Man in die spieël – groei – Renaissance man

SONDAG 1 AUGUSTUS 2004

Wie is daai man in die spieël? (En hoekom kyk hy so na my?)

Die uitdaging, soos ek reeds teen dié tyd al soveel keer geresiteer het dat sommige lesers se kop seker wil draai by die blote sig van die woorde, is … om te verskyn as wie en wat jy werklik is. (Daar, dit was nie so erg nie, was dit?)

My punt op hierdie oomblik is egter dat ’n mens soms terugval op ou verskynings wat nie meer werklik geldig is nie, maar wat vertrou kan word vir goeie reaksie. Hierdie tipe situasie los homself weldra op, op ’n natuurlike wyse – of dan hopelik so, anders sal die selfverloëning ’n oop, brandende sweer word.

Dit is egter belangrik om, as ’n mens miskien in ’n spesifieke situasie anders verskyn het as hoe jy jouself sien, jy nie sonder versuim ’n badkamerspieël moet gaan soek om paniekerig vir jouself te gil, “Wie is ek … of wie is jy?!” nie. Weet, en verstaan dat selfs al verander jou beeld van jouself met die verloop van tyd, jy moontlik steeds soms as jou “ou self” sal verskyn ter wille van veiligheid, of positiewe reaksie, of positiewe resultaat in ’n spesifieke situasie.

Die ideaal is uit die aard van die saak dat jou huidige, en hopelik geloofwaardige self voldoende vertroue sal opbou sodat jy kan verskyn as wie en wat jy is, op enige spesifieke tydstip van jou lewe.

MAANDAG 2 AUGUSTUS 2004

Om te groei en te ontwikkel en uitdrukking te gee – of om te kies om dit nie te doen nie

Jy ervaar die werklikheid. Dit is moontlik om uitdrukking te gee aan hierdie partikulêre ervaring.

Jy het ook ’n identiteit. Dit is moontlik om jou begrip te verbeter van wie jy is, wat jy is, en wat jy met jou lewe wil doen.

Jou keuse, op hierdie oomblik, is of jy hierdie dinge wil erken, hierdie moontlikhede, en om voort te gaan met die proses van persoonlike groei en ontwikkeling, of nie.

WOENSDAG 4 AUGUSTUS 2004

In “Renaissance Man” verander Danny De Vito se karakter die omgewing waar hy woon en werk van ’n kantoor in die middestad en ’n huis in ’n middelklasvoorstad na ’n militêre opleidingkamp. Hy vind dat hy in werklikheid nie ’n advertising ou is nie maar ’n “teacher”. Hy raak skielik toegewyd aan wat hy doen, en hy voel vir die eerste keer in jare dat hy êrens behoort. En, siende dat die formule altyd reg werk in movies, vind hy natuurlik ook die liefde van sy lewe.

______________________

Wat sou jy wees as jy nie VERSKYN het nie?

WOENSDAG 4 AUGUSTUS 2004

As jy nie nodig gehad het om te verskyn nie, sou jy nie veel van ’n sogenaamde identiteit nodig gehad het nie. Of miskien moet ek eerder sê, die manier hoe jy wel aan jouself sou dink as jy nie nodig gehad het om te verskyn nie, sou nie die goedkeuring van die gemeenskap nodig gehad het nie – menende in daaglikse gesig-tot-gesig verskynings.

Identiteit wat herken en tot ’n mate goedgekeur word deur die gemeenskap word dus hoofsaaklik benodig vir VERSKYNING. In ag genome hierdie verbintenis tussen identiteit en verskyning op bepaalde tydstip en plek, wat sou die waarde daarvan wees om nie te verskyn nie?

[Nota op 10 Augustus 2007: Identiteit word hoofsaaklik benodig vir verskyning? Ek sit nou alleen agter my rekenaar, en ek het op hierdie oomblik nodig om te weet wie ek is.]

[Nota op 23 Mei 2012: Ek sit nou alleen agter my rekenaar en ek dink aan myself op ’n spesifieke wyse, wat vir alle praktiese doeleindes daarop neerkom dat ek identiteit het. Hoekom? Omdat ek daagliks verskyn aan mense, en dan tussen verskynings inskuif agter die rekenaar … waar ek nie ’n knoppie kan afskakel na iets wat laat flikker wie ek is nie. Plus, dalk vereis die werk wat ek doen, soos hierdie skryfmateriaal, dat ek identiteit moet hê. Hoekom? Want wat ek skryf, is verteenwoordigend van my, en sal absoluut betekenisloos wees as “ek” nie verskyn aan die leser as mens-met-identiteit nie. Die leser sal nie kan vereenselwig met wat ek skryf nie, en sal derhalwe niks ernstig opneem wat ek sê nie. Dus, hoewel ek nie tans verskyn aan enige iemand nie, het ek steeds identiteit want ek onthou wie ek was tydens my mees onlangse verskyning, en ek het nodig om oor identiteit te beskik op kort kennisgewing – as iemand byvoorbeeld aan die deur klop. En selfs as jy alleen is, doen jy dalk werk wat identiteit vereis.]

______________________

Terugkeer na die gesprek met die Mormoonse sendelinge (wat net gedeeltelik plaasgevind het – ook op die trein)

SONDAG 1 AUGUSTUS 2004

Ek: “You are reciting words you’ve been taught in order to confirm your identity – the way in which you are part of the Bigger Picture, and to give expression to your experience of this reality. Your expression of your particular experience of reality is neither creative nor original. Why should I listen to you?”

Mormoonse sendeling: “Because what I have to say may save your life.”

Ek: “You don’t know that. You choose to believe that for reasons I have already mentioned. But you don’t know if any of it will work out. You choose to believe that it will.”

* * *

Waar’s my argument verkeerd?

Ek sal wel dit sê, as die WERKLIKE, ABSOLUTE WAARHEID ooit geopenbaar word aan iemand in ’n woestyn of ’n grot of in een of ander wildernis, en die persoon gaan aan die preek, sal ek dieselfde argumente op hom afvuur … want ek sal veronderstel hy’t maar net by iemand anders die woorde gehoor wat hy nou aan die algemene publiek “resiteer”.

En dan moet ek seker, as ek redelik wil wees, erken dat die WERKLIKE, ABSOLUTE WAARHEID moontlik al wel geopenbaar is, en dat ek, as we speak, argumente soos bogenoemde lanseer op die preker-sendeling van hierdie Heilige Waarheid.

Maar dan, gestel die WERKLIKE WAARHEID is reeds geopenbaar, sou enige iemand dit werklik kon ignoreer? Sou dit obskuur wees? Sou gewone sterflinge soos die uwe links en regs argumente kon formuleer en dit aan die BOODSKAPPER VAN DIE WAARHEID kon afsmeer asof ek besig is om met my ouer suster te redeneer? Ek glo nie. (En as ek sou kon, watse tipe waarheid is dit dan?)

______________________

Verskyning – ken jouself – gebuigde wêreld

WOENSDAG 21 JULIE 2004

Verskyning is die probleem

Insigte en frustrasies van die afgelope week of so, aangehelp deur die feit dat ek skryfmateriaal van so vier jaar gelede hersien op die oomblik, het ’n patroon gevorm van onvergenoegdheid met hoe ek verskyn aan die wêreld op die oomblik – dieselfde probleem as vier jaar gelede, maar grootliks afwesig toe ek in Taiwan gearriveer het en nie nodig gehad het om betekenisvolle sosiale verskynings te maak nie.[1] Hierdie verskyningsprobleem hou direk verband met behoeftes (veral aan intieme kontak) wat nie tans bevredig word nie.

Voorheen – soos vier jaar gelede – sou ek dit nie behoorlik verstaan het nie. Ek sou net geweet het “Ek is nie gelukkig nie” of “Ek is gefrustreerd,” en ek sou gewens het ek het meer geld gehad om beter klere en miskien ’n beter ryding te kon koop, en ek sou lyste gemaak het vol items wat sou dui op ’n meer ideale self.

Nou weet ek die probleem is nie noodwendig wie en wat ek is, of die betrokke omgewing nie, maar spesifiek hoe ek verskyn aan die wêreld – hoewel dit nie geïsoleer kan word van ander dinge nie. Ek is dus relatief gelukkig met myself, op my eie, in my eie privaat herberg in Benewelde Lig, maar wat my pla is hoe ek verskyn. VERSKYNING is die probleem.

Dat ek die probleem nou beter kan identifiseer en duideliker kan verwoord is ’n aanduiding van die ontwikkeling van my begrip van dinge gedurende die afgelope vier jaar.

———-

[1] Vir die leser wat nie die depressiewe prosa van die tweede helfte van 2000 te siene gekry het nie, of wat dit oorgeslaan of geïgnoreer het, kortliks: ek moes in 2000 skielik weer sosiale verskynings maak, wat in 1999 grootliks onnodig was omdat daar feitlik geen ander Suid-Afrikaners in Kaohsiung was nie.

Net toe jy reken jy ken jouself

Vra vir iemand, “Wie is jy?” Verskerp die druk miskien effens deur by te voeg, “Ek vermoed jy weet nie regtig wie jy is nie.”

Die reaksie van menige persoon op so ’n ongeskikte stelling illustreer die uitdaging waarvoor elkeen van ons staan: Kan jy verwoord wie jy dink jy is? Kan jy uitdrukking gee daaraan?

WOENSDAG 28 JULIE 2004

Die gebuigde wêreld

Gedagte by Gebuigde Dorp stasie: Ek het nie ’n probleem met die “mooi wêreld” nie; ek het ’n probleem met die prys waarteen mense lidmaatskap aan hierdie wêreld aanskaf.

In die verbruikersamelewing offer vele mense daagliks kreatiwiteit en ure op – verloën hul ware natuur, as’t ware – ten einde krediet te bewerkstellig waarmee hulle lidmaatskap aan die sogenaamde mooi wêreld kan koop.

Dit was my posisie ’n paar jaar gelede; dit is my posisie nou.

Skoonheid sonder substansie is, in die finale telling, net ’n mooi dop.

______________________

Voorwoord vir die totale projek

PERSOONLIKE AGENDA bestaan uit drie boeke:

Boek een, ’n versameling notas, korrespondensie en ander stukke, strek vanaf Januarie 1999 tot en met Mei 2003.

Boek twee is geskryf tussen Mei en Desember 2003. In kontras met die eerste boek, is die materiaal in hierdie deel geskryf met die akute bewustheid dat ek besig was om te werk aan ’n projek.

– Die laaste stopteken sou nie ingepons kon word sonder dat ek tevrede was dat ek, vir eers, genoeg gesê het nie. Boek drie is geskryf in Januarie en Februarie 2004.

My aanvanklike werkstitel vir die projek was eenvoudig: “Brand se Boek”. Teen die tyd wat ek die eerste uitdruk gemaak het van wat nou BOEK EEN is, het die titel verander na, “Oor aartappelslaai en ander belangrike sake” (ek het selfs ’n opstel geskryf oor my gunsteling kantgereg).

Nadat ek die tweede naskrif tot die eerste boek afgehandel het, het die idee van die “persoonlike agenda” homself aan my voorgedoen. Ek het gehou van die eerlike aard daarvan. Die frase word gereeld gebruik in skinderpraatjies, om ander te waarsku dat die betrokke individu ’n “agenda” het, en dat hierdie soms geheimsinnige sake sy of haar eerste prioriteit is. Dit was vir my belangrik om nie te wag tot iemand anders ’n lig daarop werp nie, my eie agenda as’t ware vir my verduidelik nie. Ek wou dit van die voorblad af bekend maak: Hierdie materiaal beskryf tot ’n groot mate ’n persoonlike agenda.

Soos hierdie tipe dinge natuurlik gereeld uitwerk, het die proses om die besonderhede van hierdie agenda te ontdek en dit te verwoord, temas aangeraak wat veel verder strek as net my eie soms onbeduidende bestaan.

(28 Julie 2004)

______________________

Brand Smit wou nooit ’n blogger wees nie

Sondag 28 Augustus 2011

Ek was al negatief oor die idee van “blogging” vandat ek die eerste keer gelees het daarvan in ’n koerant in 2004.

“Mense skryf oor hulle lewens en publiseer dit op die internet vir almal om te lees?” het ek gedink, terwyl ek vertroostend oor my notaboek gestreel het. “Wat skryf hulle nogal wat ander mense interessant sal vind?”

Siende dat ek neuroties daaroor was om deel te wees van enige groep, of gesien te word as dat ek dalk net miskien een of ander populêre tendens volg, het ek gereken: “Ek – ’n blogger? Nooit.”

Vroeg 2006 ontdek ek toe hoe om ’n domeinnaam te registreer, en BRANDSMIT.NET maak sy verskyning. Ek het weer gedink aan die idee van ’n blog, maar die outomatiese datering van inhoud – die dag wat jy die inhoud publiseer op jou blog word outomaties aangedui as die dag wat die inhoud ontstaan het – was ’n groot probleem. Daar was geen kans dat ek gelukkig daarmee sou wees dat ’n essay wat ek geskryf het in November 1999, skielik sou verskyn as dat ek dit geskryf het in Maart 2006 nie.

Die moontlikheid dat die datum handmatig verstel kan word, het eers ’n paar jaar later tot my deurgedring. Die publikasie van al die materiaal van my Persoonlike Agenda-projek op hierdie platform is die resultaat.

______________________