VRYDAG 4 JANUARIE 2019
Vandat ek my eerste Vrye Weekblad gekoop het in die vroeë negentien-negentigs, het ek respek gehad vir Max du Preez. Ek het nog altyd gedink hy is konsekwent in sy beginsels. Hy laat homself ook nooit intimideer deur die magte van die dag nie – en veral in die laat-tagtigs en vroeë negentigs was daar menige pogings om hom te intimideer, of selfs uit die weg te ruim. Na 1994 is hy aanvanklik beloon vir sy bydrae tot die stryd om ’n demokratiese bestel in Suid-Afrika aan bewind te bring, maar dit was nie lank voor sy opinies weer die dominante politieke groepering verkeerd begin opvryf het nie. In die laaste meer as twee dekades het hy voortgegaan om boeke te skryf, en artikels en meningstukke op die internet, steeds geanker in dieselfde beginsels wat hom dertig jaar gelede gedryf het om die Vrye Weekblad te begin. Veral sy meningstukke is soms genadeloos krities. Een van die stukke wat die meeste opspraak gewek het, was sy stuk oor hoe Zuma op ’n een-man missie blyk te wees om Suid-Afrika te vernietig. Soos verwag kon word, het die stuk hom ’n selfs groter vyand gemaak van sommige politici as wat hy reeds was.
Max se nuutste rubriek vir News24 steek my egter dwars in die krop. Hy verwys in die stuk na twee insidente waarin hy onlangs betrokke was. Die eerste was toe hy ’n bottel wyn wou koop in ’n winkel in ’n dorp op die Tuinroete. Een van die twee kassiere was besig met ’n gesprek op haar selfoon; die ander een het hom geïgnoreer. Toe hy haar na ’n paar minute vra of hy maar kan betaal, was haar reaksie dat sy nog besig is met ’n ander klant, en gewys na ’n persoon wat by die deur gestaan en gesels het met die sekuriteitswag oor misdaad in die dorp. Nadat hy nog ’n paar minute gewag het, het hy die klant by die ingang genader en haar gevra of sy asseblief haar transaksie kan afhandel – hy is op ’n geel lyn geparkeer. Sy het haarself onmiddellik vervies, hom arrogant genoem, en hom gevra wanneer “you people” gaan besef hulle is nie meer die baas nie.
Max gee toe dat die situasie hom kwaai in die verleentheid gestel het omdat hy gewoonlik die persoon is wat ingryp wanneer ’n wit persoon ongeskik is met ’n swart werknemer in ’n winkel. Hy erken ook dat hy geïrriteerd was met homself omdat hy weet hy sou met aansienlik meer selfvertroue aangedring het daarop dat die ander klant haar transaksie afhandel indien sy blank was.
Hy vertel ook van ’n insident by ’n vulstasie toe ’n ander motoris amper in hom in gejaag het toe hy by die vulstasie uittrek. Hy het sy kar effens teruggetrek, en volgens hom beleefd aan die ander motoris gewys dat hy maar kan voortgaan. Die ander motoris het egter uitgespring, en vir Max gekonfronteer. “Watse gebaar was dit?” het die motoris gevra, vir Max uitgeskel as ’n rassis, en hom gedreig met geweld.
Max reken dat daar ’n groot waarskynlikheid is dat die twee mense ongeskiktheid en rassisme verwag van wit mense vanweë ervaringe in die verlede. Hy kom tot die konklusie dat hy derhalwe hulle bereidwilligheid om hom te konfronteer moet respekteer eerder as om aanstoot te neem.
Hy noem dan dat hy van vaste voorneme is om van nou af meer beskeie en vriendeliker voor te kom wanneer hy interaksie het met swart landsburgers, en ekstra beleefd en ekstra versigtig. Hy wonder of dit nie rassisties en oneerlik sal wees om swart mense anders te hanteer as wit mense nie, maar besluit dan dat dit eenvoudig die realiteit is in Suid-Afrika vandag – dat vele Suid-Afrikaners steeds worstel met die rassekwessie.
Later in die stuk skryf hy ook dat hy gevoel het dat dit onvanpas sal wees vir hom as wit persoon om sy opinie uit die spreek in die openbaar oor die slag van ’n skaap op ’n strand in Clifton.
Mens kry die idee dat Max inderdaad worstel met die korrekte formule vir hoe ’n wit mens moet optree in Suid-Afrika amper drie dekades na die einde van Apartheid. Hy erken dat dit nie goed sal wees as almal katvoet loop om die kwessie van ras nie. Hy reken verder dat hy nie een van die “good whites” is wat glo wit mense moet hulle bekke hou en nie deelneem aan openbare debat nie. Hy spreek wel sy oortuiging uit dat wit mense ’n verantwoordelikheid het om meer respekvol te wees en hulle woorde fyner te kies wanneer dit by hierdie sake kom. Hy hoop dat sy agterkleinkinders, indien hulle wit is, vrygestel sal wees van hierdie las.
Ek moet erken dat ek ietwat uit die veld geslaan is. Dit is oor die algemeen ’n goeie idee om respekvol te wees teenoor enige iemand wat respekvol is teenoor my, om enige persoon wat ek teëkom met beleefdheid te hanteer, en om nie iemand anders te behandel net omdat hulle ’n ander velkleur het, of van ’n ander etniese groep is nie. En vir die rekord: Ek is bereid om eerste beleefd te wees, om eerste te groet, en om eerste vriendelik te wees. Indien die ander persoon positief reageer, goed so. Indien nie, is dit daai persoon se saak. (Ook vir die rekord moet ek noem dat dit nie goed sal uitwerk vir my om nié vriendelik en beleefd te wees teenoor ander rasse nie, siende dat ek een van slegs ’n paar duisend bleekvelle is wat woon en werk tussen 23 miljoen Taiwannese en mense van ander etnisiteite.)
Uit die veld geslaan is ek egter, want hoe lank reken Max dat wit mense in Suid-Afrika ekstra vriendelik en beleefd, en ekstra versigtig moet wees voor dit verwag sal word van hulle? Hoe lank voordat ’n swart ou ’n wit ou ’n klap gaan gee omdat hy nie beskeie genoeg was op straat, of in ’n staatskantoor nie, of nie ekstra versigtig of beleefd nie? Hoe lank voor so ’n persoon sy aksie sal regverdig met die idee dat wit mense teen daai tyd behoort te weet hoe hulle die rassekwessie moet “hanteer” in Suid-Afrika? (En sal hy verbaas wees oor die ondersteuning van bystanders wat sal saamstem met sy optrede?) Hoe lank voor ’n swart leerling kla by sy ouers dat sy wit onderwyser nie beskeie genoeg was in die klaskamer nie, of nie vriendelik en beleefd genoeg was nie, of nie versigtig genoeg was toe die onderwyser die swart leerling berispe het nie? Hoe lank dink Max sal dit wees voor die ouers van swart leerlinge vereis dat wit onderwysers “versigtiger” moet wees hoe hulle swart leerlinge hanteer? En hoe lank voor iemand die idee gaan kry dat bruin en Indiër Suid-Afrikaners immers nie soveel swaargekry het onder Apartheid as swart Suid-Afrikaners nie, en dat dit dalk goed sal wees indien ook húlle meer beskeie en vriendeliker optree wanneer hulle interaksie het met swart landsburgers, en ekstra beleefd en ekstra versigtig? Laastens, watse tipe mens sal verwag dat jy vriendeliker moet wees met hom of haar as met landsburgers van ’n ander velkleur? Watse tipe mens sal verwag dat jy meer beskeie moet wees, meer beleefd, en versigtiger met jou woorde as met iemand van ’n ander etnisiteit? Is dit die tipe wêreld waarin Max du Preez wil leef, en waar hy wil hê sy kinders en kleinkinders, en dalk selfs agterkleinkinders moet leef?
In die artikel, “The Fear of White Power”, verwys Remi Adekoya na ’n gesprek wat hy gehad het met ’n swart vriend in Londen oor ’n swart kollega van die vriend. (Ek noem die ras van die mense omdat dit relevant is, en omdat die skrywer dit self genoem het.) Die kollega was blykbaar vinnig om die rassekaart te speel toe hy gestop is deur ’n polisieman nadat hy ’n verkeersreël oortree het. “Why did you stop me?” het die kollega vir die polisieman gevra. “Is it because you saw a black man driving an expensive car?” Die polisieman was dadelik verdedigend, en het iets gemompel dat dit niks met ras te doen het nie. Hy gee toe net vir die bestuurder ’n waarskuwing. Die bestuurder se vriend wat saam met hom in die kar was, vra toe vir hom waarom hy ras opgebring het as hy geweet het hy was verkeerd. “Dude,” kom die reaksie toe, “when in a tough spot with a white person, bring up racism and there’s a 99 percent chance they’ll get defensive and back down.”
Die skrywer van die artikel vertel hoe die gesprek met sy vriend verder verloop het. Hy deel toe sy mening met sy vriend dat hulle swart intellektuele moet aanvat wat “rassisme” roep vir strategiese redes, en wat politieke korrektheid as ’n hefboom gebruik vir sielkundige voordeel. Sy vriend het egter nie met hom saamgestem nie. Hy verduidelik toe dat indien politieke korrektheid in Brittanje nie wit mense in bedwang hou nie, dinge maklik kan terugkeer na die slegte ou dae van ’n paar dekades gelede: “In his view, the fear of being called racist is the only thing restraining whites from using their power to dominate us openly.” Hy sluit toe af deur sy vriend, die skrywer, te herinner aan ’n belangrike verskynsel in menslike verhoudings: “It’s not even about white or black, it’s about human nature, how people behave with unchecked power.”
Hierdie gesprek het plaasgevind in Brittanje tussen ’n swart bankier en ’n skrywer wie se ma Pools is en sy pa van Nigerië. Die bankier se opinie was om wit mense se mag in bedwang te hou, want menslike natuur is menslike natuur. In Suid-Afrika is amper 80% van die bevolking swart, net minder as 9% wit, dieselfde persentasie bruin, en omtrent 2.5% Indiër of van ander Asiatiese herkoms. Dit is ’n feit dat die meerderheid swart Suid-Afrikaners steeds in armoede leef. Maar ’n betekenisvolle persentasie van Suid-Afrika se middelklas, en hoër-middelklas, is ook swart. Miljoene swart kinders word deesdae gebore en word groot in mooi, lowerryke middelklas voorstede. En nadat hulle klaarmaak met hoërskool, gaan hulle universiteit toe, waar talle van hulle betrokke raak by politieke bewegings. Wat sal die praktiese gevolge wees indien hulle saamstem met die veteraan politieke skrywer Max du Preez dat wit mense meer beskeie en vriendeliker moet wees in hulle interaksie met swart landsburgers, en ekstra beleefd en ekstra versigtig? Wat sal die praktiese implikasie wees wanneer hierdie jong studente oorgaan in die professionele wêreld? Wat sal die praktiese implikasie wees daarvan wanneer hulle die politieke leisels oorneem by hulle ouers? Gaan die verwagting dat wit mense meer beskeie en vriendeliker, en ekstra beleefd en ekstra versigtig moet wees so deel wees van hulle denke oor rasse-verhoudings dat die verwagting net sowel amptelik gemaak kan word? Wat sal gebeur tien of twintig jaar van nou af indien ’n kritiese persentasie Suid-Afrikaners saamstem met Max du Preez se voorstel, en ’n wit Suid-Afrikaner is nie vriendelik genoeg nie, of nie beleefd genoeg nie, of nie versigtig genoeg met hulle woorde nie? In kort, wat sal gebeur indien ’n wit man of vrou, of ’n wit kind, hulleself nie gedra soos dit van ’n wit mens verwag word in ’n land waar hulle jammer moet wees vir die dade van hul voorgeslagte nie?
Ek het nog altyd respek gehad vir Max du Preez. Ek glo dat sy visie nog altyd was van ’n Suid-Afrika waar mense van verskillende etnisiteite, en verskillende oortuigings en kulture saam kan werk om een nasie te skep. Dit is steeds ’n ideaal om na te streef. Maar ek is bevrees Max se voorneme, en dalk sy voorstel vir wit Suid-Afrikaners tot en met dalk sy agterkleinkinders se geslag, is eenvoudig te gevaarlik om ernstig te oorweeg.
———–
My perspektief op hierdie sake is dalk ietwat anders as talle middelklas blanke Suid-Afrikaners s’n. Ek is nie ’n finansieel gemaklike wit persoon omring deur swart armoede nie; ek is ’n wit persoon met ’n gemiddelde inkomste, omring deur Taiwannese/Chinese mense van wie heel waarskynlik meeste volwassenes meer geld het in die bank as ek. Die dominante groep in hierdie land waar ek al vir amper twintig jaar woon, het ook so te sê ’n monopolie op politieke mag.
Derhalwe vind ek die idee verregaande dat ’n minderheidsgroep seker moet maak dat hulle vriendelik en beleefd genoeg, en beskeie genoeg en versigtig genoeg moet wees met hulle woorde wanneer hulle omgaan met lede van ’n meerderheidsgroep. Soos ek reeds verduidelik het, vind ek dit selfs gevaarlik, en onverantwoordelik, in ag genome hoe vol die geskiedenis is van hoe mense begin optree indien die skaal van sosiale en politieke mag te swaar na die eenkant toe oorhel.
______________________