Wat ek graag vir my veeboer-voorouers sou wou sê

DONDERDAG 5 APRIL 2018

Die feit dat die lede van die Smit-Bornman gesin – my ouers, ek, en my twee susters, so ’n ingewikkelde verhouding het met geld, het heel waarskynlik te make met die feit dat ons voorgeslagte vir 250-300 lank hoofsaaklik veeboere was, en tot en met twee geslagte gelede nog geboer het, hoewel met meer as net vee.

Die verskil tussen ’n veeboer en ’n groenteboer is ’n verskil nie net in leefstyl nie, maar in boerderytegniek. Die groenteboer moet weet wanneer om wát wáár te plant, en wanneer om te oes, en sal twee keer dink voor hy goeie grond opgee om te trek net omdat weiveld vir sy beeste of skape yl raak. Daar’s ook ’n verskil in die bestuur van arbeiders – die groenteboer het byvoorbeeld meer hande op die plaas nodig. Ondernemingsgees is nog ’n faktor – die groenteboer moet weet watse groente en vrugte in aanvraag is, hoe groot die aanvraag is, en teen watse prys hy sy produkte moet verkoop om ten minste gelyk te breek.

Al hierdie verskille is relevant tot die begrip van ons gesin se verhouding met geld, omdat, soos ek reeds uitgewys het, my voorouers vir eeue gewortel was in die kultuur, leefstyl en professie van veeboerdery.

Sover ek kon vasstel, het nie een van my grootouers veel geweet van die vier dinge wat ’n mens moet baasraak om ryk te word in die stad nie: verkoop en bemark, om waarde te put uit die arbeid van mense wat min of meer jou sosiale gelyke is, om jou diens of produk te adverteer, en om jou wins sodanig te belê sodat jy ryker kan word – met ’n bietjie geluk. My eie ouers was plaasjapies wat op hulle eie die stad moes leer ken. Hulle moes waarneem wat ander stedelinge doen, en het weldra geleer om goed genoeg te oorleef in die stad.

Maar ook húlle het nie veel geleer van die dinge wat jou finansieel onafhanklik sal maak nie. Wat hulle geleer het, was dat jy ’n vaardigheid opdoen, en jouself dan bruikbaar maak vir een of ander onderneming of maatskappy, of vir die staat. En as jy gelukkig is, dan slaan jy ’n “vaste betrekking” los, jy fokus op jou “beroep” vir veertig jaar lank, en intussen begin jy ’n gesin in ’n middelklas voorstad met mooi, gesnyde grasperke en skoon, stil strate.

Dit is wat my ouers geleer het, en dit is wat hulle my en my twee susters geleer het. Leer hard, matrikuleer, gaan universiteit toe, kry ’n graad, maak ’n indruk op ’n firma of maatskappy, en sit die hele siklus voort.

Enigste probleem is, hierdie model werk nie lekker vir almal nie. Nog ’n ding: Bitter min mense word ooit finansieel onafhanklik deur hulle tyd aan iemand anders te verkoop.

Daar is sekerlik meer as een pad na die Beloofde Land, maar om te weet hoe om te verkoop en te bemark, hoe om waarde te put uit die arbeid van mense wat op ’n soortgelyke maatskaplike vlak as jy is, hoe om jou diens of produk te adverteer, en hoe om jou wins sodanig te belê dat jy ryker en ryker word met ’n bietjie geluk, is beslis een pad.

My grootouers het min van hierdie stedelike vaardighede aan my ouers geleer, en derhalwe het my ouers min daarvan aan ons geleer.

Natuurlik was en is ons slim genoeg om dit op ons eie baas te raak. En mits jy gou genoeg uitwerk dat dit spesifiek daai dinge is wat bemeester moet word, en geluk is ten minste ’n bietjie aan jou kant, kan jy oor die uitgestrekte vlaktes van die Oos-Kaap, die Vrystaat en die ou Transvaal aan jou veeboer-voorouers fluister: Bekommer julle nie oor my nie; ek maak dit in die stad. Maar as jy te lank vat om dit baas te raak en die lewe begin aan jou skaaf, is ’n tipe lewe in die stad jou voorland waaroor jy liefs nie jou beskeie voorsate sou wou inlig nie.

______________________