Persoonlike Agenda: Naskrif II

Uit: Brief aan Ouers

SATERDAG 18 NOVEMBER 2000

“[…]

Ek het gister my 22-maand herdenking gehad van die dag wat ek in Taiwan aangekom het, wat belangrik is vir die eenvoudige rede dat ek in Korea was vir 22 maande en drie dae. Teen volgende week sal ek dus langer in Taiwan wees as wat ek in Korea was.

So gaan die tyd verby. Ek staan gereeld in my sitkamer en kyk om my rond, en as ek dink hoe hierdie einste sitkamer gelyk het toe ek hier aangekom het, kan ek nie anders as om te dink ek het orraait gedoen sover nie. Ek sien my netjiese klein rekenaar; ek sien al die CD’s en al die boeke. Ek sien ook die Spaanse kitaar wat ek vir R60 by die pandjieswinkel gekoop het, en ek sien my blou elektriese kitaar, en die kleur-TV …

Ek gee nie op die oomblik soveel klasse as verlede jaar nie. Dit was ’n sinnelose gejaag wat my nooit behoorlik tyd gegee het vir wat ek regtig wil doen nie. Dit mag klink of ek nie my vinger op die pols van die werklikheid het nie, maar ek het reeds genoeg van die wêreld leer ken om te weet dat ’n mens moet doen wat jy goedvind, en waarvan jy hou, anders word jy oud en jy’t net die game gespeel wat dié wat kastig beter weet, vir jou geleer het. Pa het altyd gesê ek kan nie net doen wat ék wil doen nie, ‘dis nie hoe dit werk nie’. Ek moet bieg dat ek nie veel respek het vir hoe dinge werk nie.

As ’n mens net jou lewe leef volgens hoe dinge veronderstel is om te werk, word jy uitgebuit deur dié wat nie die reëls nakom nie. Ek het al ’n bietjie insig gekry in die werkinge van hierdie wêreld, en ek het nie tyd vir mense wat oor my baas wil speel net omdat hulle meer geld het as ek, en daarom – ‘omdat dit is hoe dit werk’ – ek moet doen soos hulle sê nie. In elk geval het hierdie wêreld nie vorentoe beweeg omdat mense altyd die ‘sinvolle’ ding gedoen het nie.

Dit moet egter kategories gestel word dat ek nie heeltemal naïef is nie. Ek weet al te goed wat gebeur met mense wat die geld storie nie ernstig opneem nie. Ek weet al te goed hoe die hiërargie van ons samelewing werk. My edel politiek sal my nêrens bring as ek nie geld het om dit te ondersteun nie. Dosyne geskiedenisboeke het ook vir my ’n goeie idee gegee van hoe mense in posisies van mag kom, en hoe hulle daar bly. En ek het al genoeg eerstehandse ervaring opgedoen om te weet mense word om die bos gelei om sekere dinge te glo, sodat dié wat bo is, bo kan bly.

Genoeg politiek. Dis voldoende om te sê dat ek ander maniere ondersoek om geld te maak. Ek beplan nie om weer arm te wees nie. Maar ek beplan ook nie om ander se agendas te dien nie.

Hierdie hardkoppige onafhanklikheid kom natuurlik teen ’n prys. As ek ’n meer konvensionele pad gevolg het, sou ek moontlik teen dié tyd die konvensionele belonings gehad het van ’n huis – waarvoor ek vir die res van my lewe aan die bank sou behoort, ’n pragtige gesinsmotortjie – waarvoor ek vir ten minste ’n dekade aan ’n ander bank sou behoort, en ’n lieflike vrou met wie ek my lewe kon deel.

Dink ek daaraan om een of ander tyd terug te gaan Suid-Afrika toe? Ek kontempleer sporadies die moontlikheid. Ek kan dink aan baie redes hoekom dit goed sal wees. Die realiteit is egter dat ek in hierdie land, met wat in werklikheid ’n deeltydse werk is, R10 000 per maand kan verdien, en selfs meer. In Suid-Afrika sal ek wáár, en vir hoe lank elke dag moet werk om die helfte daarvan in die hande te kry?

Daar is sekerlik moontlikhede waaraan ek nog nooit gedink het nie. Die probleem is om hierdie dinge te ontdek. As ’n mens ’n jaar in ’n plek spandeer waar jy gereeld idees uitruil met ander mense, sal ’n mens sekerlik aan ’n paar moontlikhede kan begin werk. Maar hoe gemaak om terug te gaan, jouself aan die lewe te hou, nie jou momentum te verloor met die projekte waarmee jy besig is nie, én terselfdertyd maniere van geldmaak te ontdek wat jou en jou persoonlike agenda pas …”

______________________

Persoonlike Agenda, Boek Een: Inleiding

Die vrae wat ons vra

Meeste mense soek na iets. Dat jy moontlik eers na jare ’n vinger daarna kan wys en kan sê, “Dit!” maak gewoonlik nie die soektog minder freneties nie. Party mense soek na maniere om geld te maak, of maniere om gewild te wees. Ander soek na ’n plek, waar hulle na die lang soektog kan terugsit en vir die eerste keer in hulle lewens kan sê, “Ek het gearriveer.” Ander mense (of dieselfde mense wat na al voorafgenoemde dinge ook soek) soek na ’n persoon – iemand wat saam met hulle die pad kan stap, wat moontlik saam met hulle kan soek na iets anders, of na soortgelyke dinge.

Een universele aspek van al die soektogte is dat vrae gevra word. ’n Betekenisvolle persentasie van die vrae handel oor die vraagsteller self – elke persoon word gedryf deur instink om informasie in te win oor hom- of haarself, en om verwante redes soortgelyke informasie oor ander mense.

’n Paar bekende vrae: Hoe lyk ek? Is ek mooi of lelik? Is ek slim of dom? Is ek ’n “ingenieur” of ’n “advokaat” of ’n “kunstenaar”? Hou ek van pizza? Hóé hou ek van my pizza? Hoe hou ander mense van hulle pizza? Wat wil ek met my lewe doen? Wil ek ryk wees? Hoe ryk? Sal dit orraait wees as ek nie in die grootste huis in die straat bly nie? Wil ek ’n kar hê, of ’n motorfiets? Hoe wil ek my hare dra? Hou ek van pienk? Van watse musiek hou ek? Glo ek in God? Is dit goed genoeg om net elke nou en dan kerk toe te gaan? Vir watter party stem ek? Kyk ek sport, en indien wel, wie of wat ondersteun ek? Wie’s my vriende? Van watse tipe mense hou ek? Hoekom hou ek van hierdie tipe mense? Watse tipes mense hou van my (en weereens om watter redes)? Wat doen ek in my vrye tyd …

En hierdie is net die vrae waaraan ek gedink het terwyl ek besig was om ’n ander CD op te sit. Ek kan nog dosyne hierby voeg. En dan kan jy as leser na die lys kyk en sê, “Goed, maar jy’t ’n paar gemis.”

Dink ons die heeltyd aan hierdie dinge? Nee. Sommige van hierdie vrae vereis moontlik dat ons sal stilsit vir ’n wyle om daaroor te dink; ander dinge wéét ons net. Die belangrike ding is, hóé ons hierdie vrae beantwoord, bepaal hoe ons onsself sien – op ons eie, in die privaatheid van ons eie spasies, en ook wanneer ons tussen ander mense is.

Vele van ons bevind onsself ook op een of ander stadium op vreemde plekke waar niemand ons ken nie, wat ons dwing om onsself voor te stel aan ’n skare vreemdelinge: “Hallo, ek is (X). Ek hou van popmusiek. Ek wil eendag my eie boekwinkel hê. Ek hou nie van uie op my pizza nie, en ek gaan een keer ’n maand kerk toe.”

Die vrae wat ons onsself vra, die maniere hoe ons dit beantwoord, hoe ons onsself voorstel aan vreemdelinge en hoe hierdie mense reageer op ons teenwoordigheid, bepaal uiteindelik of jy saam met ander pizza-eters uithang of nie, of jy glo dat jou siel uitgesorteer is die dag as jy doodgaan, of, en saam met wie jy moontlik eendag kinders sal produseer, en hoe jy jou vrye tyd spandeer. Om weer maar net ’n paar voorbeelde te noem.

Dit bring my by die boek wat nou voor jou ooplê. Hierdie is die resultaat van my eie pogings – veral gedurende die afgelope vier jaar op die eiland van Taiwan – om ’n paar vrae te formuleer, en om bypassende antwoorde bymekaar te skraap.

Wie ek is in die konteks van die wyer wêreld is nie van groot belang nie. Ek is inderdaad ’n skim, wat nooit meer as ’n paar van die mense sal ontmoet wat hierdie woorde sal lees nie. (Wat net sowel is! As ek moes wag tot ek bekend is aan meer as net tien mense voor ek hierdie projek sou aanpak, het ek eerder nou gesit en TV kyk.)

Ek is tot ’n groot mate net ’n gewone mens. Sekere dinge wat ek ervaar het, het ander mense ook al ervaar, en sal nog ervaar word deur vele ander. Probleme wat ek het, gehad het, en nog gaan hê, is soortgelyk aan die probleme wat miljoene mense elke dag die hoof moet bied. Baie wat hierdie bladsye sal lees, het ook al ander, en heel moontlik interessanter dinge ervaar; of het meer, en ernstiger probleme as wat ek ooit sal hê. Daar is ook die mense wat moontlik nog nooit so gelukkig was soos wat ek is, was, of moontlik nog gaan wees nie. Ander kan weer getuig van die teenoorgestelde.

Wat almal van ons bind, is dat ons soortgelyke vrae op die een of ander tyd aan onsself móét vra. Vrae waarop antwoorde gevind móét word, al vat dit ’n leeftyd.

* * *

Die materiaal is merendeels chronologies, en is veronderstel om ten minste hier en daar te lyk soos die storie van iemand se lewe.

Belangrik ook om te noem dat ek nie gaan sit het, ’n boek beplan het en toe begin skryf het nie. Die boek is saamgestel uit ’n paar jare se notas – meestal aan myself, joernaalinskrywings, briewe aan vriende en familie, en ’n paar essays wat ek van tyd tot tyd geïnspireer was om te skryf – weereens, hoofsaaklik vir my eie vermaak en latere verwysing. Die idee om dit saam te bundel in ’n enkele projek en dit beskikbaar te stel aan ’n wye lesersmark, het eers redelik onlangs by my opgekom.

Gooi dus vandag se koerant eenkant toe, sit die TV se klank af, maak vir jouself ’n vars koppie tee, en lees verder.

Fengshan, Taiwan
Sondag 18 Mei 2003

______________________

Persoonlike Agenda: Naskrif I

Ek het aan die begin die edel bewering gemaak dat hierdie versameling materiaal [1999 tot 2003] opgedra is aan ’n paar spesiale mense. Vir die rekord moet ek byvoeg dat ek hierdie boek ook vir myself saamgestel het – sekere administratiewe sake moes afgehandel word voordat ek kon aanbeweeg na enige ander plek op hierdie planeet. Vir jare al dreig ek om al die stukke wat ek geskryf het, asook al die stukke wat ek begin skryf het maar nooit klaargemaak het nie, bymekaar te maak in een folder. Opstelle wat ek op die rekenaar geskryf het, moes uitgedruk word, e-posse wat ek geskryf het moes van die Hotmail server afgelaai word, en ek wou ’n paar gedagtes vervat in notaboeke en joernale, oortik.

Hierdie projek is dus, op ’n elementêre vlak, goeie kantooradministrasie – om items op ’n dinge-om-te-doen-lys deur te haal. Maar dit het ook vir my van eksistensiële belang geraak om iets voor myself op die tafel te kan gooi en te sê: “Dáár – dis onder andere wat ek met my tyd gedoen het.”

Ek het ook vermoed ek mag dalk, met die wyer beeld wat so ’n projek vir ’n mens gee van jou lewe, op ou insigte afkom waarvan ek vergeet het, of op idees wat dalk bestaande planne deurmekaar kan krap.

Aan die einde het ek tot ’n mate geslaag in al bogenoemde doelwitte.

Die proses van materiaal deurlees en verwerk het selfs ’n paar ander, onverwagte vrugte afgewerp. Ek het nie verwag om ’n goue lyn te sien vleg deur vier jaar se skrywery nie, maar ek sien tog nou meer redes as ooit hoekom dit nodig was om Taiwan toe te kom, en hoekom dit nodig was om vir so lank hier vas te haak.

Wat maak ’n mens as jy klaar is met so ’n projek? Jy kan begin deur jou woonstel skoon te maak … vir ’n slag weer ’n besem oor die stoep te trek … weer ’n bietjie deur ’n supermark te stap … maar wat dan? Jy begin natuurlik te werk aan ’n volgende projek, of jy gaan voort met die projek wat sonder waarskuwing op ys geplaas is ’n paar maande tevore.

Wat ek ook al volgende aanpak, ek hoop dat dit moontlik sal wees om weg te stap van hierdie selfgesentreerde Sake van die Hart – ten minste wanneer ek iets skryf. Vrae sál steeds in die lug hang, en ek sal steeds soms in die nag wakker skrik om ’n voorlopige antwoord te mompel in die rigting van die plafon. Maar daar is immers ander onderwerpe wat my besig kan hou: die pluspunte van Oosterse kos, die redes hoekom dit goed is vir jou om elke dag ten minste ’n paar koppies groen tee te drink, en my idee oor hoekom Taiwannese mense so vrot bestuur.

As ek gelukkig is, sal ek net soms wonder of al hierdie alternatiewe temas my enigsins nader bring aan ’n plek waar ek nog altyd wou wees.

Mei 2003

______________________

Gaan terug Suid-Afrika toe … kom terug Taiwan toe

DINSDAG 6 MEI 2003

Verlaat Taiwan op 4 September 2003. Teen Oktober is ek in Bronkhorstspruit, in ’n goedkoop woonstel. Teen Maart 2004 is ek terug in Taiwan.

MAANDAG 12 MEI 2003

Hoekom wil ek teruggaan Suid-Afrika toe? Omdat ek moeg is, en omdat ek ter wille van my struggle nodig het om dáár te struggle vir ’n tyd.

* * *

Ek wil nie hê al my oortuigings en geloof in myself moet net wees wat dit is omdat dit aan my Taiwan ervaring gekoppel is nie. [Dink aan myself as ’n elektriese toestel, en my Taiwan ervaring as die bron van elektrisiteit. Ek kan derhalwe net bestaan as hierdie persoon as gevolg van die krag van hierdie een bron.] Maar wat gebeur as hierdie dinge nie gekoppel is aan een of ander realiteit nie – óf Taiwan, óf verifieerbare sukses as skrywer, óf geld, of iets anders? Die persoon ervaar ’n traumatiese konflik tussen sy interne realiteit (geloof in homself) en eksterne realiteit (ander se beskouing van hom). Dit lei tot vervreemding van die persoon van sy omgewing, en moontlik “anti-sosiale” gedrag, wat kan lei daartoe dat die Sielkundige Welstand Polisie die persoon “arresteer” en sy beweging en gedrag beperk tot ’n institusie, en meer spesifiek ’n vertrek waartoe net húlle die sleutels het.

* * *

Dit is dus van allergrootste belang om my interne realiteit te verbind aan ’n eksterne realiteit wat deur ander gesien en erken kan word, en wat dan, ten minste tot ’n voldoende minimum graad, my interne realiteit kan bevestig.

* * *

Gaan terug … moeg? Ja, moeg daarvoor om nie my lewe met my familie te deel nie. En moeg daarvoor om ’n vreemdeling te wees in ’n vreemde plek. Maar ek wil terugkom? Ja, wanneer ek weer bereid is om die prys te betaal.

______________________

Taiwan: ’n Kort oorsig

SONDAG 11 MEI 2003

Al die materiaal in hierdie boek (met die uitsondering van enkele paragrawe) dateer uit die Taiwan periode van my lewe. Dis belangrik om te noem dat hierdie boek nie gaan oor Taiwan nie; dat dit die omgewing is waar sekere temas verder ontwikkel het, en waaruit ander gespruit het, is wel van belang. Enkele bladsye oor hierdie omgewing sal derhalwe nie onvanpas wees nie.

Geografie

Taiwan is ongeveer 160 kilometer van China af, en lê op die westelike rand van die sogenaamde Ring van Vuur – wat al wat leef om die Stille Oseaan terroriseer met aardbewings en vulkane. Met soveel geologiese aktiwiteit is dit geen verrassing dat Taiwan bergagtig is nie, met van die hoogste bergpieke in Noordoos-Asië.

’n Subtropiese ligging gee aan Taiwan lang, warm, en bedompige somers en kort, koel winters. Somers word gekenmerk deur swaar moesonreëns, met elke nou en dan ’n tifoon wat in storm van die Filippyne af, of van verder uit die Stille Oseaan uit.

Soos dit enige subtropiese eiland betaam, is die plantegroei ruig en volop. Daar’s blykbaar ook bere en verskillende tipes bokke te sien in die berge, en indien die skrywer dit kon maak verder as die plaaslike kafee oor naweke, sou hy dit sekerlik kon bevestig.

Geskiedenis

Volgens die Lonely Planet is daar al mense in Taiwan vir iets soos 10 000 jaar. Die eerste bewoners, wat genetiese eienskappe gedeel het met mense in die nabygeleë Filippyne, het van ander eilande in die omgewing gemigreer hiernatoe. Teen die tyd wat die eerste Chinese hier aangekom het, was daar hoofsaaklik twee inheemse groepe: stamme wat op die vlaktes gebly het, en stamme wat meestal in die berge gehou het.

Van die vyftiende eeu af het Chinese in groter groepe hier aangekom. Omdat hulle meestal afkomstig was van die Fujian Provinsie in China, is die taal wat meeste Taiwannese praat amper identies aan die Fujian dialek van Chinees (hoewel Mandaryn die amptelike taal is in Taiwan[1]).

In die jaar 1517 het die Portugese hier ’n draai gemaak, en die eiland Ilha Formosa genoem, wat beteken Pragtige Eiland. (Dit was egter die Chinese wat aan Taiwan haar huidige naam gegee het: Baai van Terrasse.) Die Hollanders het anker gegooi in 1624, en hulle het lekker bere en bokke gejag tot ’n Ming lojalis met die naam van Zheng Chenggong hulle kom verjaag het in 1661. Omdat die Qing dinastie op daai stadium die troon in Beijing vol gesit het, het hulle weer op hulle beurt Taiwan oorgeneem in 1682. Vir die volgende twee honderd jaar was daar grootskaalse immigrasie uit die suidelike provinsies van China.

Die volgende groot gebeurtenis was in 1895. Taiwan was een van die pryse wat die Japannese gewen het nadat hulle as oorwinnaars getree het uit ’n oorlog met China. As deel van die groeiende Japannese ryk vir die volgende vyftig jaar, het Taiwan ’n volskaalse opknapping gesien van hulle infrastruktuur en industrieë. Teen die tyd wat Japan die Tweede Wêreldoorlog verloor het, het sake in China van so ’n aard verander dat dit net ’n kwessie van tyd was voor Taiwan se geskiedenis weer dramaties sou verander.

Die oomblik toe die Japannese onttrek aan China, het die burgeroorlog tussen die kommuniste en die regering van Chiang Kai-shek sy laaste, en bloedigste fase betree. Teen die begin van 1949 het Chiang besef sy dae is getel in China. Hy besluit toe om die versameling kulturele skatte van die Nasionale Paleismuseum, al die geld waarop hy sy hande kon lê in China se nasionale bank, amper een-en-’n-half miljoen ondersteuners en 600 000 soldate op skepe te laai en vir eers terug te trek na die lieflike eiland van Taiwan. Die idee was om “binne twee jaar” met die uitgeruste troepe weer die vasteland binne te val – en weer die skatte terug te sit in die oorspronklike museum in Beijing.

Chiang en al sy troepe het aan die einde oud geword in Taiwan. Chiang is in 1975 in Taipei oorlede op die ouderdom van 87, en soos meeste mense weet, sit die kommuniste nog steeds die troon warm in Beijing.

Politiek

Chiang het in 1949 nie net met troepe, ondersteuners, geld en Ming vase hier aangeland nie, hy’t ook die titel, vlag en nodige politici saamgesleep wat hom die reg kon gee om te sê hy’s nog steeds die Hoofman van die Moederland. Hy het op hierdie oewers aangeland as die president van die Republiek van China, en teen die tyd wat hy sy laaste asem uitgeblaas het, was hy nog steeds die president van die Republiek van China.

Tot en met die sewentigerjare het die res van die nie-kommunistiese wêreld saam met Chiang gestem dat sy regering in Taiwan die regmatige regering van die hele China was. Dinge het egter begin verander in daai dekade, en vandag is daar slegs ’n handvol lande wat nog erkenning gee aan die owerhede in Taipei as die regmatige regering van Groter China.

Nadat die Verenigde Nasies die ou van Taiwan uitgeskop het in 1971, het meeste lande in die jare daarna hulle ambassades in Taipei gesluit – net om die volgende dag besigheid voort te sit as sogenaamde “handelskantore”.

Wat is Taiwan dan as dit nie die fisiese adres is van die regering van China nie? Vanaf 1949 is Taiwan in praktyk geregeer as onafhanklik van China – hoewel enige Taiwannees in die tronk kon beland het tot en met die laat tagtigs as hy dit hardop gedink het. Van die dag dat die regeringsleiers in Taipei die memo gekry het dat hulle nie meer erken word as die politieke meesters van China – met Taiwan as haar provinsie – nie, het hulle met ’n staatkundige identiteitskrisis gesit. Hulle het nietemin steeds werk gehad om te doen, naamlik om ’n verantwoordelike regering te wees vir die 25 miljoen mense in Taiwan.

Moet die naam dan nie net doodgewoon verander na die Republiek van Taiwan nie? Om dit te vra is om ’n senuwee raak te trap onder die plaaslike bevolking. Sommiges glo Taiwan moet een of ander tyd weer deel word van die Moederland. Ander glo weer Taiwan moet erken word vir wat sy is, en vir die afgelope meer as vyftig jaar al was: ’n onafhanklike staat. En in hierdie vreemde politieke situasie is die regering in Beijing die laaste groep mense wat wil hê Taiwan se naam moet amptelik verander. Hulle glo die oomblik as Taiwan ’n amptelike naam kry wat die werklikheid meer akkuraat weerspieël, dan verklaar hulle onafhanklikheid van die Moederland. En dan is alle hel los.

Dit dan, is die geografie, geskiedenis, en ongewone politieke staat van die land waarin ek myself die afgelope vier jaar bevind het.


[1] Mandaryn is die Beijing dialek van Chinees. Hoewel Chinees uit talle dialekte bestaan, dien die Beijing dialek as die amptelike taal van China, Taiwan, en as een van drie amptelike tale van Singapoer.

______________________