DINSDAG 15 DESEMBER 2015
Roer die moontlikheid aan dat die mens se bestaan ’n doel dien, en jy praat noodwendig van die mens se oorsprong.
Ek reken daar is drie moontlikhede: die mens is geskape deur ’n godheid; die mens was stadig besig om te ontwikkel uit vroeë lewensvorms, toe arriveer wesens van die buitenste ruim en plant van hulle DNS in ’n vroeë inkarnasie van wat uiteindelik die moderne mens sou word; die mens het stadig oor miljoene jare ontwikkel uit vroeë lewensvorms tot in die organisme wat ons vandag sien, sonder enige inmenging van godhede of vreemde wesens.
Elk van hierdie moontlike oorspronge het unieke implikasies vir die moontlikheid van ’n doel van ons bestaan.
As ’n godheid die mens geproduseer het, maak dit sin dat ons die doel van ons bestaan moet gaan soek by hierdie godheid: Wie is die godheid? Wat wil die godheid van ons hê? Hoekom het hierdie godheid ons geskape? Wat sal gebeur as ons nie doen wat ons moet doen nie, of indien ons om enige van verskeie redes nie kan uitwerk wat ons moet doen nie?
Indien ons die resultaat is van inmenging van wesens van die buitenste ruim, is die vrae soortgelyk: Wie is hulle? Waar kom hulle vandaan? Hoekom het hulle kom inmeng met ons? Wat is ons veronderstel om te doen? Wat sal gebeur as ons dit nie doen nie, of as ons nie kan uitwerk wat hulle wil hê ons moet doen nie?
Indien ons stadig ontwikkel het oor miljoene jare, en dalk soveel as honderde maar heel waarskynlik ten minste dosyne verskillende inkarnasies deurgegaan het voor ons gekom het by die organisme wat ons vandag “mens” noem, kan ons nie werklik kyk na ’n mag buite ons wat lank gelede een of ander plan in gedagte gehad het nie.
Indien ons ons bestaan te danke het aan laasgenoemde, ’n hoogs waarskynlike en tog vreemd genoeg hoogs kontroversiële moontlikheid, kan ons ’n redelike afleiding maak. Dit sal beteken “doel van bestaan” is, soos identiteit, iets waarmee onsself vorendag gekom het om onsself te help om deur die spreekwoordelike dag te kom. Dit is met ander woorde nie regtig werklik nie.
Iets hoef egter nie regtig werklik te wees om praktiese waarde te hê nie. Identiteit is een voorbeeld: Ek is nie regtig “Brand Smit” nie. Of, “Brand Smit” is nie ’n regte ding soos ’n hond of ’n olifant of ’n potlood nie. Dis iets wat uitgedink is, oorspronklik deur my ouers, en toe het ék ’n bietjie bygedra, en ander mense het hand bygesit, en toe ek ouer geraak het, het ek meer kreatief geraak daarmee, en deesdae speel ander mense soms saam met wat ek sê, en soms nie. “Brand Smit” het wel praktiese waarde. Nie net help dit die skrywer van hierdie teks om deur sy dag te kom en redelik mooi saam te werk met ander organismes en kreature in die omgewing nie, dit kan hom selfs motiveer om van sy tyd en geld op te offer om bystand te verleen aan ander mense en diere.
Meeste mense wat sal baat by sy onbaatsugtige aksies sal heel waarskynlik nie veel omgee hoe hy dink aan die doel van sy bestaan nie. Hy kan byvoorbeeld ’n sopkombuis begin vir honger mense wat by die treinstasie slaap, en ek reken hulle sal nie juis omgee as die helper verklaar dat hy dit doen omdat hy dit sien as die doel van sy bestaan soos geopenbaar deur wesens van die buitenste ruim nie.
* * *
Daar is dus ’n groot kans dat beide identiteit en oortuiging dat ons bestaan ’n doel dien, dinge is wat ons self uitdink. Dit is ook so dat sommige van ons hierdie dinge hanteer asof dit heilige waarheid is waaraan ons nie veel kan skaaf of verander nie.
Is dit goed om te dink jou bestaan dien ’n doel?
Ek het reeds die idee vermeld dat iemand warm sop en brood kan voorsien aan honger mense sonder vergoeding, en teen geen koste vir die persoon wat die sop en brood kry nie, moontlik omdat die voorsiener glo dis ’n manifestasie van die doel van sy of haar bestaan.
Dan is daar ook die ou wat nie glo sy bestaan dien enige doel nie; dat hy gebore is en uiteindelik sal doodgaan en tussen-in maar net sy bes sal doen om so goed as moontlik oor die weg te kom met sy bure, uit die moeilikheid te bly meeste van die tyd, en die lewe soveel as moontlik die moeite werd sal maak vir homself, siende dat hy maklik genoeg sy eie lewe kan beëindig.
Persoonlik het ek nie ’n probleem met ’n persoon wat nie glo sy bestaan dien enige doel nie. En as die persoon by die sopkombuis sê sy is ’n wese van die buitenste ruim wat maar net haar opdrag uitvoer, gaan ek ook nie ’n probleem hê met haar nie – solank die sop en brood van ’n kwaliteit is wat gewone aardbewoners deur die dag kan help.
Aan die ander kant van die spektrum sal ek wél omgee as iemand my kop wil afsny omdat, volgens hierdie persoon, antieke geskrifte hom opdrag gee om dit te doen; dat dit inderdaad deel is van die doel van sy bestaan soos geopenbaar deur sy “heilige” boek.
Die oortuiging dat jou bestaan ’n doel dien is, soos identiteit, nie inherent goed of sleg nie. Beide kan jou help om heel en redelik gesond deur die dag te kom, en nie in die tronk of die malhuis te beland nie. Beide kan ook jou pad na die tronk of die malhuis besonders kort en reguit maak. En beide kan jou óf in staat stel om in relatiewe vrede te leef met meeste mense in die gemeenskap, óf dit kan jou op ’n oorlogspad sit met hulle, of met mense in ander gemeenskappe.
Wie is jy, aan die einde van die dag? En glo jy jou bestaan dien ’n doel? Indien wel, wat is hierdie doel, en waar het jy aan die idee gekom dat dit die doel van jou bestaan moet wees?
______________________