Donker Dinsdag | Ligter Donderdag

DINSDAG 29 JULIE 2003

Mens wil nie onnodig op dieselfde snaar bly hamer nie, maar ek reken ek gaan een van die dae in die kak wees. My vermoede is sterk dat ek al vier my vriende op verskillende tye, en om verskillende redes vervreem het. (Is dit beter as om hulle te vervreem om dieselfde rede?) Meer as dit, die suspisie is aan die ontwikkel dat hulle selfs sover gaan om my te vermy. Kan jy dit glo? Onskuldige ek wat altyd aankarring in gesprekke oor “stryd en skepping” en vir almal goed bedoelde preke afsteek oor hoe hulle lewens fokkol werd is as hulle nie kan wegstaan van hulle eie skeppings, en soos die God van Genesis kan sê, “Dis goed!” nie. (En om te dink ek probeer hulle net help om meer vervullende lewens te lei.)

In alle eerlikheid, ek dink nie my teorieë en preke is die enigste stomp swaarde wat vriende en potensiële kennisse verjaag nie. Ek is, behalwe nou vir my hoogs oorspronklike teorieë en gepaardgaande monoloë, ’n hoogs vervelige individu. Goed, ek kan saampraat as die gesprek om die vuur oor geskiedenis of godsdiens gaan, maar ek mag dalk geneig wees om te slim te wees, en miskien net te veel te weet vir die ander mense om ook goed te voel oor húlle algemene kennis. So, tensy die gesprek handel oor sonde, die oorlog in Irak, Hitler, Stalin, of die Middeleeue, is ek in my moer in. Ek het nie ’n motorfiets nie (kan nie eens een bestuur nie), en ek gaan nie oor naweke saam na strandoorde toe nie. Ek vertel nooit vuil grappe langs braaivleisvure nie (kan die donderse goed nooit onthou nie), en ek doen nooit iets op my eie wat mense goed sal vind om oor te vertel aan ander, sodat ek ’n gesonde sosiale reputasie kan opbou nie.

Maar kom ons hou op om rondom die netelboom te steier. Die primêre rede hoekom ek ’n persona non fokkol is, is omdat ek altyd alleen by plekke inloop, en nooit saam met iemand uitstap nie (hoofsaaklik van die teenoorstaande geslag). Ek is, per definisie dus, ’n alleen-loper. En soos mense van voor die tyd van Johannes die Doper al weet, kak almal in hulle broeke as dit lyk of ’n alleenloper in hulle rigting mik.

Die Alleenloper babbel voort oor dinge wat net hy verstaan en interessant vind. Die Alleenloper is melaats. Die Alleenloper het ’n boggelrug. Die Alleenloper het ’n velsiekte wat maak dat hy op ’n afstand geruik kan word. Die Alleenloper het tering, of AIDS … wat by oop sere op sy hande uitdrup in bloed wat dreig om almal te besmet wat om braaivleisvure staan en vuil grappe vertel.

Die Alleenloper is ’n fokken genius. Dit kan nie anders nie. Ek meen, selfs al het hy nie ’n graad in geskiedenis en godsdienskunde nie, selfs al het hy nie ’n boek van ’n paar honderd bladsye oor sy eie lewe geskryf nie, selfs al was hy nie reeds besig met sy tweede digbundel nie (wat, soos die eerste, ’n ongepubliseerde meesterstuk sal wees), selfs al het hy nie sy eie Beginsels van ’n Betekenisvolle Lewe geformuleer nie, moet hy noodwendig uitsonderlik wees: ’n Ongekende profeet wat nie eens in die buiteland erken word nie, wat nog te sê in sy eie agterplaas (as hy ooit so iets sou kon bekostig in die land van sy herkoms).

Hy móét eenvoudig spesiaal wees, iemand wat net nie verstaan en waardeer word deur die plebs wat hy graag sy vriende sou wou noem nie. Hoekom? Want god alleen weet, as hy nie is nie, is hy niks. Dan’s hy ’n verrottende karkas wat selfs deur ander intelligente, gesofistikeerde, verligte mense wat hy voorheen “vriende” genoem het, vermy word. Want instink dryf selfs die mees verligtes onder ons om ons neuse op te trek vir dit wat dood is. Om weg te vlug van dit wat eens geleef het, maar sedertdien eers ’n turn for the worst gevat het, en toe stadig gaan vrek het in die halfskemer stilte van sy privaat kwartiere, êrens in ’n buurt waar niemand wat sy taal praat, meer gesig kom wys nie.

Ag nou ja. Fok almal, dan.

DONDERDAG 31 JULIE 2003

Wie’t my stuk oor die snaar gelees?

Sedert Dinsdagoggend 29 Julie 2003 om 1:32 in die oggend het my een vriend gebel om te vra wanneer ek tyd het – hy wil graag vir my ’n nuwe fietswinkel in die stad gaan wys. Later bel ek my een vriendin. Ons gesels toe vir meer as ’n uur lank oor werk, en oor onsekerhede waarmee sy worstel elke dag. Ensovoorts. Sy’s blykbaar werklik besig. Sy’t blykbaar werklik meer vriende as net die uwe, en sommige van haar vriende hou haar besig met tot twintig sellulêre teksboodskappe op ’n dag. Vanoggend net na ontbyt bel my ander vriendin. Sy’s jammer sy’s so stil deesdae, maar tot die einde van hierdie week is sy besig van Chinese klas in die oggend tot halftien in die aand met werk. So, vra sy, hoe lyk dit met koffie vanaand by haar.

Ag nou ja.

______________________

Weer tyd vir wiskunde | Oor aartappels en vrugte

VRYDAG 25 JULIE 2003

Ek het, lief vir somme soos ek is, my vriende in hierdie plek getel: “vier” is die getal waarmee ek vorendag gekom het. Van hierdie vier is twee mans, en twee vrouens. Ek het nie tans kontak met enige van hierdie mense nie.

Dis Vrydagaand, reeds vyf na middernag (Saterdagoggend, dus). ’n Verlate vlakte van ’n naweek staar my in die gesig. Ek reken my gemoed sal teen vroeg môre-aand in sy moer wees. Ek gaan die hele aand video’s wil kyk, terwyl ek deep-fried tofu en calamari in my keel afspoel met koue groen tee. Dan sal ek my metabolisme versnel met die een Nat Sherman na die ander in die vals oortuiging dat dit sal verhoed dat ek vet raak van al die olierige kos.

Ek sal moet weggaan. Stryd vir die Siel. Stryd om Oorlewing. Ek weet ek het ander mense nodig, maar soms is jy genoodsaak om ’n ander plan maak.

Die naweek is nog ’n leë doek, onbevlek met werklike gebeure. Tyd om kreatief te raak, anders raak die werklikheid dalk kreatief met my …

SATERDAG 26 JULIE 2003

Eet aartappels of vrek – dis my enigste twee keuses.

Ons almal weet hoe ’n gebalanseerde dieet lyk – proteïne, suiwelprodukte, ’n verskeidenheid groente en vrugte, ensovoorts. Maar wat doen jy as jy jouself in ’n situasie of omgewing bevind waar daar net aartappels is? Gaan sit jy op ’n klip en kerm, “Ek wil vrugte hê, en groente, en melk en vis en eiers …”?

Ons almal wil ’n gebalanseerde dieet volg! Ons almal wéét ons het dit nodig! Maar daar is nie nou vis of vrugte of ander groente nie! Daar’s net aartappels! So eet aartappels of vrek!

’n Ander gedagte: As jy ’n miljoenêr is, is die waarskynlikheid groot dat dit die gevolg is van dinge wat jy in jou verbeelding opgewek het, en aksies wat jy geneem het. Meeste “gewone” mense is oortuig daarvan dat hulle maar altyd swaar sal kry. As hulle gelukkig is, behou hulle hul werk tot hulle 65 tref, en tree dan af met hulle skete en pyne, en ’n aftree-polissie of twee. Feit is, as jy jouself die regte dinge voorstel, en die regte aksies neem, kan meer as genoeg geld een van die vrugte wees wat jy sal pluk.

______________________

Die vraag bly steeds …

WOENSDAG 18 JUNIE 2003

Ek wil teruggaan Suid-Afrika toe. As dit binne die volgende ses maande is, kwaai. As dit eers oor drie jaar is, dan aanvaar ek dit so. Dit is egter belangrik om te weet waarheen jy op pad is. En om dít te weet, en om te weet hoekom jy dáár wil wees, is dit belangrik om te weet waar jy vandaan kom.

Ek ken die antwoorde op hierdie vrae. Ek weet dit nou baie beter as ses, en drie, en twee maande gelede. Ek weet dus waarheen ek op pad is, waar ek wil wees – nie net in terme van geografiese plek nie, maar ook in terme van die Groot Hiërargie, en hoekom ek spesifiek dáár wil wees.

Ek het egter een vraag: Wat doen ’n mens as jy alleen is?

Meeste mense wil omring wees deur familie en vriende, en naby aan die persoon wees met wie hulle ’n intieme verhouding het. So is dit ook met my. Maar wat doen jy as jy jouself in ’n situasie bevind waar jou naaste familie duisende kilometers ver is, jy jouself toenemend vervreem het van mense wat jy op ’n stadium vriende genoem het, en niemand jou by die huis inwag om saam met jou tee te drink en die dag se gebeure te bespreek nie? Miskien is hierdie situasie die resultaat van omstandighede buite jou beheer, of miskien is jyself ten volle verantwoordelik daarvoor. (Indien laasgenoemde die geval is, is dit nie te sê dis nie om goeie redes nie.) Die vraag bly steeds: Wat doen ’n mens as dit net jy is, en jy wil nie hê dit moet uiteindelik jou geestesgesondheid of moraal onherstelbaar vermink nie?

______________________

Realiteit, en ’n paar ander feite

DINSDAG 17 JUNIE 2003

“What I used to think was me/is just a fading memory/I looked it straight in the eye, and said goodbye/I’m up above it …” ~ Nine Inch Nails

Ek het nie veel van ’n keuse anders as om te vernuwe nie, het ek? My troeteldier is dood, en my woonstelmaat en vriendin het haar heil op ’n ander kontinent gaan soek. Sommige mense ignoreer my eers, besluit dan hulle wil net vriende wees, en besluit dan ook dít is te veel. Ander mense speel kat-en-muis om my te wys wie’t wié die meeste nodig. Die res van my kennisse vermy my om ’n verskeidenheid redes – ek gaan nooit op naweek-trips nie, godsdiensverskille, en miskien bloot omdat ek nie genoeg pret is om mee uit te hang nie. My TV is gebreek. My rekenaar is gebreek. My fiets is net die helfte van wat dit verlede jaar was. My scooter staan al vir amper ’n jaar op die stoep en olie drup. Die waterrekeninge is maande laas betaal, en my scooter registrasie is nog nooit betaal nie. Ook my studieskuld is steeds ongedelg. My woonstel ruik soos ’n stroois. Insekte vlieg en loop verwaand die hele plek vol want ek het die enigste roofdier, ’n reuse spinnekop, doodgetrap. Ek geniet nie tans enige vroulike geselskap nie, want meeste Suid-Afrikaanse vrouens hier is streng groepsgeoriënteerd, en ek loop alleen by plekke in en uit. En Taiwannese vrouens dink ek is te eienaardig – selfs vir ’n uitlander. Die oubaas wat die skool besit in die klein dorpie buite Fengshan, dink ek is ’n slegte werker omdat ek sommer ’n een-uur-klas kanselleer as die trein laat is met ’n halfuur, en ek nie net die klas ’n halfuur later wil begin nie omdat ek dan vir 45 minute moet wag vir ’n trein terug huis toe. En die prinsipaal by die ander skool kan nie verstaan hoekom ek op Maandae en Vrydae twee minute vroeër wil loop nie, ten spyte daarvan dat die eienaar gesê het dis oukei om vyf minute vroeër te loop. Oor tien dae gaan ek Suid-Afrika toe vir drie weke, maar dit voel al klaar asof ek soos ’n mislukking gaan lyk, voel, klink en optree, tot ek weer op ’n vliegtuig klim terug Taiwan toe. Intussen sal die insekte my woonstel oorgeneem het as ’n nuwe ekologiese sisteem, my fiets sal verroes wees, alles sal nat wees buite, en bedompig binne van al die reën, en ek sal niemand hê om te bel en te sê ek is terug, kom ons gaan drink ’n koppie koffie nie. My rekenaar sal nog steeds stukkend wees, en as ek ’n nuwe rekenaar wil koop, gaan my spaargeld vinniger opraak, wat sal beteken ek sal heel moontlik, as ek gelukkig is, weer “Twinkle, Twinkle Little Star” moet sing vir vierjariges wat óf wil skree, óf wil slaap.

Daar – daar’s die realiteite van my lewe op Dinsdag 17 Junie 2003 om 10:22 in die oggend – by die huis, omdat die trein na Number Nine Crooked Village vertraag was met 35 minute. Tog, my skottelgoed is gewas (vir die eerste keer sedert laat April), en die wasmasjien is besig om my beddegoed ’n laaste spin te gee. ’n Slapie klink dus vir my na ’n uitstekende plan.

(Klaar geslaap, 12:05)

Dis net sowel. Mens kan nie begin met ’n nuwe lewe as die oue nog skop nie. Ek het dit al voorheen probeer, dit werk nie.

[…]

Wat kom hierna? Ek weet nie. In elk geval, is dit nie soos om te vra na die geslag van die verwagte geboorteling as mens nog nie eens swanger is nie?

Feit: Nie alle mense het altyd nodig om vir iemand anders te werk nie.

Slegte nuus: Op hierdie stadium van my lewe het ék nodig om vir ander mense te werk.

Goeie nuus: My lewe is nie van so ’n aard dat ek nodig het om ’n slaaf te wees vir ’n ryk man sestien ure elke dag, sewe dae per week nie.

Feit: Ek het wel nodig om ’n paar ure elke dag (of dan vyf dae per week) vir iemand te werk wat geld maak uit my arbeid.

Feit: Sedert 1991 al het ek ’n byna onafgebroke reeks verhoudings gehad met een of ander werkgewer (ek het ongeveer sewentien “base” getel).

Feit: Ek aanvaar dit so.

Ou feit: Vestig jouself as ’n kenner op ’n gebied, en bou ’n professionele reputasie op.

Dus, feit: Verbeter jou kanse om geld te maak op ’n wyse wat jou persoonlikheid pas en jou belangstelling behou, deur jouself te vestig as ’n kenner op ’n gebied waarin jy geïnteresseerd is, en deur ’n professionele reputasie op te bou in ’n mark waarin wat jy lewer, kommersiële waarde het.

Genoeg feite. Tyd vir nog ’n gedig:

ek dra nog steeds die klere
van my vorige lewe
ek sit nog steeds dieselfde stoele vol
met jeukerige agterstewe

______________________

Toekomsvisie, moontlikheid een

SATERDAG 24 MEI 2003

Brand Smit woon in Blousteenweg nommer 273. Hy’s getroud met Elsa Kleynhans (nou Junie was dit sewe jaar). Hulle het twee kinders: Martie is vyf en ’n half, en Ben is drie. Brand werk by ’n plaaslike koerant as sub-redakteur. Hulle het die huis in Blousteen gekoop drie jaar gelede by ’n werkskontak van Elsa se broer (net voor klein Ben se geboorte). Dis ’n aangename huis, met ’n kleinerige voortuin en ’n boom in die agterplaas. Brand sê altyd hy’t die huis gekoop omdat daar nie te veel gras is om te sny nie. Dan voeg Elsa elke keer by, “en die studeerkamer”.

Die gesin was verlede Desember Sodwana toe, en Brand het gesweer nooit weer nie. Die kinders het siek geword van die drinkwater, en hy en Elsa het daarna nie ’n nag se rus gehad vir ’n volle week nie. Brand het aanvanklik gesê hulle bly by die huis hierdie Desember, maar hy en Elsa het weer daaroor gepraat. Hulle beplan nou om ’n draai te gaan maak by familie van Elsa in die Weskus.

Brand praat so nou en dan oor sy jare in die Ooste; Elsa luister maar altyd geduldig. Soms, soos nou Aprilmaand, kom daar iemand kuier waarmee hy bevriend was in Taiwan. Hulle gesels dan tot laat in die nag oor dié en daai, oor tifone, besoedeling, epidemies, Engelse klasse, en Chinees.

Brand onthou nog ’n paar Chinese woorde, en hy sê altyd as hy weer Taiwan of China toe moet gaan, hy weer die taal sal kan optel. In die badkamer (die een langs die spaarkamer) hang ’n rol bamboespapier met groot Chinese karakters op. As ’n gas die badkamer gebruik het, hoop Brand altyd hulle vra hom wat die woorde beteken. Hy gaan dan gewoonlik aan daaroor tot Elsa hom herinner dat nie almal ewe geïnteresseerd is in Oosterse tale nie.

Brand het verlede jaar veertig geword, en as ’n geskenk aan homself ’n boek oor Confucius gekoop. Die boek lê in die sitkamer langs die stoel waar hy altyd sit, maar hy’t nog net die eerste paar bladsye gelees.

Hy skryf nog, maar meeste van die tyd is dit net goed vir die koerant. Hy’t eenkeer ’n artikel geskryf vir ’n nasionale tydskrif, en was baie opgewonde oor wat hy gereken het moontlik ’n nuwe bron van gereelde inkomste kan word. Dit was drie jaar gelede.

Brand is lief vir sy vrou, en hy’s toegewyd aan sy kinders. Hy hoop Martie gaan iets soos ’n argitek of ’n veearts word. Hoewel dit nog bietjie vroeg is om te sê, reken hy klein Ben mag dit dalk in hom hê om ’n skrywer te word. Hy vertel dit vir almal wat wil hoor, en lyk elke keer verleë as Elsa vir hom sê, “Laat die kind toe om sy eie mens te word.” Al wat hy dan sê voor hy oor iets anders begin praat, is dat hy dit in die seun se oë kan sien. ’n Skrywer, of miskien ’n sielkundige.

______________________