Die Nuwe Linkerkant, of Programmeer Jouself – enkele opmerkings

SATERDAG 28 APRIL 2018

Daar blyk te wees ’n konflik tussen twee stelle idees in die Weste.

Aan die een kant is mense wat sê: “Hierdie stel oortuigings is die waarheid. Dis al wat tel. Enige iemand wat nie met ons saamstem of ons ideologie ondersteun nie, is deel van die probleem, en is derhalwe ’n wettige teiken vir ons protes, beledigings, en selfs fisiese geweld.”

Hierdie stel idees word gesien deur aanhangers as teologie – wat nie bevraagteken, gedebatteer, of krities geanaliseer mag word nie, en wat verkondig word met die oortuiging en passie van sendelinge.

Aan die ander kant van die konflik is mense wat reken dat sommige van die dinge wat hulle “opponente” verkondig oor strukture wat mense onderdruk, en oor geslag, en identiteit, en so aan, interessant is. Hulle gaan so ver om te glo dat ’n mens waarskynlik ’n meer intelligente gesprek sal kan voer oor die aard van die mens, verhoudings tussen mense en groepe, en die aard van mag, indien jy na hierdie idees kyk en dit ernstig oorweeg.

Maar, hulle sê ook: “Hoe waardevol is dit om jouself te sien as die slagoffer van jare, of dekades, of eeue se onderdrukking? Jy sal waarskynlik die helfte van die bevolking – of meer – moet oortuig dat jy swaarder gekry het sover in jou lewe as húlle, of dat hulle en hulle voorgeslagte strukturele voordele en geleenthede geniet het ten koste van jou en jou voorgeslagte, en dat hulle jou derhalwe iets skuld. Van die dinge wat jy sê is dalk waar. Maar help dit jou om kos op die tafel te sit? Help dit jou om jou kinders te versorg, en ’n dak oor jou kop en oor húlle koppe te sit?”

“Fokus op jou sterkpunte,” sal hulle byvoeg. “Fokus op wat jy het, en vergeet van dinge wat jou nie gaan help om kos op die tafel te sit nie. Fokus op die positiewe; verbeel jouself die negatiewe is net ’n illusie. Skep jou eie toekoms, van vandag af, deur jouself te sien as ’n skepper, nie as ’n slagoffer nie.”

* * *

Ek verstaan – of ek dink ek verstaan – beide kante. Ek het groot geword met lojaliteit aan ’n bepaalde stel oortuigings. Ek is geleer dat geloof ’n saak van lewe en dood was. Ek het mense wat nie geglo het soos ek nie, gesien as blind, onkundig, verkeerd, en verdoem. Selfs jare nadat ek besluit het om eerder rede te volg as oorgelewerde tradisie, kon ek nie heeltemal wegkom van ’n sekere manier van dink nie: Ek het myself steeds gesien as ’n Soeker na die Waarheid.

Die laaste paar jare het ek myself egter toenemend aangetrokke gevoel tot ’n ander stel idees: praktiese idees, wat enige een se lewe kan verbeter wat bereid is om dit ’n kans te gee. Hierdie stel idees sluit in dat die mens programmeerbaar is – dat jy inderdaad die vermoë het om jou eie werklikheid te skep. Dit sluit in dat jy jouself dalk om die bos moet lei aan die begin. Jy mag dalk moet glo dat jy dinge kan doen wat jy nie kan bewys jy kan doen nie. Jy mag dalk nodig hê om dit te “fake” vir ’n tyd. Maar wat gebeur uiteindelik? Dit word jou realiteit. En uiteindelik is dit wat dalk nie wáár was aan die begin nie, jou nuwe waarheid – jou nuwe realiteit.

* * *

In eenvoudige terme: As jy dink aan jouself as ’n slagoffer van strukturele onderdrukking aan wie iets geskuld word, gaan dit jou daaglikse realiteit wees. As jy dink aan jouself as ’n skepper, of ’n programmeerder van jou eie psige en gepaardgaande realiteit, en jy fokus op wat moontlik is, en op wat jy kan uitrig, is daar ’n goeie kans dat jy ’n beter realiteit vir jouself gaan bewerkstellig. En siende dat hierdie realiteit gebou sal wees op positiewe denke, op kreatiewe energie, is daar geen einde aan wat jy kan uitrig nie.

Is dit te sê dat jy ongerieflike waarhede moet ignoreer? Glad nie. Jy erken aspekte van verifieerbare realiteit – soos dat jy byvoorbeeld nie die gebruik van jou arms en/of bene het nie, maar jy vra ook: Hoe kan ek te werk gaan hiermee?

* * *

Die kant wat aandring daarop dat hulle begrip van sake die enigste waarheid is, word verblind deur lojaliteit aan hulle ideologie. Hulle glo aantygings omdat die “regte” mense beskuldig word. Hulle soek nie vir bewyse nie, want die een wat beskuldig is van iets, is in elk geval skuldig aan groter misdade, so dit maak nie saak as hulle “tegnies” onskuldig is aan die misdaad waarvan hulle beskuldig word nie. Goeie, redelike argumente word van die hand gewys omdat die “verkeerde” mense die argument maak. Mense wat vrae vra, word beskuldig daarvan dat hulle die “verkeerde” kant help met hulle vrae, en derhalwe groter sondaars in staat stel om groter sondes te pleeg.

Beginsels wat mense al sedert die agtiende eeu help om beter lewens te leef, om beter lewens te verseker vir die maksimum aantal mense, en wat kundiges in staat stel om tot ’n beter begrip te kom van hoe die mens en die natuur werk, is ook in die spervuur. Beginsels van wetenskaplike ondersoek wat verifieerbare resultate oplewer, word geïgnoreer of eenvoudig verwerp wanneer dit nie die aanvaarde ideologie versterk of bevestig nie. En vryheid van spraak word gesien as ’n instrument in die hande van die onderdrukker, eerder as ’n reg wat elkeen het om sy of haar opinie te lug, ongeag hoe vreemd of ongewild die opinie mag wees.

Dat daar ’n konflik van idees woed in die Weste, is nie altemit nie. Dat die een kant hulleself in die voet skiet en hulle vingers in hulle eie oë steek, is dalk nie heeltemal so ooglopend nie.

______________________

Duiwels in die Withuis – tweede notas

DINSDAG 11 JULIE 2017

Het Ronald Reagan, George H.W. Bush, hulle CIA-hoof William Casey, en ander mense in die Reagan administrasie geweet hoe die mense wat hulle opgelei en bewapen het, dorpies in Guatemala aangeval en voor die voet mans, vrouens, en kinders vermoor het? Het hulle geweet hoe kinders se koppe stukkend geslaan is teen rotse? Het hulle geweet hoe die mense wat hulle opgelei en bewapen en morele ondersteuning gegee het, gelag het omdat ou mense soos skape geblêr het toe hulle kele afgesny is met stomp messe?

Het die politieke leiers in Washington ondersoek ingestel toe sulke gerugte die rondtes begin doen het? Indien nie, hoekom nie?

Indien hulle wel geweet het, en dit afgemaak het as die prys wat betaal moet word om “kommunisme” te stuit, is dit nie onredelik om te verklaar dat as Lucifer self met ’n bok se bebloede kop op sy skouers in die Withuis gesit het in die plek van Reagan en sy trawante, hy nie ’n meer destruktiewe invloed sou gehad het op miljoene mense se lewens in Sentraal-Amerika as wat Reagan, Bush, Casey en dosyne ander kermende demone tydens hierdie periode wel gehad het nie.

Maak geen fout nie: Die Sowjet-Unie was dalk die “Evil Empire”, maar jy hoef nie ver te soek vir bewyse dat Amerika onder Ronald Reagan die “Koninkryk van Lucifer” was nie.

———–

Meer inligting:

Dos Erres massacre

Buried On a Hillside Clues To Terror; Scientists Uncover Evidence of a Massacre

Foreign policy of the Ronald Reagan administration: Guatemala

Guatemalan Slaughter Was Part of Reagan’s Hard Line

Call Attention to Ronald Reagan’s Criminal Involvement in Guatemalan Genocide

Western Hemisphere Institute for Security Cooperation, formerly known as the U.S. Army School of the Americas

En ’n redelike swak poging om Reagan te verdedig:

‘Did Reagan Finance Genocide in Guatemala?’

[Kortliks: Die Dos Erres-slagting word beskou as een van die aakligste voorvalle in die geskiedenis van Guatemala se lang en bloedige burgeroorlog. Die slagting het plaasgevind tydens die bewind van generaal Efrain Rios Montt, wat bekend was vir sy brutale taktiek teen vermeende linkse guerrillas en hul ondersteuners. Die Kaibil-eenheid was ’n besonder berugte spesiale magte-eenheid van die Guatemalaanse weermag, bekend vir hul uiterste brutaliteit en meedoënloosheid.

Die slagting by Dos Erres het begin toe die Kaibil-eenheid in die dorpie aangekom het om na wapens te soek en vermoedelik guerrilla-simpatiseerders. Die soldate het die dorpenaars bymekaargemaak en die mans van die vroue en kinders geskei. Die mans is weggeneem en tereggestel, terwyl die vroue en kinders onderwerp is aan terreur en geweld wat verkragting en marteling ingesluit het. Die soldate het toe stelselmatig die vroue en kinders doodgemaak, hul liggame in die dorp se put gegooi, en die huise afgebrand.

Die nasleep van die Dos Erres-slagting het tot ’n aantal regstappe gelei teen partye wat verantwoordelik gehou is. Pedro Pimentel Rios, ’n voormalige Kaibil-soldaat, is uit die Verenigde State aan Guatemala uitgelewer en tot meer as 6 000 jaar tronkstraf gevonnis vir sy rol in die slagting. Twee ander voormalige Kaibil-soldate is ook tot dieselfde tronkstraf gevonnis. Die internasionale reaksie op die slagting was egter grootliks gedemp, met baie Westerse regerings wat voortgegaan het om die Guatemalaanse weermag te ondersteun ten spyte van hul goed gedokumenteerde rekord van menseregtevergrype.

Die nalatenskap van die Dos Erres-slagting spook steeds in Guatemala, en dien as ‘n herinnering aan die gruwels wat tydens die land se lang en bloedige burgeroorlog gepleeg is.]

______________________

Duiwels in die Withuis – eerste notas

DONDERDAG 22 JUNIE 2017

Ek was op pad terug van die Chinese restaurant toe ek dink aan Amerika se geskiedenis van ongeregtigheid teen nasies wat nie sterk genoeg was om hulleself te beskerm nie. Kon gedink het aan die Filippyne so amper 120 jaar gelede, Iran in die 1950’s, Vietnam in die 1960’s.

Spesifiek het ek hierdie keer gedink aan hoe die Amerikaanse regering opgetree het om ’n enkele maatskappy (die United Fruit Company) se belange te beskerm in Guatemala in die 1950’s; hoe hulle vuil gespeel het, gelieg het, en mense bedrieg het ten einde ’n progressiewe, demokraties verkose nasionale leier omver te werp; ’n leier wat reeds die proses begin het om aan die mense van Guatemala ’n bietjie menswaardigheid te gee na dekades van verstikkende armoede en uitbuiting deur die Amerikaanse maatskappy.

Ek wonder toe: Watse geregtigheid is daar vir die slagoffers?

Dit: Geskiedenis veroordeel die gewetenlose kriminele wat mense van hul waardigheid beroof het, en van enige kans op ’n ordentlike lewe.

Ek weet dit is karige troos vir honderd-duisende mans, vroue en kinders wat gely en gesterf het omdat hierdie gulsige, kortsigtige duiwels die aarde bewandel het. Maar ten minste is die waarheid opgeteken, swart-op-wit, vir enige iemand wat wil weet.

———–

Indien jy meer wil lees oor hierdie geskiedenis, is die volgende skakels ’n goeie begin:

1954 Guatemalan coup d’état

Congress, the CIA, and Guatemala, 1954

An Apology for a Guatemalan Coup, 57 Years Later

[Kortliks: In 1954 het die Verenigde State se regering, met die steun van die United Fruit Company, ’n staatsgreep in Guatemala georkestreer wat die demokraties-verkose president, Jacobo Arbenz, omvergewerp het. Die voorwendsel vir die ingryping was die beskuldiging dat Arbenz sag op kommunisme was, en derhalwe ’n bedreiging vir Amerikaanse nasionale veiligheid. Die eintlike motief agter die staatsgreep was egter om die belange van die United Fruit Company te beskerm, wat groot hoeveelhede grond in Guatemala besit het en bekommerd was oor Arbenz se grondhervormingsbeleid. (John Foster Dulles, die destydse Amerikaanse minister van buitelandse sake, en sy broer, die destydse CIA-direkteur, Allen Dulles, het ’n beduidende verhouding met die United Fruit Company gehad deur hul vennootskap by die regsfirma Sullivan & Cromwell, waar hulle talle transaksies vir die maatskappy gefasiliteer het.)

Die operasie is deur die CIA uitgevoer en het ’n reeks taktieke behels, insluitend sielkundige oorlogvoering, propaganda en die gebruik van plaaslike anti-kommunistiese groepe. Die CIA het onder andere ’n vals radiostasie geskep wat boodskappe uitgesaai het wat ontwerp is om onenigheid en verwarring onder die mense van Guatemala te saai. Hulle het ook gerugte en vals inligting oor Arbenz en sy regering versprei om die openbare mening teen hom te keer.

Ná die staatsgreep het die nuwe diktator, Carlos Castillo Armas, baie van die maatskaplike hervormings wat Arbenz geïmplementeer het, onder meer grondhervorming en arbeidsbeskerming, omgekeer. Hy het ook opposisiepartye verbied en ’n regime van terreur en geweld gestig wat vir dekades geduur het. Duisende mense is gedurende hierdie tydperk deur regeringsmagte gemartel, verdwyn of vermoor.

Die United Fruit Company het voortgegaan om voordeel te trek uit sy bedrywighede in Guatemala, en die Amerikaanse regering het voortgegaan om die regime te ondersteun deur militêre en ekonomiese hulp te verskaf. Die nalatenskap van die Amerikaanse ingryping in Guatemala word vandag steeds gevoel, aangesien die land sukkel om ’n demokratiese samelewing te bou en die menseregtevergrype van die verlede aan te spreek.]

______________________