DINSDAG 10 JUNIE 2025
Ek skryf nie meer juis oor mense se godsdienstige oortuigings nie, maar ek het onlangs ’n gedagte gehad oor eerlikheid.
’n Paar weke gelede hoor ek ’n storie oor ’n man wat sy werk bedank het. Tydens ’n godsdienstige samekoms sê hy toe aan almal teenwoordig dat hy voortaan op God sal vertrou vir sy brood en botter. Iemand in die gemeente staan toe kort daarna op en verklaar dat hy ’n plaas het, en dat hy die beheer daarvan sal oorlaat aan die man wat nou sonder werk is.
“Prys die Here!” roep dosyne mense uit. God het voorsien.
’n Alternatiewe verklaring is dat dit in almal teenwoordig se belang is dat “God sal voorsien.” Die man wat die plaas besit het, het gedink: Ek het iemand nodig om die plaas te bestuur. Staan ek nou op en maak dit bekend, sal God tog voorsien het in die man se behoeftes.
Wat hy dalk nie sou gedink het nie, maar wat waar sou wees: Sy aansien in die geloofsgemeenskap sou ook styg, want hy sou gesien word as ’n “instrument in God se hande”.
Dis waar eerlikheid inkom.
Gestel ’n persoon wat identifiseer as Christen sê: “Ek sien wat jy bedoel. Dalk is dit net ’n geval van ’n groep mense wat wil hê dat sekere dinge waar moet wees, en dit is in hulle belang om dinge te doen wat die indruk sal skep dat dit waar is. Ek kan sien hoe dit so verstaan kan word. Nietemin, ek kies steeds om te glo dat God werklik voorsien het, en dat Hy deur die man met die plaas gewerk het.”
As so ’n persoon hierdie stelling maak, is die argument verby. Ek sal niks verder hê om by te voeg nie. Ek sal die man se hand skud, hom bedank vir sy eerlikheid, en hom ’n goeie lewe toewens.
Gestel nou so ’n persoon wat identifiseer as ’n Christen neem ’n ander posisie in, en hou vol dat dit God was wat voorsien het, en dat hy weier om enige ander moontlikheid in te sien.
Vir hierdie persoon sal ek sê: “Jy is dalk reg, maar jy is nie eerlik nie.”
______________________