DONDERDAG 8 NOVEMBER 2018
Om nie genoeg geld te maak nie, of om finansieel te sukkel, is soos om jou hele lewe te spandeer in ’n klein dorpie, want jy dink nie jy sal dit êrens anders kan maak nie. Jy is in hierdie dorp gebore. Jy ken almal en almal ken jou. Jy ken al die strate, al die eetplekke, die beste plekke om vars groente en vrugte te kry, die beste swemplekke, die beste plek om na die sterre te kyk. Tog het jy nog altyd begeer om méér met jou lewe te doen. Jy wou nog altyd meer as net hierdie klein dorpie ervaar het, en ander mense ontmoet het – verskillende mense, miskien selfs interessanter mense; mense met verskillende lewensuitkyke en verskillende menings. Jy’t al selfs gedink daaraan om ander tale te leer. Jy voel dikwels gefrustreerd, soms eensaam, dikwels ongelukkig, maar almal is van mening dat jy dit nêrens anders sal kan maak nie. (Kyk na so-en-so wat probeer het – kyk waar hulle opgeëindig het, sal die mense altyd sê.) So, jy hou jou drome vir jouself en byt maar vas tot die einde toe.
Intussen is die wêreld vol mense wat uit klein dorpies gekom het, wat drome gehad het, wat hulle drome nagestreef het, en wat geglo het dat ook húlle dit op plekke kan maak wat groter is as die klein dorpies waar hulle gebore is en grootgeword het. Hulle het geglo dat hulle nie net oukei sal wees nie, maar dat hulle in ’n groter wêreld met minder beperkings en meer opsies sal kan floreer – waar hulle meer sal kan ervaar, meer sal kan leer, en sal kan groei tot in die volste weergawe van wie hulle kan wees.
* * *
Ek het vir veertien jaar lank sigarette gerook. Ek het gedink aan myself as ’n roker. By sosiale geleenthede het ek geweet wie die ander rokers was, en saam met hulle buite op die balkon of op die stoep gestaan en rookwalms blaas. Toe kom die punt wat ek ernstig daaroor geraak het om op te hou rook (of ernstiger as die vorige kere). Binne ’n kwessie van ’n paar maande het ek aan myself begin dink as ’n gesonde ou – ’n nie-roker. Na ’n paar jaar het ek nie eens meer per geleentheid een of twee sigarette buite ’n restaurant gerook saam met gewoonterokers nie. Ek het ten volle die identiteit van die roker ontgroei. Rook was iets wat ek op ’n stadium gedoen het, maar waarvan ek aanbeweeg het.
Dieselfde met beskouings oor geld en sukkel om geld te maak. Vir lank was dit deel van my identiteit. Ek het myself gesien as iemand wat sukkel om geld te maak. Ek het myself gesien as iemand wat beter sou doen in ’n wêreld waar geld nie so ’n groot faktor is nie. Ander mense het my ook geken as iemand wat nooit veel geld het nie – as hulle dit nie kon raai nie, het ek waarskynlik iets gesê wat dit duidelik sou maak.
Nou weet ek dat hierdie identiteit van sukkelaar-met-geld ook nie die waarheid was nie. Ek was nooit in wese ’n roker nie; dit was bloot ’n slegte gewoonte wat ek vir ’n paar jaar gehad het. So ook is dit nie my waarheid dat ek moet sukkel om geld te maak nie. Dat ek vir jare lank daarmee gesukkel het, was eenvoudig die resultaat van onbeplande slegte kondisionering, gebrek aan die regte opvoeding oor geld (waarvoor ek self verantwoordelikheid aanvaar siende dat ek al vir amper dertig jaar ’n volwassene is), en – soos sigarette – ’n paar slegte gewoontes wanneer dit gekom het by geld.
* * *
Wanneer jy jonk is, kom idees oor geld en oor geld verdien soms universeel voor; dit wil sê, jy veronderstel dat jy dieselfde idees en opvattings deel met jou skoolmaats en neefs en niggies en ander mense van dieselfde ouderdom in jou buurt.
Wat ’n mens natuurlik eers jare later besef, is dat opvattings oor geld, ’n mens se verhouding met geld, hoe dit werk om geld te verdien en te akkumuleer en te belê of daarmee rond te speel, selfs hoe jy dit spandeer, spesifiek was tot jóú, en miskien jou sibbe. Daar is ’n goeie kans dat jou skoolmaats en vriende en neefs en niggies van min of meer dieselfde ouderdom, en ander kinders in die buurt, ’n totaal verskillende opvoeding gekry het oor geld en verwante sake.
Natuurlik kry jy uitgebreide families of buurte of gemeenskappe waar daar groot ooreenstemming is tussen wat volwassenes hul kinders leer oor persoonlike finansies. Nietemin, ’n mens se verhouding met geld, en wat jy jou kinders leer, of wat jy geleer het van jou ouers, kan nie so maklik vasgevat word soos godsdiens of politiek of kultuur nie, en die lesse is in vele gevalle subtiel. Dit is derhalwe maklik om as kind totaal onbewus te wees van die effek wat dit het op jou ontwikkeling, of as ouer om bewus te wees van wat jy jou kinders leer.
* * *
’n Kind word groot in ’n huis waar hy geleer word dat hy moet dans en sing vir sy brood en botter. Inderwaarheid is hy ’n ingetrokke outjie, en hy geniet dit glad nie. Dis nie wie hy is nie. Die verhoog is nie sy natuurlike domein nie. Na vele jare ontdek hy dat hy eerder huise wil ontwerp. Mens kan amper sê dat hy in wese ’n ontwerper is.
Vir my is die toestand van bekommernis oor geld soos daai outjie wat ernstig ongemaklik is op die verhoog. Bekommernis oor geld is nie my waarheid nie. Dit kom nie natuurlik vir my nie. Dit stoot op in my binneste en sit in my keel vas. Mens kan amper sê dat ek in wese ’n welgestelde ou is wie homself nooit oor geld hoef te bekommer nie.
Wat ek nou doen, is om hierdie negatiewe beskouings te konfronteer en te vervang met positiewe beskouings. Die uiteinde van die proses is dat ek sal wees wie ek nog altyd diep in my binneste was, maar nie kon uitdruk nie. Ek word dus nie ’n nuwe mens nie. Ek word bloot wie ek nog altyd was.
SONDAG 18 NOVEMBER 2018
Daar word gesê ’n mens moet buite jou gemaksone gaan as jy sukses wil behaal. Vir my, met geldmaak, was dit die teenoorgestelde. Ek het geglo geld was slegs te vinde buite my gemaksone – as iets maklik was, of lekker was om te doen, kon dit uit die aard van die saak nie werk nie. Iets moes moeilik wees, onaangenaam, vervelig. Dan, en alleenlik dan, het ek ’n kans gestaan.
______________________