Is “Persoon A” dieselfde mens as wat sy was vyf jaar gelede? Ten spyte van veroudering, en in ag genome die effek van leefstyl op haar voorkoms en fisiese welstand, is sy heel moontlik steeds herkenbaar as dieselfde persoon. Psigies is sy egter bloot verwant. Om te beweer dat sy psigies dieselfde mens is, is nie te verskillend as om te beweer dat ek en een van my twee susters dieselfde mens is nie, net omdat ons van dieselfde baarmoeder afkomstig is.
Volgens wet is hierdie persoon steeds “Persoon A”. Sy is steeds verantwoordelik vir kontrakte wat sy vyf jaar gelede aangegaan het. Sy kan ook steeds verantwoordelik gehou word vir kriminele dade wat sy moontlik gepleeg het vyf of tien jaar gelede.
Sy dra ook steeds die vreugdes en die las van keuses wat sy gemaak het, of insidente waarby sy betrokke was enige tyd gedurende haar verlede.
Die SELF bly egter nie konstant nie. “SELF-2004 van Persoon A” is psigies slegs verwant aan “SELF-1999 van Persoon A”.
Dit kan verder gevra word of “SELF, Mei 2004 van Persoon X” dieselfde is as “SELF, Julie 2004 van Persoon X”, of slegs verwant. Die antwoord is weereens dat die twee slegs verwant is, maar heel waarskynlik nader verwant as “SELF, 1995 van Persoon X” en “SELF, 2003 van Persoon X” (’n partikulêre waarheid vir Persoon X, wat nie noodwendig toegepas kan word op Persoon A nie).
Mens kan selfs meer tegnies raak en vra na die verhouding van “SELF, 4 Julie 2004 om 16:34 van Persoon X” tot “SELF, 4 Julie 2004 om 16:33 van Persoon X”. Die antwoord is dieselfde: steeds slegs verwant, maar die graad van verwantskap is heel waarskynlik nouer as in die geval van byvoorbeeld “Mei-SELF” en “Julie-SELF”. (Weereens is enige sprake van verwantskap in die geval van Persoon X nie noodwendig geldig vir Persoon A nie, omdat vyf minute – selfs een minuut – ’n dramatiese verskil kan maak in een mens se lewe, terwyl relatief min dalk verander oor die verloop van ’n maand in ’n ander persoon se lewe.)
Die ONVERLIGTE sê: Dit is wie en wat ek is, so ek moet dit maar net aanvaar.
Die VERLIGTE sê: Hier is die kaarte wat aan my gedeel is, en hier is die hulpbronne tot my beskikking. Hierdie is my vermoëns en beperkinge, en hierdie is my belangstellings. In ag genome al hierdie dinge, verklaar ek ’n bepaalde visie van WIE en WAT ek WIL wees, en WAAR ek sal verkies om dit te wees. Laat die werk dus begin.
SONDAG 4 JULIE 2004
Saluut vir die briljante nege! (uit elke tien)
Een stelling wat nie naastenby die aandag kry wat dit verdien nie: Mense is briljant! Mense is manjifieke kreature wat daarin slaag om te oorleef, en selfs gelukkige lewens te leef tot op ’n ryp ouderdom, dit ten spyte daarvan dat hulle fokkol weet of verstaan oor hul eie spesie, en oor hoe die mens funksioneer.
Sal iemand dalk sê, “Miskien weet hulle meer as wat jy dink.”
My opinie is, natuurlik weet meeste mense iets, en natuurlik verstaan hulle baie dinge. Maar in ag genome die totaliteit van wat daar te wete is, verteenwoordig wat hulle wel weet en verstaan so ’n fraksie van die geheel dat mens nie kwalik geneem kan word as jy ’n ietwat vulgêre frase benut om die hoeveelheid kennis en begrip aan te dui wat jy reken hulle oor beskik nie.
“Is jy dan nie ook een van hierdie spesie nie?” sal ’n intelligente leser weer vra.
Ja, sal ek antwoord, maar ek reken ek kan teen hierdie tyd wegkom daarmee om te beweer dat ek nie naastenby so onkundig is soos nege uit elke tien op straat nie.
Ek reken ’n tiener wat volgens algemene standaarde in ’n fase van rebellie verkeer, reageer teen sy eie self, teen die mense wat hy verantwoordelik hou vir wat hy sien as sy onbevredigende gegewe self, en moontlik ook teen die omgewing waarbinne hierdie gegewe self gebore en getoë is.
Dit kan dalk toegeskryf word aan die feit dat ek meer blootgestel word aan tieners in ’n sekere stratum van die samelewing, maar dit wil tog voorkom asof die “rebelse tiener” ’n meer algemene verskynsel is in ontwikkelde, geïndustrialiseerde lande, waar gefragmenteerde gemeenskappe ’n enkele stedelike landskap deel, en rykes en armes soms op ’n daaglikse basis skouer skuur, teenoor gemeenskappe waar ’n bestaansekonomie die norm is, met nouer, meer tradisionele verbintenisse tussen individuele lede van die gemeenskap, en ’n nouer kulturele en sosio-ekonomiese verband tussen verskillende plaaslike gemeenskappe.
Mens kan dalk die mening uitspreek dat tieners in stedelike areas in geïndustrialiseerde lande meer rede het om swak toegerus te voel vir die lewens wat hulle wil leef, of selfs vir wat van hulle verwag word. Tieners in hierdie omgewings is immers meer bewus van ander individue in dieselfde gemeenskap, of in ander gemeenskappe – beide plaaslik, of in ander areas – wat ten minste blyk veel beter toegerus is as hulle.
Ek glo ook – hoewel ek net ’n beskeie opinie hieroor kan waag – dat die spesifieke ekonomiese omgewing waarin tieners hulself indirek bevind, of waarin hulle weet hulle hulself gaan bevind as volwassenes, bevorderlik is vir gevoelens van ontoereikendheid. Sosio-ekonomiese status – waarin die tiener homself bevind volgens sy ouers se ekonomiese aktiwiteite, en ook wat hy reken moontlik sy voorland gaan wees as volwassene, asook kompetisie met tydgenote wat betref materiële besittings, verskerp ook innerlike konflik by die tiener tussen sy beskouing van dit wat hy is op daai oomblik, en dit wat aan hom voorgehou word as die ideaal.
Laastens glo ek dat te veel volwassenes, of dan in hierdie geval spesifiek dié volwassenes wat in ontwikkelde lande die rol moet vervul van ouers van tieners, nie die vaagste begrip het van die prosesse van identiteitsvorming nie, en ook geen idee het van die mees elementêre filosofiese vraagstukke waarmee tieners gekonfronteer word nie. Hierdie gebrek aan die kant van die ouers dra by daartoe dat tieners antwoorde op die vrae na WIE, WAT en PLEK op hulle eie maniere probeer formuleer, en soms op enige manier wat naastenby bevredigend is. Onkunde is weereens die sondebok. Verligting is weereens verlossing …
1. Identiteit speel ’n kardinale rol in die normale funksionering van ’n individu.
2. Die partikulêre gemeenskap waarbinne ’n mens gebore en getoë word, speel ’n primêre rol in die vorming van identiteit.
3. Dit is baie algemeen dat ’n partikulêre godsdiens ten nouste verweef is met ’n partikulêre gemeenskap; hierdie godsdiens is in vele gevalle ’n kardinale bepaler van identiteit vir mense wat gebore is en grootgeword het in hierdie gemeenskap.
4. Vir die aanhangers van verskeie godsdienste is dit belangrik om aanspraak te maak op die universele toepassing van ’n spesifieke godsdienstige “waarheid”.
5. Dit is te verstane as ’n persoon wat gebore is en grootgeword het in ’n gemeenskap waar ’n “universele toepassing” godsdiens ’n primêre bepaler is van identiteit, ter wille van sy of haar eie partikulêre identiteit, hierdie aansprake resiteer, en dit ook so sal oordra aan die volgende geslag.
’n Vraag: Kan rasionele mense kwalik geneem word as hulle ’n skeptiese houding koester jeens die aanspraak op “universele waarheid” deur die aanhangers van enige partikulêre godsdiens?
Anders gestel:
a) Gemeenskappe funksioneer orals in die wêreld as bronne van partikulêre identiteit.
b) Om as buitestander ’n partikulêre gemeenskap se geldigheid te bevraagteken as bron van identiteit bloot omdat jou eie identiteit nie afkomstig is van daai bron nie, is onlogies. (Dit sal beteken dat een wat buite jóú gemeenskap gebore is en grootgeword het, ook die geldigheid van jou gemeenskap as bron van identiteit kan bevraagteken omdat sy identiteit nie afkomstig is van jóú gemeenskap nie.)
c) ’n Partikulêre godsdiens is, in talle gevalle, ten nouste verweef met ’n partikulêre gemeenskap, en vervul ’n belangrike rol in die definiëring van identiteit.
d) Gemeenskap A is dus as ’n bron van identiteit gelyk aan Gemeenskap B.
e) Dit kan ook gesê word dat Godsdiens A as ’n bron van identiteit gelyk is aan Godsdiens B.
Drie vrae:
1. Op watter basis kan aanhangers van Godsdiens A, in ag genome bogenoemde punte, steeds aandring op universele toepassing van hulle “waarhede” – oor alle tydsgrense, kulturele grense, en alle ander grense heen?
2. Op watter basis kan die aanhangers van Godsdiens A – wat heel waarskynlik aanhangers van daai partikulêre godsdiens is omdat daai partikulêre godsdiens ’n primêre gegewe faktor was in die proses waaruit hulle identiteite gevorm was – die bewering maak dat hulle godsdiens waarde het wat verder strek as die waarde van Godsdiens B – wat ’n soortgelyke rol vervul as identiteitsbepaler in Gemeenskap B?
3. Waar word die lyn getrek tussen godsdiens as oordragmedium van “tydlose waarhede” (ongeag hoe waar dit mag wees), en godsdiens as bepaler van identiteit?
Na deeglike besinning oor hierdie onderwerp, is daar nog ’n vraag wat mens nie die versoeking kan weerstaan om te waag nie: WAT IS DIE WAARHEID?
Dis maklik om een van die beginsels van sekulêre religie te resiteer en te antwoord, “Die waarheid is relatief.”
Ek glo egter steeds dat daar ’n ABSOLUTE, UNIVERSELE WAARHEID is. Ek glo verder dat die partikulariteit van noodlotsdata waarmee enige mens gekonfronteer word met geboorte, die gegewendheid van die instrumente waarmee uitdrukking gegee word aan ’n bewussyn van individuele self, en die noemenswaardige rol van godsdiens as ’n mede-bepaler van identiteit, alles stukkies is van die legkaart wat die WAARHEID is.
Ten laaste, glo ek dit is moontlik vir ’n mens – ’n lewende lid van die spesie Homo sapiens – om die volle, absolute, universele, tydlose waarheid te ken?
’n Paar bladsye gelede het ek plegtig TOTSIENS gesê. Nou sit ek hier, agter my rekenaar, en ek vryf die sweet van my voorkop in saluut aan die leser wat dit tot hier gemaak het.
Die eerste gedeelte van hierdie laaste INLEIDING begin met ’n stuk wat ek geskryf het soos mense besig was om kroeë op te vul vir Nuwejaarspartytjies (2003/2004). In die tweede gedeelte verwys ek na ’n paar drome wat oor die jare in my geheue vasgehaak het. Die laaste deel word opgeneem deur administrasie vir die derde deel van hierdie literêre projek.
I. Wat ek hierdie jaar beplan het/Wat ek hierdie jaar beplan
Dit is Woensdag 31 Desember 2003, om 25 minute oor 11 in die nag. Daar’s nog 35 minute oor van hierdie jaar. Omdat dit my gewoonte geraak het om iets te skryf op hierdie uur, omdat dit gewoonlik ’n goeie idee is, en omdat ek nie lus is om ’n fortuin te betaal om saam met ’n klomp vreemdelinge gesuip te raak by een of ander kroeg nie, sit ek waar ek meeste van my tyd spandeer het hierdie jaar: agter my rekenaar, besig om te skryf.
Soos die titel [van hierdie onderdeel van die “Inleiding”] aandui, het ek besluit om nie te skryf oor treine, vrouens, Engelse klasse, of die feit dat jy goedkoop drank by die 7-Eleven kan koop op Oujaarsaand nie. Hierdie stuk sal handel oor planne.
Daar was planne aan die einde van verlede jaar, en daar was planne aan die begin van hierdie jaar. Daar was planne in Meimaand, en daar was planne in Julie. Daar was ook planne in Augustus, September, Oktober, November, en Desember. En dan, soos dit ’n Oujaarsaand betaam, is daar planne vanaand.
My plan aan die begin van hierdie jaar was om einde Februarie [2003] my ballingskap op te hef en terug te keer na Suid-Afrika. Dit was wat ek nou noem ’n “liberale plan”. Ek het nie genoeg geld gehad nie, en ek het nie werklik geweet wat ek sou doen in Suid-Afrika nie. Ek het wel gehou van die “rewolusionêre” aard daarvan. Omdat die plan ietwat mallerig was, het dit egter ’n reaksie ontketen wat ek nou die “konserwatiewe respons” noem. Ek het (weereens) gereken, “Eintlik is hierdie plek nie so sleg nie,” en dat om in Taiwan aan te bly tot die einde van 2003 heel moontlik ’n positiewe uitwerking sou hê op my finansiële welstand en professionele ontwikkeling.
Teen Meimaand het ek vorendag gekom met die idee dat ek nooit hier in Taiwan, of met English teaching genoeg geld gaan maak nie. “Ek het nodig om besigheid te doen!” het ek uitgeroep. En siekerig eenkant toe gehoes van vyf jaar se bestaan in ’n vensterlose woonstel.
Teen Junie was ek gatvol. Ek het myself voortgestu op die inkwalms van my notaboek waarin ek verwoed notas en gedigte opgeoffer het as kompensasies vir alles wat nie goed was in my lewe nie.
Teen Julie het ek vas besluit ek gaan Februarie 2004 my ballingskap ophef, en in Bronkhorstspruit of Middelburg ’n karavaan in my familie se agterplaas trek. Inligting is versamel, beloftes is gemaak, en takkies is plegtig van ’n droë boom in die tuin afgebreek – en in ’n vaas geplant terug in Taiwan om my te herinner aan my belofte, net vir in geval ek vergeet.
Augustusmaand het die briljante plan opgelewer om my werk te los by die kleuterskool, en eerder al die geld wat ek nodig het, bymekaar te maak met “Besigheid!” Einde September het my in ’n nuwe woonstel gesien, uiteindelik, na amper vyf jaar in Nommer Vyftien.
Al die vrye tyd wat ek skielik elke dag voor my gesien uitstrek het, het uiteindelik een ding duidelik gemaak: Ek is, in die eerste en laaste plek, ’n skrywer. Die projek getiteld “Persoonlike Agenda” was my primêre projek vanaf Februarie. Dit het my primêre projek gebly die hele jaar deur. Dit was ook waarmee ek myself besig gehou het op oggende, middae, en aande wat ek eintlik “Besigheid!” moes doen.
Wel het ek uiteindelik aan ’n paar idees begin werk wat as besigheidsprojekte bestempel kan word, voortgegaan om aan ’n paar ander te werk wat ek vroeër op ys geplaas het, en een projek afgehandel. My Chinees het ook gebaat by meer tyd wat ek daaraan kon spandeer. Ek was oor die algemeen gelukkiger die afgelope paar maande, soos ek was in die eerste helfte van 2001 – toe ek ook meeste van my tyd in my woonstel gespandeer het, hard aan die werk aan my eie projekte.
Dit is Woensdagaand 31 Desember 2003. Dis twee minute voor middernag. Twee minute voor ’n nuwe jaar. Twee minute oor van ’n goeie jaar …
* * *
Dis Donderdag 1 Januarie 2004. Dis een minuut oor middernag. Dis die begin van ’n nuwe jaar. Vuurwerke raas soos masjiengewere in die verte. Die water drup uit my toilet. Die rekenaar se waaier raas, en my vingers dans epilepties oor die sleutels. Welkom by ’n nuwe tydeenheid in ons lewe.
Woensdag 7 Januarie 2004
Hier is my planne en voornemens vir die volgende drie jaar:
[…]
Dit gesê, ek sal baie graag my ballingskap wil ophef soos ek altyd gehoop het dit sal gebeur – deur my besittings en my persoon terug te vervoer na die plek vanwaar ek vertrek het op 16 Januarie 1999. Hoe dinge daarna sal uitwerk, is hoe dit sal uitwerk. Ons maak planne, en dan is daar realiteit. Ons moet egter aanhou planne maak, anders wag ons dalk heeldag en -nag vir ’n bus wat moontlik eers oor vyftig jaar gaan kom. Ons bepaal nie alles wat met ons gebeur nie, maar totdat dinge wel gebeur, moet ons onsself produktief besig hou. Sodoende kan ons natuurlik ook beïnvloed wát met ons sal gebeur, en moontlik selfs wanneer.
II. Drie drome
Ek was nog baie jonk, miskien vyf of ses. Ek het gedroom ek en my ouers en my suster (my jongste suster was nog nie gebore nie) ry in ons stasiewa in een of ander stad. Dit was aand. Ons het bewus geraak daarvan dat iemand ons agtervolg. Later was ons in ’n woonstel. Almal behalwe ek het al geslaap. Die mense wat ons agtervolg het, probeer toe by die woonstel inbreek. Ek was die enigste een wat hulle kon uithou, maar al wat ek gehad het om myself en almal in die woonstel te beskerm, was ’n boksie vuurhoutjies.
As tiener het ek gereeld ’n spesifieke tipe droom gehad. Ek sou in gevaar wees. Ek het geweet iemand sou my kon help … as ek net ’n goeie skree kon gee. Die probleem was, ek kon nooit enige klank produseer nie.
Die derde droom word nog steeds van tyd tot tyd deur my onderbewuste opgetower met verskillende agtergrondstories. Ek sal tussen ’n groep mense wees – sê maar by ’n bruilof in ’n groot tuin, en dan begin ek my eie rigting instap. Na ’n rukkie raak my treë al hoe langer. Die treë raak mettertyd so lank dat ek vir enkele oomblikke in die lug sweef. Ek sal dan so in my skik raak met hierdie vermoë dat ek doelbewus my treë al hoe meer uitrek. Dit vat gewoonlik nie lank voordat ek glad nie meer grond vat nie.
III. Administrasie
Die inleiding van die laaste deel van hierdie literêre projek is korter en meer beskeie as die inleidings tot BOEKE EEN en TWEE. Ook die inhoud is anders georganiseer.
Februarie het ’n plan opgelewer. Hoofstuk Een volg die koers van hierdie plan oor die verloop van net meer as ’n week. Hoofstuk Twee bevat ’n paar notas uit Januarie en Februarie. Februarie was nie net die slagveld van ’n plan nie, dit het ook ’n nuwe, tydelike bestel aan bewind gebring. Hoofstuk Drie bevat die amptelike geskiedenis van hierdie Kommersiële Diktatorskap. Ek het ook tot ’n sekere begrip gekom tydens die eerste week van die nuwe bewind. Die ontwikkeling daarvan kan aanskou word in Hoofstuk Vier.
Hierdie is dan: Die DERDE EN FINALE BOEK van DIE PERSOONLIKE AGENDA VAN BRAND SMIT.