Twaalf minute op my fiets

Kort na ses op Vrydagaand 5 Augustus 2005 vertrek ek vanaf ’n naskoolsentrum terug huis toe. Wat volg is die waarnemings en gesprekke met myself wat meeding om my aandag oor die volgende twaalf minute.

Gedagte nommer 1: “Ek het Zhang heeltemal verkeerd verstaan toe sy begin praat het oor die Chinese onderwyseres en haar probleme.”

Respons op gedagte nommer 1: “Nee wat. Ek ken die storie, en dis nie regtig belangrik nie.”

Onderdeur die tempelhek, oor ’n groen verkeerslig, net voor ’n scooter wat roekeloos oor die rooi lig jaag …

Gedagte nommer 2: “So ek kom toe by die sentrum aan met die gedagte dat ek eintlik tussen 2 en 14 September Suid-Afrika toe wil gaan. Net toe ek my skoene uittrek by die deur, lui ’n klokkie. ‘Drie September, drie September … hoekom klink dit so belangrik?’ Toe, net soos ek die deur oopdruk, onthou ek: Ernesta se afskeidsnaweek! Maar …”

’n Man met ’n pakkie sigarette in sy hand loop na ’n kar geparkeer in die middel van die pad. My aandag is afgetrek. Ek ry om die draai, en sien ’n vrou. Sy’s swanger. Ek kyk na haar voete: vetterige tone met die naels te kort geknip. Sy’s nie baie aantreklik nie. Sy’s nie in ’n deftige deel van die stad nie. My verbeelding skop in.

Gedagte nommer 3: “Sy herinner my aan ’n karakter in ’n movie … die vrou was nie vreeslik slim nie. Is hierdie vrou se man dalk ook ’n lid van ’n misdaadsindikaat? Hoe gaan hy voel as sy kind gebore word? Gaan hulle die kind behoorlik kan grootmaak? Gaan die kind aan die einde in sy ouers se voetspore volg? As die man wel ’n lid is van ’n misdaadsindikaat en hulle ongebore kind is ’n seun, gaan hy ook eendag ’n krimineel word – ’n oop seer op ’n gemeenskap wat nie nog kriminele nodig het of kan bekostig nie? As die ou ’n krimineel is, sou hy glo dat ander gangsters hom meer respek gaan gee as hy ’n kind het? Gaan hy sy kind gebruik in argumente wat hy op geen ander manier sou kon wen nie? Dan weer, wat van rekenmeesters, en ingenieurs, en bankklerke? Maak hulle altyd húlle kinders ordentlik groot? Is dit altyd ’n goeie ding as húlle kinders in hul voetspore volg? Gebruik húlle nie ook soms hul kinders in argumente wat húlle nie andersins sou kon wen nie?”

By die verkeerslig draai ek links. Twee seuns kyk my aan asof ek nie hoort in daai deel van die dorp nie. Ek sien ’n bondel … garing? ’n Visnet. ’n Ou man sit op ’n lae stoeltjie langs die pad en trek die net uitmekaar. Voor hom op die grond lê ’n hond en speel lustig met sy voorpote in die net. Die ou man lyk ongesteurd.

Gedagte nommer 4: “Hoe moet dit voel om so te leef? Sê jy bly op ’n eiland, of langs ’n afgeleë strand. Jy spandeer jou tyd deur visnette uitmekaar te trek, en met jou hond langs die see te stap, en vis te vang, en middagslapies in die skadu van ’n boom te vat. Wat sal so ’n man sê vir iemand wat praat oor hongersnood in Afrika, of oorlog in Irak, of bomme in Londen? Sal hy sê, ‘Dit maak nie aan my saak nie’? ‘Hierdie stukkie strand, hierdie uitsig oor ’n stukkie oseaan, dis my wêreld. Ek gee regtig nie om oor wat op ander plekke gebeur nie.’ Dan sal die ander persoon sê, ‘Wat van as daar ’n situasie is waar, as net een persoon wil help – en daai een persoon kan jý wees, dit lewens sal spaar?’ ‘Wel, as dit hulle tyd is, is dit hulle tyd,’ sal die ou seker antwoord.

“Die probleem met hierdie houding is dat die bad guys nooit so ongeërg is nie. Om die waarheid te sê, dis een van die grootste fokops wat jy kan kry – dat lusteloosheid en ongeërgdheid nooit kenmerke is nie van dié wat lewens bedreig, en vernietig, wat korrupteer, en tot die laaste druppel bloed uitbuit en onderdruk! So die ou met sy lewe op die strand, met sy visnet en sy hond en sy klein stukkie see, sal ook uiteindelik moet kies.”

“Dit moet ek neerskryf as ek by die huis kom,” dink ek soos ek die laaste honderd of so meter trap teen die effense helling uit.

En toe onthou ek van die gedagte oor die moontlike besoek aan Suid-Afrika waarmee ek besig was toe ek by die sentrum weggetrek het. “Al het ek dus geld gehad vir vakansie in September, sal ek nie my vriendin so in die steek kan laat in haar laaste week in Taiwan nie. Jammer dat ek nie daaraan gedink het toe ek vir die familie moes verduidelik hoekom ek nie volgende maand kan kom kuier nie.”

______________________

Kreatiewe onafhanklikheid – advies oor die lewe – identiteit

MAANDAG 1 AUGUSTUS 2005

18:51

Kreatiewe onafhanklikheid is ’n goeie en edel doelwit om na te streef. Om jou arbeid te verrig soos jy dit goedvind en nie soos dit gedikteer word deur ander nie, is alles goed en wel. Maar hoe word dit toegepas op mediese dokters, tandartse, polisie offisiere, ingenieurs, brandweer personeel en noodhulpdienste? Skrywers, akteurs, filosowe, fotograwe en so meer is deel van ’n groep “arbeiders” wat sekerlik kan aandring op minimale inmenging op hoe hulle hul werk verrig, maar kan alle arbeiders aandring daarop?

Nog ’n vraag: Die skrywer of kunstenaar wat hand en tand veg vir kreatiewe onafhanklikheid, om te doen wat hy wil, soos hy dit goedvind, het elke nou en dan ’n tandarts nodig, of ’n mediese dokter, of ’n verpleegster of ’n bankklerk. Hy verwag dat hierdie mense hulle werk moet doen soos dit veronderstel is om gedoen te word. Dan praktiseer hy mos nie wat hy predik nie, of hoe? En is dit nie ook edel om te voorsien in die behoeftes van die gemeenskap nie?

19:00

Wat sou ek eendag wanneer ek oud is vir iemand sê wat my advies vra oor die lewe? (Ek bedoel nou as ek gelukkig genoeg is dat iemand vir my ’n vraag vra waarvoor ek so ’n mooi, goed uitgewerkte antwoord het, en die persoon is geduldig genoeg om na die kort toespraak te luister.)

Ek sal sê, drie dinge:

1. Leer jouself ken. Vra jouself vrae, en oorweeg elke moontlike antwoord deeglik voor jy een aanvaar. Indien ander mense antwoorde het op die vrae wat jy vra, of aan jou antwoorde bied, aanvaar dit slegs na jy dit krities oorweeg het, en as relevant ag vir jouself. Leer jouself ken in verskillende situasies, en in uiteenlopende omgewings. Neem jouself waar; sien waar jou sterkpunte lê, asook jou swakhede.

2. Maak geld. As jy dit kan doen sonder om iemand “baas” te noem, of sonder om na iemand anders se diktee te dans, sal jy een van ’n minderheid wees wat persoonlike vryheid in hulle arbeid geniet. As jy meer geld maak as wat jy nodig het vir jou basiese behoeftes en vir wat jou ook al gelukkig maak, ook goed so. Dit sal jou in staat stel om die lewe meer te geniet, en om ander mense by te staan in hulle stryd om oorlewing. Onthou: gierigheid is ’n slegte eienskap; wees wys met jou geld; en as jy jou selfrespek merendeels bou op die feit dat jy geld het, bou jy jou huis op sand.

3. Kennis … van jou omgewing, die wêreld buite jou onmiddellike ervaringsveld, die geskiedenis van die mens, ander samelewings, ander lande, ensovoorts. Ook kennis van sielkunde, filosofie en ander vakgebiede wat jou in staat sal stel om jouself, ander mense, en die wêreld beter te verstaan.

DINSDAG 2 AUGUSTUS 2005

Stel jouself die volgende toneel voor: honderd mense is vergader in ’n saal. Geen name word gebruik nie. Elke persoon het ’n stel wit kaartjies by hom of haar – sê so vyftig kaartjies. Op hierdie kaartjies skryf die mense dan stellings wat hulle definieer: beskrywings soos, “Ek het ’n lang neus,” “Ek het ’n moesie op my voorkop,” “Ek vertel graag grappe,” “Ek hou van tuinmaak,” en dan ook ervarings soos, “Ek het geval met my fiets toe ek twaalf was en my voortande verloor,” “Ek het saam met my ouers deur Europa gereis toe ek sewentien was,” “Ek het in my middel twintigs vir twee jaar in Suid-Korea gewerk,” en so meer. Die kaartjies word dan saamgegooi, en elke persoon word dan uitgeken deur hierdie stellings en ervarings. Natuurlik sal ten minste die helfte van die mense reageer as die stelling, “Ek is ’n man” gelees word. Vele sal hul hande opsteek as die stelling, “Ek het bakore” gelees word. Sekerlik sal die semi-unieke kombinasies van fisieke eienskappe en beskrywings van persoonlikheid die een persoon onderskei van ’n ander, maar sal persoonlike ervarings die grootste unieke identifiseerder blyk te wees?

DONDERDAG 4 AUGUSTUS 2005

As jy nie weet wat jy met jou lewe wil doen nie, wat doen jy met jou lewe? Hoe funksioneer jy? Hoekom leef jy soos jy leef, waar jy leef, en met wie jy leef? Hoekom doen jy die werk wat jy doen? Hoekom dra jy die spesifieke klere wat jy dra?

Ek is seker daarvan daar is interessante antwoorde op bogenoemde vrae. Of, meeste mense het in der waarheid ’n idee van wat hulle met hul lewens wil doen. Indien dit die geval is, wonder ek: “Wat?” En indien iemand dan die vraag antwoord, sal ek steeds nuuskierig wees: “Hoekom?”

______________________

Stellings en vrae – vier doelwitte

SONDAG 17 JULIE 2005

Uit die nuutste Sarie: “[Vroue] werk met tradisionele rolomskrywings wat dikwels godsdienstig gesanksioneer word.” En, “Min mense is ‘van nature’ self-opofferend. Vroue is so omdat hulle dink dis hul enigste bestaansreg.” Ook, “Jy kry positiewe reaksie as jy die ‘tipiese’ rol vervul. Jy weet klaar wat jou rol eendag gaan wees en daarom ontwikkel jy nooit sekere eienskappe nie – wee jou as jy buite daardie spore beweeg.” (UNISA teoloog, Christina Landman)

MAANDAG 18 JULIE 2005

Naderende storm maak my angstig. Tydens die storm self is ek kalm.

DINSDAG 19 JULIE 2005

Die Ideale Self is nie ’n vreemde entiteit wat jy ontmoet aan die einde van ’n lang reis waarmee jy dan plegtig saam smelt nie. Die Ideale Self is reeds binne jou.

MAANDAG 25 JULIE 2005

10:25

Uiteindelik kom alle vrae oor eie identiteit, geloof, oortuigings, geïntegreerde beskouing van bestaan en lewensfilosofie neer op ’n praktiese aangeleentheid: Hoe moet ek funksioneer? Hoe moet ek leef van slaap tot slaap? Wat moet ek doen met die bestaan wat ek nie anders kan as om te erken nie?

15:45

Al daai vrae van die 10:25 teks kom neer op meer as net funksionering. Dit kom ook neer op die resultate wat jy sal agterlaat van jou bestaan.

* * *

Ek maak ’n stelling: My gunsteling kleur is groen. ’n Ander persoon hoor dit en dink, “Wat is my gunsteling kleur?”

Ek sê, “As ek NT$100 000 het, sal ek vir drie maande lank China toe gaan.”

Die ander persoon sê, “O. Wat sal ek doen as ek NT$100 000 het?”

Ek sê, “Die doel van my lewe is om ___________.”

Die ander persoon hoor dit, en dink na oor sy of haar eie lewe. “Wat is die doel van mý bestaan?” sal die persoon vra.

Die punt is dus nie om net vrae te vra nie, maar om ook te sê wat jy glo, wat jy doen, en hoe jy dinge sien. ’n Ander persoon hoor wat jy sê, of lees wat jy geskryf het, en ’n innerlike stem skop ook in by daai persoon, wat dan van dieselfde vrae vra wat jy oor die jare gekontempleer het.

18:50

Vraag: Waaroor gaan die lewe? (Een van verskeie moontlike formulerings van wat in beginsel dieselfde vraag is.)

Antwoord: Funksionering + Eindresultate

SATERDAG 30 JULIE 2005

My vier doelwitte in die lewe is as volg:

1. Om gelukkig te wees, en as ek gelukkig kan wees saam met iemand, sal dit uitermatig goed wees.

2. Kreatiewe onafhanklikheid – om te kan skep, om te kan produseer wat ek goedvind, en nie soos dit gedikteer word deur ander nie.

3. Finansiële onafhanklikheid – om nooit in enige iemand se oë hoef te kyk vir geld nie; om oor voldoende kapitaal te beskik om die volgende moontlik te maak: kreatiewe onafhanklikheid, in werklikheid en nie net as ’n ideaal nie; om dinge te kan doen wat my gelukkig maak; om ’n huislike omgewing te kan skep, of om mede-skepper te wees van ’n tuiste, waar ek gemaklik kan werk, kuier en rus; om ’n lewenstyl te kan bekostig wat ek al vir jare lank nastreef.

4. Om ander mense by te staan in húlle stryd om oorlewing, en/of om van waarde te wees in hul eie pogings om ’n begrip te ontwikkel van hul bestaan wat hulle in staat sal stel om gelukkige en produktiewe lewens te kan lei; ook om by te dra tot ’n gesonder habitat vir mens en dier.

______________________

Geïntegreerde beskouing van bestaan – iets gebreek – spirituele dimensie

DINSDAG 12 JULIE 2005

14:10

Wat is ’n geïntegreerde beskouing van bestaan?

Vir my bring dit Freud en Christus bymekaar, samelewing en bloedselle, mense en diere en bome, die verlede, die hede en die toekoms. Dit bring bymekaar wat in die mens se psige aangaan, wat tussen twee individue plaasvind in uiteenlopende situasies, en hoe een gemeenskap voortbestaan in harmonie met ’n ander. Dit bring wetenskap, chemie, sielkunde, religie, filosofie, geskiedenis, antropologie, sosiologie en biologie bymekaar.

Dit stel jou in staat om te kyk na jouself, na alles om jou, na alles wat volgens geloofwaardige bronne op ander plekke gebeur, en op ander tye gebeur het, en na ander mense wat soortgelyke ervarings van die werklikheid het as jyself, of totaal verskillende ervarings, en te verklaar dat “dinge” sin maak – of ten minste op so ’n wyse dat jy kan funksioneer in die tyd en omgewing waarin jy jouself bevind.

17:41

Ek kry vanoggend die gevoel dat iets gebreek is, of iets wat voorheen gewerk het, nie meer werk nie. Ek oorweeg dit toe, siende dat dit klink soos ’n ernstige aangeleentheid.

Na ’n paar minute reken ek: Freud het gepraat oor die mens se strewe na konstante energievlakke; ek kan beslis sê dat my interne stabiliteit versteur was die afgelope drie weke. Daar was die afwesigheid van die persoon aan wie se intieme teenwoordigheid ek gewoond geraak het die afgelope paar maande. Daar was die pyn en ongemak van die laaste twee weke in my gesig – ongemaklik naby aan ’n mens se sentrale punt van bewussyn, en derhalwe moeilik om te ignoreer. Laastens was daar my rekenaar – my primêre instrument van uitdrukking, die belangrikste instrument in die realisasie van literêre projekte en ander kommersiële projekte, en oor die algemeen my herberg in tye waar TV, movies, of mense nie my gemoed kan verlig nie. Hierdie was alles dinge wat ’n besliste uitwerking gehad het op my energievlakke, en op my algemene bewussyn.

Iets wat gebreek is? Iets wat nie meer werk nie? Ek moet bogenoemde oorweeg voor ek enige iets uitmekaar begin haal.

20:18

Kennis bring kalmte, en ondermyn irrasionele angs. As ek byvoorbeeld geweet het alles gaan uitwerk oor die volgende paar maande – skryfprojekte, besigheidsprojekte, my en [N.] se verhouding, geld, skedules, vakansies, familie, en so meer, sou ek dan kalmer gewees het?

Gepraat van kennis: Wat sou ek dink daarvan as ek toegang moes kry tot verifieerbare, onweerlegbare bewyse dat daar ’n “spirituele” dimensie is – en dat hierdie dimensie gevul is met beide goeie en slegte “geeste” (of entiteite), en dat wat jy doen met jou lewe in die “aardse” dimensie ’n effek sal hê op watter kant van die lyn jy sal eindig na jy jou laaste asem uitblaas? Dat die Christelike konsep van “hemel” en “hel” ’n simplistiese weergawe is van wat gebeur met jou “gees”. Dat dit inderdaad ’n komplekse proses is van suiwering, moontlik selfs hergeboorte, lesse leer, keuses maak, ontvanklik wees vir rigtingwysers wat jou in staat sal stel om voort te gaan op jou spirituele reis. Dat dinge wel gebeur met ’n doel. Dat sekere mense oor jou pad kom, of “gelei” word deur komplekse manipulasie deur goeie “geeste”, om jou te help – of selfs ’n geval van wedersydse konstruktiewe invloed in iets soos ’n verhouding, maar dat daar nie ’n sentrale figuur is wat toutjies trek en die een red van ’n ongeluk en toelaat dat ’n ander een gewelddadig vermoor word nie. Wat sou ek sê, of wat sou my posisie wees, as ek moet wéét dit is die waarheid?

______________________

Opinie – Stem van die Anderkant – geloof

MAANDAG 11 JULIE 2005

11:35

Ons almal het opinies van mekaar. Sommige mense sal moontlik effens geskok wees as hulle moet weet wat ek regtig van hulle dink, en so sal ek dalk geskok en ietwat verontwaardig wees as ek moet weet watse lae opinie party mense van my het.

Voordat ek vir mense sê met hoeveel erns ek hul opinie bejeën, sal ek graag vir hulle wil vra om vir my die skaal te wys waarmee hulle mense weeg. My vermoede is dat vele mense se skale primitiewe, saamgeflanste instrumente is wat net sowel uit die Middeleeue kan kom.

As jy jou saak stel en my kan oortuig dat jou maatstawwe redelik is, sal ek jou bedank vir jou eerlike en konstruktiewe opinie. Indien ek egter nie beïndruk is met hoe jou opinie gevorm is nie, sal ek duidelik wees in myne. Dankie dat jy die moeite gedoen het om ’n opinie oor my uit te dink, sal ek sê, maar jou opinie is belaglik, en hoef derhalwe nie met erns bejeën te word nie.

(Tensy … die persoon se opinie van jou dreig om oor te gaan in aksie teen jou wat jou kanse op oorlewing, of jou optimale funksionering, sal ondermyn. Die persoon se opinie hoef dus nie soseer dan met meer erns bejeën te word nie, maar die persoon moet wél behandel word as ’n ongesofistikeerde barbaar, of ’n wilde dier wat jou skade kan berokken.)

12:34

Ek weet dit nou: jy stap nie weg van tien dae se amper onophoudelike pyn en ongemak in jou gesig sonder ten minste ’n kraak in jou moraal nie.

12:51

Laaste paar dae se notas maak dit duidelik dat ’n gedagte aan die broei was. Ek is kwaad vir myself, en dit het te make met een ding: my lewe – en met lewe bedoel ek die ure wat ek wakker is elke dag – is gevul met take, doelwitte, projekte wat afgehandel moet word sodat ek meer take kan uitdink, en meer projekte kan begin, en meer doelwitte kan nastreef. En dan tref ’n bus my, en waaroor sal ek die spytste wees? Geluk. Daar’s so min geluk in my lewe dat dit my naar maak. En ek het so ongelooflik baie geleentheid vir geluk.

Die afgelope twee weke was bevorderlik vir hierdie insig – die pyn in my mond, [N.] se afwesigheid, al die take wat ek afgehandel het, my nuwe rekenaar, die hersieningswerk aan “Persoonlike Agenda”, en tog … daar’s altyd nog take, nog projekte, nog doelwitte! Daar’s geen einde daaraan nie! Ek bekommer myself vrek oor geld en wanneer ek weer Suid-Afrika toe gaan en hoe ek verskyn! Staan op, werk, dink, skryf, eet (bekommer my daaroor om nie vetter te raak nie!), kyk bietjie TV (nie te veel nie want daar’s werk en take wat wag), en dan gaan slaap ek weer. En dan staan ek weer op en stort en werk, en eet en streef doelwitte na en dan tref ’n bus my. En dis alles oor. En die vrou by die teestalletjie maak steeds tee elke dag, en kinders gaan nog steeds Engelse klasse toe, en nuwe TV-programme word gemaak, en hierdie Sondagaand is daar ’n nuwe feature movie op HBO.

En aan die ander kant van die Groot Rivier staan ek, en ek besef: take is belangrik; doelwitte is belangrik; projekte lewer resultate van ’n betekenisvolle lewe op. Maar as dit jou nie geluk gebring het nie, nie net in jou “lewe” nie, maar in jou ure elke dag, was dit dan werklik ’n lewe wat die moeite, die swaarkry, die vernederings, die verleenthede, en die tandpyn werd was?

14:50

Die tyd het aangebreek om ’n nuwe stem te kultiveer: Die Stem van die Anderkant.

Die Stem van Rede sal byvoorbeeld sê: X=2. Die Stem van die Anderkant sal sê hoeveel dit saak maak – van die ander kant af.

22:57

Dat enige iets bestaan of ooit bestaan het buite wat jy nou ervaar of kan waarneem met jou sintuie, is geloof – of dalk eerder, dit kan voorgestel word op ’n skaal van waarskynlikheid. Alle historiese “feite” is saamgestelde weergawes van gebeure in die verlede wat ons glo gebeur het, en soos dit aan ons vertel word. Ons kan slegs glo dat dit waar is (of was) omdat ons bewussyn, en enige eerstehandse ervaringe wat ons stoor as herinneringe, nie verder strek as ons eie lewe en die plek of plekke waar ons hierdie lewe geleef het nie.

Dit gaan dus nie soseer oor geloof nie, maar waar ons die grense van geloofwaardigheid trek, en spesifiek waarin ons glo.

Feit is, ons kan nie funksioneer sonder geloof nie – dat môre byvoorbeeld soos verlede Dinsdag moet wees in terme van werkskedule en ander aktiwiteite, is geloof. Ons kan slegs glo dat Napoleon of Julius Caesar of Aristoteles bestaan het; hulle kan nie ons sintuie oortuig dat hulle ooit bestaan het nie. Ons glo dat hulle bestaan het, omdat ons lees van hulle, of lees wat hulle geskryf het.

Laastens, ’n handige intellektuele oefening mag dalk die beantwoording wees van die volgende vraag: Wat is die verskil tussen geloof in die bestaan van enige god, en geloof dat Julius Caesar bestaan het?

[Waarskynlikheid dat ’n persoon soos Julius Caesar kon bestaan het versus waarskynlikheid dat enige godheid werklik kan bestaan, is heel waarskynlik ’n goeie begin.]

______________________