ’n mate gelukkig wat betref my skryfwerk. ’n Paar dekades gelede was daar ook skrywers soos ek wat materiaal geskryf het oor hulle eie lewens, en oor hulle idees oor die lewe. Min van hierdie mense se skryfwerk is seker ooit gelees deur meer as tien mense, en vele het uiteindelik gesterf sonder veel erkenning.

So ook is daar nou ander mense wie se lewens soortgelyk is aan myne, wat skryf oor soortgelyke temas, op wyses wat dalk ook nie sal lei tot enige kommersiële sukses nie.

Hier is waar my geluk inskop, my regte-plek-op-die-regte-tyd. Ek het aaneenlopend sedert 1999 ’n rekenaar gehad het vir my eksklusiewe gebruik met stabiele, vinnige toegang tot die internet – ’n voorreg wat ek nie geniet het voor ek Taiwan toe gekom het nie. Bepaalde kondisies in Taiwan het my ook in staat gestel om genoeg geld te maak om te oorleef en ’n bietjie te spaar sonder om veel meer as dertig van my lewensure per week op te gee daarvoor. Gooi hiermee saam my begeerte om geld van die huis af te verdien wat my blootgestel het aan internet bemarking, en binne ’n paar jaar het ek ’n kritiese hoeveelheid kennis en ervaring opgedoen van self-publikasie.

Ek kan dus bekostig om tyd te spandeer aan my skryfprojekte, ek weet hoe om dit te publiseer op my eie webblaaie en op ’n groeiende aantal ander platforms en in ander formate, en hoe om hierdie materiaal te versprei en verspreibaar te maak.

______________________

Skryfwerk as gesprek

SATERDAG 3 JANUARIE 2015

Vir lank het ek gedink aan baie van my skryfwerk as lesings, selfs preke. Nou verstaan ek dat meeste van my stukke deel is van ’n gesprek. Iemand anders lees dit, dink daaraan, en besluit hulle stem saam, of hulle stem nie saam nie. Great. Dis hoe dit moet wees. Dan is my skryfwerk deel van ’n gesprek, al kan ek meeste van die tyd nie daar wees om te reageer nie.

DINSDAG 6 JANUARIE 2015

Dit is goed om selfversekerd te wees en te sê wat jy dink, maar min mense twyfel aan die waarde van beskeidenheid – om jou opinie te lug, en dan te luister na wat iemand anders te sê het.

Wat jy gesê het of geskryf het mag dalk goeie punte aanraak; dit mag dalk ’n goeie argument wees; dit mag dalk iemand dwing om aan iets te dink waaraan hulle nog nooit gedink het nie, of om op ’n ander manier daaroor te dink. Maar die waarskynlikheid is sterk dat jy nie al die kante van die saak oorweeg het nie, dat jy nie al die hoeke gedek het nie. Dit is op hierdie punt wat ’n redelike mens sal besef wanneer jy ’n stelling maak, of ’n argument waag, verbaal of in geskrewe vorm, jy ’n poging aanwend tot gesprek eerder as om die ander persoon te bekeer tot jou kultus of ideologie.

Ek dink byvoorbeeld aan die spotprenttekenaar en skrywer, Scott Adams, se blog, sy interessante artikels, en dan lesers wat dinge skryf in die kommentaar seksie wat ewe slim is, maar hulle neem dalk ’n teenoorstaande posisie in.

Ek het ook gedink aan gesprekke wat ek het met volwasse studente. Ek maak byvoorbeeld ’n stelling, wat ek dink min of meer korrek is. Kort na ek my stelling gemaak het, staan ek terug, en een na die ander reageer die studente – sommige van die reaksies is weldeurdag, ander minder so. Die akkuraatheid al dan nie van my oorspronklike stelling is sekerlik belangrik, maar wat belangriker is, is dat ons in gesprek verkeer oor ’n spesifieke onderwerp. Dit, in my opinie, is veel waardevoller as enige lesing of preek wat ek kan afsteek.

______________________

Woensdag 31 Desember 2014

Ek is regtig bly dis die laaste dag van die jaar. Dit gee my ’n verskoning om vandag en môre by die huis te bly.

(Vir meer as dit sal ek ’n formele hoedjie moet opsit en allerhande konvensies moet eerbiedig. En ek sou dalk as ek nie ’n vaakheid, of verveling, oor my voel neerdaal het nie.)

Ten minste die helfte van 2014 was besonders lekker. Ek het baie gedoen. Ek gaan 2014 uit op ’n goeie punt. Ek betree derhalwe 2015 op ’n goeie punt.

Ek hoop ten minste die helfte van 2015 gaan net so goed, of selfs beter wees as 2014 … oftewel, ek gaan my uiterste doen om dit so te maak.

Hoop dis dieselfde vir almal.

____________________

Opsies vir die ongelowige

DONDERDAG 25 DESEMBER 2014

Is dit nie ietwat simpel om jouself ’n ateïs te noem nie? Is dit nie soortgelyk daaraan om jouself “nie ’n WP-ondersteuner” te noem nie? Hoekom dan nie eerder jouself identifiseer wat jy wel is nie – ’n Blou Bul-ondersteuner, ’n Goue Leeus-ondersteuner, ensovoorts?

Die ander probleem daarmee om jouself te identifiseer as ateïs, is dat die onus dan op jou rus om te definieer waarin jy nié glo nie. Wát of wié is die god waarin jy geen geloof het nie?

* * *

’n Paar minute se navorsing oor die onderwerp het my geleer dat daar sterk ateïsme en swak ateïsme is. Die Sterk Ateïs (ook Positiewe Ateïs) neem die standpunt in dat daar rede is om te glo dat daar geen god bestaan nie, dat dit selfs logies onmoontlik is dat daar ’n god of gode bestaan. Die sogenaamde Swak Ateïs (of Negatiewe Ateïs) reken dat daar geen rede is om te glo dat daar wél enige god bestaan nie.

Dan is daar die ignostici – mense wat die posisie inneem dat elke godsdienstige oortuiging te veel veronderstel oor die konsep van “God”. Die ignostikus sê derhalwe dat beide die “gelowige” en die “ongelowige” te veel veronderstellings maak oor waaraan hulle glo, of nie glo nie.

Nog ’n alternatief is om jouself aan die kant te skaar van mense wat gekant is teen enige geloof in die bestaan van ’n god, naamlik die anti-teïs. Christopher Hitchens het in sy boek, Letters to a Young Contrarian geskryf dat hy nie net glo dat alle religieë weergawes van dieselfde onwaarheid is nie, maar ook dat die invloed van kerke en die effek van godsdienstige oortuiging meer skade doen aan mens en samelewing as goed.

______________________

Die alleenloper se stem aan die einde van ’n sekere pad

DINSDAG 23 DESEMBER 2014

Brand Smit soos gemanifesteer in 2003 se Persoonlike Agenda: Boek Twee, 2004 se Boek Drie en Slothoofstuk, en ook die res van 2004 se materiaal, was ’n alleenloper. Meer as dit, hy het te velde getrek teen mense wat hy gereken het nie alleen kán wees nie. Hy het aangedring daarop dat mense hom nie anders moet behandel net omdat hy nie deel is van ’n paartjie nie.

Toe, skielik, van Maart 2005 af, was hy nie meer alleen nie. Die alleenloper was skielik deel van ’n tweetal.

* * *

Ek hét nog geskryf in 2005, en tot ’n mate steeds in die stem van Brand Smit van Persoonlike Agenda – ek het geen ander stem gehad nie. Teen 2006 was daar geen twyfel nie: Ek was gelukkiger, my lewe was beter, en ek het definitief die einde van ’n sekere pad bereik as skrywer.

______________________