Om iemand te bemin – mislukking – onafhanklike welstand

DONDERDAG 5 MEI 2005

[…]

So ry ek toe terug van die stasie af en dink aan die dinge wat ek van vanoggend af besef het. Vra ek myself toe: “Wil ek lief wees vir haar ten spyte van een of twee slegte gewoontes wat sy het?”

“Ja,” antwoord ek.

“Is dit omdat ek haar nodig het?” kom die volgende vraag.

“Ek kan nie ontken dat ek haar nodig het nie,” antwoord ek, “maar ek hou nie van wat die vraag impliseer nie.”

Links by die verkeerslig, honderd of so meter tot by die eerste verlate dorpshuisies: “Wil jy lief wees vir haar ter wille van jouself?”

“Nee,” antwoord ek beslis, en ek voel dadelik ’n briesie van welwillendheid oor my waai. “Ek wil vir haar lief wees ter wille van háár.”

Ek dis dit: suur saam met die soet, net soos sy moet vrede maak met my slegte gewoontes, en my obsessies, en my tekortkominge. Ek is, en wil lief wees vir haar ten spyte van watse gewoontes sy ook al mag hê – en ook nie net omdat hoe sy dit hanteer ’n veel belangriker manifestasie is van haar kernpersoonlikheid nie. Ek wil lief wees vir haar omdat sy, soos ek, behoort te weet hoe dit voel om bemin te word, en omdat ek nie wil hê dat sy ’n enkele dag sonder liefde moet leef nie, en omdat ek vir haar lief kán wees.

VRYDAG 6 MEI 2005

17:54

Snaakse ding is, daar’s altyd die moontlikheid vir mislukking.

“In wat?” mag jy vra.

Noem dit, en waar sukses die hoop is, is mislukking ’n moontlikheid.

Hoekom dink ek nou daaraan?

Weet nie. Vrydagmiddag, reën, somer kom nader, projekte wat nie klaarkom nie …

19:11

“Sou ek ses ure per dag kon Engelse klasse gee, geen projekte kon hê nie, lees en modelvliegtuigies bou as my enigste stokperdjies, en elke aand na werk by die huis kon kom en TV kyk – en lees en modelvliegtuigies bou?” was die vraag wat ek myself uit nuuskierigheid gevra het tussen 18:30 en 19:00. Ek het dit dalk ook gevra na aanleiding van die vorige notasie oor mislukking, en omdat ek ’n vermoede het dat ek nie sielkundig in staat is tot so ’n leefstyl nie.

My antwoord was, nee. So ’n lewe is my nie meer beskore nie. Ek moet ’n “rol speel”, ’n “doel dien” in die Groter Beskouing van Dinge. Die PUNT waarom my lewe draai moet waarde hê buite my eie klein wêreld, of die wêreld wat ek nou en hier sintuiglik ervaar. Ek het reeds te ver gestap om myself te verbeel ek het nie. Die afdraaie is lankal verby; die enigste pad is vorentoe.

Wat is hierdie lewe wat ek najaag? Dit gaan tot ’n groot mate oor twee dinge: tyd en geld – finansiële onafhanklikheid ten einde my eie tyd te kan besit, om in staat te wees om my tyd te kan aanwend tot sekere resultate, in ’n lewe wat draai om ’n sekere PUNT.

“Behoort jou tyd nie in elk geval altyd aan jou nie, al is dit net in beginsel?” wonder jy dalk.

Feit is, ek is nie in die bui om rond te fok met “in beginsel” nie. Vat byvoorbeeld die tyd waartydens ek hierdie nota maak: dit behoort nie aan my nie. Ek het dit reeds maande gelede aan [die eienaars van ’n taalskool] verkoop. Op ’n Vrydagaand tussen 19:00 en 20:30 is ek derhalwe nie vry om te doen wat ek wil nie … (19:30)

SATERDAG 7 MEI 2005

11:10

Om onafhanklike welstand te bewerkstellig deur entrepreneurskap en kreatiwiteit, ten einde (meeste van) my eie tyd te besit, om my daaglikse bestaan te kan toewy – te kan aanwend – tot die nastrewing van doelwitte wat sal strek tot die voordeel nie net van my eie lewe nie, maar ook tot die vervulling van die potensiaal van ander mense om doelgerigte, konstruktiewe, welwillende en gelukkige lewens te lei. Om sodoende my eie aardse bestaan te laat draai rondom hierdie sentrale PUNT.

11:20

Ek verstaan, en aanvaar dat nie almal wat doelgerigte, konstruktiewe lewens wil lei wat waarde sal genereer ook in ander se lewens, nodig het om “onafhanklike welstand te bewerkstellig … ten einde [hul] eie tyd te besit” nie.

______________________

Alles draai om die PUNT

DINSDAG 3 MEI 2005

Die een advertensie op CNN reken sommige mense “live inspired lives”. Ek hou van die idee, maar wat sou die teenoorstaande wees? Oftewel, watse naam kan mens gee aan ’n lewe wat nie soseer geïnspireerd is nie … en geïnspireerd deur wat? ’n Idee?

WOENSDAG 4 MEI 2005

15:41

Soms ontvou ’n mens se lewe op ’n wyse wat jou laat verstaan dat daar ’n PUNT is waarom jou lewe draai. Wat dan gebeur is dat alles wat jy doen, gesien kan word in terme van hoe ver hierdie aktiwiteit van die PUNT af is. Basiese higiëne en voedselinname onderhou byvoorbeeld die liggaam, wat noodsaaklik is vir jou om jou lewe (wat nie moontlik is sonder die liggaam nie) te laat draai om hierdie PUNT. So ook is dit met werk, of dan inkomste genererende arbeid, wat in die eerste plek gedoen word om kapitaal te verdien om jou lewe te onderhou. (Tensy jou werk die PUNT van jou lewe is, wat ’n saak is wat jy met jouself moet uitsorteer.) Nog ’n voorbeeld is my eie EFL-projekte. Ek kontempleer tans of ’n sekere reeks uit drie of vyf boeke moet bestaan, hoeveel prente daarin moet kom, of dit in kleur of swart-en-wit moet wees, hoeveel en watse tipe oefeninge ek moet insluit, wat die grootte van die boek moet wees, en so meer. Solank ek weet hierdie besluite wat ek moet maak, is steeds verwant aan die PUNT van my lewe (in hierdie geval in ’n sekondêre/onderhoudende/bevorderlike rol), kan ek voortgaan om dit te doen sonder om ’n eksistensiële krisis daaroor te ontwikkel.

17:02

Alles draai om die PUNT.

Die PUNT is nie ’n doelwit waarna jy streef en dan bereik nie – dis iets waarom jou lewe draai. Jy streef wel vir jare daarna om iets te bewerkstellig SODAT jou lewe om hierdie PUNT kan draai.

[27/01/15: Wat is “doel”, en wat is “punt”? ’n Doel is ’n rede hoekom jy iets doen (soos leef). Jy kan óf slaag daarin, óf misluk. ’n Punt is ’n spil waarom dinge draai. Hoekom draai dinge om daai spesifieke spil? Dalk omdat dit jou in staat stel om die doel van jou lewe na te streef. Dus: om die doel van jou lewe na te streef en te vervul, moet jou lewe om ’n bepaalde spil draai.]

[13/06/15: ’n Vrou sê, “Om my kinders gelukkig te hou en hulle goed groot te maak sodat hulle self eendag produktiewe lede van die gemeenskap kan wees en kan help om beskawing te onderhou, is die doel van my lewe … Nee, wag. Die vrou sê eintlik: “Die doel van my lewe is om ’n bydrae te lewer om van die wêreld ’n ordentlike plek te maak, vir myself, vir my kinders, vir al die ander mense wat ek liefhet, en vir almal met wie ons die wêreld deel. In ag genome dat ek dit sien as die doel van my bestaan, sien ek my primêre rol op hierdie stadium van my lewe om my kinders gelukkig te hou en hulle goed groot te maak sodat hulle self eendag produktiewe lede van die gemeenskap kan wees en kan help om beskawing te onderhou. Om dit te kan doen, om hierdie rol behoorlik te kan speel, moet my kinders die PUNT wees waarom my lewe tans draai.”]

______________________

Godsdiens – roeping – om goed genoeg te funksioneer

SONDAG 1 MEI 2005

Vlugtige gedagtes:

1. Definieer hoe jy jouself sien en wie jy wil wees – asook die gepaardgaande rol wat jy wil speel en eindresultate waarvoor jy jou lewe wil aanwend; die daaglikse proses van Being Who You Are/Who You Defined Yourself To Be as persoonlike religie. Met ander woorde, gevorderde selfkennis en selfdefiniëring lei tot die vervanging van geïnstitusionaliseerde godsdiens, of oorgelewerde of gegewe “waarheid”, as religie – dit is, die meganisme waardeur jy deel vorm van alles wat is, was en moontlik nog gaan wees. Die self as persoonlike god? Nee. Om dit te impliseer sal wees om die punt te mis, of om ’n pampoen ’n tamatie te noem.

2. Godsdiens dien ’n doel – identiteit, om te behoort aan ’n groter werklikheid, ensovoorts. Spesifieke inhoud van godsdiens – oorgelewerde tradisie en beskouing van waarheid, plus rituele, gemeenskap, ensovoorts – aktiveer die frankenstein wat godsdiens in beginsel is [godsdiens, enige godsdiens, is soos die liggaam wat in teorie in staat is om dinge te doen en resultate te bewerkstellig; spesifieke inhoud is soos die “siel”, of lewensenergie, wat die liggaam lewendig maak en selfs persoonlikheid gee]. Wat sê dit dan van spesifieke inhoud – die Christusverhaal, of Mohammed en die Koran, of enige ander spesifieke inhoud?

MAANDAG 2 MEI 2005

10:54

(Onthou Strydbyl Maandag, 3 Mei 2004?)

Ek staan in die kombuis, wat sedert gisteraand effens anders lyk, steeds in Laan 2, nommer 4-2, Benewelde Lig Nuwe Dorp. My bakkie muesli met jogurt, vars piesangstukke en gehalveerde druiwekorrels wag langs my koppie warm groentee vir my om hierdie nota klaar te skryf. Savuka sing Track 5 (“Ibola Lethu”) van my herwinde Aiwa hi-fi se kant af, die son skyn lekker, die waaier waai sy eie ritme uit, die potplante op die vensterbank kom mooi aan, en in die agterste vertrek is [N.] besig op die oefenfiets … Strydbyl Maandag? Twaalf maande, en ’n miljoen myl weg.

20:32

Enkele gedagtes:

Punt 1: Moses het die volk van Israel nie die Beloofde Land binnegelei nie, maar net tot by die grensarea. Om hulle in te vat, was nie sy roeping nie; dit was nie sy doel, rol of funksie nie. Dit was wel sy roeping, sy doel, rol en funksie om hulle deur die woestyn te lei en te bring tot op die rand van die Beloofde Land.

Punt 2: Ek en [my vriendin, E.] staan by Dorex se toonbank en bestel drinkgoed. Ek sien die lang ou met die deurmekaar hare tree na vore – omdat hy Engels kan praat, en sy vroulike kollega tree terug – omdat sy nie Engels kan praat nie. Ek plaas my bestelling, reageer met voldoende maar nie oordrewe beleefdheid nie, haal geld uit my beursie, oorhandig dit, ontvang kleingeld en ’n kwitansie en ’n strokie met ons bestelnommer op, en maneuver tussen die tafels en enkele mense na waar ons gaan sit, wagtende vir ons bestelling.

Twee gedagtes registreer: 1) ek het goed genoeg gefunksioneer in die omgewing waarin ek myself bevind het; ek was inderdaad ’n redelike en beskaafde organiese robot; en 2) presies so ’n situasie en gepaardgaande funksionering kon my waansinnig gemaak het as die regte dinge nie gekliek het op die regte tye nie.

Punt 3: In ’n sogenaamde kommunistiese staat is slegs vyf tot vyftien persent van die bevolking lede van die Kommunistiese Party. Die res vervul hul funksies, maak plekke vol wat min of meer belangrik is, en speel hulle min of meer belangrike rolle. Die lede van die Party het, in beginsel, belangriker ideologiese rolle om te vervul – hulle is inderdaad verantwoordelik, of dan relatief tot die res van die bevolking, méér verantwoordelik, vir die sukses van die rewolusie.

Dit laat my toe daaraan dink dat ek dalk soos ’n idealistiese rewolusionêr die boodskap probeer verkondig dat almal ewe belangrik is, dat almal belangrike rolle het om te vervul, dat almal hul ware doel, rol en funksie moet ontdek of definieer, en dit dan moet vervul om werklik waarde aan hul lewens te gee.

Maar, miskien is sommige mense belangriker as ander – in die Groter Beskouing van Dinge. Miskien is sommige mense se roepings, rolle, funksies en doele wat hulle moet nastreef doodgewoon belangriker as ander mense s’n.

Laastens, in ag genome die gedagte dat om “Brand Smit” te wees my persoonlike religie is, wil ek net weer noem dat ek tans nie voldoende ritualistiese bevestiging ervaar van my spesifieke verbintenis aan die Groter Waarheid nie. Ek maak notas, ek leer Chinees … en ek gee klas en werk aan EFL-materiaal, wat belangrik is om inkomste te verdien wat omgewing en behoeftevervulling bevorderlik sal maak vir my primêre arbeid.

Dit is egter van kardinale belang dat ek so gou as moontlik moet terugkom by HOOFSAAKLIK skryfwerk.

______________________

Neiging tot moedeloosheid – dwaasheid

WOENSDAG 27 APRIL 2005

My neiging tot moedeloosheid, en die toename in frustrasie en verveling, en selfs die sporadiese afname in selfvertroue kan alles teruggelei word na die feit dat ek, “Brand Smit”, nie tans enige noemenswaardige literatuur produseer wat ’n goeie saak dien nie. Soos ek gister genoem het, kom dit daarop neer dat ek eksistensiële angs gaan ervaar wat soortgelyk is aan wat ’n pas bekeerde “Christen” sal ervaar wat nie gereeld die bevestiging van die gemeenskap van medegelowiges kry nie – met die verskil dat ek geen bevestiging van enige gemeenskap nodig het nie. My persoonlike religie en verwante bevestiging is … OM TE WEES WIE EK SÊ EK IS.

VRYDAG 29 APRIL 2005

11:38

Ek dink die een rede hoekom ek nog nie verder kon gaan in my denke oor sekere onderwerpe nie, is omdat ek soos ’n McDonald’s franchise eienaar is wat eintlik gesondheidskos wil bedien. Ek wil verder gaan, aanbeweeg, maar die enigste manier hoe ek dit werklik kan doen, is om die formaat en struktuur van my establishment te verander.

Ek moet begin navorsing doen. Ek moet meer gedissiplineerd raak in my ondersoek.

[Die McDonald’s analogie werk dalk nie so goed nie. Wat belangrik is, is dat ek gereken het my idees oor al die onderwerpe waaroor ek al skryf sedert … 1994 … gaan nie vorentoe nie. Ek het ook gereken my benadering van een paragraaf hier en ’n nota daar moet heroorweeg word. Wat ek gereken het ek moet doen, is navorsing; om ’n onderwerp behoorlik van ’n kant af te benader.]

17:49

[Nota oor projekte waarmee dit redelik goed gaan.]

Ek noem dit want ek haat dit as toue en garings en nate los begin trek, of as tentflappe wapper in die wind.

Wat my bring by ’n verwante sakie: Kry ander mense ook soms die idee dat hulle lewens net twee weke van totale chaos af is? Ek praat van gewone goed soos gesondheid en wasgoed en algemene higiëne; ek praat nie van erger faktore waaroor mens nie beheer het nie.

19:47

Geloof in jou medemens en in die lewe, is dwaasheid. / Dwaasheid is noodsaaklik vir geloof in jou medemens, en vir geloof in die lewe.

______________________

Wat is liefde – kruipende grysheid – persoonlike religie

SATERDAG 23 APRIL 2005

Wat is liefde?

Liefde is ’n bereidwilligheid en ’n vryewilskeuse om iemand anders se behoeftes, welstand en belange op die hart te dra*. Romantiese liefde is wanneer hierdie bereidwilligheid gekombineer word met ’n sterk begeerte* om saam met die persoon te wees, om wat jou lewe is, te deel* met hom of haar, en om aan hierdie persoon die geleentheid te gee om sy of haar lewe te deel met jou.

Definisies:

op die hart dra = om iets te ag as van groot belang; om ten minste medeverantwoordelikheid te aanvaar vir iets

sterk begeerte = ’n behoefte wat, indien dit nie vervul word nie, lei tot emosionele ongemak

te deel = om nie wat jou gelukkig maak, of wat vir jou belangrik is, of wat jou hartseer maak, of wat pyn of ander ongemak veroorsaak, vir jouself te hou nie

MAANDAG 25 APRIL 2005

14:17

Ek verstaan nie ALTYD, ONMIDDELIK, ALLES nie …

18:34

Daar’s insidente wat uit die bloute kom, en ’n reaksie ontketen. Dan’s daar die kruipende variasie, ’n grysheid wat van ver af kom, wat weerstand stukkie vir stukkie wegvreet tot jy op ’n Maandag in April weer aan jouself moet erken: Ek is nie altyd ewe oortuig van dinge nie.

* * *

Dis soos dit is: jy werk en jy werk en jy werk, en dan, een oggend, verskyn ’n beeld uit die mis. Jy sien ’n man se gesig, en jy sien hy grinnik, of glimlag oor iets. Jy trek jou skouers op en vra, “Wat?”

Antwoord die man: “Ek sien jy werk jou gat af. Het jy al ooit die moontlikheid oorweeg dat niks ooit gaan kom daarvan nie, dat dit alles verniet is?”

20:28

Ag shame en so aan. Van wanneer gee ek myself oor aan sulke goedkoop slenters?

Plus, ek weet waar dit vandaan kom: van dieselfde brak spruit as waaruit dit verlede April gevloei het.

Oplossing: SKRYF.

DINSDAG 26 APRIL 2005

18:03

“Life in the city is merely a wormlike biological existence where man lives and dies meaninglessly.” ~ Muammar Qaddafi

[Die feit dat hy so geglo het, het dit heel waarskynlik makliker gemaak vir hom om dit die werklikheid te maak vir baie mense in Libiese stede.]

21:23

Om “Brand Smit” te wees, is my persoonlike religie.

As iemand tot “bekering” kom, gaan die gebeurtenis gewoonlik gepaard met gevoelens van euforie, en ’n verbeterde sin van persoonlike welstand en sekuriteit – plek in die kosmos, identiteit, sonde en verlossing, “Ewige Lewe” ensovoorts. Die Nuwe Bekeerde kan egter nie net een Vrydagaand by ’n samekoms tot bekering kom en – voila! – die wonderlike euforie en welstand en sekerheid hou vir ewig nie. Hy of sy moet van Dag Twee af gereeld sekere rituele uitvoer om sy of haar nuwe identiteit en kosmiese status te bevestig.

DINGE MOET GEREELD GEDOEN WORD OM IDENTITEIT EN KOSMIESE STATUS – JOU PERSOONLIKE VERHOUDING MET DIE HOOGSTE REALITEIT – TE BEVESTIG!

Ek kan nie net weet ek is “Brand Smit” nie. Dis doodgewoon nie goed genoeg nie. Die afgelope week of drie se kruipende grysheid het weereens bevestig wat ek ook voorheen besef het: AS EK NIE SKRYF NIE, IS EK NIE WIE EK SÊ EK IS NIE.

______________________