Taiwan en onafhanklikheid: Redelike argumente

DINSDAG 28 MEI 2024

Hier’s ’n toets vir ’n leier van ’n onafhanklike Taiwan: Erken jy dat jou klein nasie deur ’n supermoondheid aan die ander kant van die aardbol uitgebuit kan word om hul mededinger, wat jou naaste buurman is, te ondermyn? Besef jy dat die aanvaarding van militêre bystand van hierdie supermoondheid gesien sal word deur jou naaste buurman as pogings om hulle natuurlike groei as ’n streeks- en wêreldmoondheid te ondermyn? As jy nie daarin slaag om dit te erken en hierdie werklikheid te begryp nie, het jy geen saak om die leier van ’n land te wees nie, nog minder ’n de facto maar nie de jure onafhanklike een nie.

WOENSDAG 16 OKTOBER 2024

’n Redelike argument kan gemaak word dat Taiwan onafhanklik moet wees. Die land en haar mense het bewys in die laaste sewe dekades dat hulle nie enige nie-Taiwannese politieke meesters nodig het om hulle sake te kan behartig nie.

Nog ’n insig wat ek onlangs gekry het uit die boek, A New Illustrated History of Taiwan, deur Chou Wan-yao, is dat Taiwan nie net deur die Japannese gekoloniseer is tussen 1895 en 1945 nie, maar tussen 1945 en ten minste die 1990’s tot ’n groot mate ook deur die Nasionalistiese regering van die Republiek van China – wat hulle ook gedwing het om ’n taal te praat waarmee hulle nie bekend was nie (Mandaryn, oftewel die Beijing dialek van Chinees), en wat hulle ook geforseer het om te fokus op die geskiedenis van ’n moederland wat nie Taiwan was nie (naamlik Vasteland China), met feitlik geen aandag wat gegee is aan die unieke historiese ervarings van die mense van Taiwan nie. Dit kan verder geargumenteer word dat vele Taiwannese sekerlik angstig is daaroor om vir die derde keer in meer as ’n eeu gekoloniseer te word – dié keer deur die regering van die Volksrepubliek van China.

Ek reken twee punte moet hier beklemtoon word:

1. Taiwan waag die welsyn en voortbestaan van miljoene mense op die eiland van Taiwan as hulle ’n noue bondgenootskap bewerkstellig met die Verenigde State van Amerika. Twee stellings van die Amerikaanse staatsman, Henry Kissinger, is relevant: “America has no permanent friends or enemies, only interests” en “[It] may be dangerous to be America’s enemy, but to be America’s friend is fatal” (laaste een was meer ’n waarskuwing dat indien sekere dinge gebeur in Suid-Viëtnam in die laat 1960’s, Amerika as sulks gesien sal word). Feit is, Amerika het ’n historiese rekord van ander lande uitbuit vir hul eie nasionale behoeftes en politieke agendas, en wanneer dit duidelik raak dat dinge nie gaan uitwerk soos hulle gedink het nie, dan onttrek hulle. En die land wat hulle vertrou het, sit met die gebakte pere. Taiwan het ongelukkig meer as ’n paar politici en gewone burgers wat naïef glo dat Amerika die beste vriend in die wêreld is; dat Amerika Taiwan sal bystaan indien China ooit die eiland aanval, en dat Amerika nooit Taiwan in die steek sal laat nie.

2. Die regering in Beijing het ’n beter argument as die regering in Taipei oor wie volgens internasionale konvensie beheer behoort uit te oefen oor die areas wat regeer word deur die Taiwannese regering – wat hulleself steeds amptelik voordoen as die regering van die Republiek van China. Kortliks: Die Qing-regering het Taiwan en ander eilande afgestaan aan Japan in 1895. Na die Tweede Wêreldoorlog het Japan alle vorige verdrae wat deur Imperiale Japan onderteken is met betrekking tot China, nietig verklaar, insluitende die 1895-verdrag van Sjimonoseki, en daarmee hul aanspraak op Taiwan opgegee. Die Volksrepubliek van China is die opvolgerstaat van die Chinese republiek wat bestaan het tot en met 1949 onder leiding van die Chinese Nasionalistiese Party, sowel as van die Qing-staat wat geval het in 1912, en het beheer geërf van alle gebiede wat voorheen onder die beheer van daardie state of regerings was. Die regering in Taipei was tot en met die 1970’s deur dosyne lande, insluitende die VSA, beskou as die wettige regering van die hele China, insluitende Taiwan. Die Taipei-gebaseerde Republiek van China word egter sedert die laat 1970’s nie meer deur meeste lande erken as die wettige verteenwoordiger van die mense van China nie. Wat ons terugbring by ’n vorige punt: Die Volksrepubliek van China is die opvolgerstaat van die Qing-staat, sowel as van die Chinese republiek wat deur die KMT-regering gelei is in Vasteland China tot en met 1949, en het wettig beheer geërf van alle gebiede wat voorheen onder die beheer van daardie state of regerings was, insluitende die eiland van Taiwan en omliggende eilande. Indien die regering in Taipei en die 23 miljoen burgers van die eilande van Taiwan ’n kans wil staan om amptelik onafhanklike status te verkry, moet hierdie ambisie met Beijing uitgewerk word.

VRYDAG 18 OKTOBER 2024

Die tyd is ryp om te praat oor Taiwannese onafhanklikheid.

Die regte manier vir Taiwan om daaroor te praat, is met China.

Die verkeerde manier om daaroor te praat, is vir die president van die Republiek van China (Taiwan) om uitlatings te maak dat Taiwan en China aparte entiteite is – ten spyte van wat die konstitusie dikteer wat aan die Taiwan president sy posisie gee, en dat China nie enige reg het om in Taiwan se sake in te meng nie. Om die status quo dan nog verder te skommel in reeds onstuimige waters, beweeg Taiwan nóg nader aan die wêreld se mees aggressiewe supermoondheid, die VSA, wat China beskou as haar grootse geopolitieke teenstander.

De jure Taiwannese onafhanklikheid, na sewe dekades van de facto onafhanklikheid, is inderdaad ’n hoogs relevante onderwerp wat verdien om bespreek te word op die hoogste staatkundige vlakke. Maar hierdie saak moet onderhandel word met China, in ag genome redelike argumente dat Taiwan deel is van Een China. Uitdagende uitlatings van die Taiwannese kant af met skimpe van oorlog met Amerika as veronderstelde bondgenoot, is die verkeerde manier om die onderwerp aan te roer.

SATERDAG 19 OKTOBER 2024

Natuurlik sê mense China sal nooit instem tot Taiwannese onafhanklikheid nie.

Wat is die alternatief? Amerika maak ’n militêre basis oop op een van die eilande wat Taiwan beheer naby aan die Chinese kus, met die idee dat hulle beter beskerming sal kan verleen aan Taiwan vir wanneer die Taiwannese president eensydig onafhanklikheid aankondig? Of, die president ontmoet met amptenare van die Amerikaanse regering, wat hom, hand op die bors, verseker van al die geld en wapens en sanksies wat Amerika kan optower om Taiwan te help indien die eiland-staat amptelik onafhanklikheid verklaar? Dat die militêre konflik wat sal volg daarop aanvanklik die Amerikaanse regering se langtermyn doelwitte sal dien om China ekonomies, diplomaties, en militêr te verswak as ’n geopolitieke opponent ten koste van honderde-duisende Taiwannese se lewens, sal seker spoedig geëtiketteer word as disinformasie – as sogenaamde “gesprekspunte” van Beijing.

In die werklike wêreld is daar slegs twee opsies vir Taiwan in die volgende dekade of drie: 1) As ’n provinsie van China met sekere voorregte, soos ’n eie geldeenheid en selfs ’n eie vlag, en 2) As ’n onafhanklike maar noue bondgenoot van China.

WOENSDAG 30 OKTOBER 2024

Om op te som:

1. Aktiviste vir Taiwannese onafhanklik maak ’n redelike argument hoekom Taiwan verdien om erken te word as ’n onafhanklike staat.

2. Taiwan se onafhanklikheid sal onderhandel moet word met die regering van die Volksrepubliek van China, en niemand anders nie. Hoekom? Onafgehandelde sake van die Tweede Wêreldoorlog en die gevolge daarvan, en van die Chinese Burgeroorlog.

3. Argumente kan gemaak word hoekom die regering van die Volksrepubliek van China Taiwannese de facto onafhanklikheid behoort te erken, en staat-tot-staat diplomatieke verhoudings aan te knoop met Taiwan.

4. Die regering van die Volksrepubliek van China sal heel waarskynlik nié instem tot Taiwannese onafhanklikheid nie, vir rasionele redes wat sin sal maak vir enige iemand wat die agtergrond verstaan, asook die mandaat wat die regering in Beijing glo hulle het om te regeer oor alle grondgebied wat deel uitgemaak het van China voor die volksrepubliek uitgeroep is in Oktober 1949.

5. Die regering in Taipei sal uiteindelik ’n skikking bereik met die regering in Beijing dat Taiwan na vyf of tien jaar ’n outonome, of kwasi-selfregerende provinsie sal wees van die Volksrepubliek van China. Daar sal weerstand wees van Taiwannese nasionaliste, maar uiteindelik sal die meerderheid van die bevolking van Taiwan die nuwe politieke status aanvaar.

6. Daar sal vrede wees.

______________________