Speel met die kaarte wat aan jou gedeel is

WOENSDAG 19 OKTOBER 2022

’n Man verskyn in ’n video onderhoud op sosiale media. Hy verwys na homself as ’n vrou, en verskyn in klere, grimering en haarstyl wat tradisioneel meer geassosieer word met ’n volwasse vrou as ’n volwasse man. Hy praat in ’n hoë stem, en verbly homself in die moontlikhede wat hy glo nou oop is aan hom om onder andere ’n moeder te wees.

Hier is die feite:

1. Die persoon is nie gebore in die sewentiende eeu nie. Sommige mense dink dit sou interessant gewees het om te kon leef deur die oorloë in Europa in daai eeu, of beter of slegter tye in ander dele van die wêreld. Feit is, die persoon is gebore in die twintigste eeu. Die persoon kan klere laat maak en aantrek as iemand van die sewentiende eeu, en selfs in ’n koets rondry, maar sal niks kan verander daaraan dat hy nie gebore is in daai eeu nie. Dieselfde argument kan gemaak word oor die feit dat die persoon nie gebore is in 1950 nie. Dalk het hy dagdrome oor hoe dit sou voel om ’n kind van die vyftigs te kon wees. Hy kan aantrek in klere wat gepas sou wees in die vyftigs, sestigs of sewentigs, maar niks kan dit verander dat hy nié gebore is in 1950 nie.

2. Die persoon is nie gebore as ’n swart man of vrou nie. Sommige mense wens hulle was gebore met die DNS en pigmentasie van ’n swart persoon, maar die feit is dat die persoon in hierdie betrokke video inderdaad nié swart is nie. Selfs al wou die persoon swart wees, is dit nie biologies moontlik nie. Die persoon kan skoenpolitoer oor sy gesig smeer, maar hy sal nooit meer wees as ’n wit persoon met swart skoenpolitoer oor sy gesig nie.

3. Die persoon is nie gebore in Japan as die kind van etnies Japannese ouers nie. Weereens, daar is Kaukasiërs en mense van ander rasse wat wens hulle was gebore in Japan, as kinders van etnies Japannese ouers, maar, helaas … hulle was nie. Soos die persoon in die video. Hy kan Japan toe trek, vlot Japannees leer praat, Japannese kulturele gebruike aanneem, en selfs burgerskap van die land kry. Maar hy kan niks verander aan die feit dat hy nie gebore is as die kind van etnies Japannese ouers nie.

4. Die persoon is gebore met biologiese eienskappe wat van hom ’n man maak, nie ’n vrou nie. Omdat sy post-puberteit liggaam nie die biologiese vermoëns het om eiers te produseer nie, en hy nie in staat is daartoe om kinders te baar nie, is hy nie ’n vrou nie. Indien sy liggaam al die biologiese elemente gehad het wat nodig is om eiers te produseer en kinders te baar, maar hy vanweë siekte of ander mediese redes nie meer deur die proses kan gaan nie, of vanweë ouderdom of ander redes dit méér kan doen nie, sou hy steeds ’n vrou gewees het. Helaas, sy liggaam het nie die nodige biologiese elemente nie, het dit nog nooit gehad nie, en sal dit nooit hê nie. Hy kan derhalwe nie gedefinieer word as ’n vrou nie. Soos met die eeu of die dekade waarin jy gebore is, en jou etniese en kulturele herkoms, wens die persoon dalk hy was gebore as ’n vrou. Hy kan aantrek soos hy reken ’n vrou behoort aan te trek, grimering dra, en sy haarstyl verander – en homself skuldig maak aan stereotipering van hoe ’n vrou behoort te verskyn in die publiek. Hy kan ook maniertjies aanleer wat nader is aan stereotipe van hoe ’n vrou behoort te praat, of haar hare te gooi, of te lag, of handgebare te maak. Hy kan selfs hormoonbehandeling kry wat sal maak dat sy liggaam borste groei – soos ’n vrou. Hy kan nog verder gaan en sy penis laat verwyder en wat oorbly laat vorm in iets wat dalk sal lyk soos ’n vroulike geslagsdeel. Maar niks sal verander aan die feit dat hy gebore is met die biologiese elemente wat van hom ’n man maak nie.

Daar is uiteindelik nie ’n regte manier om ’n seun of ’n meisie te wees nie, of ’n regte manier om ’n man of ’n vrou te wees nie. Nie alle seuns speel sport of klim bome nie. Nie alle meisies speel pop of loop rond in hulle ma’s se hoëhakskoene nie. So ook hou sommige mans van grimering dra, en hulle is gemakliker in rokke. Sommige vrouens verkies kort hare en gespierde bo-arms. Sommige mans is seksueel aangetrokke tot ander mans, en sommige vrouens is seksueel aangetrokke tot ander vrouens.

Die maniere hoe jy jou persoonlikheid kan uitdruk is so-te-sê eindeloos. Maar as jy nie gebore is in die sewentiende eeu of in 1950 nie, kan jy sê jy wás, maar dit gaan nie die werklikheid verander nie. As jy gebore is in Soedan van etnies Soedannese ouers, kan niks wat jy sê verander aan die feit dat jy nie gebore is in China van etnies Chinese ouers nie. En as jy gebore is met ’n penis en een X-chromosoom en een Y-chromosoom, kan niks verander aan die feit dat jy as volwasse persoon nie ’n vrou is nie.

Ons opsies van waar en hoe ons leef, is veel breër as ons voorgeslagte. Jy kan kies watse klere- en haarstyl jou beter pas. Jy kan kies hoe jy wil praat, hoe jy wil lag, en watse handgebare jy wil gebruik. Jy kan etlike tale vlot leer praat, en in enige van amper 200 lande gaan woon in die styl waaraan meeste mense van daai land gewoond is. Jy kan laat sny aan jouself, veranderinge maak aan hoe groot jou ore is of hoe rond jou oë. Jy kan gewig verloor en superfiks raak, of jy kan so vet raak as wat jy wil. Maar alles gebeur binne sekere grense: Wanneer jy gebore is; waar jy gebore is maar veral waar jy groot geword het; wie jou biologiese ouers is; en helaas, die geslag waarmee jy gebore is. Speel met die spreekwoordelike kaarte wat aan jou gedeel is. Jou opsies is amper eindeloos.

DONDERDAG 20 OKTOBER 2022

Sê daar’s ’n ou by die werk wat reken hy’s ’n seerower. “Pieter” trek aan soos ’n seerower van die Karibiese See in die vroeë agtiende eeu. Hy swaai gereeld sy swaard rond as hy dink niemand kyk nie, en hy uiter elke nou en dan geluide soos “Arrgh!” en “Gar!”

Die ou is oor die algemeen aangenaam, en hy doen sy werk goed genoeg dat niemand kla nie. Meeste mense is beleefd en speel saam met sy delusie.

Een week kom jy agter hy’s nie daar nie. Na ’n bietjie rondvra, leer jy dat hy sy een been laat afsit het en dit met ’n houtpen vervang het. Soos ’n regte seerower.

Die seerower tendens raak sterker en sterker nie net in jou eie land nie, maar ook in ander lande. Mense wat identifiseer as seerowers begin selfs politieke drukgroepe.

Na nog ’n jaar of drie word almal in kennis gestel by ’n dringende vergadering dat indien enige iemand weier om “Rooibaard” (voorheen bekend as “Pieter”) se self-identifikasie te ondersteun as ’n regte seerower, jy maar jou goed kan pak en loop. Haatlike mense soos jy is nie welkom by die maatskappy nie.

Wat doen jy nou? Almal het nog altyd geweet “Pieter” het gewens hy was gebore in die agtiende eeu, en vir omstandighede wat hom sou dwing om sy lewe te slyt as ’n seerower. Maar almal het ook geweet “Pieter” – soos al sy kollegas – leef nie in die agtiende eeu nie, en “Pieter” is nie regtig ’n seerower nie. Maar nou kan jy jou werk verloor as jy nie sy delusie ondersteun nie? Jy kry ’n amptelike waarskuwing as jy nie na hom verwys as “Rooibaard” nie? En is die berigte waar dat die polisie begin het om mense te arresteer omdat hulle lelike dinge gesê het op sosiale media oor Regte Seerowers?

My opinie is dat “Pieter”, soos dinge nou staan, in sy moer in kan vlieg. Nie omdat hy ’n seerower wil wees nie. Nie omdat hy identifiseer as ’n Regte Seerower nie. En nie omdat hy sy een been laat vervang het met ’n houtbeen nie. “Pieter” is ’n volwasse man. Hy kan doen met sy been wat hy wil. En hy kan verskyn in die publiek soos hy wil. En hy kan “Arrgh!” en “Gar!” sê tot sy keel hees raak. Maar as ek my werk kan verloor as ek hom nie terug groet met ’n “Arrgh!” of “Gar!” nie, en as ek sosiaal uitgestoot en as haatlik bestempel word omdat ek reken hy’s nie regtig gebore in die agtiende eeu nie, dan is daar iets verkeerd met die hele storie.

* * *

Om terug te kom by Dylan Mulvaney, die persoon in die video met die rooi rok en die rooi strik in sy hare. Sê ek iemand moet die strik uit sy are ruk? Is jy fokken mal? Sê ek iemand moet vir hom gil dat hy die rok moet uittrek want mans dra nie rokke nie? Weereens, is jy van jou kop af? Mans kan dra wat hulle wil. Vrouens kan dra wat hulle wil. Vrouens kan hulle spiere bult en motorfietse ry en vloek en rook en hulle hare kort dra en vry met ander vrouens. Mans kan rokke en grimering dra en fyntjies trap in hoëhakskoene en met hoë stemme lag en vry met ander mans. Niks daarvan is my besigheid nie.

Wanneer raak dit my besigheid? Wanneer ’n mens verplig word in jou spraak om biologiese realiteit te ontken.

Hoekom is dit eens ’n moontlikheid? Omdat ’n obskure akademiese idee oor geslagsidentiteit amper oornag die dominante ideologie geraak het in sommige Westerse lande.

Sal ek ook ’n probleem hê daarmee as mense hulle werk verloor of verban word van sosiale media of hulle besighede moet toemaak omdat hulle nie wil toegee tot die idee dat Jesus Christus hulle “Persoonlike Verlosser” is nie? Ja, ek sal ook daarmee ’n probleem hê. Dieselfde daarmee as mense verplig word om in die publiek toe te gee tot die idee dat, “Allah is die Enigste God, en Mohammed sy Profeet.”

Daar is realiteit, en daar is oortuiging. In ’n vrye, liberale wêreld, is ons vry om te glo soos ons wil en te verskyn aan onsself en ander soos ons goedvind, solank ons niemand skade aandoen nie. En ons behoort vry te wees om biologiese realiteit uit te wys sonder om bang te wees ons word in die straat afgejaag deur ’n woedende skare, of nog erger, deur die polisie. Selfs al maak ons weiering om iemand anders se persepsie van hulleself te ondersteun, hulle gevoelens seer.

VRYDAG 4 NOVEMBER 2022

In die debat oor gender ideologie blyk daar breedweg twee kampe te wees.

Kamp Een sê daar is geen regte manier om ’n seun of ’n meisie te wees nie. Seuns kan hulle hare lank dra, blomme rangskik, pop speel en klere ontwerp, met ’n hoë stem praat, en maniere en gewoontes hê wat sommige mense meer herinner aan ’n vrou of ’n meisie, en steeds seuns wees. Meisies kan hulle hare kort dra, boomklim, in vuisgevegte betrokke raak met seuns, hulle beenhare laat groei wanneer hulle ouer raak, en hou van motorfietse en karre, en steeds meisies wees.

Kamp Twee glo daar is ’n regte en ’n verkeerde manier om seuns en meisies te wees. Hierdie regte en verkeerde maniere stem ooreen met stereotipe van dekades gelede. Seuns het kort hare en spiere. Hulle hou van sport en vloek en fietsry deur die modder. Meisies is fyn en dra hulle hare lank. Hulle dra rokke en kan nie wag om grimering te dra soos ouer vrouens nie. Hulle verkies ook om hulle tyd in die huis te spandeer en met hulle poppe te speel. Seuns wat hou van dinge waarvan meisies gewoonlik hou, of meisies wat gewoontes en voorkeure het wat meer geassosieer word met seuns, is manifestasies van ’n tragiese verskynsel in die natuur: kinders wat gebore word in die verkeerde liggame. Wanneer die kind dan besef iets is nie reg nie, of wanneer hulle ouers bewus raak daarvan dat iets verskriklik verkeerd gegaan het in die baarmoeder, moet hulle na kort konsultasies met mediese personeel en dalk ’n sielkundige op puberteit-blokkers en hormoonbehandeling geplaas word. Hulle moet ook vroeër eerder as later gaan vir operasies om borste te verwyder (indien van toepassing), en daar moet begin word met die lang en duur en riskante proses om hulle bestaande geslagsdele te transformeer in geslagsdele van hulle werklike geslag.

As jy jong kinders het of dalk beplan om in die nabye toekoms met ’n gesin te begin, of as jy ernstig is oor die reg van vroue om hulle eie spasies te hê, insluitende hulpsentra vir gemolesteerde vrouens of selfs tronke vry van manlike gevangenes wat identifiseer as vrouens, of die reg van gay mans of vrouens om hulle verhoudings te beperk tot mense van hul eie biologiese geslag sonder om “transfobies” genoem te word, is dit dalk ’n goeie idee om uit te sorteer in watter kamp jý meer gemaklik voel.

Lees meer oor die debat:

2018-07-06 – Saying Goodbye to the Tomboy (“Danya”)

2018-10-19 – We must reject self-identification (Joanna Williams)

2018-10-31 – Silencing Women in the Name of Trans Activism (Julie Bindel)

2019-01-31 – Homophobia and the Modern Trans Movement (Sky Gilbert)

2019-02-01 – The Nature of Sex (Andrew Sullivan)

2019-12-06 – The trans ideology is a threat to womanhood (Meghan Murphy)

2021-02-09 – Inside Planned Parenthood’s Gender Factory (Abigail Shrier)

2022-06-15 – The Billionaire Family Pushing Synthetic Sex Identities (Jennifer Bilek)

2022-07-26 – I Would Have Been a ‘Trans Kid’ (Eva Kurilova)

______________________

Rede vir onsekerheid, en ’n nuwe mantra

DONDERDAG 10 JULIE 2003

Ek identifiseer ’n swakheid in my toekomsplanne. Finansieel kan dit werk, maar daar is steeds ’n onsekerheid wat deurskemer in my idee om miskien huis op te sit in Bronkhorstspruit, en dan eers weer vir ’n paar maande terug te keer na Taiwan.

Op my gebruiklik wetenskaplike manier werk ek toe uit dat dit te make het met identiteit. Ek weet wie ek is, hoe ek wil leef, en wat ek uit die lewe wil hê. Solank ek in Taiwan bly, is hierdie dinge moontlik. Die oomblik as ek huis opsit in Bronkhorstspruit, so reken ek, gaan ek effens onseker wees of wie ek is, hoe ek wil leef, en wat ek uit die lewe wil hê, nog steeds so geanker gaan wees in Eksterne Realiteit.

Ek vat toe ’n middagslapie, en die boodskap kom deur: Wees wie jy is – ’n skrywer.

Die onsekerheid verdwyn toe feitlik onmiddellik, soos ’n speelgrond boelie wat die pad sal vat as sy teiken se ouer, groter broer op die toneel verskyn.

Die rede vir die onsekerhede is omdat ek ’n bloedstollende angs daarvoor het om ’n doellose, betekenislose bestaan te voer. Om net in Bronkhorstspruit te woon en “genoeg” geld te maak, is nie goed genoeg vir my nie. In Taiwan is ek ’n onderwyser, ’n skrywer, en ’n student. As ek dit duidelik stel aan myself dat ek steeds ’n skrywer sal wees in Bronkhorstspruit, dan sê ek dat ek ook dáár sal weet wie ek is, hóé ek wil leef, en wat ek uit die lewe wil hê. En ook dáár sal dit gegrond wees in Eksterne Realiteit.

* * *

Ek kyk deur my ou foto’s (1990, 1991, 1997), en ek lees deur ou joernale (1996, 1997) en ek begin wonder: Het ek darem iets met my lewe gedoen die afgelope sewe jaar, en miskien meer spesifiek die afgelope vier en ’n halwe jaar?

Die antwoord is, “Ja.” (Ek het ’n paar dae gelede ’n soortgelyke vraag gevra, so ek het gelukkig reeds die antwoord geken.) Ek het die afgelope sewe jaar geleer wie ek is, hoe ek wil leef, en wat ek uit die lewe wil hê (dankie vir Steven Burgess en sy boek SA Tribes: Who we are, how we live and what we want from life in the new South Africa vir hierdie reël wat ek deesdae soos ’n mantra opsê). Ek het ook spesifiek die afgelope vyf jaar daaraan gewerk om ’n skrywer te wees, en nie net te wil word nie.

______________________

Persoonlike Agenda, Boek Een: Inleiding

Die vrae wat ons vra

Meeste mense soek na iets. Dat jy moontlik eers na jare ’n vinger daarna kan wys en kan sê, “Dit!” maak gewoonlik nie die soektog minder freneties nie. Party mense soek na maniere om geld te maak, of maniere om gewild te wees. Ander soek na ’n plek, waar hulle na die lang soektog kan terugsit en vir die eerste keer in hulle lewens kan sê, “Ek het gearriveer.” Ander mense (of dieselfde mense wat na al voorafgenoemde dinge ook soek) soek na ’n persoon – iemand wat saam met hulle die pad kan stap, wat moontlik saam met hulle kan soek na iets anders, of na soortgelyke dinge.

Een universele aspek van al die soektogte is dat vrae gevra word. ’n Betekenisvolle persentasie van die vrae handel oor die vraagsteller self – elke persoon word gedryf deur instink om informasie in te win oor hom- of haarself, en om verwante redes soortgelyke informasie oor ander mense.

’n Paar bekende vrae: Hoe lyk ek? Is ek mooi of lelik? Is ek slim of dom? Is ek ’n “ingenieur” of ’n “advokaat” of ’n “kunstenaar”? Hou ek van pizza? Hóé hou ek van my pizza? Hoe hou ander mense van hulle pizza? Wat wil ek met my lewe doen? Wil ek ryk wees? Hoe ryk? Sal dit orraait wees as ek nie in die grootste huis in die straat bly nie? Wil ek ’n kar hê, of ’n motorfiets? Hoe wil ek my hare dra? Hou ek van pienk? Van watse musiek hou ek? Glo ek in God? Is dit goed genoeg om net elke nou en dan kerk toe te gaan? Vir watter party stem ek? Kyk ek sport, en indien wel, wie of wat ondersteun ek? Wie’s my vriende? Van watse tipe mense hou ek? Hoekom hou ek van hierdie tipe mense? Watse tipes mense hou van my (en weereens om watter redes)? Wat doen ek in my vrye tyd …

En hierdie is net die vrae waaraan ek gedink het terwyl ek besig was om ’n ander CD op te sit. Ek kan nog dosyne hierby voeg. En dan kan jy as leser na die lys kyk en sê, “Goed, maar jy’t ’n paar gemis.”

Dink ons die heeltyd aan hierdie dinge? Nee. Sommige van hierdie vrae vereis moontlik dat ons sal stilsit vir ’n wyle om daaroor te dink; ander dinge wéét ons net. Die belangrike ding is, hóé ons hierdie vrae beantwoord, bepaal hoe ons onsself sien – op ons eie, in die privaatheid van ons eie spasies, en ook wanneer ons tussen ander mense is.

Vele van ons bevind onsself ook op een of ander stadium op vreemde plekke waar niemand ons ken nie, wat ons dwing om onsself voor te stel aan ’n skare vreemdelinge: “Hallo, ek is (X). Ek hou van popmusiek. Ek wil eendag my eie boekwinkel hê. Ek hou nie van uie op my pizza nie, en ek gaan een keer ’n maand kerk toe.”

Die vrae wat ons onsself vra, die maniere hoe ons dit beantwoord, hoe ons onsself voorstel aan vreemdelinge en hoe hierdie mense reageer op ons teenwoordigheid, bepaal uiteindelik of jy saam met ander pizza-eters uithang of nie, of jy glo dat jou siel uitgesorteer is die dag as jy doodgaan, of, en saam met wie jy moontlik eendag kinders sal produseer, en hoe jy jou vrye tyd spandeer. Om weer maar net ’n paar voorbeelde te noem.

Dit bring my by die boek wat nou voor jou ooplê. Hierdie is die resultaat van my eie pogings – veral gedurende die afgelope vier jaar op die eiland van Taiwan – om ’n paar vrae te formuleer, en om bypassende antwoorde bymekaar te skraap.

Wie ek is in die konteks van die wyer wêreld is nie van groot belang nie. Ek is inderdaad ’n skim, wat nooit meer as ’n paar van die mense sal ontmoet wat hierdie woorde sal lees nie. (Wat net sowel is! As ek moes wag tot ek bekend is aan meer as net tien mense voor ek hierdie projek sou aanpak, het ek eerder nou gesit en TV kyk.)

Ek is tot ’n groot mate net ’n gewone mens. Sekere dinge wat ek ervaar het, het ander mense ook al ervaar, en sal nog ervaar word deur vele ander. Probleme wat ek het, gehad het, en nog gaan hê, is soortgelyk aan die probleme wat miljoene mense elke dag die hoof moet bied. Baie wat hierdie bladsye sal lees, het ook al ander, en heel moontlik interessanter dinge ervaar; of het meer, en ernstiger probleme as wat ek ooit sal hê. Daar is ook die mense wat moontlik nog nooit so gelukkig was soos wat ek is, was, of moontlik nog gaan wees nie. Ander kan weer getuig van die teenoorgestelde.

Wat almal van ons bind, is dat ons soortgelyke vrae op die een of ander tyd aan onsself móét vra. Vrae waarop antwoorde gevind móét word, al vat dit ’n leeftyd.

* * *

Die materiaal is merendeels chronologies, en is veronderstel om ten minste hier en daar te lyk soos die storie van iemand se lewe.

Belangrik ook om te noem dat ek nie gaan sit het, ’n boek beplan het en toe begin skryf het nie. Die boek is saamgestel uit ’n paar jare se notas – meestal aan myself, joernaalinskrywings, briewe aan vriende en familie, en ’n paar essays wat ek van tyd tot tyd geïnspireer was om te skryf – weereens, hoofsaaklik vir my eie vermaak en latere verwysing. Die idee om dit saam te bundel in ’n enkele projek en dit beskikbaar te stel aan ’n wye lesersmark, het eers redelik onlangs by my opgekom.

Gooi dus vandag se koerant eenkant toe, sit die TV se klank af, maak vir jouself ’n vars koppie tee, en lees verder.

Fengshan, Taiwan
Sondag 18 Mei 2003

______________________