Vermoë om ’n doel te vervul – totalitêre staat

DINSDAG 8 FEBRUARIE 2005

08:57

Twee gedagtes:

1. Piet X is nie noodwendig “op aarde geplaas” om ’n sekere doel te vervul nie, maar hy was wel gebore met die vermoë om ’n sekere doel te vervul – soos ’n vrou gebore word met die vermoë om swanger te raak en geboorte te gee, iets wat ten nouste gekoppel is aan ’n sekere rol wat vervul moet word, of ’n doel wat gedien moet word.

2. ’n Totalitêre staat sê: Gee jouself aan die staat, en die staat gee aan jou ’n identiteit met ’n sterk nasionalistiese karakter, iets groter as jyself waarmee jy kan identifiseer en waar jy ’n tuiste sal vind, waar jy sal voel jy behoort, en talle maniere waardeur jy jou lidmaatskap gereeld kan bevestig.

14:32

Om GEGEE te word die vermoë om ’n bepaalde doel te dien, en die VRYE WIL om dit te doen, of nie.

______________________

Self-ontdekking – aanvaarding – bestaansomgewing

DINSDAG 1 FEBRUARIE 2005

Seksuele oriëntasie is ’n uitstekende illustrasie van gegewendheid, self-waarneming, waarneming van die beskouings en sogenaamde waardes van die gemeenskap (aangaande dit wat jy waarneem van jouself), en self-definiëring – wat gepaardgaan met self-aanvaarding, met die definiëring wat amper ’n formaliteit is (miskien is etikettering in hierdie geval ’n meer akkurate term), of … aanvaarding, en toepaslike self-definiëring …

WOENSDAG 2 FEBRUARIE 2005

Ek het sopas weer “187” gekyk. Twee opmerkings …

Eerste opmerking: die hele bendekultuur is gebou op twee beginsels – respek en vrees. Die onderwyser (Samuel L. Jackson) wys aan die einde vir die bendeleier dat hy (die onderwyser) hom (die bendeleier) nie respekteer nie, dat hy hom nie vrees nie, en dat hy bereid is om die prys te betaal vir disrespek, naamlik dood.

Opmerking twee: Die maatskaplike ellende, en die kultuur waarbinne soveel inner city jeug grootword, bevestig die waarde daarvan om die omgewing te verlaat wat aan jou gegee is indien dit nie bevorderlik is vir ’n goeie lewe nie.

“Nie almal kan weggaan nie,” mag jy dalk sê.

“Wat is die alternatief?” sal ek antwoord.

Plus, ek praat nie noodwendig daarvan om vir ewig weg te bly nie. Ek praat daarvan om jouself dalk net tydelik uit die omgewing te verwyder wat jou groei en ontwikkeling arresteer, jou gegewe self te konfronteer, jou “kern self” te vind, ’n self te definieer met ’n visie waarin jy kan glo, en te begin met die proses om hierdie persoon te word. Dan, na ’n verloop van tyd, kan jy altyd terugkeer en gaan wéés wat jy geword het, op die plek waar jy oorspronklik vandaan gekom het.

VRYDAG 4 FEBRUARIE 2005

Die boek Mens in Konteks sê die volgende oor self-ontdekking en -aanvaarding: “[Jy kan] in eie egtheid en warmte ’n uitnodiging tot egtheid en warmte aan ’n ander rig in ’n samesyn wat ’n veilige, nie-bedreigende ruimte skep vir die vreeslose ontdekking van wie ek is en wie jy is …”

[Amper asof die kosmos vir my wou sê, “Jy dink aan jouself en jou lewe op ’n sekere manier, en nou staan jy voor die moontlikheid om saam met iemand te wees. Hier is die brug na daai lewe toe.”]

______________________

Verveling – innerlike natuur – woordelose bewussyn

MAANDAG 31 JANUARIE 2005

Ek vermoed, en het al in die verlede ook vermoed, dat ek verveeld raak met die blote idee van iets.

Ek kyk byvoorbeeld in die Engelse handboek wat ek tans gebruik met ’n groep twaalfjarige studente en sien ’n prentjie van ’n familie in ’n agterplaas besig om te braai. Ek kyk na die volwassenes en dink, “Hoe fokken vervelig …”

Die probleem is, hierdie verveling met die blote idee van iets registreer as ’n ernstige gedagte in my brein, en dit word opgeneem in my Amptelike Gedagtes Oor Onderwerp X!

Ek dink ek is al jare lank op ’n bitter veldtog teen dinge – in sommige gevalle niks meer nie as geluk waarop ek dink ek vroeër uitgemis het, of dat dinge wat my gelukkig kon maak, glans verloor het omdat dit amper altyd met angs en onsekerheid gepaard gegaan het.

Ek glo dis net my innerlike natuur – wat in wese goed is – wat verhoed het dat ek op ander maniere uiting gegee het aan hoe ek voel.

Wat my weer by die vraag bring van “innerlike natuur” en/of “kern persoonlikheid”: dit is gegewes, dan nie? En van kardinale belang in die produsering van eindresultaat, reg? Hoe skuldig is Gegewe dan, en hoe skuldig is Vrye Wil?

[…]

Ek het nou net in die bed gelê. Ek was bewus van my liggaam. Ek was ook bewus van die gedagte dat ek bewus was van my liggaam. Ek kon ook onthou dat ek op ander tye, vroeër tye, bewus was van my liggaam. Ek kon ook onthou dat ek toe gedink het, of geweet het, dat ek bewus was van my liggaam.

Bewussyn ontwikkel; dis nie net een oomblik skielik daar nie. Tog moet daar ’n kritieke oomblik wees – die waterskeidingsoomblik in die ontwikkeling van selfbewussyn.

Daar kan sekerlik geen twyfel wees dat ’n fetus na dertig of so weke ’n bewussyn het nie. Die fetus se bewussyn en dié van die pasgebore baba (tot en met ’n paar maande) is wel uniek in die geskiedenis van die persoon se bewussyn: dis woordeloos.

Verskil tussen woordelose bewussyn, en bewussyn waar taal ’n rol begin speel …

______________________

Woordeskat – die Bron – gevaarlike frekwensie

VRYDAG 21 JANUARIE 2005

Dis Vrydagoggend. Ek maak ontbyt, gaan sit op die bank, skakel die TV aan, flits deur die kanale en … Notting Hill, met William Thacker wat aan die begin deur die mark stap, met die begin credits wat nog rol.

Ek besef toe: dit is my movie metafoor. Ek is die ou met die “boek besigheid” wat nie geld maak nie – maar dis my lewe, en sy is die ster.

“And miracles,” soos die vrou by die aandete sê, “do happen.”

SATERDAG 22 JANUARIE 2005

00:42

Eers bestaan iets, en dan vind jy woorde om uitdrukking te gee daaraan. Bestaan gaan taal en spesifieke woordeskat vooruit.

Vraag: Wat bestaan waaraan ons nog nie woordeskat etikette kon hang nie? Wat bestaan, wat nog nie aan ons verskyn nie?

Taal is noodsaaklik vir begrip, om iets te kan “sien” of om dit te kan “hoor”. Indien iets wel in ons visie verskyn of opgetel word deur ons gehoor, maar ons beskik nie oor die gepaste woordeskat nie, word hierdie dinge maklik geïgnoreer of verwerp as nutteloos – as geraas rondom dit wat wel sin maak omdat ons reeds weet wat om dit te noem of hoe om dit te beskryf.

02:45

Die repatriasie tema in “Persoonlike Agenda” gaan daaroor dat dit soms nodig is om die Bron te verlaat, en hoekom dit belangrik kan wees om terug te keer na jare buite die Bron – selfs hoekom mens dit kan regverdig om nie “permanent” terug te keer nie.

* * *

Uit ’n artikel oor Nawal el Saadawi in die China Post van 18 Januarie 2005 getiteld, “Egyptian secular writer battles religious state”: “I’m still living in exile because I cannot speak, I cannot work, I cannot have my potential here.”

09:21

Ek is op ’n gevaarlike frekwensie! Gistermiddag het ek amper my skouer uit sy potjie gestamp omdat ek nie gefokus was op die meganika van broek uittrekery nie – en derhalwe die muur stormgeloop het met my broek rondom my enkels.

Nou staan ek hier met ’n seer voet met ’n opgeswelde groottoon omdat ek gisteraand my ritme met die trappe verloor het, gedink het, “Toemaar, daar’s nog net ’n paar trappe oor,” en gespring het.

Vanoggend dink ek aan hierdie frekwensie ding terwyl ek naarstiglik soek na my sleutels … net om te vind ek het dit reeds in my baadjie se sak gesit.

Ek weet op watse frekwensie ek is, en dat dit gevaarlik is, is nie debatteerbaar nie. Ek is bedwelmd; bedwelmd met ’n idee…

12:53

Ek ís bedwelmd met ’n idee, dis waar. Dit is ook waar dat hierdie idee te make het met ’n sekere jong vrou se bestaan. Dit kan egter ook gesê word dat indien hierdie jong vrou nie ’n soortgelyke idee koester oor ’n spesifieke Skrywer van Notas nie, sal genoemde skrywer ’n rougedig komponeer, dit plegtig verbrand, en aan die einde van so ’n vaal dag gaan slaap … om die volgende oggend op te staan en ontbyt te nuttig met sy gebruiklike, en onblusbare Geloof – en sal mens waag om te sê, Hoop? – in die Onvervangbare Derde Een.

______________________

Bron en funksie van identiteit

WOENSDAG 19 JANUARIE 2005

“Look at how they dress! This is the seventies! Somebody should tell them. It’s no wonder they get pointed at in the streets, if they go around looking like that!”

“Maybe. But they don’t complain about it, do they? They endure everything – mockery, hate, even disgust. That’s the price they’re willing to pay to remain who they are.”

Gesprek tussen ’n jong vrou en ’n ouerige Joodse man in verwysing na ultra-ortodokse (Harediese, of meer spesifiek in hierdie geval, Hassidiese) Jode in Antwerpen, 1972 (in die film, Left Luggage).

My vraag: as “ultra-ortodokse Joodsheid” in die primêre sin ’n bron van identiteit is, wat mense in staat stel om te funksioneer in ’n spesifieke omgewing en tyd (al is dit in ’n relatief geïsoleerde omgewing, en al herinner die kleredrag aan ’n vroeër tyd), het dit enige meer waarde as funksionering om ’n “ultra-ortodokse Jood” te wees?

Is dit die enigste funksie van identiteit?

En as spesifieke religie tot ’n mindere of meerdere mate ’n bepaler is van identiteit, en die waarde van identiteit gekoppel is aan die funksionering van die individu in spesifieke tyd en plek, wat kan gesê word oor sulke ekstreme bronne van identiteit as Hassidiese Judaïsme, of fundamentalistiese Islam, of ’n soortgelyke weergawe van die Christelike religie?

Ek skiet nie noodwendig die idee van konserwatiewe eenvormigheid te alle tye en in alle plekke af nie, maar ek wil tog weereens vra: kan ’n bron van identiteit verkeerd wees? Wanneer doen godsdiens, as belangrike bron en bepaler van identiteit en voorgeskrewe bewussyn, meer skade as goed?

[Spesifieke Identiteit X werk goed in Spesifieke Plek X en op Spesifieke Tyd X. Indien Spesifieke Identiteit X nie slaag daarin om die individu in staat te stel om te funksioneer in ’n spesifieke omgewing en in ’n spesifieke tyd nie, moet die individu óf verstellings aanbring aan sy identiteit, of verhuis na ’n omgewing waar daai spesifieke identiteit meer gepas sal wees. Indien tydreis ’n opsie was, sou dit ook voorgestel kon word.]

* * *

Ons het nodig om lief te hê. Maak dit ons liefde enigsins minder opreg?

______________________