SATERDAG 24 MEI 2003
Ek dink nie ek kan nog ’n jaar in Taiwan bly nie. Dis nie dat ek skielik moeg is vir die plek nie. Dis nie dat ek nie weet ek kan volgende maand op vakansie gaan, terugkom, die kleuterskoolwerk los, fokus op my Chinees en my teaching materiaal vir ses maande, en ’n ander woonstel kry nie. Dis nie dat ek nie weet ek kan dan volgende Februarie vir twee maande op vakansie gaan, en terugkom en ’n ander werk kry nie.
Waaroor dit gaan, is bloed: my familie. My ouers raak nie jonger nie. My jongste suster, met wie ek altyd ’n noue verhouding gehad het, is al ’n paar jaar getroud, en ek het nog net een keer sedertdien by hulle aan’t huis gekuier. My ouer suster woon in Engeland. Ek sal graag ook by haar wil gaan kuier, maar dat ek dit nog nie kon doen nie, is ten minste nie iets waaroor ek skuldig voel nie, want sy het, soos ek, weggegaan.
Nog ’n ding: Onlangs het die nuus gebreek dat my ouer suster swanger is met haar eersteling. My jonger suster kan ook enige tyd swanger raak. Waar laat dit my? Die “oom” wat in die Verre Ooste woon, wat miskien een keer per jaar kom kuier? En wanneer my ouer suster en haar gesin Suid-Afrika toe gaan, is die kans goed dat ek aan die ander kant van die planeet sit. Dis nie goed genoeg nie.
Een ding wat weereens bevestig is die laaste paar jare in my observasie van Taiwannese mense en hulle kultuur, is hoe belangrik familie is. Ek sien oupas wat laatmiddag in die straat afstap wat weet hulle sien weer daai aand, soos elke aand, hulle kleinkinders. Ek sien ouers wat hul eie kinders én hulle broers of susters se kinders by dieselfde kleuterskool optel. Dít – dit is die lewe wat ek wil hê! ’n Lewe van gemeenskap, waar ek my ouers gereeld kan besoek, en naweke by my suster en swaer kan braai. En as hulle dan kinders het, om te sien hoe hulle my onmiddellik herken, en vir my ’n storie vertel soos ’n kind net ’n storie vertel vir iemand wat nie ’n vreemdeling is nie. En wie weet, as dinge dan so uitwerk, dan sien ek ook hoe my eie kinders eendag so is met my suster en my swaer. Dan is daar my ouer suster en haar man. Goed en wel, Engeland is ’n bietjie ver vir ’n weeklikse braai, but it’s still a hell of a lot closer than the Farthest East!
’n Vraag het soos ’n vlaggie wat aan ’n veer vas is by my mond uitgespring die oomblik toe hierdie gedagtes geregistreer het as ’n nuwe verwikkeling: Hoe gaan ek dit regkry?
Soos verskillende bestanddele maar altyd saamvloei op enige oomblik om iets groots te produseer, was ek dié keer besig om ’n George Orwell boek te lees met die titel, Coming up for Air. Die ou gaan in die eerste honderd bladsye of so erg aan oor Engeland in die twintigs, en oor ’n betrekking wat jou net genoeg geld gee sodat die kinders nooit regtig weet dat julle nooit baie geld gaan hê nie, met die vrou wat altyd kla oor rekeninge en so aan. Ek dink toe half dromerig: “Hmm … ’n job, nè?”
Om iets wat naastenby kwalifiseer as ’n vaste betrekking te beklee in Suid-Afrika is gewoonlik vir my niks meer as ’n ietwat vermaaklike teoretiese moontlikheid nie. Ek sal so nou en dan ’n vlugtige dagdroom daaroor hê. Maar dit is ook iets wat ek vrees, as gevolg van my probleem met gesagsfigure, en omdat ek bang is ek mors my lewensdae in ’n ewigdurende stryd om genoeg geld bymekaar te maak. En as dit nie ’n kantoor job is nie, dan enige van ’n duisend ander jobs waar jy moet sê, “Ja Baas,” en “Dis waar, ek hét lelik drooggemaak. Ek belowe ek sal nooit weer nie.” En dan huis toe gaan in die aande en met niemand wil praat nie, of op almal wil skree.
Hoekom sou George Orwell van alle mense die idee van ’n “job” vir my lekker laat klink? Sy hoofkarakter het immers aan soortgelyke dinge geglo as wat ek daagliks aan myself resiteer as persoonlike dogma. Miskien was dit nie in die eerste plek die idee van ’n vaste werk nie, maar die idee van mense om jou, ’n vrou en kinders, en plekke wat jy ken. En miskien was dit ook omdat ek weet dat ek die konsep van ’n vaste betrekking – so sentraal aan ’n lewe van middelklas semi-sekuriteit – koppel aan al die dinge waarna ek vir jare lank al smag.
Hierdie verband tussen wat ek vrees en wat ek begeer hou my nou al vir hoe lank in ’n ongewenste situasie vasgevang. Ek wil die goeie dinge hê wat ’n mens gewoonlik kan kry as jy ’n sogenaamde job het, sonder om in werklikheid so ver te gaan om my eie oortuigings te verloën en ’n vaste werk te probeer bekom – of dan ten minste iets wat op papier lyk soos ’n vaste werk.
Is dit nie hoekom ek vir die duisendste Saterdagaand alleen in my woonstel in die Verste Ooste sit, terwyl my familie op ’n ander kontinent die vleis begin uitsit vir vanaand se braai nie? Omdat dit dogma geraak het dat Brand Smit nooit ’n besoldigde posisie sal kan verduur nie.
______________________