Poging en beloning – persoonlike realiteit

MAANDAG 18 APRIL 2005

’n Amerikaanse ontwikkelingswerker (vrou met die naam van “Marla”) is die naweek oorlede in Irak (bom langs die pad). Sy was heel waarskynlik in vele opsigte ’n doodgewone vrou – net so gewoon soos meeste van ons. Wat wel buitengewoon was aan haar, was haar waarde vir ’n sekere gemeenskap van mense wat vasgevang is in ’n primitiewe stryd om oorlewing. Wat buitengewoon was aan haar, was haar bereidheid om haar lewe te verloor vir hierdie stryd.

DINSDAG 19 APRIL 2005

Ek is op die oomblik, glo dit of nie, besig om ’n sensitiwiteit te ontwikkel oor die korrelasie tussen pogings en beloning wat betref die arbeid wat ek verrig by die huis. Ek meen, ek werk nou al vir hoe lank aan sekere projekte? Wat al hoeveel geld ingebring het? En presies hoeveel mense het al gelees wat ek skryf? En dit help nie dat my fiets enige oomblik in sy tien onderdele gaan dekonstrueer op pad na die treinstasie toe nie, of dat my TV se klank steeds neuk, of dat my rekenaar al hoe stadiger raak, of dat ek nog steeds nie by die tandarts was nie … maar jy bly staande solank jy nie val nie, en die stryd is daagliks. En om te kla oor sulke nonsens is immers middelklas.

DONDERDAG 21 APRIL 2005

Walter Reuther (1907-1970), Amerikaanse vakbondleier: “There is no greater calling than to serve your fellow man. There is no greater contribution than to help the weak. There is no greater satisfaction than to have done it well.”

VRYDAG 22 APRIL 2005

12:01

Die vraag is nie of elkeen van ons ’n dwaas is nie, die vraag is wat ons doen met ons lewens ten spyte van die feit.

Die vraag is ook nie of elkeen van ons gaan sterf nie …

14:16

Vir eeue al kontempleer filosowe die vraag na wat realiteit is – wat werklik is, en wat nie.

Tot ’n groot mate aanvaar ek die materiële wêreld soos dit aan my verskyn. As ek iets sien wat ek uit ervaring herken as ’n “tafel”, dan aanvaar ek die objek voor oë as inderdaad ’n tafel. Ek aanvaar ook die geldigheid van die klanke wat verwys na die genoemde objek.

My eie belangstelling lê meer by die individuele “self”. Ek aanvaar dat stellings soos, “Ek weet wie ek is” en “Ek glo in myself”, en terme soos “selfvertroue” slegs relatiewe waarde het – dit is, relatief tot die omgewing waarin die persoon homself bevind. Maak ’n radikale skuif, of ’n radikale verandering aan die omgewing, en skielik “weet” die persoon dalk nie meer so mooi wie hy is nie; hy is moontlik ook nie meer so seker van homself nie, en sy sogenaamde “selfvertroue” kwyn heel moontlik saam met sy selfkennis en gepaardgaande selfgeloof.

Dit, wat waar is vir die persoon rakende sy eie self op ’n gegewe oomblik, dít is wat my aandag hou, nie soseer of ’n tafel of ’n telefoon of ’n sny roosterbrood werklik werklik is nie.

Ek weet slimmer mense kan argumenteer dat daar ’n verband is – en ek glo daar is, filosofies gesproke. Vanweë beperkte tyd kies ek egter om te fokus op wat werklik is vir die individuele persoon, óór hom- of haarself.

[Die waarskynlikheid is sterk dat ek filosowe se werk oor die eeue verkeerd verstaan.]

18:15

Tyd gespandeer in enige plek was die spreekwoordelike moeite werd as jy die tyd aangewend het om positiewe resultate te bewerkstellig. Die idee dat jy moontlik ook op ’n ander plek soortgelyke resultate kon bewerkstellig, is van verbygaande belang en dalk nie eens nodig om genoteer te word nie. Wat belangrik is, is die proses, die doel, die eindresultaat. Die plek is óf bevorderlik, óf nie bevorderlik nie, en moet volgens hierdie maatstaf beoordeel word.

______________________

Frustrasie – English teaching in Taiwan

DONDERDAG 14 APRIL 2005

Ek reken ek kan dit regverdig dat ek tans in ’n slegte bui is. Ek kyk na die hoeveelheid arbeid, die hoeveelheid maande, weke, dae en ure se arbeid wat gedurende die afgelope vier jaar gesaai is op die landery van projekte met finansiële gewin as primêre doelwit.

Ek kyk ook na my huidige finansiële vermoëns.

Laastens kyk ek na uitgawes wat ek graag wil aangaan om my lewenskwaliteit te verbeter en reise wat ek wil onderneem, en dan praatjies wat ek maak oor hierdie twee aangeleenthede; ook die feit dat ek steeds vasgevang is in die “proses”, met vrugte en eindresultate steeds net in teorie op ’n horison altyd net ’n paar dagreise ver.

Ek sê nie ek is moedeloos nie; ek sê bloot ek reken dis oukei as ek ’n bietjie murmureer daaroor …

VRYDAG 15 APRIL 2005

17:59

Be kind to animals, and to ignorant and unenlightened human beings. (Sê een of ander kluisenaar met ’n lang baard; as ek dit sê kom dit oor as arrogant – vir wat dit ook al saak maak.)

20:14

Ek kan sê wat ek wil oor die verveling van ’n Engelse klas (wat ekself aanbied), maar daar is waaragtig ’n paar dinge wat ek nie uit die oog moet verloor nie: English teaching in Taiwan het my rekeninge betaal die afgelope meer as ses jaar, my ’n dak oor my kop gegee, en kos in my maag en klere aan my lyf; dit het my ook in staat gestel om my skuld redelik onder beheer te hou, my water en elektrisiteit aan die gang, en my rekenaar en drukker aan die werk. In kort, English teaching in Taiwan het die organisme wat ek is, aan die lewe gehou die afgelope 75 maande.

______________________

Wat jy nodig het – en waarin jy moet glo

VRYDAG 8 APRIL 2005

Wat het jy nodig?

Jy’t ’n maat nodig, iemand wat jou verstaan, wat verstaan waar jy vandaan kom en hoe jou idee van ’n toekoms lyk, wat jou foute en gebreke aanvaar en jou sterk punte en jou beskouing van jouself respekteer; iemand wat jou potensiaal en jou talente herken; iemand wat jou positiewe siening van wie en wat jy is, bevestig. Jy’t ook ’n plek nodig – ’n “huis”, ’n omgewing waar jy jou maatreëls kan laat vaar, waar jy kan ontspan, waar jy kan floreer, waar jy kan groei in wie en wat jy wil wees.

Jy’t eerlike en opregte liefde nodig.

DINSDAG 12 APRIL 2005

Het die afgelope paar ure (weer) bewus geraak van ’n paar dinge:

* die lewe is altyd ’n stryd – aanvanklik (of voortdurend) vir oorlewing, en daarna vir óf die handhawing van ’n goeie bestaan, óf vir iets beters – ’n buitengewone lewe, volgens jou eie beskouing;

* daar is soveel dinge om te vrees dat dit amper ’n wonderwerk is dat ons nie so vreesbevange is die heeltyd dat dit ons funksionering belemmer nie;

* in ag genome die vorige punt kan dit gesê word dat selfvertroue die kenmerk is van ’n dwaas – maar as uitstekende illustrasie van die teenstrydighede van die lewe, sal jy fokkol uitgerig kry as jy nie selfvertroue het nie;

* ek kom absurd voor aan myself in die klaskamer – ek wat by die huis my selfbewussyn en vermoëns aanwend tot produktiewe en meestal interessante arbeid, wat dan skielik verskyn in ’n omgewing met reëls en regulasies en konvensies en ’n hemp wat uitgekies is om by ’n broek te pas, en swak Chinese uitspraak, en opgemaakte “professionele” Engelse aksent.

Ook baie bewus geraak van wat ek nog wil doen, maar nie tans doen nie; wat ek nog wil weet, maar nie tans weet nie; vaardighede wat ek wil bemeester waaroor ek nie tans beskik nie; vrae wat ek het waarop ek nie die antwoorde ken nie – soos, wat die verskil is tussen ’n aartsbiskop en ’n kardinaal (trein arriveer, 21:30).

WOENSDAG 13 APRIL 2005

Mens moet glo dat dit MOONTLIK is
vir JOU
om FINANSIEEL ONAFHANKLIK te wees

en dat dit verder MOONTLIK is
vir JOU
om GELUKKIG te wees

en dat dit verder MOONTLIK is
vir JOU
om ’n POSITIEWE BYDRAE te maak

Te veel mense glo in slegs een ding: dat dit wat vir hulle “gegee” is, insluitende sosio-ekonomiese status en gepaardgaande rol, funksie, en relatiewe waarde vir die gemeenskap, die beste is wat hulle ooit uit die lewe kán en sál kry; dat dit selfs verwaand sal wees om ambisies te koester wat verder as dit strek. Hierdie oortuigings, glo ek, is tot ’n groot mate verantwoordelik daarvoor dat dit hulle werklikheid sal bly.

______________________

Droom van sout, twee vrouens en ’n eier

SATERDAG 2 APRIL 2005

Laasnag het ek ’n droom gehad. Beelde van ’n opgevoerde veldslag uit die Romeinse tyd het deur my brein geflits. Daar was ook ’n oorgrootte dubbelverdieping gebou met klein woonstelletjies.

’n Vrou het skelm in een woonstel moderne kos gaan eet. Na sy weg is, sluip ek toe in, gryp ’n paar handevol rosyntjies en neute uit die kombuis en druk dit in my broeksak. In die sitkamer ontdek ek ’n hardgekookte eier wat ek toe ook saamvat – na ek ’n klomp sout daaroor gegooi het. (Die soutpot het op ’n koffietafel gestaan, met heelwat verspilde sout om die pot.)

Ek loop toe in die oorgrootte gang af waar twee vrouens my konfronteer met die insinuasie dat ek nie altyd dieselfde mens is nie. Hulle peper my met vrae soos, “Hoe word hierdie naam uitgespreek in daai taal?”

Teen die tyd wat ons op die grondvloer gekom het, het my aanvanklik beleefde antwoorde op hulle vrae oorgegaan in ’n driftiger reaksie. “I, myself was given a very ethnic-specific name,” sê ek toe in Engels, “but sometimes you need to express yourself in other ways than those you were given. And sometimes you choose to go beyond what you’ve been given, in order to transform yourself! And maybe you do so for no reason other than as a first step towards, and for the sake of, transforming … the community … in which you live.”

Teen die laaste sin het die twee vrouens al so beangs geraak dat die een agter die ander een begin skuil het. Toe ek my rug op hulle draai en wegstap, het die vrou wat weggekruip het, agter my aangestap en my rug met albei hande begin krap – op ’n katagtige wyse.

Ek onthou toe van die eier waarmee ek uit die woonstel gestap het. Ek druk toe die eier stukkend in my broeksak, draai effens om, leun oor my skouer en druk die gebreekte stukke in haar gesig.

Die laaste sin van my kort toespraak was afgemete. Ek het tot op daai oomblik in ’n harde, dringende stemtoon gepraat, en het toe sagter begin praat om die woorde te beklemtoon – veral omdat hulle moontlik verwag het dat ek sou sê, transforming the world.

______________________

Die doel van bestaan 310305.doc

DONDERDAG 31 MAART 2005

’n Fundamentele verskuiwing het plaasgevind in my denke. Vier jaar gelede het ek gepoog om die doel van my eie bestaan te formuleer as “kreatiwiteit”. Ek het geglo dat om kreatief te wees, om te skep, die uiteindelike doel was nie net van my eie bestaan nie, maar van enige mens se bestaan, sou hy of sy ver genoeg ontwikkel van ’n bestaanstoestand van primêre behoeftevervulling.

Die mens se bestaan word gevoer binne ’n spesifieke omgewing met unieke (of semi-unieke) sosiale, kulturele, ekonomiese, politieke en historiese elemente, en met behulp van, en soms gekortwiek deur, ’n unieke mengsel van genetiese eienskappe wat aan elke mens GEGEE word deur die spreekwoordelike noodlot. Soos dinge is, vind sommige mense dit moeilik om ’n lewe met ’n bepaalde betekenis te bewerkstellig binne hierdie omgewing wat aan hulle gegee is. Belangrike KEUSES moet dan gemaak word. Hierdie individue sal moontlik verstellings moet aanbring aan hulle identiteit wat elemente van ander oorde sal benut as wat oorspronklik aan hulle gegee is. Hulle sal heel moontlik – in ag genome die kardinale impak van omgewing op wie en wat ons is en hoe ons ons bestaan aanwend – van omgewing moet verander. Uiteindelik sal die uitvoering van die rolle wat hulle mettertyd vir hulleself definieer neerkom nie net op ’n bestaan met ’n bepaalde betekenis nie, maar op die nastrewing van ’n spesifieke doel van hulle bestaan.

Sou enige iemand my nou tromp-op loop met die vraag van hoe kreatiwiteit inpas in hierdie hele aangeleentheid, sal ek moet bieg dat ek nie ’n antwoord gereed het om te resiteer nie. Om kreatief te wees, om jou aardse bestaan te voer as ’n Skepper, is nie meer vir my goed genoeg as antwoord op die vraag na die doel van my eie bestaan nie.

Die vraag na die Ware Doel van die Mens se Bestaan sny soos ’n ritualistiese lem deur die sagte vlees van dit wat ons noem, “lewe”. Waar kom die mens vandaan? Is daar ’n rede vir ons teenwoordigheid op hierdie planeet? Watse tipe vrae het ons vroegste voorouers gevra? Is hierdie ding van vrae vra ’n byproduk van ons ontwikkeling, of deel van dit wat ons vorentoe dryf? Was dit altyd op die spreekwoordelike kaarte van wat die mens sou word? Is daar ’n onsigbare mag agter die mens se bestaan? Was, en is die veronderstelling van hierdie “mag” dat ons een of ander doel moet dien? Indien wel, hoekom word dit nie duidelik aan ons uitgelê nie? Was dit al aan ons uitgelê, meer as een maal, met vele van ons wat dit eenvoudig bly ignoreer, soos vele van ons voorouers ook gedoen het? Hoekom, as ons vir die oomblik aanvaar dat om ’n doel te dien inderdaad belangrik is, word die doel van ons bestaan dan nie weer en weer en weer aan ons uitgespel as ’n saak van daaglikse kosmiese ritueel nie?

Die mens is tot ’n mate wat nooit oordryf kan word nie, ’n produk van sy of haar omgewing. Die stel klanke waarmee jy kommunikeer en die woordeskat waarin jou gedagtes vorm aanneem, die oortuigings wat jy aanhang, die ambisies wat jy as jou eie definieer, waar jy woon, waar jy werk, hoeveel inkomste jy bewerkstellig elke dag, maand of jaar, waar jy slaap, op watse meublement, onder watse beddegoed, saam met wie, wat jy doen tussen die oomblik van wakker word en die oomblik wat jy tot rus kom, hoe gereeld jy jou tuiste verlaat, vir hoe lank, waarheen jy jouself vervoer en met watse vervoermedium, en hoe al hierdie dinge op jou bewussyn inwerk, kan alles direk, of indirek, teruggevoer word na die omgewing wat aan jou “gegee” is met geboorte. (Selfs as die omgewing waar jou volwasse bestaan gevoer word radikaal anders is as die omgewing wat aan jou gegee is, is jou gekose omgewing steeds onlosmaaklik verbind aan jou gegewe omgewing omdat jou uiteindelike keuse heel waarskynlik beïnvloed was deur jou gegewe omgewing en moontlik tot ’n mate ’n reaksie was daarop.)

Dit is dan ook so dat die omgewing waar jy ontstaan het en waar jy jou vroegste “programmering” ontvang het, die primêre bron is van informasie aangaande die doel en betekenis van die mens se bestaan. Nou, 500 of 1 500 jaar gelede was dit ook so, maar die wêreld waarvan vele van ons bewus is in die 21ste eeu strek natuurlik aansienlik verder as net die grense van die dorp, stad of gehuggie waarbinne ons bestaan gevoer word. Massamedia en die Internet stel ons bloot aan alternatiewe idees oor die moontlike doel en betekenis van ons lewens wat twee of drie geslagte gelede nie op die rustigste van oggende kon besin nie.

Die bronne wat ons kan raadpleeg, sou ons ’n minuut êrens wou afknyp om daaroor te kontempleer, is veel ryker as ’n geslag of tien gelede. Ten spyte hiervan kies vele steeds om antwoorde te soek by plaaslike leermeesters, hetsy dit ouers, grootouers, vriende, pastore, priesters, rabbi’s, imams, selfhelp-ghoeroes of populêre vermaaklikheidsterre is. Antwoorde word sekerlik gevind by hierdie mense. My vraag bly: watse antwoorde? Watse moontlikhede word uitgelê deur die gewone selfaangestelde, of gemeenskapberoepte Gewers van Waarheid en Leiding?

Miskien ’n vraag nader aan die hart van die een wat wegkruip agter ’n rekenaarskerm met woorde wat hy tik terwyl niemand hom steur in die privaatheid van sy eie woonstel nie: WATSE ANTWOORDE SOU EK GEE AS IEMAND MY MOES NADER OOR DIE WARE DOEL EN BETEKENIS VAN DIE MENS SE AARDSE BESTAAN?

[Een-honderd-twee-en-sewentig woorde netjies geweef in vier paragrawe het gevolg, om op te maak vir die feit dat ek nie aan enige duidelike antwoorde kon dink nie. Een-honderd-twee-en-sewentig woorde het derhalwe die spit gedelf.]

______________________