Ballingskap dertien

Laat dit gesê word, soos ek ook vroeër genoem het, dat ’n mens moeg raak, nie oud nie. En so het dit ook gebeur met my in Taiwan. Vier jaar lank al skryf ek “ballingskap” essays, en tot onlangs het ek dit selfs oorweeg om die titel te verander. Want – is ek na 47 maande werklik steeds in selfopgelegde ballingskap? Hoekom het ek in die eerste plek, na ek in ’95 tot die besef gekom het dat ek nie meer ’n enkele akademiese boek se reuk kon verduur nie, nie begin werk soek soos talle van my tydgenote, en besig geraak met wat beskryf kan word as ’n meer konvensionele post-universiteitsbestaan nie? Hoekom het ek na ’n land toe gegaan wat ek nie eers aanvanklik op ’n kaart kon vind nie, om ’n werk te doen waarvoor ek geen ervaring gehad het nie, om my kop neer te lê – wie kon weet waar?

* * *

Vir weke lank het die rebelle ’n stryd gevoer teen die regeringsmagte, teen die status quo. Dokumente is een aand op groot skaal vernietig in dofverligte kantore in die hoofstad. Daar was gerugte van rebelle in die voorstede, van swaargewapende mans wat in die voortuine van verskrikte burgers gesit en braai het.

Toe kom daar ’n teenaanval, die Maandagoggend, op een flank van die rebelle-leër. Twee groepe wat mekaar moes aanvul het onderling stry gekry, en die regering het dit slim uitgebuit. ’n Skietstilstand is uitgeroep, en die regering en die rebelle het gesels. Die regering het verduidelik dat die twee kante vir dieselfde ideaal stry. Moet hulle dan nie eerder saamwerk nie, is herhaaldelik voorgestel.

Teen weekseinde was daar weer in die voortuine baklei. Teen Sondag was die regering so te sê op sy knieë.

Sondagnag laat loods die regering ’n desperate propaganda-aanval. Hulle laat weet as die volk hulle vir eers berus by die huidige bestel, die regering bereid is om ’n toegewing te maak: die tydelike reünie van familielede wat tydens die Ballingskap geskei geraak het.

Die rebelle verloor steun, vir die eerste keer in drie weke. Die regering praat weer met die rebelle-leiers. Laasgenoemde dring aan dat hulle genoeg proviand en ammunisie het om die stryd onbepaald voort te sit, maar gee toe dat die manne moeg is. En, laat hulle ook hoor, as die volk dan dinge so wil hê, moet daar seker maar gepraat word, vir eers. Van hulle kant af het die regering erken dat daar steun is vir die ideologie van die rebelle selfs in die regering se eie geledere.

Daar word besluit dat dinge op so ’n manier hervorm kan word – as die rebelle vir eers terugstaan – dat die bestel anders daarna sal uitsien binne die afsienbare toekoms.

Dit was Maandagmiddag. Dinsdag het mense weer werk toe gegaan, kinders is skool toe, en geld het hande verwissel op die markte.

Teen Woensdag was daar egter weer onrustigheid in die lug. ’n Groot groep mense het teen Woensdagnag laat voor die regeringskantore begin uitkamp. Die regering het die konklusie van die pratery aan die volk bekend gemaak, wat dit – tot die regering se teleurstelling – halfhartig aanvaar het.

Teen Donderdagoggend was daar genoeg van ’n rumoer dat die rebelle-leiers weer die kanonne begin laai het. Albei kante het weer hulle saak aan die volk gestel. Manifeste en planne is verduidelik, weer geformuleer, en op plekke verander sodat die volk dan nou eenmaal kan besluit.

Die volk was moeg. Aan die een kant was daar die werklike begeerte vir verandering, en die aantreklike humanistiese ideologie van die rebelle. Die volk was nietemin bewus van die probleme wat rewolusie sou bring – daarvan het die rebelle-leiers seker gemaak met duidelike voorbeelde uit die geskiedenis. Opofferings sou gemaak moes word – daaroor het die volk nie getwyfel nie. Hulle het ook onthou van die vorige poging tot verandering wat gesneuwel het na ses maande. Die harde werklikheid van die huidige bestel kon egter nie geïgnoreer word nie.

So ook, kon die rebelle-leiers nie die probleme van hulle huidige veldtog afskryf as maklik oorkombare struikelblokke nie. Hulle was inderdaad by ’n kruispad.

Teen die Vrydagaand het die rebel-leiers aan hulle vegters en aan die volk verduidelik dat die volle implementering van hul ideologie onmoontlik sal wees indien die rewolusie op die huidige tydstip deurgevoer word, in ag genome a) beperkte fondse, wat gestrek sal moet word om die status quo omver te werp, en b) die besluit van die leierskap dat langtermyn ideale nie in gedrang gebring moet word ter wille van korttermyn voordele nie.

Die heldhaftige pogings van die rebelle het die regering geskud, en die volk is rusteloos. Die regeringsleiers weet dat hulle plegtige voorneme om die huidige bestel te hervorm ’n belangrike faktor was in die konklusie van hierdie laaste veldslag.

Die volk is rusteloos, en winde van verandering waai. Hoewel die rebelle vir eers sal retireer, hoewel die leiers en die voetsoldate vir eers sal rus, bly die kanonne ingestel op die instellings van die regering. Glimmend. Gereed. Die huidige bestel is kennis gegee.

(Saterdag 4 Januarie 2003)

’n Vergelyking van Hervormde Planne 1 & 2

[…]

(Dinsdag 7 Januarie 2003)

Faktor vier, en die implikasies

Toe dink ek goed, ek is nou ’n bietjie rustiger oor die hele “plan” issue. Op pad huis toe ’n paar dae gelede – terwyl ek verby ’n man ry wat vars lemoensap van ’n trokkie af verkoop – dog ek, eintlik is hierdie plek nie so sleg nie. Die lug is blou, die vrouens fris, en jy kan vars lemoensap van ’n trokkie af koop op pad huis toe.

Die middag op pad na die tennisbaan neem ek die gedagte verder. Ek dink toe weer aan die hele storie van ’n week gelede toe ek gedink het as ’n mens vier jaar gelede met ’n vierjaarplan hier aangekom het … en dat dit wel goed sal wees, en dat dit nie onmoontlik is om steeds my huidige planne uit te voer, én soort van besig te wees met ’n drie-tot-vyfjaarplan nie. En toe dink ek aan vakansie, en om ’n pelgrimstog aan te pak om slagvelde van die Eerste Wêreldoorlog te besoek.

Kort voor lank dink ek weer aan my idees vir volgende jaar, en dat ek reken ek moet … uhm … en dis alreeds Dinsdagnag/Woensdagoggend, 14/15 Januarie 2003. Mooi.

______________________

’n Verantwoordelike stuk: Ballingskap essay # 10

MAANDAG 26 NOVEMBER 2001

’n Mens kom op ’n tyd in jou lewe wanneer jy ’n paar waarhede in die gesig moet staar. Een van hierdie nare waarhede is dat jy dalk vir ewig gaan leef – of ten minste tot jy so oud en seniel is dat jy nie eens kan onthou jy’t ooit geleef nie. Die noodwendige vraag wat ’n mens vir jouself wil afvra as jy nie hierdie onaangenaamheid uit jou kop kan skud nie, is wat op aarde jy gaan doen as jy wél vir nog veertig of vyftig jaar gaan leef.

’n Mens vind jouself tans in ’n posisie waar jy nog relatief jonk is. Jy’s steeds in ’n stryd gewikkel om hang-ups af te skud wat jy al sedert jou tienerjare saam met jou rondsleep; jy’s nog besig om vir jouself ’n klein erfie af te span in die groot, wye wêreld; en jy’s nog hard aan die stry met jouself (en met jou familie) oor presies wat dit is wat jy wil doen met jou lewe …

———————

[Nog ’n stomp einde. Nie ’n goeie teken in ag genome dat dit die lang verwagte “verantwoordelike stuk” was nie, maar nou ja. Ek het wel eers vyftien maande later op die idee van hierdie literêre projek gekom (die oorspronklike projek, Persoonlike Agenda: Boek Een). In November 2001 was daar duidelik geen dringendheid om enige stukke af te handel nie.]

______________________

Ballingskap 7/Die 22 Oktober 2001 deklarasie

MAANDAG 22 OKTOBER 2001

Ses duisend boksies groentee, ses honderd pakkies dried beancurd, sestig “Finale Planne!” en ses Ballingskap opstelle later is ek nog steeds hier, agter my komper, besig om te skryf oor hoekom ek wel in “ballingskap” is, en wat ek volgende gaan doen.

(Moet ek nou in detail ingaan oor my nuwe post-“Belonging & Commitment” teorie? Moet ek praat oor die boekprojekte wat ek hierdie jaar gedoen het, en die stories wat ek nog wil skryf? Moet ek praat oor die feit dat ek al Level C songs op my keyboard kan speel, en dat dit my twintig minute gevat het om “Battle Hymn of the Republic” uit my kop te leer speel? Moet ek praat oor al die mense wat ek ontmoet het die afgelope paar weke? Moet ek ’n lyn spaar oor die Boney M Gold CD wat ek gekoop het met die eerste geld wat ek as ’n vryskutskrywer verdien het?[1] Moet ek met slim draaie praat oor hoe ek voel dis my morele plig om my ouers met hulle besigheid te gaan help? Moet ek in detail die huidige reeks planne uiteenlê, netjies met kolomme vir voor- en nadele? Moet ek verduidelik hoe ek, as ek nog X-hoeveelheid maande hier bly, al my skuld kan afbetaal? Hoe ek my blou kitaar en ’n klomp boeke saam met my kan vat as ek in April huis toe gaan, en dan einde Augustus – wanneer my skuld afbetaal is – myself lock, stock en res van die boeke verskuif na die plaashuis buite Pongola? Of hoe ek sonder ’n sent op my naam einde Februarie kan teruggaan Suid-Afrika toe, in die goeie geloof dat “dinge sal uitwerk”? Wat van die nuutste een? Ja, al gehoor van hoe hulle teachers soek in Londen? Hoe hulle iets soos £100 per dag betaal word? Kan ek vertel hoe ek al my skuld kan afbetaal in moontlik ’n jaar se tyd, en gedurende vakansies enige Europese stad of enige Eerste Wêreldoorlog slagveld kan besoek? Hoe lekker dit sal wees om gereeld my ouer suster te sien, en ook meer gereeld my ouers en my jonger suster? Is dit werklik nodig om nóg ’n Ballingskap opstel te annekseer met planne, en visioene, en drome, en realiteit? Of kan ek sommer net sê, “Hoesit, hoe hang hulle? Woef.”)

“Uhm … toets-toets, een-twee-drie-vier … kan almal my hoor? Ek dink ek gaan einde Februarie volgende jaar terug Suid-Afrika toe op ’n enkel-kaartjie, dan gaan ek registreer by daai teacher’s agency, en dan einde April, na [M.] en daai ander perd se troue, gaan ek Londen toe vlug, uh … vlieg, en dan my agterent trek deur drie maande van Britse skoolgeëry, en dan Berlyn toe gaan vir ’n week … of ’n Eerste Wêreldoorlog slagveld besoek. Dis al.”

———————-

[1] Ek het vir ’n paar maande lank teks geskryf vir ’n Engelse opvoedkundige tydskrif.

______________________