Om my bloudrukke te konfronteer – en reg te stel

WOENSDAG 27 DESEMBER 2017

Ek het ’n paar bloudrukke ontvang van my ouers: spesifieke primêre taal maar ook bewussyn van die waarde van ’n spesifieke sekondêre taal, spesifieke kultuur, spesifieke morele waardes, spesifieke godsdiens, en spesifieke idees en verwagtings oor geld en die proses om geld te maak as volwassene.

Die taal het ek gekonfronteer, en aanvaar as goed genoeg vir my behoeftes. Ek het ook aanvaar dat die sekondêre taal (Engels) aansienlike waarde het – soos bevestig en gemodelleer deur my ouers, en hierdie taal ook bemeester.

Die spesifieke kultuur (Afrikaanse/Suid-Afrikaanse kultuur) het ek gekonfronteer, en aanvaar as goed genoeg vir my behoeftes – almal het “kultuur” nodig as deel van hulle identiteit, en as deel van die manier hoe hulle inpas in die breë gemeenskap.

Die spesifieke morele waardes het ek gekonfronteer, en meeste daarvan aanvaar as redelik en edel.

Die spesifieke godsdiens het ek ook uiteindelik gekonfronteer, en tot ’n groot mate ongeloofwaardig gevind. Mettertyd het die “energie” wat die spesifieke religieuse wêreldbeeld en verwysingsraamwerk gehad het in my brein, uitgeput geraak (siende dat dit nie gereeld verfris en versterk was nie), en ek dit vervang met ’n alternatiewe wêreldbeeld, en ’n alternatiewe verwysingsraamwerk.

Die spesifieke verhouding met geld, idees oor hoe volwasse lewe werk, en wat my verwagtinge behoort te wees wanneer my beurt aanbreek om as volwassene te begin geld verdien om myself en moontlik ander mense te onderhou … was moeiliker om te konfronteer. Dit het nie ’n naam gehad soos ’n nasionaliteit met gepaardgaande simboliek nie. En orals in die wêreld was ryk mense, en arm mense. Orals in die wêreld het goeie mense gesukkel om kop bo water te hou. Idees oor geld en hoe volwasse lewe werk en wat my verwagtinge behoort te wees, was nie spesifiek op dieselfde wyse as wat die godsdiens waarmee ek grootgeword het, spesifiek en sigbaar anders was as wat mense geglo en gedoen het in byvoorbeeld Indië, of Saoedi-Arabië nie. Dit was ook makliker om mislukkings te interpreteer as die resultaat van my spesifieke persoonlikheid, selfs my spesifieke ambisies – ek wou byvoorbeeld eerder tyd spandeer aan my eie projekte as om my tyd te verkoop aan iemand anders, wat ek gevrees het my sou verplig om vervelige, simplistiese take te doen.

Ek het gerebelleer teen die idees waarmee ek grootgeword het. “Geld is nie alles nie,” het ek gesê. “Ek sal hulle wys,” het ek gesê. “Hulle sal my nie onderkry nie.” [12/10/18: Ek het gedink ek rebelleer teen die idees waarmee ek grootgeword het, maar ek het slegs gerebelleer teen sekere aspekte daarvan. Die verwagting van mislukking was ten volle geïnternaliseer.]

Ek het visioene gehad daarvan om ’n kluisenaar te word, en om weg te breek van die konvensionele manier van dinge doen.

Ongelukkig moes ek steeds eet, en huur betaal, en klere koop. En siende dat ek geld verdien het in Noordoos-Asië in ’n poging om weg te kom van die slegte wêreld waar dinge nie uitgewerk het vir my ouers nie, en waar ek ten volle verwag het dinge ook nie vir mý sal uitwerk nie (naamlik voorstedelike middelklas Suid-Afrika), moes ek ook ’n vliegtuigkaartjie koop elke jaar of twee om my familie te besoek.

Uiteindelik het ek ’n vrou ontmoet waarvan ek baie gehou het en wie ek graag as my lewensmaat wou hê. Ek was intens bewus van die verskil wat meer geld sou maak aan ons lewens. Maar hoe? Meer kennis is sekerlik die antwoord, het ek geglo. Leer hoe om geld te maak. Wees braaf. Verbeel jouself jy kan ’n goeie verkoopsman wees. Leer hoe om te woeker op die finansiële markte. As ek net die regte lesse kan leer oor geldmaak, het ek gereken, goeie advies kan kry oor wat om wanneer te doen, en geld het om te spandeer op kennis en geleenthede en die nodige hulpbronne, is dit net ’n kwessie van tyd.

Dis al meer as twintig jaar nadat ek klaar gemaak het met universiteit. Ek het slim geraak oor baie onderwerpe wat te make het met geldmaak. Ek weet hoe om boeke te publiseer en te bemark; hoe om webwerwe te ontwikkel en te verkoop; hoe om resensies te skryf oor produkte, dit te publiseer op die internet en geld te maak wanneer mense die produk koop; en hoe om geld te verdien deur handel te dryf in buitelandse valuta. Maar hoe maak ek meeste van my geld? Deur my tyd te verkoop aan plaaslike taalsentrums en mense te help om hulle Engels te verbeter. Siende dat meeste van my studente volwassenes is, en dat meeste van die klasse ’n sosiale waarde het wat nie onaangenaam is nie, kan ek verklaar dat dit nie ’n slegte manier is om geld te maak nie.

Ek kan egter nie ’n paar onaangename retoriese vrae ignoreer nie: Is hierdie manier van inkomste verdien volhoubaar? Spaar ek genoeg geld met hierdie werk om my te hou tot my oudag? As ek in ’n ongeluk my vermoë moet verloor om hierdie werk te doen, sal ek kompensasie ontvang vir my gebrek?

Het my huidige finansiële posisie dalk iets te make met die idees wat ek ontvang het toe ek jonger was? Het dit iets te make met die verwagtinge wat ek ontwikkel het van hoe die volwasse lewe werk, spesifiek wanneer dit kom by geldmaak?

SATERDAG 20 OKTOBER 2018

Dit klink asof ek my ouers kwalik neem daarvoor dat ek nie finansieel beter doen nie, en ek hou nie van die idee nie. Maar dit sal oneerlik wees om te beweer dat ek nie tog ’n bietjie blaam op hulle drumpel lê nie – hulle het my immers met ’n foutiewe bedryfstelsel geprogrammeer, of met programmering wat slegs gewerk het vir sommige mense in die dekades toe my ouers self as jong volwassenes ’n bestaan moes maak.

Dit is egter, en was tot dusver, mý verantwoordelikheid om enige foutiewe programmering wat ek as ’n jong “robot” ontvang het, te konfronteer. En ek kan nie my ouers blameer daarvoor dat ék nie lankal besef het wat die probleem was nie, en omdat ek dit nie al lankal reggestel het nie.

______________________