Dokument 1_181104_2359

DONDERDAG 18 NOVEMBER 2004

Die Sekretaris is moeg vir notas maak, en hy’s moeg vir die hersiening van vorige maande en jare se tekste. Die Sekretaris is fisies moeg, en hy wil gaan slaap, al is dit net 23:38. Drie en twintig … agt en dertig?! Verskyning en waarheid. Identiteit, en mans wat nie baarde mag groei nie omdat die hare sal vashaak in hul selfone as hulle besigheid praat met ander mense wat in kantore werk. Mense is emosioneel armoedig omdat hulle nooit geleer het hoe om op hul eie te wees nie. Die feite, om 23:40 (dubbelpunt) ek het twee hande, tien vingers, ’n sleutelbord onder my vingers wat gekoppel is aan ’n rekenaar wat gekoppel is aan ’n elektriese stroom wat ingebed is in die muur. Ek druk met my vingers op die sleutels, en die resultaat is ’n uitdrukking van my werklikheid om 23:41. Ek is bewus van die feit dat ek nie die sleutelbord is nie. Of miskien is ek, maar ek is groot gemaak met die idee dat ek nie ’n sleutelbord is nie. (Dan weer, ek was nie tien jaar gelede ’n sleutelbord nie. Soos ek dit verstaan, is konstantheid ’n belangrike element in die bewussyn van “ek”. Dit kan derhalwe geargumenteer word dat omdat ek nie tien jaar gelede ’n sleutelbord was nie, ek ook nie nou ’n sleutelbord kan wees nie … hoewel hierdie tipe logika nie gebruik kan word as ek nie, sê nou maar, tien jaar gelede ’n tandarts was nie.) Ek bestaan uit vleis, vel, bene, en bloed. Ek weet van die vleis, want ek het myself al oopgekloof (per ongeluk, nie as ’n eksperiment nie) en gesien dat my vleis soortgelyk is as dié van ander diere wie se vlees ek eet as vleis. Ek weet, vanweë dieselfde oopklowery, dat bloed onder my vel loop. Ek het nog nooit my eie beendere gesien nie, maar ek het al gehoor hoe mense wat weet van hierdie dinge, praat daarvan. Ek het ook al foto’s gesien van gebeentes van mense wat moontlik ook voorheen agter sleutelborde of notaboeke gesit het, maar wat sedertdien hulle vleis en vel verloor het. As ek streel oor my vel, voel ek iets hard onder die oppervlak. Ek vermoed waarmee ek op so ’n geleentheid kontak maak, is inderdaad my eie privaat gebeentes. Hoewel ek ook nog nooit my eie brein gesien het nie, het ek vertroue in die akkuraatheid van die prentjies en tekste wat geproduseer is deur mense wat blykbaar navorsing gedoen het oor hierdie onderwerp, en onteenseglik bewys het dat (meeste) mense ’n brein het. Ek is verder bewus daarvan dat ek vroeër kleiner was. As ek nou daaraan moet dink, kan ek onthou dat ek op ’n stadium so jonk was as drie of vier, en my ma se hand vasgehou het tydens ’n mallemeule-rit. Ek weet verder dat ek in die verlede ook hierdie spesifieke herinnering gehad het. As ek, aan die ander kant, al oud was, kan ek dit nie onthou nie. Dit mag ook wees dat waarna ek verwys as “ek” (met behulp van die sleutelbord onder my vingers) al voorheen bestaan het – en met voorheen bedoel ek voordat ek hierdie mens geword het wat nou agter ’n rekenaar se sleutelbord sit, om 23:55, en wat weet, of glo, dat hy voorheen kleiner was, en sy ma se hand vasgehou het in ’n donker tonnel tydens ’n mallemeule-rit.

Die Sekretaris krap aan sy nek (wat net effens juk, maar hy geniet die sensasie om iets te voel, en derhalwe te weet dat hy lewe). Hy kyk na die vingers wat die aangename sensasie veroorsaak het. Hy sien die netjiese, kortgeknipte naels. Hy sien ook olievlekke op sy regterduim, en stukkies olie onder veral sy regterhand se naels. Die rede hiervoor – weet hy omdat sy brein die herinneringe daarvan gestoor het, saam met al die herinneringe van gebeure van wat hy “gister” noem, en al die dae wat “gister” voorafgegaan het terug tot enkele jare voor hy sy ma se hand vasgehou het tydens die mallemeule-rit (hoewel hy nie veel kan onthou van sy huidige lewe voor die mallemeule-rit nie) – het te make met die feit dat die ou man wat ’n monopolie het op fietsherstelwerk in die buurt, laat vanmiddag gelê en slaap het toe die Sekretaris sy vriendin se blou fiets waarvan die binneband oornag pap geraak het, na die ou man se werkswinkel gestoot het ten einde laasgenoemde te betaal om die band te vervang. Die Sekretaris, nadat hy in beleefde Chinees met die ou man se ongeskikte vrou of dogter deur die agterdeur ’n gesprek gevoer het, het toe sy vriendin se fiets wat sy twee jaar gelede by hom gelos het en wat hy nou al vir ongeveer sewe maande gebruik, teruggestoot na sy woonstel, die fiets staangemaak teen die muurtjie onder die sitkamervenster van die ander ou man wat altyd sit en TV kyk en soms hardhandig sy sitkamervenster toeskuif as hy hoor die Sekretaris het teruggekeer van die dorp af, opgestap by die trappe, sy sleutels uit die 7-Eleven sak gehaal, die deur oopgesluit, sy sandale uitgeskop, en sy boksie met gereedskap gaan haal in die kombuis ten einde self die pap band om te ruil met een wat hy geweet het hy kan kry uit die agterwiel met die gebreekte speke van sy eie geel fiets – wat hy sou verkies het as die speke nie gebreek was nie – wat in die spaarkamer staan saam met sy vriendin, wat twee jaar gelede die land verlaat het, se ander aardse besittings. Hy weet dus waar die sewe oliespatsels op vier van sy regterhand se vingerpunte vandaan kom. Van die fiets af. Wat hom gelukkig gemaak het – dat hy die fiets reggemaak het. Die gele. Sy eie fiets. Hy’t die blou fiets se wiel gevat, die geel fiets se binneband, en ook die geel fiets se buiteband (wat hy verkies omdat dit growwer is), dit alles aanmekaar gesit en dit nie teruggesit aan die blou fiets soos hy aanvanklik gedink het hy sou nie, maar aan die geel fiets – waarmee hy toe na die Engelse gespreksklas gery het om nog R169.81 te verdien. Hy’t gereken, ’n mens behoort dinge te skep, of dan ten minste dinge reg te maak, want dit is nader aan die ware natuur van die mens. So’t hy gereken sal iemand eendag sê: “Hy, die befaamde Noteerder van Idees en Insigte het eenkeer gesê …” Maar toe onderbreek hy homself en hy dink: Daar is skrywers, digters, essayists, playwrights, romanskrywers, columnists, maar ek is nie werklik een van hulle nie. Ek is ’n Notist, of ’n Notisist … nee, ’n Notist. Toe skryf hy dit neer in sy notaboek wat altyd gereed op die antieke kassie lê: A Notist/’n Noteerder. Toe stap hy die kombuis binne, haal ’n sigaret uit een van die vier pakkies wat op die wasbak lê, steek een aan, en dink: Hy, die befaamde Noteerder van Idees en Insigte – of dan, die Sekretaris! – het gesê dis nie in die mens se natuur om baie van die werk te doen wat mense doen nie, maar dat dit ook waar is dat 80% van die mense wat hierdie arbeidsposisies vul, mense soos hy se lewens vergemaklik omdat hulle die werk doen wat hulle doen. Hy’t ook gewonder of ’n mens kan sê “die mens se natuur”. Toe dink hy dat beide Charles Manson en Mohandas Gandhi oë gehad het, en dat hierdie oë presies dieselfde doel gedien het. Hulle oë het wel verskillende dinge gesien, in verskillende lande, en op verskillende tye. Dit was dan ook so dat hulle besluit het … of miskien het hulle nie besluit nie, want dit was nie in die eerste plek hul keuse om as Charles Manson of Mohandas Gandhi gebore te word nie, maar siende dat die mens steeds vrye wil het en so aan, kan ’n mens sê dat hulle gekies het om verskillende dinge raak te sien met oë wat nietemin presies dieselfde funksie en merendeels (behalwe miskien vir kleurpigment) dieselfde ontwerp gehad het. Hy dink toe ook dat dit ironies is, in ag genome nou, dat Charles Manson se gekose professie dié was van “musikant”, terwyl Mohandas Gandhi ’n “advokaat” was. Tog reken hy dat hulle albei gebore is met nie net dieselfde ontwerp in oë nie, maar ook dieselfde menslike natuur – wat volgens hom bepaal dat die mens se ware rol en funksie dié is van Skepper, en nie Kantoorwerker nie. Op pad terug van die dorp af, op sy geel fiets met styfgepompte bande, en die 7-Eleven sak nou gelaai met ’n boksie Koreaanse gefermenteerde kool, sop met noedels en twee hamburger patties, ’n plastiekglas vol papajamelk en ’n plastiekglas vol groentee, gaan die Sekretaris voort. Hy dink toe, mense wat administratiewe werk doen, of enige ander vervelige werk wat geen kreatiwiteit vereis nie, maak eintlik ’n opoffering sodat die res van ons nie bekommerd hoef te wees oor die administrasie van maatskappye en instellings en regeringsdienste nie. Nietemin, as ’n mens die vervelige werk wat mense doen net sodat hulle geld kan kry vir kos en klere, maar ook vir gemors wat hulle nie regtig nodig het nie maar wat hulle koop om beter te voel oor hulleself, kan outomatiseer, en kom ons sê 50% van hierdie arbeidsmag kan afdank … gaan dit natuurlik die ekonomie nadelig beïnvloed. Dit is inderdaad so dat ’n mens in allerhande snaakse stegies opeindig as jy wil verander hoe dinge werk. As ’n mens dan miskien hierdie arbeidsmag van mense wat vervelige, nie-dienslewerende, nie-kreatiewe werk verrig kan verplaas na werk waar hulle iets vervaardig, maar ook nie in die sin van rolband-arbeid circa 1925 in ’n Ford motoraanleg nie … beland jy weer in ’n ander stegie, naamlik die feit dat dit hul status in die gemeenskap, en hul beskouing van hulleself nadelig sal beïnvloed. Rede? Die dominante kultuur van die dag gee hoër status aan sogenaamde witboordjiewerkers wat sieldodende arbeid verrig in kantore, as aan mense wat dinge vervaardig met hulle hande. Mense moet inderdaad heropgevoed word! Meeste mense verstaan nie die komplekse vrae rakende die menslike natuur en die ware doel van die mens se lewe nie. Meeste mense bevraagteken ook nie die skewe kultuur waar mense hoër status, en in baie gevalle meer geld kry, as hulle nie hul hande hoef vuil te maak nie. Die Sekretaris verstaan die historiese agtergrond van hierdie ontwikkeling in die ewolusie van die mens as arbeider, maar hy kan nie verstaan dat meer mense nie hewiglik ontsteld raak oor hierdie kultuur nie! Of hy kan ook dít begryp, want meeste mense reken as hulle kan voorsien in hul eie behoeftes, as hulle ’n maat kan vind en ’n familie kan begin en kan voortsit wat aan hulle voorgeskryf word as ’n “goeie lewe”, dan’s alles reg, en vrae oor die menslike natuur en die ware doel van die mens se lewe, grootliks onnodig. Of, indien hierdie vrae steeds geag word as waardevol, word dit nietemin gereken as voldoende om die uitlatings wat gemaak word oor hierdie sake deur iemand soos die plaaslike priester of pastoor, onkrities te resiteer. Benewens hierdie gedagtes, reken die Sekretaris ook dat alle mans die reg behoort te hê om ’n baard te kan groei; dat hulle nie voorgesê behoort te word in hierdie saak deur hulle sogenaamde hoër offisiere in die maatskappy, organisasie of besigheid waar hulle geld verdien nie. En wat betref vrouens wat kla oor baarde wat in die pad is as dit by vryery kom of dat hulle mans slordig lyk met ’n baard, is die Sekretaris definitief ou-skool. “Van wanneer af is mans bereid om hulle antieke reg op te gee om ’n baard te groei, net omdat hulle vrouens sê hulle mag nie, of dat hulle simpel lyk? Waarheen is die wêreld op pad?!” sal die Sekretaris sê. Nie dat hy kwaad is vir vrouens en mans se kant kies nie. Meeste mans irriteer hom. Goed, meeste vrouens ook. Maar vrouens (veral die twee wat tee verkoop in die hoofstraat) het die onregverdige vermoë om mans te kan manipuleer deur net te wees wie hulle is. Mans is swak. Vrouens ook. En as vrouens nie hul beenhare of armholtes wil skeer nie, is dit hul eie reg. As die Sekretaris wel eendag saam met ’n vrou opeindig, sal hy nie haar beenhare of onderarmhare mind nie, solank sy nie kla oor sy baard as sy hom soen nie. (Dit is waar dat die wêreld heel waarskynlik aanvanklik sal ondergaan as die Sekretaris die baas is, maar dit sal net tydens die eerste paar dekades wees.) Hy het ook tot die insig gekom dat vrouens sekere dinge soek in ’n man, en as hy nie hierdie dinge het op 25 nie, sal sy hom nog die voordeel van die twyfel gee in die geloof dat hy dit wel oor ’n paar jaar sal hê. As ’n man egter reeds 33 is en steeds nie ’n huis en ’n kar en kredietkaarte en tjekboeke en duur skoene het nie, dan meen sy dit is hoe dit vir die res van sy lewe gaan wees. Dit maak nou minder saak as ’n jaar of twee gelede, want hoewel vrouens hom steeds mal maak, herwin hy deesdae veel vinniger sy gesonde verstand. Vrouens het merkwaardige anatomie. Wat hy egter soek, is ’n buitengewone vrou. En hulle, soos buitengewone mans, is so skaars soos ’n administratiewe betrekking wat kreatiwiteit vereis.

Dis nou 01:25. Die Sekretaris is uitgeput. Hy wil gaan slaap, want dis laat, en hy’s besig om aan die slaap te raak agter sy rekenaar.

DOKUMENT 1_181104_2359

Charles Manson het ’n baard gehad. Gandhi nie. Manson was ’n musikant. Gandhi was ’n advokaat. Manson het baie mense doodgemaak, of ten minste ander mense geïnspireer om op ’n moordtog te gaan. Gandhi het miljoene geïnspireer om goed te doen. Ek is nou regtig moeg.

____________________