Oorsprong van die SELF (en het reptiele siele?)

MAANDAG 5 JULIE 2004

’n Kort dialoog

“Het jy al ooit gewonder oor die ontstaan van die self? Wat kan moontlik die oorsprong wees van die self?”

“Wel, geboorte is seker ’n redelike antwoord.”

“Definieer ‘geboorte’.”

“Biologiese skeiding van moeder en kind. Ek sou sê die spesifieke oomblik is die knip van die naelstring. Ek reken dis die mees dramatiese oomblik van skeiding tussen die twee fisiese entiteite.”

“So die oomblik wat die naelstring geknip word, is die oomblik van geboorte van die self, die oomblik wat die nuwe mens bewus is van sy eie, afsonderlike bestaan?”

“Dit klink sinvol genoeg, dan nie?”

“Sou jy sê net die mens – lid van die spesie Homo sapiens – het ’n bewussyn van ’n eie unieke bestaan? Sou jy sê diere het ’n soortgelyke bewussyn?”

“Watse diere?”

“Baie mense sou seker eerste dink aan honde en katte.”

“Troeteldiere, maar dan sekerlik ook bobbejane, sjimpansees, gorillas …”

“Goed, kom ons sê dan alle soogdiere.”

“Of dan alle soogdiere wat naelstringe het.”

“Rotte?”

“Wel, rotte is soogdiere … en muise.”

“En walvisse. Maar as ’n rot beskik oor ’n bewussyn van ’n eie unieke bestaan, wat van ’n volstruis? En as jy reken dat ’n volstruis nié ’n bewussyn het van ’n eie unieke bestaan nie, hoekom nie?”

“Volgens ons redenasie is dit omdat ’n volstruis nie ’n soogdier is nie. Omdat volstruise eiers lê, is daar geen dramatiese oomblik van skeiding nie.”

“Dit klink nie reg dat ’n gewone huismuis ’n bewussyn het van ’n eie unieke bestaan, maar nie so ’n groot … kreatuur soos ’n volstruis nie, net omdat hy uitbroei. Dit sal beteken dat ’n reusagtige kreatuur soos ’n dinosourus ook nie ’n bewussyn gehad het van ’n eie unieke bestaan nie, net omdat daar nie ’n naelstring oomblik is, of was nie. En wat van eierlêende soogdiere?”

“Wel, ’n eierlêende soogdier lê ’n eier, so daar’s in elk geval nie ’n naelstring nie. Kom ons sê dan vir die oomblik dat volstruise, en ander groot eierlêende kreature ook beskik oor ’n bewussyn van eie bestaan.”

“Wat van insekte? Wat van kleiner organismes?

“Amebes?”

“En parasiete, en bakterieë. Hoe pas hulle in by die hele ding?”

“Dis moeilik om te sê. Kom ons hou vir die oomblik by soogdiere en die groot eierlêers.”

“Reptiele? As ’n volstruis kwalifiseer, moet ’n krokodil kwalifiseer. En as die grootste slang kwalifiseer, moet die kleinste slang kwalifiseer …”

“Kom ons gaan net eers terug na die vraag oor die ontstaan … maar wag ’n bietjie, waarvan praat ons nou eintlik? Wat presies ís die ‘self’?”

“Ons het ’n paar minute gelede verwys na die bewussyn van ’n eie afsonderlike bestaan. Kom ons kyk wat sê ’n woordeboek …”

[Die volgende terme en definisies kom uit Psigologie-Woordeboek, deur Gouws, Louw, Meyer & Plug (1979)]

self

’n Term met ’n verskeidenheid van betekenisse, waarvan die volgende die belangrikste is:

1. Die persoon se siening van homself, dit wil sê ’n sinoniem vir SELFKONSEP.

2. Al die persoon se eienskappe, dit wil sê die PERSOONLIKHEID.

3. Die kern van die persoonlikheid, dit wil sê ’n sinoniem vir PROPRIUM.

4. Die agent of uitvoerder van gedrag, dit wil sê die “ek”.

5. Die substraat van gedrag, dit wil sê ’n sinoniem vir PSIGE.

6. (W. James) Enigeen van ’n reeks aspekte van ’n persoon soos dit in verskillende lewensituasies of -areas na vore tree, bv. die sosiale self, die religieuse self en die beroepself.

selfkonsep

’n Persoon se siening en evaluasie van homself. Dit sluit kognitiewe, emosionele en evaluatiewe elemente in. Sinonieme: SELFBEGRIP, SELFBEELD en SELF. Vergelyk. IDEALE SELF en LIGGAAMSBEELD.

ideale self

(C. R. Rogers) Die totaliteit van eienskappe waaroor die individu graag sou wil beskik. Die veronderstelling is dat die persoon sodanige wense koester om aan voorwaardes vir aanvaarding te voldoen.

liggaamsbeeld

’n Persoon se subjektiewe voorstelling van sy eie liggaam. Dit kan een of meer van die volgende aspekte insluit: die subjektiewe en min of meer bewuste idee wat ’n persoon op elke oomblik van die posisie, houding en beweging van sy liggaam het; ’n persoon se kenmerkende ervaring van sy eie liggaam; en ’n persoon se evaluasie van sy liggaam of dele daarvan in terme van aspekte soos aantreklikheid, manlikheid, vroulikheid of gesondheid.

persoonlikheid

’n Term wat in sy wydste betekenis dui op die geïntegreerde en dinamiese organisasie van ’n individu se psigiese, sosiale, morele en fisiese eienskappe, soos dit in sy wisselwerking met sy omgewing, en veral met ander persone, tot uiting kom, en soos bepaal deur die interaksie tussen konstitusionele en omgewingsfaktore. Aangesien die persoonlikheid geleidelik ontwikkel gedurende die individu se lewensloop en dus nooit staties is nie, dui die term gewoonlik op die patroon van eienskappe op ’n gegewe tydstip gedurende die individu se lewe.

proprium

(G. W. Allport) Die kern van die persoonlikheid. Dit behels daardie aspekte van die persoon waarby hy hom nóú en intiem betrokke voel, byvoorbeeld sy belangrikste waardes en doelstellings.

psige

Die hipotetiese substraat of draer van alle belewenis en gedrag. […] ’n Verskeidenheid terme word naas psige gebruik om te verwys na die hipotetiese substraat van gedrag, bv. gees, persoon, persoonlikheid, individu, en organisme. Sinonieme: SIEL en SELF.

siel

1. (Teologie) Die onsterflike (en nie-materiële) aspek van die mens. […]

“Ek hou van die dele oor liggaamsbeeld en psige. Wat sê hulle oor die ideale self?”

“Hulle veronderstel ’n mens koester die beeld van ’n ideale self omdat hy of sy aanvaar wil word.”

“Aanvaar wil word? Ek het ’n ideale beeld van myself, maar as meer mense as die huidige handvol my aanvaar sal ek beslis op my senuwees raak!”

“Ek weet nie of jy dit opgetel het nie, maar nie een van die outeurs van daai definisies slaag regtig daarin om ’n vinger te lê op hulle teiken nie. Dis asof almal probeer om ’n redelike glibberige koekie seep vas te vat.”

“Kom ons kyk: persoon se siening van homself … al die persoon se eienskappe … die kern van die persoonlikheid … die agent of uitvoerder van gedrag … enigeen van ’n reeks aspekte van ’n persoon soos dit in verskillende lewensituasies na vore tree … ’n persoon se evaluasie van homself … die geïntegreerde en dinamiese organisasie van eienskappe … die draer van alle belewenis en gedrag … die onsterflike en nie-materiële aspek van die mens …”

“Soos ek sê, ’n glibberige koekie seep. Kom ons konsentreer eers op die mens se bewussyn van ’n eie self.”

“Bewussyn van ’n eie self? Onthou net, as die self ‘X’ is, kan die self nie ook ‘bewussyn van X’ wees nie.”

“Dalk is die self nie ’n ‘X’ nie, dalk is die self bewussyn … van … iets, of alles. Tog kan ‘self’ nie gelyk gestel word aan bewussyn nie … Kry jy ooit die gevoel dat jy iets probeer verwoord waarvoor jou woordeskat heeltemal te primitief is?”

“Gereeld.”

“Nietemin, die bewussyn van … eie lewende, liggaamlike, afsonderlike bestaan moet tog êrens ontstaan, op een of ander punt moet dit gaan van ‘niks’ na ‘iets’, van ‘0’ na ‘1’. As hierdie punt nié lê by die knip van die naelstring nie, na watter ander moontlikhede kyk ons?”

“Konsepsie?”

“Kan nie wees nie … kan jy jouself voorstel ’n bevrugte eiersel met ’n bewussyn, wat nog te sê van ’n gesofistikeerde bewussyn van eie bestaan?”

“Kan dit gesê word dat die self nie van een oomblik na ’n volgende ontstaan nie, dat dit eerder stadig ontwikkel?”

“Kan dit gesê word dat die liggaam nie van een oomblik na ’n volgende ontstaan het nie, omdat dit stadig ontwikkel?”

“Laat ek sien of ek dit reg verstaan. Die mens se fisiese liggaam ontstaan uit die moeder – en vir deeglikheid moet dit genoem word, nadat die moeder se eiersel bevrug was met ’n fisiese bydrae van die vader. Volgens die naelstring-teorie kan dit dus gesê word dat die pasgebore mens se bewussyn van hom- of haarself ook ontstaan uit die moeder, in die sin dat daar aanvanklik net een bewussyn was – dié van die moeder, dan na tien of twintig of dertig weke kan breinaktiwiteit by die fetus bespeur word, maar sekerlik niks wat genoem kan word ’n bewussyn van eie unieke bestaan nie – daar’s geen persoonlikheid nie, geen siening van homself nie, geen evaluasie van homself nie, en dan, die oomblik as die naelstring geknip word, is daar ongetwyfeld meer as een geval van bewussyn – die moeder se bewussyn, en die geboorteling se bewussyn.”

“Bewussyn van eie, afsonderlike bestaan miskien, maar steeds geen persoonlikheid nie. Ek meen, geen pasgebore baba het enige siening van homself nie, geen self-evaluasie nie …”

“Nog nie, maar jy kan nie ontken dat iets dramaties gebeur het van die een oomblik na die volgende nie.”

“Laat dit mens nie dink aan Frankenstein wat sy projek animeer, en ’n bewussyn gee van homself, met ’n elektriese skok nie? Behalwe in die geval van die pasgebore mens is die elektriese skok die knip van die naelstring.”

“Maar in die storie het die elektriese skok ook breinaktiwiteit gestimuleer. Uit die breinaktiwiteit het bewussyn ontstaan. In die geval van werklike mense, is die fetale brein reeds aktief weke voor geboorte, weke voor die knip van die naelstring. Of die fetus bewus is van enige iets, en indien wél, van wát, is natuurlik ’n ander vraag.”

“Laat ek ’n stelling maak: Ek is nou, op hierdie punt, Maandag 5 Julie 2004 om 12:48 in die middag bewus van myself as ’n afsonderlike entiteit, verwyderd van lewelose objekte in my omgewing (behalwe vir die stoel waarop ek al vir ure sit), en fisies verwyderd ook van alle ander lewende kreature. As ek nou moet sterf van skok of iets, gaan net ék dood. As iemand anders in die omgewing op hierdie oomblik sterf aan byvoorbeeld ’n hartaanval, sterf net daai persoon – ék gaan voort. Ek is bewus van hierdie afsonderlikheid. Ek is ook bewus van ’n ander tipe verbintenis, wat in alledaagse spraak genoem word ’n emosionele verbintenis, met mense wat ek al ken vandat ek … wel, vandat ek kan onthou. Ek is verder bewus daarvan dat ek ’n redelik eiesoortige persoonlikheid het, dat ek ’n bepaalde beskouing het van myself, en dat sekere aspekte van my persoon na vore tree in verskillende situasies. Ek is bewus van al hierdie dinge. My vraag is nou, op watter punt het ek die eerste keer bewus geraak – van myself, van my afsonderlikheid, van my bestaan as ’n afsonderlike entiteit? En indien hierdie punt nie die ontstaan is van dit waarna uiteindelik verwys kan word as die self nie, wat is dan?”

“Dis moeilik om ’n vinger te druk op een enkele punt. Mens moet jouself ook herinner daaraan dat ‘self’ nie gelyk gestel kan word aan breinaktiwiteit nie, en ook nie noodwendig gelyk gestel kan word aan bewussyn nie.”

“En breinaktiwiteit beteken ook nie noodwendig dat daar bewussyn is nie.”

“Nietemin, selfs as die ‘self’, of ’n bewussyn van eie unieke bestaan verstaan word as resultaat van ’n stadige proses wat in klein inkremente gebeur, moet daar steeds ’n punt van ontstaan wees. Daar móét, noodwendig, ’n punt van ontstaan wees! Waar hierdie punt lê, wanneer hierdie oomblik plaasvind van meer-word-as-net-vlees-en-bloed, hoe elementêr ook al, raak die kern van die mens se eksistensie.”

“Dan spekuleer ons nie eens oor die moontlike ooreenkoms tussen die mens se bewussyn en waardering van sy eie bestaan, en wat ander soogdiere ervaar nie.”

“En voëls, reptiele, visse, insekte … bome?”

______________________

“Ek, nou” en verwante notas

SONDAG 4 JULIE 2004

Is “Persoon A” dieselfde mens as wat sy was vyf jaar gelede? Ten spyte van veroudering, en in ag genome die effek van leefstyl op haar voorkoms en fisiese welstand, is sy heel moontlik steeds herkenbaar as dieselfde persoon. Psigies is sy egter bloot verwant. Om te beweer dat sy psigies dieselfde mens is, is nie te verskillend as om te beweer dat ek en een van my twee susters dieselfde mens is nie, net omdat ons van dieselfde baarmoeder afkomstig is.

Volgens wet is hierdie persoon steeds “Persoon A”. Sy is steeds verantwoordelik vir kontrakte wat sy vyf jaar gelede aangegaan het. Sy kan ook steeds verantwoordelik gehou word vir kriminele dade wat sy moontlik gepleeg het vyf of tien jaar gelede.

Sy dra ook steeds die vreugdes en die las van keuses wat sy gemaak het, of insidente waarby sy betrokke was enige tyd gedurende haar verlede.

Die SELF bly egter nie konstant nie. “SELF-2004 van Persoon A” is psigies slegs verwant aan “SELF-1999 van Persoon A”.

Dit kan verder gevra word of “SELF, Mei 2004 van Persoon X” dieselfde is as “SELF, Julie 2004 van Persoon X”, of slegs verwant. Die antwoord is weereens dat die twee slegs verwant is, maar heel waarskynlik nader verwant as “SELF, 1995 van Persoon X” en “SELF, 2003 van Persoon X” (’n partikulêre waarheid vir Persoon X, wat nie noodwendig toegepas kan word op Persoon A nie).

Mens kan selfs meer tegnies raak en vra na die verhouding van “SELF, 4 Julie 2004 om 16:34 van Persoon X” tot “SELF, 4 Julie 2004 om 16:33 van Persoon X”. Die antwoord is dieselfde: steeds slegs verwant, maar die graad van verwantskap is heel waarskynlik nouer as in die geval van byvoorbeeld “Mei-SELF” en “Julie-SELF”. (Weereens is enige sprake van verwantskap in die geval van Persoon X nie noodwendig geldig vir Persoon A nie, omdat vyf minute – selfs een minuut – ’n dramatiese verskil kan maak in een mens se lewe, terwyl relatief min dalk verander oor die verloop van ’n maand in ’n ander persoon se lewe.)

______________________

Verligte en onverligte – briljante nege

SATERDAG 3 JULIE 2004

Die verskil tussen die VERLIGTE en die ONVERLIGTE

Die ONVERLIGTE sê: Dit is wie en wat ek is, so ek moet dit maar net aanvaar.

Die VERLIGTE sê: Hier is die kaarte wat aan my gedeel is, en hier is die hulpbronne tot my beskikking. Hierdie is my vermoëns en beperkinge, en hierdie is my belangstellings. In ag genome al hierdie dinge, verklaar ek ’n bepaalde visie van WIE en WAT ek WIL wees, en WAAR ek sal verkies om dit te wees. Laat die werk dus begin.

SONDAG 4 JULIE 2004

Saluut vir die briljante nege! (uit elke tien)

Een stelling wat nie naastenby die aandag kry wat dit verdien nie: Mense is briljant! Mense is manjifieke kreature wat daarin slaag om te oorleef, en selfs gelukkige lewens te leef tot op ’n ryp ouderdom, dit ten spyte daarvan dat hulle fokkol weet of verstaan oor hul eie spesie, en oor hoe die mens funksioneer.

Sal iemand dalk sê, “Miskien weet hulle meer as wat jy dink.”

My opinie is, natuurlik weet meeste mense iets, en natuurlik verstaan hulle baie dinge. Maar in ag genome die totaliteit van wat daar te wete is, verteenwoordig wat hulle wel weet en verstaan so ’n fraksie van die geheel dat mens nie kwalik geneem kan word as jy ’n ietwat vulgêre frase benut om die hoeveelheid kennis en begrip aan te dui wat jy reken hulle oor beskik nie.

“Is jy dan nie ook een van hierdie spesie nie?” sal ’n intelligente leser weer vra.

Ja, sal ek antwoord, maar ek reken ek kan teen hierdie tyd wegkom daarmee om te beweer dat ek nie naastenby so onkundig is soos nege uit elke tien op straat nie.

______________________

Hoekom rebelleer ’n tiener?

SATERDAG 3 JULIE 2004

Ek reken ’n tiener wat volgens algemene standaarde in ’n fase van rebellie verkeer, reageer teen sy eie self, teen die mense wat hy verantwoordelik hou vir wat hy sien as sy onbevredigende gegewe self, en moontlik ook teen die omgewing waarbinne hierdie gegewe self gebore en getoë is.

Dit kan dalk toegeskryf word aan die feit dat ek meer blootgestel word aan tieners in ’n sekere stratum van die samelewing, maar dit wil tog voorkom asof die “rebelse tiener” ’n meer algemene verskynsel is in ontwikkelde, geïndustrialiseerde lande, waar gefragmenteerde gemeenskappe ’n enkele stedelike landskap deel, en rykes en armes soms op ’n daaglikse basis skouer skuur, teenoor gemeenskappe waar ’n bestaansekonomie die norm is, met nouer, meer tradisionele verbintenisse tussen individuele lede van die gemeenskap, en ’n nouer kulturele en sosio-ekonomiese verband tussen verskillende plaaslike gemeenskappe.

Mens kan dalk die mening uitspreek dat tieners in stedelike areas in geïndustrialiseerde lande meer rede het om swak toegerus te voel vir die lewens wat hulle wil leef, of selfs vir wat van hulle verwag word. Tieners in hierdie omgewings is immers meer bewus van ander individue in dieselfde gemeenskap, of in ander gemeenskappe – beide plaaslik, of in ander areas – wat ten minste blyk veel beter toegerus is as hulle.

Ek glo ook – hoewel ek net ’n beskeie opinie hieroor kan waag – dat die spesifieke ekonomiese omgewing waarin tieners hulself indirek bevind, of waarin hulle weet hulle hulself gaan bevind as volwassenes, bevorderlik is vir gevoelens van ontoereikendheid. Sosio-ekonomiese status – waarin die tiener homself bevind volgens sy ouers se ekonomiese aktiwiteite, en ook wat hy reken moontlik sy voorland gaan wees as volwassene, asook kompetisie met tydgenote wat betref materiële besittings, verskerp ook innerlike konflik by die tiener tussen sy beskouing van dit wat hy is op daai oomblik, en dit wat aan hom voorgehou word as die ideaal.

Laastens glo ek dat te veel volwassenes, of dan in hierdie geval spesifiek dié volwassenes wat in ontwikkelde lande die rol moet vervul van ouers van tieners, nie die vaagste begrip het van die prosesse van identiteitsvorming nie, en ook geen idee het van die mees elementêre filosofiese vraagstukke waarmee tieners gekonfronteer word nie. Hierdie gebrek aan die kant van die ouers dra by daartoe dat tieners antwoorde op die vrae na WIE, WAT en PLEK op hulle eie maniere probeer formuleer, en soms op enige manier wat naastenby bevredigend is. Onkunde is weereens die sondebok. Verligting is weereens verlossing …

______________________

Ek glo steeds …

SATERDAG 3 JULIE 2004

Laat my toe om enkele waarhede ter tafel te lê:

1. Identiteit speel ’n kardinale rol in die normale funksionering van ’n individu.

2. Die partikulêre gemeenskap waarbinne ’n mens gebore en getoë word, speel ’n primêre rol in die vorming van identiteit.

3. Dit is baie algemeen dat ’n partikulêre godsdiens ten nouste verweef is met ’n partikulêre gemeenskap; hierdie godsdiens is in vele gevalle ’n kardinale bepaler van identiteit vir mense wat gebore is en grootgeword het in hierdie gemeenskap.

4. Vir die aanhangers van verskeie godsdienste is dit belangrik om aanspraak te maak op die universele toepassing van ’n spesifieke godsdienstige “waarheid”.

5. Dit is te verstane as ’n persoon wat gebore is en grootgeword het in ’n gemeenskap waar ’n “universele toepassing” godsdiens ’n primêre bepaler is van identiteit, ter wille van sy of haar eie partikulêre identiteit, hierdie aansprake resiteer, en dit ook so sal oordra aan die volgende geslag.

’n Vraag: Kan rasionele mense kwalik geneem word as hulle ’n skeptiese houding koester jeens die aanspraak op “universele waarheid” deur die aanhangers van enige partikulêre godsdiens?

Anders gestel:

a) Gemeenskappe funksioneer orals in die wêreld as bronne van partikulêre identiteit.

b) Om as buitestander ’n partikulêre gemeenskap se geldigheid te bevraagteken as bron van identiteit bloot omdat jou eie identiteit nie afkomstig is van daai bron nie, is onlogies. (Dit sal beteken dat een wat buite jóú gemeenskap gebore is en grootgeword het, ook die geldigheid van jou gemeenskap as bron van identiteit kan bevraagteken omdat sy identiteit nie afkomstig is van jóú gemeenskap nie.)

c) ’n Partikulêre godsdiens is, in talle gevalle, ten nouste verweef met ’n partikulêre gemeenskap, en vervul ’n belangrike rol in die definiëring van identiteit.

d) Gemeenskap A is dus as ’n bron van identiteit gelyk aan Gemeenskap B.

e) Dit kan ook gesê word dat Godsdiens A as ’n bron van identiteit gelyk is aan Godsdiens B.

Drie vrae:

1. Op watter basis kan aanhangers van Godsdiens A, in ag genome bogenoemde punte, steeds aandring op universele toepassing van hulle “waarhede” – oor alle tydsgrense, kulturele grense, en alle ander grense heen?

2. Op watter basis kan die aanhangers van Godsdiens A – wat heel waarskynlik aanhangers van daai partikulêre godsdiens is omdat daai partikulêre godsdiens ’n primêre gegewe faktor was in die proses waaruit hulle identiteite gevorm was – die bewering maak dat hulle godsdiens waarde het wat verder strek as die waarde van Godsdiens B – wat ’n soortgelyke rol vervul as identiteitsbepaler in Gemeenskap B?

3. Waar word die lyn getrek tussen godsdiens as oordragmedium van “tydlose waarhede” (ongeag hoe waar dit mag wees), en godsdiens as bepaler van identiteit?

Na deeglike besinning oor hierdie onderwerp, is daar nog ’n vraag wat mens nie die versoeking kan weerstaan om te waag nie: WAT IS DIE WAARHEID?

Dis maklik om een van die beginsels van sekulêre religie te resiteer en te antwoord, “Die waarheid is relatief.”

Ek glo egter steeds dat daar ’n ABSOLUTE, UNIVERSELE WAARHEID is. Ek glo verder dat die partikulariteit van noodlotsdata waarmee enige mens gekonfronteer word met geboorte, die gegewendheid van die instrumente waarmee uitdrukking gegee word aan ’n bewussyn van individuele self, en die noemenswaardige rol van godsdiens as ’n mede-bepaler van identiteit, alles stukkies is van die legkaart wat die WAARHEID is.

Ten laaste, glo ek dit is moontlik vir ’n mens – ’n lewende lid van die spesie Homo sapiens – om die volle, absolute, universele, tydlose waarheid te ken?

My antwoord bly steeds, sonder twyfel, nee.

______________________