Dalk is die rots langs die pad my plek

SATERDAG 18 AUGUSTUS 2012

Dis die voordeel daarvan as iemand anders vir ’n slag jou materiaal lees: hulle lewer kommentaar daarop, wat dan vir jou ’n geleentheid gee om ’n gedagte of twee by te voeg tot die oorspronklike idee.

So het dit dan gebeur dat ’n goeie vriendin onlangs vir my ’n e-posboodskap gestuur het oor ’n stuk wat ek geskryf het in 1998, getiteld, “Storie van twee reisigers”. Die “storie” het gehandel oor een “reisiger” wat by ’n kruispad kom, nie kan besluit watter rigting om te vat nie, en dan gaan sit op ’n rots naby die kruispad – vanwaar hy oor die volgende paar maande (of jare) kyk na ander mense wat besluite neem, foute maak, en oor die algemeen voortgaan met hulle lewens, terwyl hy steeds dink oor wat hy moet doen. Op ’n dag kom daar toe ’n ander reisiger by die kruispad, gaan sit op sy hurke, kyk dié kant toe en daai kant toe, snuif die lug, staan op en stap ’n rigting in, skynbaar seker dat dit die regte pad is. ’n Gesprek volg toe kort daarna tussen die “stapper” en die “sitter”.

Uiteindelik was my mening dat die ou wat vir so lank op die rots gesit het, moes ophou dink en dan nog aantekeninge maak ook oor wat hy dink, en sy gat moes roer. Hy moes besluit op ’n rigting, al kon hy nie seker wees hoe dit sou uitwerk nie, en homself toewy aan daai pad.

My vriendin het tot ’n mate meer simpatie met die ou op die rots. Sy sien hom as iemand wat kies om nie deel te neem tot hy seker is waarheen hy wil gaan nie. Sy hou daarvan dat hy bereid is om te sê: “Wag ’n bietjie, ek wil eers hieroor dink.”

Toe ek die teks geskryf het in Korea, in Maart 1998, het ek baie gefrustreerd gevoel met myself. Ek was alreeds vir maande lank besig om planne te beraam, maar ek het steeds nie geweet waarheen volgende nie. Ek was die ou op die rots, maar ek wou die ander ou wees – die ou wat die lug snuif, ’n handvol grond in die lug opgooi, en dan net ’n rigting instap.

My vriendin stel toe voor dat ek ’n stuk skryf wat vertel wat later gebeur het in die “storie”. Dit het my herinner daaraan dat ek agt maande na ek Korea verlaat het, weer by die kruispad was (in Januarie 1999), myself weer gemaklik gemaak het op die rots langs die pad, en gereken het: “Ek weet waar ek wil wees. Ek weet net nie watter pad om te vat om daar te kom nie. En ek wil nie tyd mors deur net ’n rigting in te donder, en heel moontlik te laat te besef die pad vat my verder van waar ek wil wees nie.”

Ek besef toe: Dalk is die rots my plek in die groter skema van dinge. Die rots, by die kruispad, is dalk waar ek moes opeindig. Dit is dalk waar ek behoort. Dalk hét ek ’n pad gekies, dit gestap, en dit het teruggelei tot by die kruispad. Terug tot by die rots.

______________________