Ten minste drie voorbeelde wat bewys dat mense vol nonsens is

SATERDAG 13 NOVEMBER 2010

Die sewentiende en agtiende eeue voorsien ten minste drie voorbeelde wat bewys dat mense, ten minste helfte van die tyd, vol nonsens is.

1. In 1642 het die Britse Parlement die koning onttroon, en hom onthoof ’n paar jaar later om seker te maak hy sit nie weer die kroon op sy kop nie. Weer in 1688 het hulle dit duidelik gemaak dat hulle glo dat hulle die reg het om hul eie monarg te kies – John Locke se politieke teorie het dit blykbaar mooi opgesom. Tog, toe die Amerikaanse kolonies amper ’n eeu later die heerskappy van die Britse Parlement en kroon wou omverwerp, en selfs John Locke se argumente gebruik, wou die einste Britse heersersklas niks daarvan hoor nie. Die koning se posisie kan ’n mens nog tot ’n mate verstaan, maar die Britse Parlement het vasgeskop: die koloniste het geen reg gehad om onafhanklikheid te eis nie.

2. So idealisties soos die Amerikaanse rebelle was in hulle rewolusie met “All men are created equal” en “Life, liberty and the pursuit of happiness,” het hulle net so omgedraai en ongelykheid geforseer op mense van kleur wat hulle gereken het hulle die reg het om te besit as persoonlike eiendom, en hierdie mense nie net ontneem van hul persoonlike vryheid nie, maar van enige redelike kans op ’n goeie lewe en ’n bietjie aardse geluk.

3. Na hulle nederlaag teen die Engelse in 1763, het die Franse gejuk vir wraak. Die Amerikaanse rebelle se stryd teen hulle koloniale meesters was, volgens die Franse koning Louis XVI en sy raadgewers, die ideale geleentheid. “Kom ons ondersteun die rebelle in hulle rewolusie teen koning en aristokrasie!” het die koning uitgeroep, en nog ’n chocolate eclair in sy mond gedruk. Tog, nie veel meer as ’n dekade later nie, ruk Franse rebelle aan die hekke van Versailles, en hang rewolusie swaar in die lug in Parys. “Hoe durf hulle?!” het die koning in die rigting van sy paniekbevange raadgewers gemompel, en gewonder wat van die roomkoek geword het.

En, nou dat ek daaraan dink, daar is ’n vierde voorbeeld.

4. Die rewolusionêre leiers in Frankryk was driftig met idealisme en ywer vir vryheid, gelykheid en broederskap in 1789 en die jare onmiddellik na die rewolusie. Maar was die vryheid beskore vir die gewone werker in ’n leerlooiery, of die pagter op die platteland? “Moenie belaglik wees nie!” sou van die leiers van die rewolusie in die veiligheid van hul woonkwartiere dink (dit sou op ’n stadium ’n bietjie gevaarlik gewees het om so ’n oortuiging op ’n Paryse straathoek te verkondig). Het gelykheid en broederskap ’n beter kans gestaan? Kon die gewone man en vrou wat nie besigheid, professionele titel of eiendom besit het nie, opgewonde raak oor die rewolusie? Hulle kon sekerlik aanvanklik opgewonde raak, maar teleurstelling was nie ver agter nie. Ten spyte van edel uitsprake was die rewolusie, aan die einde van ’n lang en bloedige dag, gemik op die verbreding van die aristokrasie. “Dis ons beurt om goed te leef!” sou ’n lid van die nuut bemagtigde bourgeoisie deur sy tande sis vir sy dienskneg, en nog ’n glas wyn opkommandeer.

______________________