Is ’n kameelperd werklik oranje, soos ’n lemoen?

WOENSDAG 19 OKTOBER 2011

Vanoggend om en by vyfuur wakker geword vir omtrent vyf sekondes, ’n gedagte gehad oor ’n handvol vetkryt, ’n kind en ’n prentjie, en die betekenis wat daaruit getrek kan word oor die beperking van taal as dit kom by godsdiens en “absolute waarheid”, en toe verder geslaap.

Die punt was dit: Jy gee aan enige iemand ’n palet met tien of vyftien kleure verf op. Dan trek jy die gordyne oop op ’n pragtige, kleurvolle toneel – kom ons sê ’n grasveld in Afrika net na goeie reëns, met meer as ’n dosyn spesies diere wat orals rondstaan, rondloop, of rondlê. Na die persoon die toneel ingeneem het, gee jy aan hom die opdrag om te skilder wat hy gesien het. En hy moet dit doen met die kleure wat jy aan hom beskikbaar stel.

Dalk is die persoon werklik talentvol, en sy prent is ryk aan detail, en vol kleur.

Vraag is, is sy prent ’n 100% akkurate verteenwoordiging van die werklike toneel – van die gras en bome en diere en lug en wolke en voëls en al die ander fyner detail wat die werklikheid vol maak?

Hoe kan dit wees? Hy’t net ’n dosyn of so kleure gehad waarmee hy die toneel kon skilder! En dan is daar sy persoonlikheid, selfs die gemoedstoestand waarin hy was toe hy die prent gemaak het. Het hy, om een voorbeeld te kies, doelbewus nie die onweerswolke deel gemaak van sy weergawe nie? Hoeveel detail het hy uitgelaat, eenvoudig omdat sy talent te kort geskiet het?

Kom ons vat nou die analogie verder. Die persoon wat die toneel geskilder het, word later gesien as ’n gesagsfiguur in een of ander religieuse tradisie. Benewens die prent van die landskap, produseer hy honderde ander prente en sketse en stukke teks, wat alles toenemend kosbare items word na sy afsterwe. Mettertyd word al hierdie dokumente en kunswerke gebruik as voorskrifte vir hoe mense moet optree, en vir hoe dinge beskryf moet word. Binne ’n paar geslagte voorsien die prent van die landskap dan byvoorbeeld leiding aan die gemeenskap oor hoe daar oor diere gepraat word soos aangetref word op ’n Afrika grasveld net na goeie reëns.

Aanvanklik sou dit nog aanvaarbaar gewees het as iemand sou sê, “Hierdie is duidelik ’n kameelperd, hoewel ’n kameelperd nie werklik oranje is soos ’n lemoen nie, dis meer ’n donker mosterdkleur.”

’n Paar geslagte later is hierdie prent, soos honderde ander sketse en prente en stukke teks geproduseer deur hierdie gesagsfiguur, verhef tot heilige artefak. Teen hierdie tyd is dit ortodoks om te verwys na ’n kameelperd as oranje – soos ’n lemoen, selfs dat dit nog nooit enige iets anders as oranje was nie. Hoekom? Die prent dui dit so aan – duidelik, vir almal wat oë het om te sien. “Hoe kan enige een dit ontken?” sal gevra word. “Selfs ’n kind kan dit sien. Inderdaad, jy moet glo soos ’n kind.” Om hierdie begrip te bevestig, word honderde volumes teks geproduseer wat die korrekte en enigste aanvaarbare wyse verduidelik hoe die artefak geïnterpreteer moet word.

Kom ons sê nou met die verloop van ’n paar eeue word hierdie religieuse gemeenskap die dominante groep in die samelewing. Nou kan jy in ernstige moeilikheid kom by die owerhede van die dag as jy net daaraan dink dat ’n kameelperd enige iets anders is as Oranje – Soos ’n Lemoen. ’n Individu wat waag om agter sy hand iets te prewel wat klink soos “mosterd” in verwysing na die kameelperd, kan summier voor die hof gedaag word, in die kerker gewerp word, gefolter word, en waar vermoed word dat so ’n persoon dalk ander onskuldige siele kon besoedel met die ketterse mosterdkleur besigheid, na die brandstapel gestuur word.

“Jy is verkeerd,” is wat mense eeue later, in meer beskaafde tye sou sê. “’n Kameelperd is oranje, ’n leeu is bruin, gras is helder groen, lug is blou, bokke is ook bruin, en hul oë is geel. Dit is hoe dit is. Dit moet so wees. Dit kan nie anders nie, want die Heilige Prent sê so.”

En enige een wat wil praat van ’n antieke palet wat net tien of vyftien kleure gehad het, en van die oorspronklike prent wat net ’n opregte poging was om ’n voorstelling van ’n werklikheid te maak veels te ryk in kleur, smaak, klank en gevoel vir enige mens met beperkte hulpbronne en vermoëns om ooit 100% akkuraat weer te gee, is eenvoudig te slim vir hul eie beswil.

______________________

Herhaal tot jy werklik verstaan (Die appel is groen)

WOENSDAG 5 OKTOBER 2011

Daar is een patroon wat herhaal in die werkroetine van almal wat gereeld geld maak, van my vrou tot my ouers en my susters, tot by Bill Gates en Warren Buffett, mense wat rondspeel op die aandelemark, selfs professionele sportwedders.

Nou, as ek skryf oor ’n patroon wat herhaal in die aktiwiteite van suksesvolle mense, lyk dit dalk vir die oomblik asof ek ’n meester is van hierdie tipe insigte. Moenie jouself laat flous daardeur nie. In werklikheid is die situasie heel absurd.

Dit is soos iemand wat sê: “Die appel is groen.” Dan sê jy: “Ek weet. Die appel is groen.” Dan klap die ou jou. Terwyl jy nog jou sinne bymekaar maak, sê hy weer: “Die appel is groen.” Weer antwoord jy: “Ek weet. Die appel is groen.” Weer klap hy jou. Dié keer voeg hy by: “Jy weet nie regtig nie. Jy dink jy weet, maar jy weet nie. Nie regtig nie.” Dan herhaal hy die sin: “Die appel is groen.” Dié keer is jy ’n bietjie versigtiger, so jy sê dit sagter. “Ja, ek weet: Die appel …” Klap!

So hou dit aan vir ’n hele paar minute. Uiteindelik sê die ou weer: “Jy sê dit, en jy dink jy weet. Maar jy besef nie regtig wat jy sê nie. Die appel … is groen.”

Teen dié tyd is jou wange al rooskleurig geklap, en jy is diep onder die indruk dat die ou sekerlik ’n punt moet beethê. Dan dink jy ’n bietjie oor wat hy sê. Jy dink regtig daaroor. Jy is stil vir ’n hele paar minute, en jy dink. Dan besef jy: “Die fokken appel is groen.”

So was dit met my. Ek bespiegel al vir lank oor hoekom ek nie méér geld maak as die paar rand wat ek elke week verdien deur twee of drie Engelse klasse te gee nie, al probeer ek so hard, al werk ek aan so baie projekte, al het ek al so baie geleer oor so baie onderwerpe, en al het ek al so baie vaardighede aangeleer.

Ek het ook gewonder oor ander mense wat geld maak – die vrou in my lewe, my familie, my vriende … Wat doen húlle dan so reg wat ek verkeerd doen?

Tog weet ek wat die antwoord is. Ek het vanoggend ook geweet, maar dit nie regtig besef tot vanaand nie: Die Groot Geheim. Die Rede Hoekom Ek Nie Die Afgelope Vyf Jaar Méér Geld Gemaak Het Nie. Die Sleutel Tot Sukses.

My vrou gaan op ’n Maandagmiddag na ’n taalsentrum toe, waar sy vir omtrent sewe ure lank klasgee. Dinsdag doen sy dit weer. Woensdag doen sy dit weer. Donderdag en Vrydag weer.

Warren Buffett het nie sy fortuin gemaak met een goeie koop-en-verkoop van aandele dertig of veertig jaar gelede nie. Hy doen dit die heeltyd. Hy herhaal dieselfde ding oor en oor en oor en oor.

Professionele sportwedder Ian Erskine maak nie £50 000 per jaar omdat hy elke nou en dan ’n paar weddenskappe wen nie. Hy analiseer dosyne sokkerwedstryde elke week. Hy plaas dosyne weddenskappe elke maand. Oor en oor en oor. Maand na maand, jaar na jaar.

My ouer suster maak geld deur bestuur toe te pas op maatskappye se finansiële sake. Sy voer nie net een taak uit per jaar nie, sy doen honderde. Oor en oor en oor – dieselfde, of soortgelyke take en bewerkings. Maand in, en maand uit. Jaar na jaar.

HERHALING. VAN IETS WAT WERK. VAN IETS WAT GELD PRODUSEER.

Elke maand wat verbygegaan het sedert Januarie 2006 wat ek nie genoeg geld gemaak nie, of wat ek graag méér geld wou gemaak het, het presies dieselfde patroon sien herhaal: Ek het óf die verkeerde ding gedoen – verkeerde mark, verkeerde metode, verkeerde projek, onwerkbare manier van geld maak, óf, wanneer ek die regte ding gedoen het, het ek nie genoeg daarvan gedoen nie.

Ek het op ’n stadium ’n paar produkte nagevors, resensies daaroor geskryf, en dan die resensies gepubliseer op ’n paar plekke, met my persoonlike skakel onder die teks sodat wanneer iemand daarop kliek en die produk koop, ek ’n kommissie kan verdien daarvoor. Dit het gewerk! Ek het geld gemaak daarmee. Maar ek het dit net gedoen met ses of sewe produkte! En ek het die resensies net gepubliseer op ’n paar plekke! Ek moes sewentig, of honderd resensies geskryf het! Ek moes die resensies op tien, vyftien plekke gepubliseer het! Drie of vier skakels na ’n webwerf met resensies op? Dit moes drie honderd skakels gewees het! En die volgende jaar moes ek nog honderd, of twee honderd resensies gedoen het, en ook dít gepubliseer het op twintig, dertig plekke.

Ek het al geld gemaak deur bundels met sogenaamde “private label” artikels beskikbaar te stel – artikels wat ander mense kan verander en kan publiseer onder hulle eie name. Hoeveel bundels het ek beskikbaar gestel? Tien of twaalf. Dit moes twee honderd … nee, vyf honderd bundels gewees het! Die een of twee verkope wat ek wel gekry het met ’n dosyn bundels sou dan herhaal het – sale, sale, sale, sale, sale, sale, sale, sale, sale, sale, sale

Ek het al geld gemaak deur “private label” artikels te herskryf sodat dit ’n bietjie meer oorspronklik is. Oukei, dit was hoogs vervelig, maar ek het baie vinnig geld gemaak daarmee! Kan ek ontken dat ek meer en meer geld sou gemaak het indien ek dit herhaal het, en dan weer, en weer, en weer, en weer en weer en weer?

Ek het ook al geld gemaak deur webwerwe vir mense te skep. Hoeveel webwerwe? Twee of drie. Twee of drie? Dit moes vyftig of sestig gewees het! En die volgende jaar honderd! “Jim Buyer just sent you money …” sou die boodskap van PayPal gelees het. Dan nog een. Dan nog een. Dan nog een. En nog een. Nog een. Nog een. Nog een. Nog een.

Ek het ’n paar maande gelede, nadat ek in ’n PDF gelees het hoe om dit te doen, ’n domeinnaam verkoop wat ek gehad het. Presies soos die e-boek verduidelik het. Hoeveel domeinname het verkoop? Een. Hoeveel het ek op daai manier probeer verkoop? Twee of drie.

Herhaal, herhaal, herhaal, herhaal, herhaal, herhaal, herhaal, herhaal, herhaal, herhaal.

Ek is nie besig met die verkeerde projekte op die oomblik nie. Wat ek doen, kan beter gedoen word, en verbeteringe sal nog aangebring word. Maar wat ek doen, is heeltemal goed genoeg om geld te maak. Ek doen net te min daarvan.

HERHAAL. NOG. WEER. NOG. HERHAAL. NOG TIEN. NOG VYFTIG. NOG VYF. WEER. HERHAAL. NOG TIEN. NOG VYF. NOG VYFTIG.

* * *

Waaroor gaan uitkontraktering? Dit gaan daaroor om meer en meer en meer gedoen te kry van iets wat werk.

* * *

“Ek maak nie geld hiermee nie.”

“Maak wat jy doen, sin? Maak ander mense geld daarmee?”

“Dit maak sin, en ander mense maak geld daarmee.”

“Dan is dit omdat jy nie genoeg daarvan doen nie. Of as jy iets verkoop, herhaal jy iets nie genoeg kere om dit onder genoeg mense se aandag te bring nie. Óf jy doen iets verkeerd, óf as wat jy doen, die regte ding is, doen jy nie genoeg daarvan nie.”

DINSDAG 18 OKTOBER 2011

Idees en inisiatief kan nie uitgekontrakteer word nie. Omtrent al die res kan wel. Don’t sweat the small stuff. Moenie onnodig sweet vir werk wat jy ander mense kan betaal om te doen nie.

______________________

Leer by die jeug – ten spyte van ydelheid en onsekerheid

DINSDAG 27 SEPTEMBER 2011

My hele volwasse lewe al dink ek aan myself as ’n jong man – ek weet immers nie hoe dit voel om oud te wees nie. Maar dan word jy op ’n punt gekonfronteer met die werklikheid dat daar ander jong mans is wat soveel as twintig jaar jonger is as jy.

“Twintig jaar!” wil jy uitroep. “Twintig jaar?!”

En om alles te kroon moet jy jouself herinner daaraan dat jy enige dag van die week iets kan leer by hierdie jonger geslag – dat ’n ou van 20 of 25 ook op ’n klip kan sit vir ’n uur lank en kan opstaan met ’n wysheid of ’n goeie punt om te deel met die naaste bystaander.

Aan die einde van die dag is dit net ydelheid, en ’n patologiese onsekerheid oor jou eie waarde, wat jou laat vashou aan tyd, wat jou paniekerig maak wanneer jy dink hoe tyd dag na dag uit jou vingers glip – soos dit glip uit almal se vingers.

______________________

Gedagtes van een Woensdag, en een Maandag

WOENSDAG 14 SEPTEMBER 2011

“You owe it to us all to get on with what you’re good at.” WH Auden (1907-1973)

* * *

Selfvertroue en entoesiasme is my groot bates.

Selfvertroue en entoesiasme is my groot vyand.

MAANDAG 19 SEPTEMBER 2011

Ek sal vir weke lank dink ek kán – en gáán – iets doen.

Dan, skielik, tref ek ’n muur.

Terug na die stukkies papier. Terug na die lyste … En die erkenning van die feit dat ek, vir nie die eerste keer nie, in die strik getrap het van oordrewe selfvertroue, en te veel entoesiasme.

* * *

Eers vra jy:

Wat kan ek doen om geld te maak?

Nadat jy ’n ding of twee geleer het oor geldmaak, vra jy …

Watse behoefte, probleem, of sterk belangstelling het mense waar ek ’n produk of ’n oplossing kan lewer?

Daar is natuurlik ’n derde vraag:

As jy vorendag gekom het met ’n produk waarvoor daar ’n aanvraag is, hoe bring jy dit onder die aandag van genoeg van die regte mense?

As jy hierdie derde vraag nie kan beantwoord nie, help dit niks as jy ’n honger mark het, gereed om alles te koop wat jy kan vervaardig nie. As mense nie weet jou produk bestaan nie, gaan jy nie ’n dooie sent maak nie.

______________________

Argument oor ’n fiets

MAANDAG 15 AUGUSTUS 2011

Die RT-Mart verkoop nou ’n “UK Design” fiets vir NT$2 074 [omtrent R800]. Ek sê nou al vir lank dat ek sal wag tot my fiets heeltemal stukkend is voor ek ’n nuwe fiets koop. Enkele punte hieroor:

1. As dit my standpunt is, moes ek drie maande gelede my fiets vervang het. Die een binneband was pap. Beide die buitebande was voos gery. Die remme het nie meer behoorlik gewerk nie. En die fiets het gekraak soos net ’n stuk metaal kan kraak wat tien jaar gelede al in ’n skrootwerf tot ruste moes kom. Wat ek gedoen het, is ek het alles reggemaak.

2. ’n Fiets raak nie totaal en al beneuk soos ’n rekenaar of ’n rekenaarmonitor nie. ’n Rekenaar kan vandag nog werk, en môre is dit net een’s en zero’s en liggies wat flikker en skerms wat stol. Dan vat jy dit na die rekenaarwinkel toe, en dan sê die tegnikus jy kan net sowel vir jou ’n nuwe rekenaar koop. Selfde met ’n rekenaarskerm: flikker, poef, af. ’n Fiets, aan die ander kant, breek. Dan identifiseer jy die probleem (gewoonlik voor-die-hand-liggend), en jy maak dit óf self reg, óf jy betaal iemand om dit te doen. Dan ry die fiets weer. As jy wag tot ’n fiets geheel en al gedaan is, mag jy dalk lank wag. (Vir die rekord moet ek noem dat my vorige fiets wel daai status bereik het. Sy is toe vervang met die huidige fiets wat omtrent twintig jaar ouer was as die vorige fiets.)

3. Daar’s ook fietse vir NT$3 500 en selfs so hoog as NT$5 000 – voor jy natuurlik die fietsafdeling in die supermark verlaat en by ’n behoorlike fietswinkel tussen vyf en tien keer soveel betaal vir fietse wat tussen tien en twintig keer beter kwaliteit is. Nietemin, hoekom dan nie maar net gaan vir die NT$4 000 fiets eerder as die NT$2 074 “UK Design” nie? Want, reken ek, al die fietse by die supermark is ewe broos. ’n Kabel gaan in elk geval breek binne ’n paar maande. Die saal gaan heel moontlik afval binne ses maande. Die raam sal heel moontlik buig, die remme sal breek, en die ratte sal seker ook net twee weke lank sorgeloos gly van stadig na vinnig voor dit vassteek in tiende rat. So, of dit nou NT$2 074 of NT$4 250 is, dis nie NT$25 000 of NT49 500 nie.

4. Ek kan eerder nou my huidige ouma-fiets aftree, en weet dat ek enige tyd in die toekoms, wanneer omstandighede dit vereis, net die wiele kan opblaas en weer kan ry soos die wind – as die wind erg genoeg waai die dag.

Dis dan dit. Ek koop ’n nuwe fiets voor die einde van die maand.

En teen NT$2 074 kan ek selfs bekostig om die ou Swart Gevaar te beloon vir goeie diens met ’n nuwe saal voor ek haar staanmaak in die agterkamer.

———–

Opvolg: Ek het toe nie die fiets gekoop nie. Ou “kraker” moes nog omtrent ’n jaar wag voor ek haar uiteindelik vervang het met die presiese selfde model fiets, maar ten minste splinternuut – wat my NT$2 500 gekos het.

Die nuwe fiets – ’n paar jaar later

______________________