Die euwel van apartheid in praktyk

MAANDAG 1 AUGUSTUS 2022

Was die Suid-Afrikaanse regeringsbeleid bekend as Apartheid ’n euwel, soos vele mense reken dit was?

Die idee van aparte ontwikkeling, dat Zoeloes hulle eie grondgebied het wat vir hulle historiese waarde het, met hulle eie regering wat besluite neem oor sake wat vir Zoeloes belangrik is, of wat probleme oplos op wyses wat strook met die waardes waarmee meeste Zoeloes vereenselwig, met Zoeloe kulturele organisasies en skole en universiteite, en dan dieselfde vir Xhosas en Sotho’s en so meer, is óf ’n werkbare idee, óf nie realisties in ag genome die realiteite van die Suid-Afrikaanse ekonomie en breë samelewing nie.

Maar is dit ’n euwel idee? Ek reken, nee.

Die boosheid het die verhaal betree met hoe die beleid in die praktyk uitgevoer is, die wyse waarop die Nasionale Party-regering op weerstand teen hul beleid gereageer het, en die diepgesetelde vooroordele wat as die grondslag van die ideologie gedien het.

Die beleid geïmplementeer deur die regering het uiteindelik ingesluit die geforseerde verwydering van gemeenskappe uit woonbuurte waar mense van verskillende rasse al vir dekades saamgewoon het; die afdwing van identifikasiedokumente wat slegs swart volwassenes op hulle persoon moes dra, waarsonder hulle in hegtenis geneem kon word; wette wat swart mense verbied het om stedelike areas binne te gaan tensy hulle kon bewys dat hulle werksaam was in die area; ’n verbod op huwelike tussen lede van verskillende bevolkingsgroepe; ’n beperking op waar swart entrepreneurs besighede kon oopmaak; en die segregasie van publieke areas en fasiliteite, publieke vervoer, asook skole en universiteite, met die gevolg dat swart Suid-Afrikaners oor die algemeen ’n aansienlik laer kwaliteit van lewe ervaar het as wit Suid-Afrikaners.

Hoe het die regering gereageer op teenstand teen hulle beleid? Hulle het gereageer met dodelike geweld teen protesaksies, die leiers van die weerstand in die tronk gegooi, en burgerregte organisasies verban.

Die ergste van die apartheidsregering se dade was egter om ’n tipe sielkunde en ’n tipe filosofie toe te pas wat aan die volwasse swart bevolking gesê het: Jy is minder mens omdat jy swart is. Jy is minder werd as die wit man en vrou aan die ander kant van die stad wat net so oud soos jy is, net so slim (of dom) soos jy is, wat ook lief is vir sy of haar kinders. Jy’s minder werd as die wit mense, omdat jy swart is. Opvoeding in skole het dit ook duidelik gemaak aan swart kinders dat hulle voorland nie was as ingenieurs en tandartse en argitekte nie, maar hoofsaaklik as arbeiders en diensknegte van wit mense. Hendrik Verwoerd, Minister van Naturellesake van 1954 tot 1958 en later Eerste Minister van Suid-Afrika, het gesê oor die opvoeding van swart kinders: “[D]aar [is] nie plek vir die Bantoe in die Europese samelewing bokant die vlak van sekere vorms van arbeid nie. Wat is die nut daarvan om vir die Bantoekind wiskunde te leer as dit nie in die praktyk gebruik kan word nie?”

Nie net is swart kinders afgeskeep in hulle formele opvoeding nie, volwasse swart mans en vrouens is ook sistematies herinner aan hulle tweedeklas status in die Suid-Afrikaanse samelewing. Jong wit polisiekonstabels kon middeljarige swart mans en vrouens in die straat stop en eis om hulle “papiere” te sien. Swart kinders is Afrikaanse of Engelse name gegee wat makliker was om uit te spreek vir wit mense, en as die volwasse swart werker nie ’n Afrikaanse of Engelse naam gehad het nie, is hy of sy een gegee. Wit mans moes aangespreek word as “Baas”, selfs al het die swart man of vrou nie vir die wit man gewerk nie. Tot so onlangs as die laat negentien-tagtigs is swart mans en vrouens nie toegelaat om publieke vervoer te gebruik wat vir blankes bedoel was nie, of is slegs toegelaat om derdeklas sitplekke te gebruik.

Steve Biko, 1970s (Bron: Onbekend, kopiereg besit deur die Steve Biko Foundation)

Al hierdie maatreëls is toegepas om die idee te verskans dat die wit persoon die meester is en die swart persoon die dienskneg. Toe swart intellektuele soos Steve Biko vanaf die sestigerjare die idee wou promoveer van Swart Trots, toe hulle die idee wou populariseer dat ’n volwasse swart man en vrou hulle koppe moes oplig en moes aandring op waardige behandeling – dat hulle inderdaad moes glo dat hulle die eweknie was van hulle sogenaamde wit meesters, is hierdie leiers wreedaardig onderdruk. Steve Biko self is eers geïntimideer, toe gearresteer, en uiteindelik so erg aangerand dat hy beswyk het aan sy beserings. Sy oortreding? ’n Radikale boodskap aan wit én swart: [As] a prelude whites must be made to realise that they are only human, not superior. Same with Blacks. They must be made to realise that they are also human, not inferior.” En: “The first step therefore is to make the black man come to himself; to pump back life into his empty shell; to infuse him with pride and dignity, to remind him of his complicity in the crime of allowing himself to be misused and therefore letting evil reign supreme in the country of his birth.”

Dit is op hierdie punt – waar jy die gees wil verguis van iemand omdat hy verskil met jou politieke beleid, om sy wil te breek sodat hy nooit weer sal dink daaraan om op te staan teen jou nie, waar enige redelike mens behoort te besef hy het die grens oorgesteek na die Donker Kant: Welkom in die Land van Lucifer.

______________________