SATERDAG 8 MEI 2004
’n Lewe wat sin maak – ter wille van ’n projek
Soms maak dit sin dat ek die lewe moes gehad het wat ek sover geleef het, asof iemand gesê het: “Jy wil wát doen? Skryf? Ek sal jou ’n storie gee, maar jy sal moet skryf om by te hou …”
Dit maak soms sin dat ek moes opeindig op 32, 33 met geen eiendom nie, ver van my familie af, geen kar nie, nie ’n cool-sounding job title nie, en nie ’n verhouding met ’n betekenisvolle ander nie. As ek die afgelope tien jaar stadig maar seker moes gebou het aan ’n lewe wat ek nie anders kan as om konvensioneel middelklas te noem nie, sou hierdie hele literêre projek nooit bestaan het nie.
Was die prys hoog? Was die projek dit werd? Tyd sal leer …
SONDAG 9 MEI 2004
Die enkeling en die gemeenskap (I)
Was gisteraand uit – Mama Mia’s en toe Pig & Whistle … almal wat ek gedink het van die aardbol af verdwyn het, was daar – die twee jong dames met wie ek gesosialiseer het verlede Maart, die een se broer, en ’n dame van die Green Jungle.
Een van die twee jong dames het my gegroet van waar sy gestaan het aan die anderkant van die kroegtoonbank. In gebrek aan iets beters om te sê, antwoord ek met, “Tyd gaan verby, nè?” Die broer het ’n opmerking gemaak wat veronderstel was om aan te dui dat hy my ken, en die dame van die Green Jungle het amper aan my lies gevat.
Teen die tyd wat ek oor die brug gery het wat die stad van my woonbuurt skei, was die lug vyfuur-in-die-oggend blou. Ek het verbasend goed gevoel ten spyte van die volgende vraag: Wat doen jy as mense ’n beskouing van jou het wat onakkuraat is, of wat nie belangrike aspekte van jou lewe in ag neem nie, of wat eenvoudig uitgedien is?
Ek reken jy het drie opsies: 1) Jy gaan na die plekke waar hierdie mense tyd spandeer, en manipuleer en intimideer hulle tot hulle jou die respek gee wat jy reken jy verdien. 2) Jy kruip weg, en probeer vergeet daarvan. 3) Tensy dit jou oorlewing bedreig, laat jy dit verbygaan, en jy glo indien jy kan aanvaar dat sommige mense ’n onakkurate, onvolledige of uitgediende siening van jou het, jy een stappie nader is aan waar jy hoop om te wees.
* * *
Baie mense se selfvertroue – soos gemanifesteer in, byvoorbeeld, die manier hoe hulle ander mense groet en dan wegstap – is gebaseer op een ding: lidmaatskap aan ’n groep.
Ek sê: ontmoet my persoon tot persoon.
Ek kan verder gaan en byvoeg dat ’n oppervlakkige vertoning van selfvertroue my nie meer beïndruk nie. Solank ek glo jou sogenaamde selfvertroue is gebou op niks meer as lidmaatskap aan ’n groep nie, het ek geen rede om jou te behandel met meer as die minimum beleefdheid waarmee ek meeste mense behandel nie. Wys my jou selfvertroue sonder die ondersteuning van jou groep, dan praat ons.
Kan dit wees dat ek die skyn van selfvertroue begeer wat groeplidmaatskap mens gee? Kan dit verder wees dat ek mense beny wat wél die voordeel geniet van groeplidmaatskap? Dis moontlik. Maar soos in vele ander gevalle herhaal ek die oortuiging dat ek glo my opinie, of my punte van kritiek, is geldig, en het waarde, ten spyte van die moontlike motiverings vir my opinie, of my kritiek.
SONDAG 23 MEI 2004
Die enkeling en die gemeenskap (II)
Hierdie jaar blyk te wees ’n tyd van her-etikettering.
Voorheen was kerkgaande, dogma-resiterende mense “gelowiges”, en ék die “ongelowige”. Voorheen was ek die “alien” en almal wat nie soos ek is nie, “normale mense”. Voorheen was ek ’n wese van ’n ander tyd en plek, wat soms simpatie ontlok by mense omdat ek ook moet sukkel met dinge soos “ons aardbewoners”.
Nou sê ek, fok dit. Ek is die gelowige. Ek is die mens. En ek weier om verder beledig te word deur mense wat gebuk gaan onder ’n swak verbeelding of ’n onderontwikkelde intellek, wat hulleself blindstaar teen hul eie ontoereikende verwysingsraamwerk.
______________________