VRYDAG 9 MAART 2007
[Agtergrond: Toe ek op universiteit was, het my ouer suster een jaar borg gestaan sodat ek ’n lening kon kry.]
My ma bel my vandag: “Het jou suster jou al gebel?”
In die eerste plek, my ma bel my uit Suid-Afrika? Ek dink krisis. Het my suster my al gebel? Ek dink krisis by my suster.
Draai toe uit dis [uitgelaat] Bank wat, soos hulle dit beskryf, my suster “opgespoor” het, te vertelle het dat hulle my nêrens kan vind nie, en ten spyte van die feit dat ek – wat nie “opgespoor” kan word nie – elke maand vir hulle geld gee, hulle meer wil hê. En my suster moet onmiddellik vir hulle meer geld gee anders gaan hulle ’n klag maak en ’n saak indien en my suster se werk sal in kennis gestel moet word en dit sal ’n “klad” op haar naam wees en dis ’n helse krisis. En die onvermydelike: “Jou suster is histeries.”
Ek sit en luister, en toe na ’n paar minute ontplof ek: Ek betaal hulle elke maand en hulle het my epos-adres en ek is moeg hiervoor en ek het in die eerste plek nie gevra vir die lening nie en ek het al meer as R100 000 vir hulle betaal en wat meer moet ek doen …
Na ’n uur, ’n 7-Eleven chicken burger, ’n bruinrysmelk en twee sigarette het ek genoeg bedaar om vir “Christina” te bel en te sê dat sy my moet opskryf vir meer geld vanaf einde volgende maand.
Enkele belangrike punte:
Punt 1. Hoekom het ek my humeur verloor? Verleentheid, die skaamte wat oor jou neerdaal as jy “uitgevang” word, as jy nie “doen wat jy moet doen” nie, as jy volgens jou eie reëls wil speel en dit werk nog nie lekker uit nie. O ja, en omdat jy skielik weer voor die establishment staan, hoed in die hand, om berispe te word omdat jy daai aartsonde gepleeg het: jy het skuld gemaak – en jy gee dit nie gou genoeg terug nie. (Vergeet maar daarvan dat ek lankal die oorspronklike bedrag dubbel terugbetaal het, want as gevolg van rente “skuld” ek hulle nog geld.)
Punt 2. ’n Bank is nie veel meer as ’n staatsgesteunde georganiseerde misdaadsindikaat nie, al speel hulle volgens die aanvaarde reëls. Glimlaggende, blink gesigte op advertensieborde nieteenstaande.
Punt 3. Almal – ek, my suster, en die bank – het elk ’n stukkie grond waarop ons kan staan. Nietemin, ek glo om ’n gifpil in die sop te gooi deur te beweer hulle kry my nie in die hande nie, was ’n immorele taktiek waarvoor iemand by die bank verantwoordelikheid moet neem.
Punt 4. Die situasie herinner my aan die film, The Crying Game, waar die ou die storie vertel van die padda en die skerpioen, met die padda wat instem om die skerpioen oor die rivier te help. Ten spyte van versekering en beloftes dat hy dit nie sal doen nie, steek die skerpioen die padda halfpad oor die rivier. “Hoekom het jy dit gedoen?” vra die padda. “Want dis in my natuur,” antwoord die skerpioen. “Wat het jy verwag?” So reken ek toe, is dit met banke, skuld, en die manier hoe banke mense hanteer wat hulle geld skuld. Dit is immers ’n bank. Dit is in die natuur van hulle besigheid om te doen wat hulle ook al nodig ag, maak nie saak hoe immoreel dit is nie, indien dit in hulle belang is. Wat meer kan ’n mens verwag? (eindig: Maandagmiddag 12 Maart 2007)
______________________